1 & 2 Thessalonicense

Kort ná die vergadering in Jerusalem, in ongeveer 49 n.C., begin Paulus se tweede sendingreis (vgl. Handelinge 15:36, 40-41). Die kerke in Galásië word eerste besoek (Handelinge 16:1-6a). Omdat die Heilige Gees vir Paulus, Silvánus en Timótheüs (en miskien ook ander) belet om die woord in Asië of Bitinië te verkondig, kom die sendelinge by Troas aan, onseker oor waarheen verder (Handelinge 16:6b-8). Paulus sien ʼn gesig en kom tot die slotsom dat God hulle roep om die evangelie aan die Masedoniërs te verkondig (Handelinge 16:9-10a). Lukas sluit by hulle aan en gaan saam na Filíppi, die stad wat na Philip van Masedonië, Aleksander die Grote se vader, vernoem is (Handelinge 16:10b-12). Hulle stig die kerk in Filíppi, maar as gevolg van vervolging reis almal behalwe Lukas op die Via Egnatia na Tessalonika (Handelinge 16:13-17:1). Tessalonika, vernoem na Aleksander die Grote se half-suster, was die hoofstad van die provinsie en het ʼn eie stadsbestuur gehad (Handelinge 17:6), ook ʼn hawe en ʼn handelsentrum (Tenney 1985:281). Die stad was strategies, polities en ekonomies belangrik en sy inwoner-tal was soveel as 200 000 mense (Constable 1983:687). Hierdie Griekse stad bestaan vandag nog en staan bekend as Salonika.

Die eerste gelowiges in Tessalonika

Ooreenkomstig sy prosedure verkondig die apostel vir die heidene die evangelie éérs aan die Jode in Tessalonika. Oor ʼn tydperk van drie weke verduidelik Paulus dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan: “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig”, het hy gesê, “Hý is die Christus” (Handelinge 17:1-3). Die evangelie is verkondig nie ‘in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid’ (1 Thessalonicense 1:5). Party Jode, ʼn groot aantal godvresende Grieke en ʼn aansienlike getal vooraanstaande vroue word die eerste gelowiges in Tessalonika (Handelinge 17:4). Hulle bekeer hulle van hul afgode ‘tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag’ (1 Thessalonicense 1:9-10a). Hulle ontvang die woord ‘nie as die woord van mense nie, maar, soos wat dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo’ (1 Thessalonicense 2:13).

Verskeie vervolginge

Vervolging breek weer uit en Paulus en Silvánus gaan in die nag na Berea (Handelinge 17:5-10). Hulle besoek aan Tessalonika was egter nie tevergeefs nie, want ons het ‘in onse God vrymoedigheid gehad om die evangelie van God te verkondig onder veel stryd’ (1 Thessalonicense 2:1-2). Die sendelinge het hul nie met vleitaal of bedekte hebsug opgehou nie, nie die eer van mense gesoek of die Thessalonicense beswaar nie, maar was vriendelik, heilig, regverdig en onberispelik onder hulle (1 Thessalonicense 2:5-12). Hierdie nuwe gelowiges is Paulus, Silvánus en Timótheüs se kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms (1 Thessalonicense 2:19-20).

In Berea breek hernude vervolging uit. Paulus gaan na Atene maar Silvánus en Timótheüs bly vir eers agter in Berea, maar sluit later weer by Paulus in Atene aan (vgl. Handelinge 17:14-15). Toe Paulus ‘dit nie langer kon uithou nie’, gaan Timótheüs van Atene terug na Tessalonika ‘om julle [die Thessalonicense] te versterk en julle te bemoedig in julle geloof sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie’ (1 Thessalonicense 3:1-3a). Intussen, ná sy besoek aan Atene, gaan Paulus na Korinte waar hy vir 18 maande bly (Handelinge 17:16-18:1, 11). In Korinte sluit Silvánus en Timótheüs weer by Paulus aan (Handelinge 18:5).

Datum van die skrywe van hierdie briewe

Timótheüs kom van Tessalonika terug met bemoedigende nuus: die gelowiges staan vas in die Here ten spyte van verdrukking en nood (1 Thessalonicense 3:6-13). In alle waarskynlikheid is Paulus tóé, om en by 50-52 n.C., geïnspireer om 1 Thessalonicense in Korinte te skryf (vgl. Tenney 1985:282). Binne 12 maande skryf Paulus 2 Thessalonicense, waarskynlik weer in Korinte (2 Thessalonicense 1:1; vgl. Handelinge 18:5; Constable 1983:713). As Galásiërs inderdaad sy eerste brief was, dan was 1 Thessalonicense en 2 Thessalonicense die 2de en 3de briewe wat Paulus geskryf het.

Inhoud van die Thessalonicense briewe

Die algemene konsensus is dat die besoek aan Tessalonika kort was — óf net 3 weke lank (vgl. Handelinge 17:2) óf ongeveer 6 maande — maar in ieder geval nie ʼn lang tydperk nie. Dit is belangrik want ‘Paulus het hierdie nuwe gelowiges binne ʼn kort tydjie ʼn ryk diëet van leerstellige inligting gegee’ (Constable 1983:688; eie vertaling). Hoewel net vir ʼn kort tydjie in Tessalonika, skram Paulus nie weg daarvan om onderrig oor belangrike eskatologiese sake te gee nie. Beide briewe verwys dikwels na die Here se koms of na die dag van die Here (in 1 Thessalonicense 1:10; 2:19; 3:13; 4:13-18; 5:1-11, 23 en 2 Thessalonicense 1:7-10; 2:1-12).

1 Thessalonicense is geskryf om gelowiges aan te moedig om vas te staan ten spyte van verdrukking (1 Thessalonicense 3:7) en om ‘sekere foute reg te stel en om misverstande onder hulle uit die weg te ruim’ (Tenney 1985:282; eie vertaling). Byvoorbeeld, die gelowiges in Tessalonika is beveel om seksueel rein te leef, om in heiligmaking te groei (vgl. 1 Thessalonicense 4:1-8) en om ledigheid te vermy (1 Thessalonicense 4:11; 5:14). Sekere vrae (vgl. 1 Thessalonicense 4:9a, 13a) is beantwoord. Byvoorbeeld, wat gaan gebeur met gelowiges in Christus wat reeds vóór die koms van die Here gesterf het (1 Thessalonicense 4:13-18)? 2 Thessalonicense is geskryf sodat daar nie gedink moet word dat ‘die dag van Christus al daar is’ nie (2 Thessalonicense 2:2). Paulus prys die gelowiges ‘vir hul groei, stel leerstellige dwalings oor die dag van die Here reg, en rig waarskuwings oor die gevolge daarvan’ (Constable 1983:713; eie vertaling).

Struktuur van die boeke

Bailey & Constable (1999:436) se uiteensetting vir 1 Thessalonicense is die volgende: Inleiding (1:1), Persoonlike aanbevelings en verduidelikings (1:2-3:13); Praktiese instruksies en vermanings (4:1-5:24); en Slot (5:25-28).

Vir 2 Thessalonicense se uiteensetting stel Constable (1983:713-714) voor:
Inleiding (1:1-2); Aanprysing vir vordering reeds gemaak (1:3-12); Regstelling van die huidige fout (2:1-12); Danksegging en gebed (2:13-17); Aanmoediging vir toekomstige groei (3:1-15); en Slot (3:16-18).

Slotopmerkings

Beide briewe aan die Thessalonicense dek verskeie leerstellige sake, maar die hooftema is eskatologie. Paulus dink nie dat profeties-eskatologiese waarhede onbelangrik, té omstrede of buite die bereik van nuwe gelowiges is nie (Constable 1983:719). Inteendeel, in die baie kort tydjie wat hy saam met hulle was (2 Thessalonicense 2:5), leer Paulus die Thessalonicense oor die koms van die Here (die tema van 1 Thessalonicense) en oor die dag van die Here (die tema van 2 Thessalonicense). Omtrent 2 000 jaar later word verskeie leerstellige sake steeds gedek, maar nie altyd die hele raad van God nie, want vandag versuim baie om oor eskatologie te leer of om daaroor te preek. Dit sê dit ironies genoeg baie oor die dae waarin ons leef, nie waar nie?

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Constable, T.L., 1983, ‘1 Thessalonians’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, bladsye 687-711, David C Cook, Colorado Springs.

Constable, T.L., 1983, ‘2 Thessalonians’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, bladsye 713-725, David C Cook, Colorado Springs.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']