Burgerlike ongehoorsaamheid

Moet ʼn Christen die regering altyd gehoorsaam wees, of is daar omstandighede wanneer ʼn Christen ongehoorsaam aan die wette kon wees, selfs móét wees? Verbeel jou jy is gesond, maar ʼn nuwe wet maak dit vir jou onmoontlik om jou werk te doen, moet jy hierdie wet gehoorsaam? Of wat as jy ʼn kerkdiens wil bywoon maar die regering maak sulke byeenkomste onwettig—wat staan jou te doen? Burgerlike (of siviele) ongehoorsaamheid is nie ʼn maklike onderwerp nie.

God het menslike regerings ingestel

God het “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Hand 17:26; vgl. Deut 32:8). Die Koning van die heelal het egter ook burgerlike, siviele regerings, ingestel. Indien ingesien word dat God die koning is van die universele/ewige koninkryk van God, en dat Hy gesag aan menslike regerings gedelegeer het, dan is dit makliker om Jesus se opmerking in Matteus 22:23 te verstaan: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” Omdat menslike regerings deur God ingestel is, is die algemeen-geldige reël dat Christene die wette van die land moet gehoorsaam (vgl. Titus 3:1; 2 Pet 3:13-17). Romeine 13:1 sê: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel”. McClain (1959:47, eie vertaling) merk die volgende op oor die verbond met Noag en die instelling van menslike regerings in Genesis 9:

Wat ons dus hier het is iets totaal en al nuut op die aarde; ʼn instelling waardeur God nou sy regeringsgesag oor die nasies delegeer aan menslike regeerders wat, of hulle God nou erken al dan nie, nietemin “deur God ingestel” is om “dienaars” van God te wees, en daarom sal hulle verantwoordelik voor God wees vir die wyse waarop hulle hul pligte “ten goede” vir die mensdom uitgevoer het en om ʼn “wreker” te wees van dié wat kwaad doen (Rom 13:1-6).

God het gesag aan menslike regerings oor ʼn sekere sfeer (ʼn land en mense) gedelegeer. Daar is verskeie regeringsvorme op aarde wat op verskillende maniere hierdie gedelegeerde gesag uitoefen, maar dít vind byna altyd plaas deur middel van wette.

Die doel van ʼn regering

Omdat alle mense na die beeld van God geskape is, is die hoofdoel van menslike regerings om hul burgers te beskerm teen boosdoeners binne die land (via die polisie en die regstelsel) en teen boosdoeners van buite die land (via die weermag wat die grense moet patrolleer, oorloë moet veg, ens.). Die klem is op reg en geregtigheid, op wet en orde. Indien ʼn regering hierdie primêre funksie van wet en orde nie vervul nie, dan laat die regering hul burgers in die steek—en meer nog, hulle sal aan God verantwoording moet doen. Omdat die verbond met Noag ʼn onvoorwaardelike verbond is en dus steeds aangaan—elke nou en dan sien ons nog die reënboog—moet diégene wat met voorbedagte rade moord pleeg, die doodstraf kry (vgl. Gen 9:6). Weer eens, die klem is op die regstelsel sodat menselewens beskerm word, want elke mens is na die beeld van God geskape. (Terloops, as hierdie onderskeide getrek word is dit makliker om vrae soos die volgende te beantwoord: Moet ʼn regering ʼn lugvaartmaatskappy vlerke gee en in die lug hou? Is dit ʼn regering se taak om werksgeleenthede te skep?)

Die risiko

Samelewings wat op die Joods-Christelike wêreldbeeld gebou is, erken dat ná die sondeval elke mens ʼn sondige natuur het. Vir hierdie rede het baie Westerse lande die mag van die regering in ʼn wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag verdeel. Die idee is juis nié om regeringsmag in die hande van ʼn paar mense te sentraliseer nie. As ʼn mens God nie verheerlik of dank nie, maar eerder afgode dien, dan sal die gevalle natuur van daardie mens toenemend manifesteer en oorneem (vgl. Rom 1:18-32). As God se waarheid nie gehoorsaam word nie, en hierdie proses ten volle verloop, sal so ʼn persoon uiteindelik iets wat goed is sleg kan noem, en dit wat sleg is dalk goed noem. Indien dit in ag geneem word, dan is dit duidelik hoekom die reg en mag om te regeer eerder verdeel moet word, oftewel gediversifiseer word. Met reg het John Dalberg-Acton gesê: “Power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely.” Nie net moet mag binne lande gediversifiseer wees nie, maar vir dieselfde rede is dit ook goed dat daar baie lande elk met hulle eie regering sal wees (vgl. Gen 10)—juis nie een wêreldregering wat in die hande van een of tien slegte mense kan val nie. Dit is ook so dat die Bybel in baie lande nie geglo word nie en dat gedink word die mensdom is basies goed, met die gevolg dat in sulke lande regeringsmag tipies baie meer in die hande van ʼn elite gesentreer word.

Christelike plig en siviele ongehoorsaamheid

Ten opsigte van gesag het Christene twee hoof-pligte. Eerstens moet Christene ongekwalifiseerd aan God gehoorsaam wees, Hy wat die Skepper, Verlosser en hoogste gesag in die heelal is. Tweedens is dit God wat menslike regerings ingestel het en daarom is Christene verplig om hulle aan die regeringsowerhede te onderwerp. ʼn Probleem ontstaan wanneer hierdie pligte in konflik met mekaar kom, dit wil sê wanneer God ons beveel om iets te doen wat die burgerlike owerheid verbied, of as die burgerlike owerheid ons beveel om iets te doen wat God verbied (Gill 2001:263). Burgerlike of siviele ongehoorsaamheid kan dus beskryf word as ʼn opsetlike daad wat iemand doen maar wat die burgerlike owerheid verbied, of as iemand weier om iets te doen wat die burgerlike owerheid vereis (Gill 2001:263). Hierdie ongehoorsaamheid kan deur ʼn indiwidu of ʼn groep uitgevoer word. Dit kan gerig wees op ʼn baie spesifieke saak of meer algemeen op die regeringsowerhede (Gill 2001:263). Burgerlike ongehoorsaamheid vind in die openbaar/publiek plaas, dit is onwettig volgens die (bestaande) landswette en die doel van hierdie handelinge is om verandering in die wette teweeg te bring (Ryrie 1970:154).

Bybelse voorbeelde

Bybelse voorbeelde van burgerlike ongehoorsaamheid sluit in: Hanánja, Mísael en Asárja het nie Nebukadnésar se goue beeld aanbid nie (Dan 3). In hierdie spesifieke geval het God besluit om hierdie drie geloofshelde van ʼn gewisse dood deur die vuuroond te beskerm. Daar was geen moontlikheid om Nebukadnésar se wet in ʼn hof te betwis nie. Nog ʼn voorbeeld is natuurlik Daniël wat aangehou het om tot God te bid en daardeur geweier het om ʼn onveranderlike wet van die Mede en Perse te gehoorsaam (vgl. Dan 6:1-29). Hierdie wet het bepaal dat petisies of gebedsversoeke slegs tot die menslike koning gerig mag word nie, maar Daniël het tot God gebid. Ook in hierdie geval het God ingegryp om Daniël se lewe in die leeukuil te beskerm. God gryp nie altyd in soos wat Hy met Daniël en sy drie vriende gedoen het nie. In Nuwe-Testamentiese tye het die apostels ʼn opdrag van die Joodse Raad verontagsaam en gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand 5:29; vgl. 4:19).

Beginsel en gedrag

Uit bogenoemde Bybelse voorbeelde kan ʼn beginsel afgelei word: “Ongehoorsaamheid aan ʼn hoër gesag lyk geregverdig te wees as hierdie gesag vereis dat ʼn gelowige die wette van God moet verontagsaam” (Ryrie 1970:159, eie vertaling). Die duidelikste voorbeeld van burgerlike ongehoorsaamheid is wanneer ʼn menslike regering die aanbidding van God verbied—só ʼn opdrag moet vanselfsprekend geïgnoreer word. Óf andersom: wanneer ʼn menslike regeerder eis dat hy (of sy) aanbid moet word, dan moet só ʼn opdrag ook geweier word.

Wat staan ʼn Christen te doen wanneer die burgerlike owerheid van jou vereis om iets te doen wat God verbied, of jou verbied om iets te doen wat God beveel? Die volgende kan oorweeg word:

  1. Bid oor die saak. Ondersoek die Bybel oor die aangeleentheid.
  2. Maak seker dat jy die wette van God waaronder jy leef, reg verstaan. Christene is tans onder die Nuwe verbond met sy wet van Christus; ons leef nie onder die Mosaïese verbond met die wet van Moses nie. Anders gestel, ons is nie in ʼn teokrasie in die land van Israel soos in Ou-Testamentiese tye nie.
  3. Yster slyp yster: As jy dade van burgerlike of siviele ongehoorsaamheid oorweeg, bespreek dit eers met volwasse Christene wat nie sal skroom om jou te weerspreek as jou siening verkeerd is nie. As jy as ʼn Christen in die publieke oog die menslike regering ongehoorsaam is, dan wil jy nie eers later in die tronk uitvind dat jou siening al die tyd verkeerd was nie.
  4. Ons het die reg en die plig om te werk vir die herroeping van wette wat vereis dat Christene die wette van God moet verontagsaam. Indien moontlik, probeer eers om hierdie burgerlike wette deur die howe te laat verander. Daar is nie altyd tyd om deur hierdie proses te gaan nie.
  5. As jy seker is dat jy die burgerlike owerheid moet verontagsaam, oorweeg wat is die beste manier om die beste uitkoms te bereik. Indien moontlik, doen wat jy moet doen op ʼn nie-gewelddadige manier. Probeer om nie jou indiwiduele regte te laat geld ten koste van die regte van ander nie. Bly nederig. En dink daaraan dat jy waarskynlik strafregtelike gevolge sal moet dra vir jou burgerlike ongehoorsaamheid.

Moontlike toepassing van die beginsel

Selfs voor die sondeval het God die mens beveel om te werk (vgl. Gen 2:15). Ná die sondeval moet ʼn mens nog steeds werk, maar nou is werk moeiliker — nogtans is werk steeds ʼn opdrag van God (vgl. Gen 3:17-19). In Nuwe-Testamentiese tye skryf die apostel Paulus aan die Thessalonicense: “Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet” (2 Thes 3:10-12). God beveel die mensdom nog steeds om te werk; dit is deel van die Nuwe verbond se wet van Christus. Maar sê nou die menslike regering maak dit vir jou onmoontlik om te werk? My persoonlike gevolgtrekking is dat ek moet aanhou werk omdat dit ʼn duidelike opdrag van God is — en ek moet God bó enige burgerlike gesag gehoorsaam. Utopiese, sosialisties-marxistiese beloftes oor “universele basiese inkomste” is bloot dit: beloftes van gevalle mense aan ander gevalle mense. Menslike regerings voorsien of onderhou nie die skepping nie; God doen dit. God is die groot EK IS, nie burgerlike regerings nie.

Wat van kerk-byeenkomste? Die regering het sy goedgekeurde sfeer van gesag by die Here ontvang en kerke het ook in hulle sfeer gesag van God ontvang. Die skrywer van Hebreërs het Joodse gelowiges kort voor 70 nC beveel: “En laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb 10:25). Dit is duidelik dat gelowiges moet vergader. In ʼn plaaslike kerk het die ouderlinge gesag van die Here Jesus Christus oor ʼn spesifieke groep mense ontvang. Aangesien hierdie ouderlinge nie aan die regering verantwoording doen nie, maar aan Christus rekenskap gee, moet hulle oor hierdie saak besluit.

Slotopmerkings

Ons ken nie die tydsberekening van eindtyd-gebeure nie, maar dit lyk asof die wêreldtoneel stadig maar seker in die rigting van ʼn een-wêreldregering beweeg, waaruit tien konings sal kom tesame met ʼn globale afgodediens-stelsel—en uit hierdie bestel sal die Antichris na vore tree (vgl. Dan 7:23-25; Op 13; 17). Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. ʼn Anti-nasionalistiese proses bou stoom op ten gunste van een wêreldwye regering wat uiteindelik onder die man van ongeregtigheid sal staan (vgl. Dan 11:36-39; 2 Thes 2:3-9). Die moeilike onderwerp van burgerlike of siviele ongehoorsaamheid sal dus al hoe meer relevant word. Maar ons het die “profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet 1:19 ). Wat die konings van die aarde betref wat saam raad hou teen die HERE en teen sy Gesalfde, God lag vir hulle en die HERE spot met hulle (vgl. Ps 2:2-4). Almal wat godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word (vgl. 2 Tim 3:12). Maar uiteindelik sal die ongeregtige Antichris en sy bose regering met die asem van Here se mond verdelg word, en met die Here se verskyning tot niet gemaak word (vgl. 2 Thes 2:8). Dan sal die Koning van die heelal die Here Jesus Christus, die Seun van God, op die troon van Dawid laat sit om oor al die nasies in reg en geregtigheid te heers. Ons ken reeds die eindresultaat van die eindtye, so hou aan om God te verheerlik, groei in die genade en kennis van ons Here, bou medegelowiges op en verkondig die evangelie van Christus.

Bronne

Gill, D.W., 2001, ‘Civil Disobedience’, in W.A. Elwell (red.), Evangelical Dictionary of Theology 2nd Edition, pp. 263-264, Baker Academic, Grand Rapids.

McClain, A. J., 1959, The Greatness of the Kingdom: An Inductive Study of the Kingdom of God, BMH Books, Winona Lake.

Ryrie, C.C., 1970, ‘The Christian and Civil Disobedience’, Bibliotheca Sacra 127(506):153-162.