By die dood van ʼn geliefde

Dalk is dit omdat mens ouer word, dalk is dit die tye waarin ons leef, maar ek ken al hoe meer mense wat gesterf het. Of ek ken vriende wie se ouers gesterf het, of kennisse wat oorlede is. ʼn Vriendin van hoërskool-dae se dominee-pa is oorlede. Twee maande gelede is ʼn vriend van laerskool af (wat later vir die Springbokke stut gespeel het) se pa oorlede. En ʼn maand of so terug is iemand in my groter familie oorlede: ʼn man uit een stuk, wonderlike eggenoot, pa en oupa. Ek en my vrou het gehuil en, toe die begrafnis oor die internet uitgesaai is, het nog meer trane gerol. Dit het my ook weer laat dink aan my pa se afsterwe byna 18 jaar gelede. Ek was toe maar ʼn jong gelowige, maar die Here het my daardeur gehelp. ʼn Paar jaar daarná kom ek toe af op ʼn preek van Chuck Smith, stigter van die Calvary Chapel kerke. Hierdie preek het baie vir my beteken en ek gebruik dit nou onbeskaamd as ʼn basis vir hierdie skrywe.

Vrae wat elkeen vra

Wat is die lewe? Wat is die dood? Wat gebeur met ʼn mens ná die liggaam sterf? As ʼn geliefde sterf is dit natuurlik om hierdie vrae te vra. Of jy kom agter dat jou eie liggaam nie meer dieselfde reageer as jy uit die bed opstaan nie. Hoe dit ook al sy, elke mens word op ʼn stadium met hierdie vrae gekonfronteer. Soms bêre ons dit weg in ons onderbewuste, maar by die dood van ʼn geliefde, of in tye van erge fisiese, psigiese of geestelike pyn, dan doen hierdie vrae weer op. In Job, een van die oudste boeke in die Bybel, word gevra: “Maar ʼn man sterf en is magteloos; ʼn mens kom om – en waar is hy dan?” (14:10). “As ʼn man sterf, sal hy weer leef?” (Job 14:14).

Opstanding en lewe

Jesus Christus, die Seun van God, antwoord hierdie vrae oor die lewe en die dood. Toe Lasarus ernstig siek was, laat sy susters vir Jesus weet: “Here, hy vir wie U liefhet, is siek” (Joh 11:3).

Jesus reageer: “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” (Joh 11:4).

Jesus het geweet Lasarus gaan sterf (Joh 11:11, 14), maar ten spyte van Martha en Maria se dringende boodskap, vertoef die Here eers ʼn paar dae by die Jordaan-rivier voordat hy die 2-dae lange reis na Betánië – omtrent twee myl van Jerusalem af – onderneem. Teen die tyd dat die Here by die dorpie aankom, was Lasarus alreeds vier dae tevore begrawe.

Vriende kom om Martha en Maria te troos (Joh 11:19). Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, gaan sy Hom tegemoet en sê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou weet ek dat wat U ook al van God vra, God vir U sal gee” (Joh 11:21-22).

Party mense sê dat Martha die Here op ʼn beleefde manier effens verwyt het omdat Jesus nie vroeër opgedaag het nie. Ek is nie oortuig dit was Martha se bedoeling gewees nie. Maar indien dit die geval was, dan vra sy vrae wat vandag nog gevra word. Waarom het die almagtige God nie ingegryp nie? Waarom reageer die Here nie op my gebede soos ek gevra het nie?

Jesus sien Martha se verdriet: “Jou broer sal opstaan” (Joh 11:23).

“Ek weet dat hy sal opstaan met die opstanding op die laaste dag” (Joh 11:24).

Dan sê Jesus: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Joh 11:25-26).

Wat beteken Jesus se woorde?

Jesus se stelling is sekerlik een van die mees radikale uitsprake wat al ooit in die geskiedenis gemaak is. As enigiemand anders so iets sou sê, sal die woorde afgemaak word as die gebabbel van ʼn mal persoon. Maar nie net maak Jesus hierdie stelling nie, Hy vra Martha pertinent: “Glo jy dit?” (Joh 11:26b).

“Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom” (Joh 11:27).

Jesus se vraag aan Martha verdeel die mensdom in twee: een groep wat glo in Jesus Christus, die Seun van God – en ʼn ander groep wat nie in Hom glo nie. Maar as Jesus sê, “wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe”, wat beteken dit? Of wat beteken: “elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie”?

Bybels gesproke beteken “dood” skeiding. Toe Adam en Eva gesondig het, is hulle van God geskei; hulle het geestelik dood geword. Adam en Eva se verhouding met God was afgeknip. Wanneer ʼn mens fisies sterf, dan skei die gees/siel van die liggaam af. Wat het dit met Jesus se woorde uit te make?

Jesus Christus, die Seun van God, maak twee beloftes: Hy is nie net die opstanding nie, maar Hy is ook die lewe. Elke mens wat in Jesus glo, maar wat fisies sterf (wie se siel/gees van die liggaam geskei word), sal lewe. Jesus belowe vir elke gelowige dat as jou liggaam sou sterf, Hy jou liggaam uit die dood sal opwek. Elke afgestorwe gelowige sal eendag uit die dood opstaan en Christus sal vir jou ʼn verheerlik liggaam gee. Dit is Jesus se belofte. Jesus is dus die opstanding en elkeen wat in Hom glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.

Maar Jesus is ook die “lewe” en “elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.” Wie glo in Jesus Christus, die Seun van God, sal geestelik vir ewig lewe; jy sal nooit van God geskei word nie en vir altyd ʼn verhouding met God hê. Ja, ons sondig steeds en as ons dit nie bely en vergifnis vra nie, vertroebel dit jou verhouding met God (vgl. 1 Joh 1:9). Maar nogtans verloor jy nie jou verlossing in Christus nie; nogtans verloor jy nie die ewige lewe nie. Jesus self is die “lewe”, Hy is die bron van elke gelowige se voortdurende geestelike lewe. Die gelowige se ewige, geestelike lewe begin by jou redding in Christus, wanneer jy jou geloofsvertroue in Christus, die Seun van God, stel. Dan is jy nie meer geestelik van God geskei nie. Dit moet gebeur vóór jy fisies sterf (anders is dit te laat). Jesus sê in sy hoëpriesterlike gebed: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus, wat U gestuur het” (Joh 17:3).

Jesus is dus enersyds die “opstanding” vir elke gelowige wat fisies sterf, maar andersyds is Jesus self die “lewe”, want Hy skenk die ewige lewe vir elkeen wat glo, selfs nou al tydens jou aardse lewe.

Die lewe en die dood

Wat is die lewe? Dit is om ʼn verhouding met God die Vader te hê, maar dit kan net gebeur deur Jesus Christus, die Seun van God. Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh 14:6).

En wat is dood? Dit is skeiding. Met verwysing na die mens se innerlike: as jy nie in Jesus Christus glo nie, het jy nie ʼn verhouding met God nie en bly jy geestelik dood al lewe jy fisies. Sou ʼn mens nooit tot geloof in Christus voor jou sterfdag kom nie, lei dit tot die tweede dood, wat ewige en permanente skeiding van God sal wees (Op 20:14). Daar is dus beide ʼn fisiese en ʼn geestelike dood. Ongelowige mense wat fisies leef is geestelik dood.

Dit is egter totaal en al onnodig dat enige mens verlore gaan. Die bekende Johannes 3:16 belowe die ewige lewe vir elkeen wat in Jesus glo: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (2020 AV).

Die lewende hoop

As dit by geestelike lewe kom, of oor lewe ná die dood gaan, dan is dit nie bloot ʼn geval dat Jesus antwoorde het nie – en dit hét Jesus inderdaad – maar eerder dat Jesus die antwoord IS. Jesus Christus, die Seun van God, IS die opstanding en die lewe.

Alle mense wat Jesus tydens sy eerste koms uit die dood opgewek het, soos byvoorbeeld Lasarus, het met verloop van tyd weer gesterf. Maar gelowiges het meer as hoop; ons het ʼn lewende hoop. Jesus is nie steeds in die graf nie. Ons bid nie in die Naam van iemand wat dood is nie. Jesus het op die kruis gesterf en so sy bloed gestort om vir die mensdom se sonde te betaal, toe is Hy is begrawe, maar op die derde dag het Hy uit die dood opgestaan. Jesus lewe.

Die apostel Petrus skryf dat elke mens wat weergebore is, het ʼn “lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ʼn onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Pet 1:3-4). Die apostel Paulus noem Christus die gelowige se “salige hoop” (Tit 2:13). Elders skryf dieselfde apostel: “Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God” (Rom 5:2). Die Here Jesus Christus IS die gelowige se hoop, Hy is ʼn lewende hoop (1 Tim 1:1; vgl. 1 Pet 1:21). Christus is die hoop op die heerlikheid (Kol 1:27).

As ʼn geliefde van jou dus gesterf het, en hy of sy was ʼn gelowige, treur dan nie soos iemand wat geen hoop het nie (1 Tess 4:13). En as ʼn gelowige die dood in die gesig staar, weet dat in die Here Jesus Christus, ons grote God en Verlosser, het jy ʼn lewende hoop.

Dawid se voorbeeld

Wat sê die Bybel oor die proses van rou oor die dood van ʼn geliefde? In 2 Samuel 1 ontvang Dawid die boodskap dat sy goeie vriend Jonatan en koning Saul albei dood is. Deur op te let hoe Dawid sy hartseer hanteer, kan belangrike lesse geleer word. Die Here help elke persoon individueel, so wat volg is nie ʼn resep nie. Nogtans, om iemand te verloor vir wie jy baie lief is, kan ʼn verwoestende ervaring wees. En vroeër of later gaan elkeen van ons verdriet en pyn ervaar as ons iemand wat ons baie liefgehad het, verloor. Dit kan wees dat ons hulle deur die dood verloor, of dalk verloor jy iemand wanneer ʼn hegte verhouding uitmekaar dryf. Baie mense se lewe ontspoor vanweë hul onvermoë om hartseer te hanteer. Hoe het Dawid reageer toe hy hoor dat Jonatan en Saul oorlede is?

Toe hy die nuus hoor, reageer David eerstens emosioneel. Hy wys dadelik sy hartseer: “Toe gryp Dawid sy klere en skeur dit” (2 Sam 1:11). In die tyd van Dawid was dit ʼn algemene gebruik om ʼn kledingstuk te skeur as ʼn uitdrukking van groot hartseer.

Toe het David gevas, gehuil en getreur tot die aand toe (2 Sam 1:12). Dit is goed om uiting aan smart en verdriet te gee. Sommige mense wil dapper wees en onderdruk ʼn openlike uitdrukking van hartseer. Ander voel dat hulle geestelik is om nie te veel emosie te wys nie. Om emosies te wys en trane te stort is nie noodwendig sleg nie; trouens, dit is terapeuties. Maar David se uitdrukking van hartseer was nie net tot trane beperk gewees nie. Hy spandeer tyd om oor Jonatan en Saul se lewens te besin. Hy begin nou ook uiting aan sy emosies gee deur sy verstand te gebruik en selfs iets te skryf. 2 Samuel 1:19-27 is die treurlied wat Dawid vir Jonatan en Saul geskryf het. Met hierdie pragtige en poëtiese woorde druk Dawid sy hartseer en diepe smart uit. Die Israeliete kon selfs hierdie woorde as huldeblyk aan hulle gevalle koning en sy seun sing.

Die derde manier hoe David sy hartseer hanteer is interessant, maar nie so ooglopend nie. In 2 Samuel 1:18 beveel Dawid die kinders van Juda om die boog te leer. Volgens Chuck Smith moes elke vader in Judea sy kinders leer hoe om ʼn boog te gebruik. Let wel, in ʼn tyd van verdriet sê Dawid: word betrokke by ʼn konstruktiewe aktiwiteit. In ʼn tyd van hartseer maak mense dikwels die fout om amper verlam te raak deur ʼn morbiede soort van introspeksie en emosionele toegeeflikheid. Hierdie benadering is nie net ongesond nie, maar dit kan die hartseer eintlik versterk en verleng. ʼn Belangrike manier hoe om oor hartseer te kom, is om aktief te raak, om ʼn nuwe vaardigheid aan te leer, om ʼn nuwe stokperdjie te ontwikkel, om uit te kom en dalk selfs iewers heen te reis.

Dawid het sy mense opdrag gegee om hul kinders te leer hoe om ʼn boog te gebruik. Nou hulle het nie destyds sportwinkels gehad nie. Hulle kon nie net na ʼn winkelsentrum ry en ʼn boogskiet-stel koop nie. Eerstens moes hulle ʼn boom vind met ʼn goeie, stewige tak. Sny die tak af en maak hieruit ʼn boog. Dan soek jy reguit takke wat goed sal wees vir die maak van pyle. Dan moet jy vere in die pyle sit. Dit is ʼn hele proses. En dink aan die nabyheid wat tussen ouers en hul kinders ontwikkel terwyl hulle saam aan hierdie projek werk. Dit versterk die bande tussen familie-lede. Dawid se doel was om die bande binne gesinne in Israel te bou en te versterk. Enersyds het die maak van ʼn boogskiet-stel die aandag van die groot verlies weggeneem, maar andersyds het dit ook familie-bande versterk.

Maar daar was nog ʼn voordeel hierin opgesluit. In die treurlied merk Dawid op dat Saul se swaard nie leeg teruggekeer het nie (2 Sam 1:22). Saul was ʼn kragtige en dapper swaardvegter. Maar swaardgevegte impliseer die oorlog vind nie oor ʼn afstand plaas nie. Dawid sien raak hoe belangrik boogskutters in die toekoms sou wees. As ʼn oorlog oor groter afstande plaasvind het jy nie noodwendig so baie swaardvegters nodig nie. As meer Israeliete ʼn pyl en boog soos Jonatan kan gebruik, sal dit in toekomstige oorloë help (vgl. 2 Sam 1:22). As gevolg van die lesse uit die verlede maak Dawid ʼn praktiese toepassing vir die toekoms. Hy beveel dat vaders hulle kinders moet leer om die gebruik van pyl en boog te bemeester.

Daar is nog iets baie mooi aan hierdie opdrag: dit is ʼn gepaste huldeblyk aan Jonatan. In sy treurlied praat Dawid van die boog van Jonatan. Elke keer as die vaders saam met hul kinders geleer het hoe om ʼn pyl en boog te gebruik, is Jonatan onthou as ʼn magtige vegter en uitstekende boogskutter. Dit was dus ʼn uiters gepaste huldeblyk aan Jonathan.

Bogenoemde illustreer ʼn betekenisvolle manier om die nagedagtenis van ʼn oorlede geliefde te eer. By die dood van ʼn geliefde, kyk na sy of haar lewe en identifiseer die goeie karaktereienskappe en ook vaardighede wat hulle so spesiaal en geliefd gemaak het. Eer dan gerus hierdie oorlede geliefdes deur hulle goeie karaktereienskappe na te volg, en oorweeg dit om een van hulle vaardighede te probeer aanleer. Byvoorbeeld, dié geliefde was in lewe altyd rustig, kalm en gesellig. Of daardie persoon was altyd vrygewig met tyd en geld, sagmoedig, geduldig, vriendelik, gereed om humor te gebruik, of dalk ʼn goeie luisteraar, of ʼn steunpilaar as dit rof gaan. Hoe kan ek hom of haar eer deur ook so te wees? Of dalk was die geliefde bekend vir sy of haar vaardighede: ʼn goeie navorser, skrywer, onderwyser(es), of ʼn ingenieur met ʼn plan. As die familie-lid of vriend van so ʼn persoon, leer gerus hierdie ingesteldhede of vaardighede aan.

Slotopmerkings

Ons ken die pyn om ʼn geliefde te verloor. Daar is ʼn tyd om oor die dood van ʼn geliefde te rou. Verlies kan egter veroorsaak dat ons in ʼn tronk van hartseer bly lewe. Dawid leer lesse hoe om hartseer te kan hanteer en nie toe te laat dat dit jou lewe regeer nie. Laat jou emosie uitkom; bid, vas, huil en treur tot die aand toe. Maar dan: skryf ʼn treurlied. Raak aktief. En eer die (oorlede) geliefde deur ʼn karakter-eienskap of vaardigheid van hom of haar aan te leer. Die Here help ons om oor groot verlies en hartseer te kom. Miskien sit sommige van ons in ʼn gat. Miskien treur sommige van ons al baie lank. Maar dit is tyd om op te hou stilsit. Kom ons leer om ʼn boog te gebruik.

ʼn Laaste opmerking van my kant af: Daar is ʼn God-man wat op aarde sy lewe vir alle mense uitgestort het. En anders as alle ander mense, Hy het uit die dood opgestaan. Hy lewe. Jesus Christus, die Seun van God, is die opstanding en die lewe. Hy gee die lewe – en dit in oorvloed. Jesus nooi sy dissipels uit om sy karaktereienskappe deelagtig te word, sy sagmoedigheid en nederigheid van hart (vgl. Mat 11:29-30). En wat vaardighede betref, moenie vergeet dat alles wat geskep is, sienlik en onsienlik is deur die Seun van God geskep en ook vir Hom (vgl. Kol 1:16). Al die skatte van kennis en wysheid is in Hom (Kol 2:3). Vir die gelowige is daar is geen groter voorreg, eer of huldeblyk om toe te laat dat die Here Jesus Christus deur jou en my leef nie: “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal 2:20).


Bronverwysing

Chuck Smith, n.d., Comfort for those who mourn.

Soos genoem, ek het mildelik van Smith se preek gebruik gemaak.