Die wisselwerking tussen die verbonde

Inleiding
Party mense wonder of samewerking met Joodse gelowiges (Messiaanse Jode) nie dalk sal lei tot ʼn nuwe vorm van Judaïsme nie. Daar word gevra: Is vandag se gelowiges onder die Wet van Moses sodat ons die Sabbat moet onderhou? Is die Kerk ʼn “nuwe geestelike Israel” of is die bruid iets anders as Israel? Hierdie vrae kan beantwoord word as die wisselwerking tussen die verskillende verbonde van die Bybel verstaan word. En dit veronderstel vanselfsprekend dat die verbonde geïdentifiseer word. Saam met ʼn begrip van hierdie wisselwerking is dit ook nodig om tussen ʼn voorwaardelike en ʼn onvoorwaardelike verbond te onderskei. Is die Kerk die eienaar van die onvoorwaardelike verbonde wat God vir Israel gegee het of deel die bruid in die geestelike seëninge hiervan? Of daar word gevra: As vandag se gelowiges nie onder die Wet van Moses is nie, wat is dan sedert Pinkster die Nuwe verbondsteken? Alhoewel samewerking tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges in Christus nie tot ʼn nuwe vorm van Judaïsme behoort te lei nie, is ʼn begrip van die wisselwerking tussen die verbonde van die Bybel nodig en nuttig.

Verbonde wat die Bybel identifiseer
In die tuin in Eden het God – die koning van die hemel en die aarde – ʼn voorwaardelike verbond met Adam as verteenwoordiger van die menslike geslag gesluit (Gen. 1:28-30; 2:15-17; cf. Hos. 6:7). Ingevolge hierdie verbond moes Adam as God se verteenwoordiger oor die aarde heers. ʼn Voorwaardelike verbond beteken dat God sekere beloftes maak en sal nakom mits die mens op ʼn sekere manier reageer. Fruchtenbaum (2005:5; my vertaling) beskryf ʼn voorwaardelike verbond as volg:

’n Voorwaardelike verbond is ’n tweesydige verbond waarin God ’n aanbod aan die mens maak wat deur die volgende formule gekenmerk word: As jy sal, sal Ek. God belowe daardeur om spesiale seëninge aan die mens te skenk, mits die mens sekere voorwaardes nakom wat deel van die verbond vorm. Die mens se versuim om dit te doen, lei dikwels tot straf. ’n Mens se reaksie op die verbondsooreenkoms bring dus óf seëninge óf vloeke. Die seëninge word deur gehoorsaamheid verkry, en die mens moet aan sy voorwaardes voldoen voor God aan syne voldoen.

Wat sou gebeur het indien Adam gehoorsaam was aan God se bepalings in die Edeniese verbond? Sy onbevestigde heiligheid (hy moes nog getoets word om te sien of hy sou sondig) sou bevestig geword het 1 én hy sou voortgegaan het om as God se verteenwoordiger oor die aarde te heers. Vanweë hulle ongehoorsaamheid het Adam en Eva geestelik gesterf 2, hulle is uit die tuin verban en terselfdertyd eindig die voorwaardelike Edeniese verbond. Maar nie net belowe God dat Hy iemand sal stuur om verlossing van sonde moontlik te maak nie, maar ook dat hierdie Persoon enige aansprake van Satan oor die aarde sal vernietig (Gen. 3:15; cf. Heb. 2:14-15; Open. 20:10).3

God sluit ʼn nuwe, onvoorwaardelike verbond met Adam wat buite Eden se tuin geldig is (Gen 3:14-19). Fruchtenbaum (2005:5; my vertaling) beskryf ʼn onvoorwaardelike verbond só:

’n Onvoorwaardelike verbond is ’n eensydige verbond en is ’n soewereine ingryping deur God waardeur Hy Homself onvoorwaardelik verbind om bepaalde seëninge en omstandighede …te bewerk. Hierdie verbond word gekenmerk deur die formule: Ek sal, wat God se beslistheid verklaar om te doen wat Hy belowe het. Seëninge word verkry deur God se genade. Daar kan moontlik voorwaardes in die verbond wees wat God die ander verbondsparty vra om uit dankbaarheid na te kom, maar dit is nie op sigself die rede waarom God sy beloftes vervul nie.

Die Adamiese verbond is vandag nog geldig: vroue se swangerskap is steeds moeitevol en hulle baar kinders met smarte; die aarde bring dorings en distels voort en ons eet steeds brood in die sweet van ons aangesig. Na die ongewone gebeure wat in Genesis 6 beskryf is (cf. 2 Pet. 2:4-5; Jud. 6), verdelg God die mense en maak ʼn nuwe begin met Noag.

Ná die vloed sluit God ʼn onvoorwaardelike verbond met Noag (Gen. 9:1-17) as verteenwoordiger van die menslike ras – welke verbond vandag nog geld en die verbondsteken – die reënboog – kan steeds gesien word. Ingevolge hierdie verbond moet die mens die aarde herbevolk, mense se dieet verander en, belangrik, die swaardmag is gegee sodat moordenaars die doodstraf opgelê kan word. Dit is in hierdie tyd dat nasies ontwikkel het (Gen. 10): Semitiese nasies, Jafetiese nasies en nasies uit die afstammelinge van Gam. Maar, weer eens, na ongewone gebeure – hierdie keer by die toring van Babel (Gen. 11) – oordeel God deur nuwe tale en woorde te gee sodat mense die héle aarde sal bewoon en bewerk. So versprei die nasies oor die hele aarde. Maar terselfdertyd maak God ʼn nuwe begin met ʼn man (Abraham) uit wie ʼn nuwe nasie sal ontstaan, uit wie se nageslag die beloofde Messias sal kom (Gen. 3:15).

Die onvoorwaardelike verbond 4 wat God met Abram (later Abraham) gesluit het, is die begin van die Joodse nasie. 5 Afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob is Jode; mense wat nie afstammelinge van Jakob is nie, is nie Jode nie. Die Abrahamitiese verbond kan op verskeie maniere ondersoek word, hetsy op grond van fisiese6 of geestelike beloftes7, of op grond van beloftes wat aan Abraham, aan sy nageslag Israel8 of aan nie-Jode9 gemaak is. Die verbond van Abraham dien as basis vir drie ander onvoorwaardelike verbonde wat God later aan Israel of Israel se verteenwoordigers gegee het, naamlik die Landverbond, die Dawidiese verbond (saad-aspek) en die Nuwe verbond (seën-aspek). Volgens McAvoy (1996:27; my vertaling):

Vanuit ’n verklarende oogpunt, bestuur die Abrahamitiese verbond … God se algehele program vir Israel en die nasies en is dus bepalend van God se program in die geskiedenis. … Dit is die sleutel tot beide die Ou en Nuwe Testament en is die grondslag van die hele program van verlossing. … Die essensie van God se verbond met Abraham bestaan uit drie basiese aspekte: land, saad, en seën. … Elkeen van die Goddelike verbonde wat volg is die uitwerking van die Abrahamitiese verbond. Die Palestynse verbond (Deut. 28-30) lig die aspek van die land van die Abrahamitiese verbond toe. Die Dawidiese verbond (2 Sam 7:8-17) lig die aspek van die saad toe, en die Nuwe verbond (Jer. 31:27-37; Eseg. 36:22-32) lig die aspek van seëninge toe. … Die Abrahamitiese verbond, dan, is bepalend vir die hele uitwerking van God se program vir beide Israel en die nasies, en is die sleutel tot Bybelse eskatologie.

Deur die nageslag van Abraham, Isak en Jacob10 skep God ʼn nuwe nasie om sy doelwitte op aarde te bereik. Nadat God die nageslag van Abraham uit Egipte gered het, sluit Hy ʼn voorwaardelike verbond met Israel by die berg Sinai. God gee die Mosaïese verbond deur Moses vir die nasie Israel – nie vir nie-Joodse nasies of vir die Kerk nie (Eks. 19:3-8; cf. Deut. 4:7-8; Ps. 147:19-20; Mal. 4:4). Toe die Wet van Moses gegee is, begin die Teokratiese koninkryk en God wandel tussen Israel as die uitverkore nasie (Deut. 10:15).11 Ingevolge die Wet van Moses sal Israel geseën word mits hulle ál 613 bepalings van die Wet nakom, nie net die tien gebooie nie.12 As Israel die volheid van die seëninge van hulle onvoorwaardelike verbonde wou geniet, fisieke en geestelike seëninge, moes hulle die voorwaardelike Mosaïese verbond nakom. Maar indien Israel nie hierdie Wet nakom nie, sal sekere vloeke hulle tref. Die Wet van Moses is ʼn eenheid: óf al 613 bepalings is geldig óf niks nie (cf. Jak 2:10). Die Mosaïese verbondsteken was dat Israel die Sabbat sou hou (Eks 31:12-17)13 totdat die voorwaardelike Wet van Moses beëindig is. Die Nuwe Testament leer duidelik dat by die kruis van Christus die voorwaardelike Wet van Moses tot ʼn einde gekom het, of kragteloos gemaak is (Rom. 10:4; 2 Kor. 3:3-11; Gal. 3:19-22; Ef. 2:11-18; Heb. 7:11-12, 18).

Die Teokratiese koninkryk het deur fases gegaan. Eerstens was daar die mediatoriale of bemiddelaarsfase, waartydens God as koning oor Israel deur bemiddelaars regeer – soos Moses, Joshua en die Rigters – tot by die laaste bemiddelaar, Samuel. Maar Israel wou, soos die ander nasies, ʼn menslike koning gehad het (2 Sam. 7:7-16). God staan hierdie versoek toe, maar Hy het die reg om die koning wat Hy verkies, te salf. So begin die monargiese fase van die Teokratiese koninkryk wanneer God deur konings soos Saul, Dawid en Salomo regeer.

Wat het God deur die onvoorwaardelike verbond aan Dawid beloof? Dawid ontvang die belofte van ʼn ewige huis of ryk (2 Sam. 7:11b, 16; 1 Kron. 17:10b), ʼn ewige troon (2 Sam. 7:13b, 16), ʼn ewige koninkryk (1 Kron. 17:12-15) en ʼn ewige Afstammeling, dit is Jesus Christus, die Seun van God (1 Kron. 17:11). Hierdie beloftes is later herbevestig (2 Sam. 23:1-5; Ps. 89; Jes. 9:6-7; 11:1; Jer. 23:5-6; 30:8-9; 33:14-17, 19-26; Eseg. 37:24-25; Hos. 3:4-5; Amos 9:11; Luk 1:30-35, 68-70 en Hand. 15:14-18). Christus sal dus vanuit Israel, vanuit die stam van Juda (Gen. 49:8-10), vanuit die huis van Dawid (2 Sam. 7:8-17; 2 Kron. 17:10b-14)14 en vanuit ʼn Joodse maagd gebore word (Jes. 7:14). Deur Christus sal God nie net verlossing bewerk nie, maar as God se verteenwoordiger sal die God-mens, die Here Jesus Christus, ook as Koning van die Jode oor die nasie Israel heers en, deur Israel, ook oor die ander nie-Joodse nasies op die aarde.

Omdat Israel nie die Mosaïese verbondsteken nagekom het nie en omdat hulle agter afgode weggedwaal het, het die Teokratiese koninkryk geëindig tydens die Babiloniese inval en het God se heerlikheid die tempel in Jerusalem verlaat (Eseg. 8-11). Die tye van die nasies het toe begin en dit duur vandag steeds voort. Die term ‘tye van die nasies’ word van Jesus se woorde in Lukas 21:24 afgelei (cf. Dan. 2:31-45; 7:1-28; Open. 13:1-10; 17:7-14) en hierdie term kan op verskeie maniere toegelig word. Die tye van die nasies is die tyd tussen die laaste koning van Juda tydens die Babiloniese inval, Sedekia, en Jesus Christus se wederkoms (Unger 2002:1603). Anders gestel, die tye van die nasies is die tyd tussen die beëindiging van die Teokratiese koninkryk in Israel en die oprigting van die vervalle hut van Dawid (Amos 9:11-12; Hand. 15:16-17). Gedurende die tye van die nasies word Jerusalem deur nie-Jode vertrap; eers as Jesus Christus teruggekom het sal Jerusalem onder permanente Joodse beheer wees (Walvoord 1968:7). Maar, soos die Ou-Testamentiese profete herhaaldelik geprofeteer het, al het Israel se Teokratiese koninkryk geëindig, sal hierdie koninkryk weer herstel word wanneer Christus die Messiaanse koninkryk in terme van die verbond van Dawid oprig.

Alhoewel die Wet van Moses reeds tydens die Babiloniese inval as verbreek beskou was (Jer. 31:32), het God reeds tóé belowe dat Hy ʼn onvoorwaardelike Nuwe verbond aan die huis van Israel en die huis van Juda sal gee (Jer. 31:31-34; cf. Heb. 8:8-13). Van die beloftes van die Nuwe verbond is fisies – Israel sal materieel geseën word (Jes. 61:8; Jer. 32:41; Eseg. 34:25-27) en die heiligdom sal herbou word (Eseg. 37:26-28); maar ander beloftes fokus op die geestelike – die vergifnis van sonde (Jer. 31:34b), die vernuwing van Israel word belowe (Jer. 31:33; Jes. 59:21; cf. Rom. 11:25-27) en die inwoning van die Heilige Gees (Jer. 31:33; Eseg. 36:27).

By die laaste Pasga stel Jesus die Nuwe verbond in en die volgende dag verseël Hy dit met sy bloed op die kruis. Wanneer Jesus Christus, wat geen sonde gehad het nie, op die kruis sterf, neem Hy as Saligmaker al die sonde en vloeke op Hom. Die Nuwe verbond is nie dieselfde verbond as die Mosaïese verbond nie (Jer. 31:32) – Jesus het van ʼn beter verbond borg geword (Heb. 7:12, 22; 8:7). Die Nuwe verbond kon nie in werking kom alvorens die Wet van Moses beëindig is nie – en by die kruis eindig die voorwaardelike Wet van Moses as die voorhangsel van die tempel in twee skeur (Mat 27:51). Die bloed van diere wat volgens die Aäroniese offerstelsel gestort was, het sonde bedek en daardie gelowige se verhouding met God herstel, maar die bloed van diere kon nie sonde wegneem of die gewete skoon maak nie (Heb. 9:9-28; cf. Ps. 51). As leeu uit die stam van Juda kon Jesus Christus nie in terme van die Wet van Moses ʼn priester wees nie – net die nageslag van Levi kon in hierdie diens staan – maar in terme van die Nuwe verbond is Christus Jesus die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (Ps. 110; Heb. 5:1-10:35).

Die wisselwerking tussen die verbonde van die Bybel
Niemand word gered omdat hulle die bepalings van die verbonde wat op hulle van toepassing is nakom nie – anders kom dit neer op redding op grond van werke en nie uit God se genade nie. Hierdie algemene reël is selfs geldig vir die unieke situasie in die tuin in Eden: Adam en Eva is sondeloos geskape en indien hulle die toets van gehoorsaamheid geslaag het,15 sou hulle onbevestigde heiligheid bevestig geword het. Tot en met die sondeval het Adam en Eva nie gesondig nie en kon hulle daarom nie tóé van sonde gered word nie. Ná die sondeval is die situasie dramaties anders: tot en met die vloed moes alle mense leef volgens die bepalings van die Adamiese verbond. Hierdie onvoorwaardelike Adamiese verbond is vandag steeds geldig, maar is ná die vloed uitgebrei met bykomende bepalings in die verbond met Noag, wat vir individue en nasies geldig is. Omdat die verbond met Noag onvoorwaardelik is, is persone en nasies steeds onderhewig aan hierdie verbond.

Ná die oordeel by die toring van Babel, maak God ʼn nuwe begin met Abram wat die hoof van ʼn nuwe nasie word (onvoorwaardelike verbond van Abraham). Deur hierdie nasie gaan God uit Abraham se afstammelinge die Verlosser bring, vir Israel en vir nie-Joodse nasies tot geestelike seën (onvoorwaardelike Nuwe verbond). En God gaan deur Israel die koninkryk op aarde vestig (onvoorwaardelike verbond van Dawid) en Israel sal ʼn spesifieke deel van die aarde as hulle beloofde land kry en ten volle in besit neem (onvoorwaardelike Landverbond).

Wanneer die nasie uit Egipte gered word en by Sinai kom, gee God die voorwaardelike Wet van Moses aan Israel – die verbond wat baie meer spesifieke bepalings bevat as die verbond van Noag.16 Aangesien Israel die uitverkore nasie is, moes hulle die Wet van Moses nakom terwyl hulle op die Messias wag (Deut. 18:18-19). Indien iemand uit God se genade deur geloof gered is, watter verbonde was van toepassing en hoe moes gelowiges voor God leef gedurende die tyd wat die Wet van Moses gegeld het, dit is, vanaf Sinai tot by die kruis van Jesus Christus? Dit het afgehang of iemand ʼn Jood of ʼn nie-Jood was. ʼn Jood moes onder die Wet van Moses leef. ʼn Nie-Jood wat geestelik van sy of haar sonde gered was, kon een van twee roetes volg:

  • Bly in jou land en kom die verbonde van Adam en Noag na asook daardie bepalings van die Abrahamitiese verbond wat op nie-Jode van toepassing is, byvoorbeeld seën Abraham en sy Joodse nageslag (Gen. 12:3). Voorbeelde van gelowiges wat hierdie roete gevolg het, is die koningin van die Suide en die manne van Ninevé (Mat 12:41-42). Dit blyk uit Jesus se woorde dat hierdie nie-Jode werklik tot bekering gekom het, in God geglo en gered is, maar hulle het in hul eie land gebly.
  • Die ander alternatief vir ʼn gelowige nie-Jood gedurende die tyd wat die Wet van Moses gegeld het, was om ʼn proseliet te word. So ʼn persoon moes die juk van die Wet van Moses op hul skouers neem; aan die Mosaïese verbond onderworpe wees. Indien so, dan moes ʼn proseliete-man fisies besny word in terme van die verbond van Moses, nie op grond van die verbond met Abraham nie. (Die verbond van Abraham is vir hom as hoof van die Joodse nasie gegee en die teken van hierdie onvoorwaardelike verbond is dat Joodse seuns op die 8ste dag fisies besny moet word.) Die teken van die proseliete-man se verbondsverbintenis was die onderhouding van die Sabbat. Ook die proseliete-vrou (byvoorbeeld Ragab of Rut) moes onderworpe aan die Wet van Moses wees en die verbondsteken was eweneens die Sabbat.
    • Maar waarom sou nie-Joodse gelowiges hierdie roete volg? Op dáárdie stadium in die geskiedenis was die nie-Jode “vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte” (Ef. 2:12) – dit is die vier onvoorwaardelike verbonde wat God vir Israel of haar verteenwoordigers gegee het. Nie-Jode kon nie as nie-Jode die geestelike seëninge van Israel se verbonde deelagtig word nie, want die “middelmuur van skeiding” (Ef. 2:14), dit is die Wet van Moses, het nie-Jode as nie-Jode hiervan weerhou. Maar proseliete kon die geestelike seëninge van Israel se onvoorwaardelike verbonde deelagtig word deur hul aan die Mosaïese verbond te onderwerp.

Die situasie ondergaan ʼn wending met Jesus Christus se eerste koms. Indien Israel vir Jesus as die Christus, die Seun van God, aanvaar het, sou Christus die Messiaanse koninkryk opgerig het in terme van die verbond van Dawid. Van Mattheus 4 tot 12 bevestig Jesus sy Messiaanse aansprake met sy woorde en verskeie wonderdade. Vir die verlore skape van die huis van Israel – en nét vir hulle aan wie die onvoorwaardelike verbonde behoort – preek Jesus: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 4:17; 15:24; cf 10:5-7). Maar “daardie geslag” van Jode verwerp die koning van die Jode; hulle erken Jesus nie as die Seun van Dawid nie en hulle begaan die onvergeeflike sonde (Matt. 12:22-32). “Daardie geslag” (Matt. 12:39, 41-42, 45; 23:36) moes die beloofde profeet (‘a prophet like unto Moses’) se woorde geglo het, soos wat God hulle lank gelede in die Wet deur Moses beveel het (Deut. 18:18-19), maar Jesus is nie as profeet in sy eie land geëer nie. Die oprigting van die Messiaanse koninkryk in terme van die verbond van Dawid word daarom uitgestel tot Jesus se wederkoms. Intussen gaan Jesus kruis toe17 om verlossing te bewerkstellig vir alle mense, eers vir die Jood – Jesus is onder die wet gebore (Gal. 4:4) om die wet te vervul (Matt. 5:17) – maar ook vir die nie-Jood (cf. Rom. 1:16). Van Pinkster tot die Here Jesus se wederkoms bestaan die koninkryk van die hemel geestelik in terme van die Nuwe verbond, maar die Messiaanse koninkryk is nog nie fisies op aarde in terme van die Dawidiese verbond opgerig nie.

Vanweë “daardie geslag” se onvergeeflike sonde (Matt. 12:31-32) is Jerusalem en die tempel in 70 n.C. verwoes en die Jode is oor die aarde verstrooi, weg van hulle land. “Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! … God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie” (Rom. 11:1-2). Kan die ongehoorsaamheid van individuele Jode of “daardie geslag” Jode die onvoorwaardelike verbondsbeloftes van God aan die nasie Israel ongeldig maak of tersyde stel (cf. Rom. 9:4-5)? Nee, stellig nie! Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. Israel se huidige situasie is gedeeltelik en dit is tydelik: Daar het ʼn verharding ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het – en daarna sal God voortgaan om die onvoorwaardelike verbondsbeloftes, beide fisies en geestelik, aan Israel te vervul en so sal die hele Israel gered word (cf. Rom. 11:25-26; cf. Jes. 32:15-20; 44:3-5; Jer. 31:33-4; Eseg. 39:25-9; Joel 2:28-3:1; Sag. 12:8-13:1).

Waar pas die Kerk dan in? Nádat die oprigting van die Messiaanse koninkryk in terme van die Dawidiese verbond uitgestel is tot Jesus se wederkoms, kondig Jesus in die toekomstige tydsvorm aan dat Hy sy Kerk sal bou (Matt. 16:18). Die Kerk het glad nie toe alreeds bestaan nie. Eers vyftig dae ná die kruis begin Christus Jesus sy Kerk bou. En Jesus se opdrag is: maak dissipels uit al die nasies. In terme van die Nuwe verbond ontvang elke gelowige vanaf Pinkster die inwonende Heilige Gees en word elke gelowige in die liggaam van Christus gedoop – en dit sal voortduur totdat die Kerk weggeraap word (Joh. 14:2; 1 Kor. 15:51-52; 1 Thess. 4:13-18), totdat die bruid na haar Bruidegom geneem is. Daarna sal God voortgaan om sy planne met die nasies te voltrek: eers die Verdrukkingsperiode van sewe jaar en daarná die oprigting van die Messiaanse koninkryk.

Wat is dan die Kerk se verhouding tot die Nuwe verbond en die ander onvoorwaardelike verbonde wat aan Israel gemaak is? Daar is Skrifgedeeltes wat die Nuwe verbond met die Kerk verbind (Matt. 26:28; 1 Kor. 11:25; 2 Kor. 3:6). Volgens baie vervangingsteoloë het die Kerk vir Israel ‘vervang’, die Kerk het blykbaar die verbondsbeloftes van Israel heeltemal oorgeneem en uitstaande beloftes in terme van hierdie verbonde word deur die Kerk as die nuwe “geestelike Israel” vervul. Hierdie gewilde siening is lynreg in stryd met Paulus se argument in Romeine 9 tot 11 en suggereer effektiewelik dat God ʼn leuenaar is omdat Hy nie sy onvoorwaardelike beloftes aan Israel gaan nakom nie. Vervangingsteoloë gebruik die Nuwe Testament om dele van die Ou Testament te herinterpreteer en dele daarvan ongeldig te maak. Ryrie (2007:95-96; my vertaling) verduidelik dit so:

‘n Woord of konsep kan nie een ding in die Ou Testament beteken en die teenoorgestelde betekenis in die Nuwe Testament kry nie. Indien dit so was, dan sou die Bybel vol van teenstrydighede gewees het, en God sou gesien kon word as synde die Ou Testamentiese profete te mislei het as Hy aan hulle ‘n nasionalistiese koninkryk openbaar maar al die tyd geweet het dat Hy die konsep in latere openbaring geheel en al sou omdraai. … Om die voorbeeld van Israel en die kerk verder te neem, die amillennialis se hermeneutiek laat hom toe om die betekenisse van twee woorde in die Nuwe Testament heeltemal te vertroebel, soveel so dat die kerk die vervulling van die beloftes aan Israel oorneem.

Christus het die middelmuur van skeiding – dit is die Wet van Moses wat in insettinge bestaan het – afgebreek (Ef. 2:14-15) sodat die seën van Abraham (die Nuwe verbond) ook na die heidene (dit is: die nie-Jode) “kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Gal. 3:14). In teenstelling met die vervangingsteologie se siening, behoort die Nuwe verbond steeds aan die huis van Israel en die huis van Juda, soos wat die Nuwe-Testamentiese brief aan die Hebreërs dit duidelik stel (Heb. 8:8-13; cf. Rom. 9:4-5). Die Kerk deel in die geestelike seëninge van die Nuwe verbond, maar neem glad nie Israel se onvoorwaardelike verbonde oor nie:

… waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie (Ef. 3:3-6; my beklemtoning).

In die Kerk-era bou Christus as Hoof sy bruid deur beide Jood én nie-Jood in een liggaam te doop, ʼn verborgenheid wat nie voorheen openbaar gemaak is nie (Ef. 3:1-12). Anders as in die tyd toe die Wet van Moses gegeld het, deel nie-Joodse gelowiges in Christus as nie-Jode alle geestelike seëninge in die hemele in Christus (Ef. 1:3). Ná die kruis moet nie-Joodse gelowiges nié onder die Wet van Moses leef nié; Galasiërs 3 verbied dit. Nie-Joodse gelowiges hoef nie die verbondsteken van die Sabbat na te kom nie en nie-Joodse gelowige mans moet nie besny word soos wat die Wet van Moses dit van proseliete in die verlede vereis het nie. Wat is dan die teken van verbondsverbintenis aan die Nuwe verbond? In die Kerk-era moet alle gelowiges, beide Jood en nie-Jood, hulself aan Christus onderdanig stel en hulle aan Hom onderwerp. Die teken van hierdie onderwerping en onderdanigheid is die doop van gelowiges.

Oorweeg die volgende situasie: ʼn Messiaanse Joodse man leef in die Kerk-era en hierdie man se Joodse ouers het in gehoorsaamheid aan die verbond van Abraham hul Joodse seuntjie op die 8ste dag fisies besny, want dit is die Abrahamitiese verbondsteken. Jare later het hierdie Joodse seuntjie opgegroei, hy kom tot geloof in die Messias, sy hart word geestelik besny en hy is terselfdertyd in die liggaam van Christus deur die Heilige Gees gedoop. Nou kom vervangingsteoloë en leer dat die doop “in die plek van die besnydenis gekom het”. Maar as dit so is, is hierdie Joodse man verkeerdelik as seuntjie besny? Nee glad nie, fisiese besnydenis is die teken van die onvoorwaardelike Abrahamitiese verbond en is steeds vir Jode geldig. Het die Nuwe verbond die verbond van Abraham vervang; het die Nuwe verbondsteken “in die plek gekom” van die Abrahamitiese verbondsteken? Nee stellig nie, trouens, die teendeel is waar: die seën-aspekte van verbond van Abraham dien as basis vir die Nuwe verbond.18 So redeneer die Messiaanse Joodse man: hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie (cf. Rom. 9:6): nie elke Jood wat fisies besny is in terme van die verbond van Abraham is ook geestelik in die hart besny nie (Rom. 2:28-29).19 Maar nou is hierdie Messiaanse Joodse man geestelik besny en in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag, in lyn met die verbondsteken van die Nuwe verbond, ondergaan hy die doop van gelowiges soos wat dit dissipels van Jesus betaam (Matt. 28:19). Die posisie van die Messiaanse Joodse man weerlê dus baie duidelik die idee dat die “doop in die plek van die besnydenis” gekom het, want sy ouers het hom fisies op die 8ste dag besny in ooreenstemming met die Abrahamitese verbond én hy het hom in geloof laat doop in ooreenstemming met die Nuwe verbondsteken. Wat nie-Joodse gelowiges in die Kerk-era betref: die verbond van Abraham behoort nie aan ons nie want ons is nie Jode nie, ons is ook nie onder die Wet van Moses nie, so geen fisiese besnydenis is nodig nie en die Sabbat hoef nie onderhou te word nie. Nie-Joodse gelowiges in die Kerk-era wys hulle is aan Jesus onderdanig deur die doop van gelowiges te ondergaan (Matt. 28:19).20

Verbonde wat die Bybel nie identifiseer nie
Verbondsteologie wil die “verlossingsgeskiedenis en eenheid van die Skrif beklemtoon deur middel van die sogenaamde ‘teologiese verbonde’” (Spencer 1994:243,251; my vertaling). Volgens Verbondsteologie het die ‘verbond van werke’ die lewe van Adam en Eva voor die sondeval gereguleer21 maar daarná is die ‘verbond van genade’ gegee. Party verbondsteoloë (Osterhaven 2001:302; my vertaling) voeg ʼn derde verbond by, naamlik ʼn ‘verbond van verlossing’: “Volgens Verbondsteologie is die verbond van genade, wat in die geskiedenis gegee is, gebaseer op ‘n ander verbond, die verbond van verlossing, wat ‘n ewige ooreenkoms tussen God die Vader en God die Seun aangaande die verlossing van die mensdom is.”

Verbondsteoloë dink dat die verbonde van die Bybel as progressiewe openbarings of vorme van een en dieselfde verbond van genade gesien moet word, soos Osterhaven (2001:303; my vertaling) dit beskryf:

Alhoewel die verbond van genade die verskillende dispensasies van die geskiedenis insluit, is dit essensieel een. …Met Abraham is ‘n nuwe begin gemaak wat die latere Sinaïse verbond implementeer en versterk. By Sinai neem die verbond ‘n nasionale vorm aan en die wet van God word beklemtoon. …In Jesus manifesteer die nuwe vorm van die verbond wat deur die profete belowe is.

Berkhof (1976:299-300; my vertaling) beaam bogenoemde: “Die verbond van genade, soos dit in die Nuwe Testament geopenbaar is, is essensieel dieselfde as dit wat die verhouding tussen Ou Testamentiese gelowiges en God gereguleer het.” Ook Van Gemeren (aangehaal in Pettegrew 2007:188, my vertaling) stem saam: Die Nuwe verbond is “dieselfde in substansie as die ou verbond (die Mosaïese administrasie), maar verskillend in vorm.”

Niemand stry dat God verbonde gebruik om sekere beloftes te maak en aan die mens sekere bepalings en voorskrifte te gee nie. Verbonde wat in die Bybel geopenbaar is, is belangrike boustene om sin van God se spesiale openbaring te maak. Maar dan moet daar by die Skrif gebly word. Moses waarsku: “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid” (Deut. 29:29). Ook Paulus waarsku dat niemand verder moet gaan as wat God geopenbaar het nie, “om nie te dink bo wat geskrywe is nie” (1 Kor. 4:6).22 Hierdie aanhalings is relevant want die belangrike vraag is: Waar in die Bybel kan die sogenaamde ‘verbond van genade’ of die ‘verbond van verlossing’ gevind word? Soos Ryrie (2007:100; my vertaling) verbondsteoloë vra:

Die kern-vrae is die volgende: (1) Is die verbond van genade in die Bybel? (2) Selfs indien dit daar is, behoort dit die beherende hermeneutiese en teologiese voorveronderstelling te wees? (3) Selfs as daar ‘n eenheid van geredde mense bestaan, neem dit die verdeeldheid in God se program vir Sy skepsele weg?

Couch (2000:158; my vertaling en onderstreping) het die werk van vermaarde verbondsteoloë soos Berkhof en Hodge nagegaan en tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Dit is veral ontstellend dat die vooraanstaande proponente van verbondsteologie erken dat daar geen skriftuurlike bewyse vir die twee mees belangrike verbonde in hul teologiese sisteem is nie – die verbonde van werke en die verbond van verlossing (en/of genade).” Nadat verbondsteoloë Hodge en Allis se werk deur Ryrie (2007:221) ondersoek is, merk hy die volgende op:

Wat die verbondsteoloog doen om op te maak vir die gebrek aan spesifieke skriftuurlike bewyse vir die verbonde van werke en genade is om ‘n algemene idee van verbond in die Bybel en die spesifieke verbonde (soos die verbond met Abraham) te projekteer in die verbonde van werke en genade in. Niemand betwis die feit dat verbond ‘n baie basiese idee in die Skrif is nie en dat ‘n getal spesifieke verbonde in die Skrif openbaar word nie. Maar die realiteit bly dat die Bybel nêrens praat van ‘n verbond van werke of ‘n verbond van genade soos wat dit wel praat van ‘n verbond met Abraham of ‘n verbond met Dawid of ‘n nuwe verbond nie.

Is dit raadsaam om ʼn hele teologiese sisteem te bou op verbonde wat die Bybel nie spesifiek identifiseer nie? Nee, stellig nie!

Leer Mattheus 21:43 nie dat die Kerk vir Israel vervang het nie?23 Eerstens, niemand behoort doktrine van ʼn gelykenis af te lei nie. Tweedens, wat presies verander in die hierdie gelykenis: word die wingerd (Israel) vervang of word nuwe landbouers aangestel? Nolland (2005:871, 876) is van mening dat die landbouers na “daardie geslag” se godsdienstige leiers van Israel verwys en dat die gelykenis die naderende vervanging van hierdie godsdienstige leiers beskryf. Dit is nie Israel wat vervang is nie, maar die ongelowige godsdienstige leiers van “daardie geslag” Jode wat deur Petrus en die uiteindelike apostels vervang is.24 Turner (2002:61; my vertaling en beklemtoning) se gevolgtrekking word ondersteun:

Die gelykenis van die onwillige landbouers behoort nie geïnterpreteer te word as ‘n oordrag van God se verlossingsprogram van Israel na die kerk toe nie. Om hierdie teksgedeelte te lees as Israel se verwerping en vervanging deur ‘n nie-Joodse kerk is om ‘n latere teologie van supersessionalisme daarin te lees. So ‘n siening is eksegeties bedenklik en het bygedra, miskien onnadenkend in sommige gevalle, tot anti-Semitisme. …Mattheus 21:33-46 behoort geïnterpreteer te word as verwysende na ‘n oordrag van leierskap in die koninkryk van die vrugtelose godsdienstige leierskorps in Jerusalem na die vrugbare Christelik-Joodse gemeenskap van Mattheus, gelei deur Jesus se apostels.

As die Kerk nie vir Israel vervang nie, is die Kerk nie dalk ʼn “nuwe geestelike Israel” nie? Is Israel nie ʼn profetiese tipe wat vooruitskou na die antitipe van Christus en sy Kerk nie? Soos reeds geargumenteer, eerstens deel die Kerk in die geestelike seëninge van Israel se onvoorwaardelike verbonde (Abrahamities, Land, Dawidies en Nuwe), maar die Kerk neem nie hierdie verbonde oor nie. Tweedens, nie alle beloftes in elke verbond kom onmiddellik in werking of word gelyktydig vervul nie, so geestelike beloftes kan al in vervulling kom maar fisiese beloftes eers later. Onvoorwaardelike fisiese beloftes wat aan Israel gemaak is, sal aan nasionale, etniese Israel vervul word, nie aan een of ander antitipe daarvan nie. Derdens, die Nuwe Testament verwys nie na die Kerk as Israel nie. Indien die Kerk die antitipe van Israel is, dan moet daar voorbeelde hiervan in die Nuwe Testament wees. Nadat die Kerk op Pinkster gebore is, word daar in die res van die boek Handelinge en die daaropvolgende Nuwe-Testamentiese boeke nog steeds na nasionale Israel verwys. Wat van Galasiërs 6:16, is die Kerk nie die “Israel van God” nie?25 Paulus argumenteer nie in Galasiërs dat alle verskille tussen die besnedenes en die onbesnedes uitgewis is nie. Wat die area van verlossing en redding betref is ons almal inderdaad dieselfde, dit maak nie saak of jy ʼn Jood of ʼn nie-Jood, man of ʼn vrou is nie (Gal 3:28), wat redding en verlossing betref is ons almal totaal van Jesus Christus se verlossingswerk afhanklik. Maar al is ons almal in die area van regverdigmaking deur die geloof in Jesus Christus dieselfde, is daar steeds verskille. Hou ʼn vrou op om ʼn vrou te wees sodra sy gered word? Word nie ʼn nie-Jood dan skielik ʼn Jood? Fruchtenbaum (1989:252; my vertaling) lewer kommentaar op die Griekse bronteks van Galasiërs 6:15-16:

[Hier] is twee groepe wat in die gedeelte genoem word: die hulle en die Israel van God. … daar is geen tekstuele of kontekstuele rede om weg te beweeg van die primêre betekenis van kai, wat “en” beteken, na ‘n sekondêre betekenis van “selfs” nie. Die hulle verwys na die nie-Joodse gelowiges aan wie Paulus in die hele brief geskryf het. Die Israel van God verwys spesifiek na die Joodse gelowiges en nie aan die Kerk in die algemeen nie. Daar is geen rede om eksegetiese hier Israel ‘n verwysing na die Kerk te maak nie.

Opsomming
Nie net is die verbonde van die Bybel geïdentifiseer nie, maar hierdie artikel het ook die wisselwerking tussen die voorwaardelike en onvoorwaardelike verbonde uitgelig. Vandag se gelowiges leef nie onder die Wet van Moses nie, ons hoef nie die Sabbat te onderhou nie en ʼn nuwe vorm van Judaïsme is nie waarmee ons besig moet wees nie. Omdat die verbonde van die Bybel belangrike boustene in God se spesiale openbaring is, is dit goed om hierdie verbonde te identifiseer en die wisselwerking tussen die verbonde te verstaan. Die Kerk het nie Israel se onvoorwaardelike verbonde oorgeneem nie en is ook nie ʼn “nuwe geestelike Israel” nie. Sedert Pinkster bou die Hoof, Christus Jesus, sy liggaam met Joodse én nie-Joodse gelowiges en, wanneer Hy sy bruid kom haal het, sal die onvervulde beloftes van Israel se onvoorwaardelike verbonde in vervulling begin kom. God is getrou en Hy sal die onvoorwaardelike beloftes wat Hy gemaak het vervul.

Bibliografie
Berkhof, L. 1976. Systematic theology. Edinburgh: The Banner of Truth Trust.

Couch, M., 2000, Covenant theology and the doctrine of the Church. In Couch, M. (ed.) An introduction to Classical Evangelical Hermeneutics: A guide to the history and practice of Biblical interpretation. Grand Rapids, MI: Kregel Publications. 157-163.

Davies, W.D. & Allison, D.C., 2004. Matthew a shorter commentary. London: T&T Cark International.

Fruchtenbaum, A.G. 1989. Israelology: The missing link in systematic theology. Tustin, CA: Ariel Ministries.
――, 2005. The eight covenants of the Bible. Ariel’s Bible commentary. Tustin, CA: Ariel Ministries.
――, 2005. The fall of man. Ariel’s Bible commentary. Tustin, CA: Ariel Ministries.

McAvoy, S. L. 1996. Abrahamic covenant. In Couch, M. (ed.). Dictionary of premillennial theology. Grand Rapids, MI: Kregel Publications. 27-32.

Nolland, J. 2005. The Gospel of Matthew: A commentary on the Greek text. The New International Greek Testament commentary. Grand Rapids, MI: William B. Eerdmans Publishing Company.

Osterhaven, M.E. 2001. Covenant theology. In Elwell, W.A. (ed.). Evangelical dictionary of theology. 2nd edition. Grand Rapids, MI: Baker Academic. 301-303.

Pentecost, J.D. 1958. Things to come: a study in Biblical eschatology. Grand Rapids, MI: Zondervan.

Pettegrew, L.D. 2007. The New covenant and New covenant theology. The Master’s Seminary Journal, 18(1):181-199.

Ryrie, C.C. 2007. Dispensationalism. Chicago, IL: Moody Publishers.

Spencer, S.R. 1994. Reformed theology, Covenant theology, and Dispensationalism. In Dyer, C.H. & Zuck, R.B. (eds.). Integrity of heart, skilfulness of hands: Biblical and leadership studies in honor of Donald. K. Campbell. Grand Rapids, MI: Baker Books. 238-256.

Tasker, R.V.G. 1961. The Gospel according to St. Matthew. TNTC. Grand Rapids, MI: Eerdmans.

Unger, M.F., 2002. Unger’s commentary on the Old Testament. Chattanooga, TN: AMG Publishers.

Turner, D.L. 2002. Matthew 21:43 and the future of Israel. Bibliotheca Sacra, 159(633):46-61.

Walvoord, J.F., 1968. The Times of the Gentiles. Bibliotheca Sacra, 125(497):1-9.

Ander aanbevole leestof
Benware, P.N., 2006. Understanding end times prophecy. Chicago, Illinois: Moody Publishers.

  • Sien hoofstukke 2 tot 4: “The Abrahamic Covenant”, The Palestinian, Davidic, and New Covenants”, “Dispensational Theology and Covenant Theology”, 35-90.

Busenitz, I.A., 1999. ‘Introduction to the Biblical Covenants: The Noahic Covenant and the Priestly Covenant’, The Master’s Seminary Journal, 10/2 (Fall 1999) 173-189.

Ellisen, S.A., 1998. God, Satan, man: 3 Worlds in conflict. Oregon: Multnomah Publishers.

  • Sien veral hoofstuk 3: “The covenants: God outlines his plan, 31-46.

Hitchcock, M., 2012. The end: A complete overview of Bible prophecy and the end of days. Carol Stream, Illinois: Tyndale House Publishers.

  • Sien veral hoofstuk 6 ‘Back to the future: The end times fulfil God’s covenants’, 83-94.

Ryrie, C. C., 2005. The basis of the premillennial faith. Dubuque, Iowa: ECS Ministries.

  1. Vir ʼn volledige bespreking hieroor, sien Fruchtenbaum, A.G, 1985/2005, ‘The fall of man’, Ariel Ministries (www.ariel.org). Hierdie artikel is beskikbaar by www.faithequip.co.za as artikel ‘A23 Die sondeval’.
  2. Hulle sou jare later ook fisies sterf.
  3. Alhoewel Satan reeds by Jesus se kruis die stryd verloor het, is hy nog nie van sy wederregtelike aansprake gestroop nie en beskryf die Nuwe Testament hom steeds as die “prins van hierdie wêreld” (Joh. 12:31) of die “god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4). By Christus se wederkoms sal Satan gebind word en later finaal van enige mag gestroop word (Rom. 16:20; Open. 20:1-10).
  4. Was die verbond voorwaardelik omdat Abram eers die land Ur moes verlaat en na Kanaän moes gaan? Daar is ʼn verskil tussen die rede waarom ʼn verbond gemaak word en die basis waarop die beloftes wat daarin vervat is vervul gaan word al dan nie (Pentecost 1958:72-73). Selfs al was die verbond voorwaardelik (maar dit word glad nie toegegee nie!), Genesis 26:5 leer dat Abraham na God se stem geluister het en sy gebooie, insettinge en wette gehoorsaam het. Die verbond van Abraham is onvoorwaardelik – sien veral Gen. 15:8-18.
  5. Die onderskeid tussen ʼn Jood en ʼn nie-Jood bestaan nie vóór Abraham-Isak nie.
  6. Byvoorbeeld: Groot nasie uit Abraham: Israel (Gen. 12:2; 13:6; 15:5; 17:1-2, 7; 22:17b); Land Kanaän aan Abraham belowe (Gen. 12:1;13:14-15,17; 15:17-21; 17:8); Abraham sal ‘n seun uit Sara ontvang (Gen. 15:1-4; 17:16-21); Abraham se nageslag sal in Egipte verdruk word (Gen. 15:13-14); Ander Semitiese nasies sal uit Abraham kom, dit is party Arabiese nasies (Gen. 17:3-4,6); Besnydenis op die 8ste dag is die verbondsteken (Gen. 17:9,14).
  7. Byvoorbeeld: Deur Abraham al die geslagte van die aarde geseën (Gen. 12:3c; 22:18).
  8. Byvoorbeeld: Israel sal die (hele) Beloofde land in besit neem (Gen. 12:7); Israel sal ‘n groot nasie, ontelbaar word (Gen. 12:2).
  9. Byvoorbeeld: Seën/(vervloek) Abraham en sy nageslag en ontvang seën/(vloek) (Gen. 12:3a-b).
  10. Die verbond van Abraham is bevestig met Isak (Gen. 26:2-5, 24), Jakob (Gen. 28:13-15) en met sy twaalf seuns (Gen. 49). Dit is nie met Arabiese nasies of nie-Joodse nasies bevestig nie.
  11. God het die nasie Israel uitverkies maar dit beteken nie elke individuele Jood is outomaties gered nie, want ʼn persoon word gered deur God se genade in geloof, nie vanweë biologiese geslagslyne nie. Moses sê vir Israel: “Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie” (Deut. 10:16) en eeue later herhaal Paulus hierdie waarheid: “Want nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29).
  12. Om die Wet van Moses te verdeel in ‘seremoniële’, ‘morele’ of ‘wetlike’ kategorieë kan nie gebruik word om dele van die Wet van Moses as voorwaardelik en ander as onvoorwaardelik te beskou nie. Daar is byvoorbeeld nege van die tien gebooie wat beslis vandag nog geldig is, maar dan omdat dit deel is van die Nuwe verbond, nie omdat die Wet van Moses steeds geldig is nie.
  13. Vir Jode kan die teken van die Mosaïese verbond onmoontlik die fisieke besnydenis wees. Gehoorsame Joodse ouers het hulle seuns op die 8ste dag besny – en fisies kan so iets net een keer gebeur.
  14. Maar nie uit Gonja se nageslag nie (Jer. 22:28-30).
  15. “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie…” (Gen 2:16b-17a).
  16. Byvoorbeeld, die doodstraf word nou nie net vir moordenaars opgelê nie, maar ook vir ander oortredinge.
  17. Jesus sou kruis toe gegaan het ongeag of daardie geslag van Jode Hom aanvaar het al dan nie.
  18. Daar is nie ʼn sogenaamde ‘verbond van genade’ waaronder ander verbonde ingeforseer moet word nie.
  19. Al is Israel die uitverkore nasie beteken dit nie dat elke individuele Jood outomaties geestelik gered is nie (cf. Mat 3:7-10).
  20. Soos Salomo gesê het, daar is niks nuuts onder die son nie. Soos wat die Fariseërs daardie mense wat Jesus gevolg het uit die sinagoges verban het (Joh. 9:22), net so word baie mense wat gehoorsaam is aan die Nuwe verbondsteken van die doop van gelowiges beveel om hul denominasie te verlaat. Maar soos Een groter as Salomo gesê het, die wysheid is geregverdig deur sy kinders.
  21. Ooreenkomste bestaan tussen die voorwaardelike Edeniese verbond en die ‘verbond van werke’ wat verbondsteoloë beskryf.
  22. En God waarsku deur Johannes in Openbaring dat niemand iets moet byvoeg of wegneem van die profesie nie (Open 22:18-19).
  23. In sy kommentaar op Mattheus 21:35-43 skryf Tasker (1961:204; my vertaling) iets wat baie verbondsteoloë glo: “As gevolg van hierdie verwerping van Jesus die Messias, wat gekom het as die klimaks van ‘n lang reeks van verwerpinge van die profete wat God aan hom gestuur het (35,36), sal ou Israel as sodanig die reg om die seëninge wat betrekking het op die koninkryk van God verbeur.”
  24. Davies en Allison (2004:367; my vertaling) waarsku: “Terwyl baie eksegete in ons teksgedeelte die finale verwerping van die Jode gevind het, is dit inleeskunde.”
  25. “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ’n nuwe skepsel. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” (Gal 6:15-16).