Boeke
Die komende Koning en sy Messiaanse koninkryk

Die komende Koning en sy Messiaanse koninkryk bied die lering oor die koninkryk van God aan soos wat dit progressief vanaf Genesis tot Openbaring ontvou. Die koninkryk van God is die sentrale tema van die Bybel, van voor die grondlegging van die wêreld af, in die begin, regdeur die geskiedenis, en tot in die ewige bestel. Jesus Christus is nie net die Verlosser nie, maar hy is ook die komende Koning wat suksesvol oor die aarde sal heers tot in alle ewigheid. Die Bybel se meta verhaal vertel hoe die Laaste Adam alles sal herstel wat in Eden verlore gegaan het. Kom ontdek hoe God sy koninkryksplan in Christus tot uitvoering gaan bring in Die komende Koning en sy Messiaanse koninkryk.
God se raadsplan in Christus

God se raadsplan vir sy skepping strek van voor die grondlegging van die wêreld af tot in die nuwe hemel en die nuwe aarde. God laat alles volgens sy raadsbesluit gebeur, ooreenkomstig sy ewige voorneme wat Hy in Christus Jesus uitvoer. Die plan van God het talle fasette, waaronder die verlossing van mense in Christus, die Kerk se rol en plek, Israel en die nasies, asook baie profetiese aspekte wat in die eindtyd in vervulling sal gaan.
God se raadsplan bereik sy hoogtepunt in die koninkryk van God wat op aarde opgerig sal word, met Christus as koning. Die manier waarop God sy raadsplan tot verwesenliking gaan bring, word in die onvoorwaardelike Bybelse verbonde en profesieë uitgespel. In die volheid van die tyd sal alles onder Christus verenig wees en Hy sal oor die hele skepping heers. Hierdie doel gaan eers bereik word ná die verdrukkingstydperk, na afloop van die ‘tye van die nasies’, ná die 75 dae-interval, in die eskatologiese ‘dag van die Here’.
God se raadsplan in Christus neem die leser dus op ’n ontdekkingsreis om te sien hoe God sy raadsplan in Christus tot uitvoering gaan bring.
Maklike maniere om God se raadsplan in Christus te koop.