Aan ʼn volk wat die vrugte daarvan sal dra…

Geklee in ʼn pak en ʼn das sit ek aan die hoof van ʼn tafel saam met teologie professore. Die geleentheid is die mondelinge verdediging van my tesis oor Matteus 13. Die eksamen begin en die eerste vraag gaan oor … Matteus 21:43! In daardie vers sê Jesus: “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ʼn volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Mat 21:43; OAV). In hierdie eerste vraag vooronderstel die professor dat God die koninkryk van Israel weggeneem het en toe aan die Kerk gegee het. Is hierdie vooronderstelling egter reg?

Matteus 21:43 en die koninkryk van God

Matteus 21:43 verwys na die “koninkryk van God”. Die woorde “sal van julle weggeneem” en “gegee word” is toekomstige passiewe werkwoorde in die Grieks – sogenaamde “goddelike passiewe werkwoorde” want God sal oordeel en God sal seën. Verder, die koninkryk van God sal van “julle” [humōn] weggeneem word en die koninkryk van God sal gegee word aan ʼn volk [ethnei] wat die vrug daarvan sal dra. Wat word met die “koninkryk van God” bedoel?

Hier word nie na God se universele en ewige koninkryk verwys nie. Die universele koninkryk van God is ewigdurend en oor alles in die hemel en op die aarde. Die koninkryk, troon, mag, heerlikheid, majesteit en oorwinning behoort aan God (1 Kron 29:11; Ps 103:19; 145:13). Beacham (1996:235; eie vertaling) definieer die ewige of universele koninkryk van God as “God se makro-kosmiese heerskappy deur sy eksklusiewe, soewereine heerskappy oor die hele skepping, ʼn heerskappy sonder pouse of einde.” Logieserwys kan die universele en ewige koninkryk nooit “naby kom” nie, want oral bestaan dit alreeds en hierdie koninkryk is ewigdurend. Die verwysing in Matteus 21:43 verwys na die mediatoriale koninkryk van God.

Alhoewel God vanuit die hemel oor sy universele koninkryk regeer, het Hy aan die mens, wat na die beeld van God geskape is, die taak gegee om oor die aarde te heers (Gen 1:26-28; Ps 2; Heb 2:5-8). Daar bestaan dus binne die universele koninkryk van God ʼn meer beperkte koninkryk, ʼn aards-georiënteerde en tydverwante koninkryk wat die mediatoriale koninkryk van God genoem kan word (vgl. Beacham 1996:235). In Matteus en die ander Evangelies is die koninkryk wat Israel aangebied is, wat “naby gekom” het, hierdie mediatoriale koninkryk – en dié koninkryk kon op die aarde gevestig gewees het indien Israel haar bekeer het (vgl. Mat 3:2; 4:17; 10:7).

Hierdie koninkryk het ʼn historiese voorloper in Israel se geskiedenis gehad. Daar word soms hierna as die teokratiese koninkryk verwys wat ʼn Israelitiese koninkryk was waaroor God geheers het. Hierdie teokratiese koninkryk het by die berg Sinai begin, maar het geëindig toe God se heerlikheid die tempel in Jerusalem verlaat het en toe Israel in ballingskap na Babilon weggevoer is (Eseg 8-11). Die profete het egter geprofeteer dat die Israelitiese koninkryk herstel sal word. Beacham (1996:236) skryf dat God nie klaar met hierdie koninkryk was nie, want die Ou-Testamentiese profete wat hierdie teokratiese koninkryk se ondergang voorspel het, het ook konsekwent geprofeteer oor haar volkome herstel (Lev 26:40-46; Eseg 11:14-20; Hos 1:10-11). Hierdie koninkryk sal herstel word nádat vier heidense koninkryke oor die wêreld geheers het (Dan 2, 7). Ná hierdie vier “diere” sal Een soos die Seun van die mens met die wolke van die hemel kom (Dan 7:13). Christus sal die heerskappy, eer en koningskap ontvang – ʼn koninkryk wat nie vernietig sal word nie (Dan 7:14).

Dit is dié koninkryk wat Johannes die Doper, Jesus Christus en die apostels aan Israel aangebied het – maar wat “hierdie geslag” van Jode tydens Christus se eerste koms verwerp het (Mat 11:16; 12:39, 41-42, 45). Die gevolg is dat die koninkryk eers ná Christus se weerkoms gevestig sal word. Terloops, dit verklaar die apostels se vraag aan Jesus in Handelinge 1:6 (my onderstreping): “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Die apostels se verwagtinge aangaande die koninkryk was reg, maar hulle tydsberekening was verkeerd. Die tye of geleenthede word deur die Vader deur sy eie mag bepaal (vgl. Hand 1:7).

Sal van julle weggeneem word…

Wanneer Jesus sê dat die koninkryk van God van “‘julle” weggeneem sal word, met wie praat Hy hier (Mat 21:43a)? Die konteks gee die antwoord met duidelikheid en volle sekerheid. Jesus het aan die owerpriesters en die ouderlinge van die volk verduidelik deur watter gesag Hy wonderwerke gedoen het en wie hierdie gesag vir hom gegee het (vgl. Mat 21:23). Toe hulle nie Jesus se teenvraag wou antwoord nie (Mat 21:27), vertel Jesus vir hulle drie gelykenisse.

Die eerste gelykenis wat Jesus vertel het, is die gelykenis van die twee seuns (Mat 21:28-32). Terwyl Jesus die owerpriesters en die ouderlinge aanspreek, vra hy: “Maar wat dink julle?” (Mat 21:28a). In hierdie gelykenis word die godsdienstige leiers in Israel van daardie tydvak deur die tweede seun verteenwoordig. Decker (2010:33) sê tereg dat die godsdienstige leiers eintlik Jesus as die Messias moes erken en aanvaar, maar toe verwerp hulle vir Jesus. Hierdie godsdienstige leiers het hul nie bekeer nie en, soos wat hierdie gelykenis leer, hulle verwerping van Jesus lei daartoe dat God hierdie godsdienstige leiers verwerp.

Jesus vertel toe ʼn tweede gelykenis aan hulle, die gelykenis van die landbouers (Mat 21:33-46). Toe Jesus vra wat met die landbouers gedoen moet word, antwoord die owerpriesters en ouderlinge van die volk van Israel: “Die slegte mense — hy sal hulle ʼn slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee” (Mat 21:40-41). Hierdie reaksie “is amper komies omdat die leiers onbewustelik hulself as ‘slegte mense’ beskryf het en aanbeveel het dat die huisheer die bose landbouers van die wingerd verwyder en hulle met goeie landbouers vervang” (Decker 2010:34; eie vertaling). Ingeval daar enige onsekerheid was met wie Jesus in Matteus 21:43 praat, word die antwoord twee verse later klinkklaar aangebied: “En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek” (Mat 21:45).

Die “julle” waarna Jesus in Matteus 21:43 verwys, is die godsdienstige leiers van Israel wat in daardie tyd geleef het. Dit is hierdie godsdienstige leiers wat die Joodse volk mislei het deur te beweer dat Jesus wonderwerke doen deur die krag van Beëlsebul, die owerste van die duiwels (Mat 12:24). Dit is die godsdienstige leiers in Israel tydens Jesus se eerste koms wat Jesus se Messiaanse wonderwerke verwerp het – en toe sowaar vir nog ʼn teken gevra het (vgl. Mat 12:38). Dié godsdienstige leiers van Israel het die koninkryk van die hemele in mense se gesigte toegesluit; hulle sal self die koninkryk nie binnegaan nie, maar wil ook nie ander toelaat om daarbinne te gaan nie (vgl. Mat 23:14). In die onmiddellike konteks van Matteus 21:18-22:14 is dit dieselfde godsdienstige leiers wat weer eens die gesag van die Here Jesus Christus bevraagteken het. Hierdie godsdienstige leiers het saam raad gehou om Jesus dood te maak (Mat 12:14; 21:38-39; 26:4; 27:1).

Sal vir ʼn volk gegee word…

Die geleentheidskans om te sien dat die koninkryk van God in hulle dae op die aarde gevestig kon word, sal van hierdie godsdienstige leiers in Israel weggeneem word (Mat 21:43a). Hierdie leiers het siviele en godsdienstige gesag gehad, maar hulle het ʼn geslag Jode op die verkeerde pad gelei – weg van Christus af en weg van die koninkryk wat Christus vir Israel aangebied het. Daarom sal die koninkryk van God aan ʼn nasie/etniese groep mense [ethnei] gegee word wat die vrugte daarvan sal dra (Mat 21:43b). Wie is hierdie “volk” (ethnei) vir wie God die koninkryk sal gee?

Verskeie antwoorde is al deur verskeie kommentators aangebied: die koninkryk van God sal 1) aan die Kerk gegee word; of 2) aan die heidene; of 3) aan Christus se dissipels; of 4) aan die twaalf apostels in ʼn verteenwoordigende hoedanigheid; of 5) aan ʼn toekomstige geslag Jode uit die volk Israel. Ons fokus slegs op die eerste en vyfde voorstel.

Die eerste voorstel, wat die nasie/etniese groep mense (ethnei) met die Kerk vereenselwig, is nie haalbaar nie. Die implikasie van hierdie vervangingsteologie is dat Israel permanent vervang is, maar Jesus het baie keer ʼn toekoms vir nasionale Israel bevestig (sien Mat 19:28; 23:39; Vlach 2017:368-369). Verder is die Kerk nie ʼn “nasie” nie, maar eerder ʼn internasionale liggaam van gelowiges in Christus. 1 Petrus 2:9-10 kan nie gebruik word om te beweer dat die Kerk ʼn “nasie” is nie, want die apostel vir die besnedenes skryf hierdie brief spesifiek aan Joodse gelowiges wat buite die land van Israel was (1 Pet 1:1; vgl. ook Eks 19:5-6), nie aan die Kerk in die algemeen nie (vgl. Fruchtenbaum 1989:187; Woods 2016:232). Hierdie Joodse “vreemdelinge van die verstrooiing” aan wie Petrus sy brief gerig het (1 Pet 1:1), is nie net deel van die Kerk nie, maar bly ook deel van die volk Israel (vgl. Scholtz 2017:9).

Ons is dit met die laaste siening eens. Die koninkryk van God is nie permanent van Israel af weggeneem nie, maar is eerder weggeneem van die Joodse leiers wat daardie Joodse geslag in die tyd van Christus se eerste koms verteenwoordig het. Die koninkryk van God sal van hierdie geslag geneem word, maar nie permanent van die volk van Israel verwyder word nie. Die koninkryk van God sal aan ʼn toekomstige geslag van Israel aangebied word, wat in die Verdrukkingstydperk gaan leef. Dié keer sal hierdie Israeliese volk/etniese groep mense die aanbod van die koninkryk aanvaar omdat hul eindelaas Jesus in die geloof sal aanroep: “Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here!” (Mat 23:39). Aangaande Matteus 23:39 sê Fruchtenbaum (1989:307):

Jesus sal nie na die aarde toe terugkeer totdat Jode en die Joodse leiers Hom vra om terug te kom nie. Net soos wat die Joodse leiers die nasie gelei het om Jesus se Messiasskap [tydens sy eerste koms] te verwerp, so moet hulle eendag die nasie lei om Jesus se Messiasskap te aanvaar [met sy tweede koms].

Slotopmerkings

Matteus 21:43 leer nie dat God die koninkryk van God permanent van Israel weggeskeur het en dit aan die Kerk gegee het nie. Trouens, Matteus 21:43 leer presies die teenoorgestelde: Jesus waarborg ʼn toekomstige seën vir Israel in die millennium (vgl. Decker 2010:43). Die koninkryk van God sal aan ʼn toekomstige geslag Joodse leiers en Joodse volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. Hulle sal in Christus glo en Hy sal die koninkryk vir Israel weer kom oprig (vgl. Hand 1:6). Wanneer daardie koninkryk op die aarde herstel word, sal alle gelowiges dit beërwe.

Bronne

Beacham, R.E., 1996, ‘Universal and Mediatorial Kingdoms’, in M. Couch (ed.), Dictionary of Premillennial Theology, pp. 235−237, Kregel Publications, Grand Rapids.

Decker, T.L., 2010, ‘Taken and Given: The Israelitish Judgment and Restoration Taught in Matthew 21:43’, Journal of Dispensational Theology 14(43), 23-43.

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The Missing Link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.

Scholtz, J.J., 2017, ‘Israelologie: ʼn Bybels-teologiese perspektief oor Israel se verlede, hede en toekoms’, In die Skriflig 51(1), a2231. Beskikbaar by: https://indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/2231/4590

Vlach, M.J., 2017, He Will Reign Forever: A Biblical Theology of the Kingdom of God, Lampion, Silverton.

Woods, A.M., 2016, The Coming Kingdom: What is the Kingdom and How is Kingdom Now Theology Changing the Focus of the Church?, Grace Gospel Press, Duluth.

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.