Bind en ontbind

Die enigste twee eksplisiete verwysings in die hele Nuwe Testament na die terme “bind en ontbind” kom in Matteus voor (sien ook Johannes 20:23). Die eerste verwysing kom voor wanneer Petrus die Here Jesus identifiseer as die Christus, die Seun van die lewende God (Matteus 16:16). Simon Petrus word geseën, die sleutels van die koninkryk van die hemele word vir hom gegee en hy ontvang die gesag om te “bind en ontbind” (Matteus 16:19). Die tweede verwysing kom in die konteks van dissipline in die Kerk-diskoers in Matteus voor— hier word ál die apostels die gesag gegee om te mag “bind en ontbind” (Matteus 18:18). Aangesien hierdie terme nêrens elders eksplisiet in die Nuwe Testament voorkom nie, hoe sou Petrus en die ander apostels dit verstaan het?

Jode wat in daardie tyd geleef het, het die terme “bind en ontbind” op twee maniere verstaan. Volgens Edersheim (aangehaal deur Constable 2017:284, eie vertaling; vgl. Wiersbe 2007:49), “word hierdie twee magte — die wetgewende mag [bind en ontbind] en juridiese mag [om weg te stuur of om te behou] — wat aan die Rabbynse amp behoort het, nou in werklikheid deur Christus oorgeplaas na Sy apostels toe.”

In ʼn wetgewende sin beteken die woord “bind” om “iets te verbied” en die woord “ontbind” beteken om “iets toe te laat” (vgl. Toussaint 1980:206).

In ʼn juridiese sin beteken “bind” om “te straf” en “ontbind” beteken om “vry van straf te maak” (Fruchtenbaum 2005:9).

Dit is belangrik om hierdie unieke rol wat Christus se apostels aangaande “bind en ontbind” ontvang het, te verstaan. Christus het aan Petrus en die ander apostels die gesag gegee om wetgewend te bind en te ontbind (om te verbied of toe te laat). Onder die leiding en inspirasie van die Heilige Gees het die apostels hierdie gesag uitgeoefen in die briewe, preke en profesie wat in die Nuwe Testament opgeteken is. Slegs dokumente wat die goedkeuring van een of meer apostels gehad het, is in die Nuwe Testament ingesluit. Die resultaat van die geïnspireerde Nuwe-Testamentiese geskrifte is dat ons die Wet van Christus het — die wetgewende fondasie vir gelowiges in Christus wat onder die Nuwe Verbond leef. Moenie durf hieraan byvoeg of wegvat nie (vgl. Openbaring 22:18-19).

Die primêre voorbeeld van wetgewende binding en ontbinding word in Handelinge 15 gevind waar die apostels, onder die leiding van die Heilige Gees, besluit wat verbied en wat toegelaat word aangaande nie-Joodse gelowiges in Christus. Nog ʼn voorbeeld: elke keer wanneer hy beklemtoon dat hy ʼn apostel van die Here Jesus Christus is, herinner Paulus sy lesers daaraan dat wat hy op aarde bind alreeds in die hemel gebind is en wat hy verbied alreeds in die hemel verbied is.

Terwyl die apostels nog op aarde was, het hulle ook juridiese gesag in die Kerk uitgeoefen. Hierdie gesag was gegrond op die Ou Testament, Christus se leringe, die leiding van die Heilige Gees en met inagneming van watter Nuwe-Testamentiese dokumente tóé alreeds geskryf was. ʼn Primêre voorbeeld van juridiese binding en ontbinding word in Handelinge 5 gevind, waar Petrus sy apostoliese gesag gebruik om te “bind”, dit is, om te Ananías en Saffíra te straf, omdat hulle vir die Heilige Gees gelieg het. Nog ʼn voorbeeld: Paulus “bind” juridies in 1 Korintiërs 5 en hy “ontbind” juridies in 2 Korintiërs 2:4-8.

Toe die laaste apostel (die apostel Johannes) gesterf het en die Nuwe-Testamentiese kanon voltooi is, was die wetgewende fondasie klaar gelê. Die gesag om te bind en te ontbind is uniek en slégs aan die apostels gegee. Gebou op die fondament van die apostels en die profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is (Efesiërs 2:19-22), is die fondasie vir die Kerk eens en vir altyd gelê — mens bou ʼn fondasie net een keer, nie waar nie? Daar is géén Skriftuurlike gronde van enige aard om te beweer dat apostoliese gesag oorgedra word aan andere ná die tyd van die apostels nie. Alhoewel baie hulself as sodanig voorstel, is daar géén apostels vandag meer nie — die laaste apostel het ongveer 1 915 jaar gelede gesterf.

Aangesien die wetgewende fondasie dan lankal gelê is, hoe moet plaaslike kerke juridiese sake toepas? Duidelik word daar na kerkdissipline in Matteus 18:16-20 verwys en, op hierdie terrein, kan plaaslike kerke optree om lidmate te “bind” deur hulle uit die plaaslike kerk te ban of om hulle te “ontbind” deur hulle die plaaslike kerk weer toe te laat (Fruchtenbaum 2005:10, eie vertaling). Plaaslike kerke moet juridiese sake egter in lyn met die Nuwe Testament beslis en nie volgens mensgemaakte reëls/wette wat nie in die Skrif gevind word nie.

Die enigste twee eksplisiete Nuwe-Testamentiese verwysings na “bind en ontbind” kom in Matteus 16:19 en 18:18 voor. Vanuit hierdie kontekste kan ondersoek ingestel word na wat hierdie terme vir Jode van daardie tyd beteken het. Vanuit ʼn Joodse perspektief kan tot die slotsom gekom word dat “die belydenis van Petrus en die reaksie van Jesus die nodige voorbereiding was vir die ontstaan van die Kerk en die skryf van die Nuwe Testament deur apostoliese gesag” (Fruchtenbaum 2005:10, eie vertaling).

————————-

Bronne:

Constable, T.L. 2017, Notes on Matthew, 2017 edition, Sonic Light.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘The confession of Peter’, Ariel Ministries, San Antonio.

Toussaint, S.D., 1980, Behold the King: A study of Matthew, Kregel Publications, Grand Rapids.

Wiersbe, W.W., 2007, The Wiersbe Bible Commentary: New Testament, David C Cook, Colorado Springs.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']