Die universele koninkryk en die mediatoriale koninkryk van God

Gaan gelowiges eendag op ’n wolkie dryf, ’n harp bespeel en basies verveeld rondhang? Hierdie sekulêre uitbeelding van die “koninkryk” is gewild, maar natuurlik totaal en al vals. Dít is nie die koninkryk wat Christus sê ons eerste moet soek nie (vgl. Mat 6:33). Lering oor die koninkryk van God is belangrik; dit was immers die sentrale tema van Christus se bediening tydens sy eerste koms gewees (vgl. Mat 4:17, 23; 9:35; 10:5-7). Jesus het egter nie na ’n abstrakte, oorvergeestelike koninkryk verwys nie. Die koninkryk is so belangrik dat Jesus gedurende die 40 dae voor sy hemelvaart sy apostels weer “oor die dinge van die koninkryk van God” geleer het (Hand 1:3). Hoe kan die koninkryk van God verstaan word, na watter koninkryk het Jesus in die Evangelies verwys?

Die koninkryk is hier by julle

In die tweede boek wat Lukas geskryf het, vra die apostels die Here wanneer Hy die koninkryk vir Israel weer gaan oprig, wat impliseer dat die koninkryk nog nie op daardie tydstip vir Israel weer opgerig was nie (vgl. Hand 1:6). Jesus het sy apostels geantwoord en gesê dat dit hulle nie toekom om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie (Hand 1:7). In sy eerste boek beskryf Lukas hoe die Fariseërs vir Jesus iets soortgelyks gevra het, naamlik wanneer die koninkryk van God sal kom (Luk 17:20). Jesus het die Fariseërs geantwoord en gesê die “koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle” (Luk 17:20-21; NAV). Hoe kan Lukas 17:20-21 geïnterpreteer word?