Bybelse verbonde

Verbondsteologie kom wydverspreid in die wêreld voor, soos byvoorbeeld in Nederland, Suid-Afrika, dele van Amerika, ensovoorts. Is Verbondsteologie egter gebaseer op verbonde wat in die Bybel gevind kan word? Ná ʼn inleidende hoofstuk of twee, waarom begin dispensasionaliste byna altyd boeke oor eskatologie met ʼn studie van die Bybelse verbonde? Kom ons begin met laasgenoemde vraag eerste.

Boeke oor eskatologie

Lees die klassieke Things to Come en jy sal sien dat Pentecost (1958) hoofstukke 5 tot 8 (bl. 65-128) bestee aan ʼn volledige bespreking van die Bybelse verbonde. Omtrent 50 jaar later spandeer Benware (2006) eweneens byna 50 bladsye oor die onderwerp van die Bybelse verbonde in sy boek oor eskatologie (hoofstukke 2 en 3, bl. 35-80). Wat hul boek oor die eindtye betref, skryf Hixson & Fontecchio (2013) 71 bladsye lank oor die Bybelse verbonde (bl. 85-156). Een voorbeeld ná die ander kan opgenoem word, maar ons volstaan met Woods (2016) wat in hoofstukke 3 en 4 (bl. 11-27) van sy boek skryf oor die rol wat verbonde in God se koninkrykplan speel. Bogenoemde kommentators beklemtoon in hul boeke die onvoorwaardelike verbonde wat God gesluit het met Noag, Abraham, Dawid, en Israel se Land- en Nuwe Verbonde — asook die voorwaardelike Mosaïese verbond.

Kontrasteer bogenoemde voorbeelde met die Verbondsteologie. In sy boek oor eskatologie (A Case for Amillennialism), gebruik Riddlebarger (2003) ses bladsye (bl. 57 – 63) om oor die verbond van werke en die sogenaamde verbond van genade te skryf. Maar dit is darem ses bladsye meer as wat Storms (2015) gebruik het, want laasgenoemde het nie die verbonde in besonderhede (indien enigsins) in sy boek oor die koninkryk bespreek nie. Robertson (1980:62-63) se boek gaan spesifiek oor die verbonde en alhoewel hy verwys na verbonde soos die Abrahamitiese, Dawidiese of Nuwe Verbonde, maak hy hierdie verbonde ondergeskik aan die genadeverbond, wat altyd prioriteit geniet. Die verbonde word as vorms van een en dieselfde genadeverbond beskou (Osterhaven 2001:303; vgl. ook Robertson 1980:27–52). Die verbond van genade funksioneer dus as die één super-idee waarmee verbondsteologie sowel sistematiese as Bybelse teologie beoefen.

Die verbond van genade?

Waar presies beskryf die Bybel egter die sogenaamde verbond van genade? As dit bestaan, wat is dié verbond se bepalings, is dit ʼn onvoorwaardelike verbond — en indien so, deur watter gesag is hierdie veronderstelde verbond beter of hoër as die onvoorwaardelike verbonde wat die Bybel werklik en in detail beskryf? Volgens Couch (2000:158) het prominente verbondsteoloë soos Berkhof en Hodge erken dat daar geen Skriftuurlike bewyse vir die werk- en genadeverbond in hulle teologiese stelsel bestaan nie. Weereens, kan die verbond van genade induktief in die Bybel gevind word?

Ryrie (2007:100) vra: ‘(1) Is the covenant of grace stated in Scripture? (2) Even if it is, should it be the controlling presupposition of hermeneutics and theology?’ My antwoorde is ‘Nee’ en ‘Nee’. Ryrie (2007:221; eie beklemtoning) merk verder op:

What the covenant theologian does to make up for the lack of specific scriptural support for the covenants of works and grace is to project the general idea of covenant in the Bible and the specific covenants (like the covenant with Abraham) into these covenants of works and grace. No one disputes the fact that covenant is a very basic idea in Scripture and that a number of specific covenants are revealed in Scripture. But there remains still the reality that nowhere does Scripture speak of a covenant of works or a covenant of grace as it does speak of a covenant with Abraham or a covenant with David or a new covenant.

Gestel jy hou net nie van dispensasionaliste nie. Goed dan, maar hou dan rekening met dieselfde waarneming wat die ‘vader van die Nuwe Verbondsteologie’ maak. Reisinger (1998:129, eie vertaling en beklemtoning; vgl. ook Wellum 2006:126-127) merk op dat nie ‘een van hierdie twee verbonde [werke en genade] het hul oorsprong in die Skrif en in Bybelse eksegese nie. Albei is deur teologie uitgedink as die noodsaaklike gevolg van ʼn teologiese stelsel’. (Nota: Die probleem met Nuwe Verbondsteologie is dat dit al die onvoorwaardelike verbonde van die Bybel ondergeskik maak — nie aan die sogenaamde verbond van genade nie, maar aan die Nuwe Verbond. Dit vind ek ook nie in die Bybel nie.)

Die ware verbondsteoloë

Die probleem is duidelik ʼn begrip van die Bybelse verbonde. Verbondsteologie bou haar hele teologiese stelsel op ʼn verbond wat nie in die Bybel beskryf word nie en wat ook nie redelikerwys uit Bybelse tekste afgelei kan word nie. So sien verbondsteoloë dan verskillende bedelings as vorms van één verbond van genade. Daarteenoor erken dispensasionaliste nie net ʼn wisselwerking tussen onvoorwaardelike en voorwaardelike verbonde wat wél in die Bybel in detail beskryf word nie, maar identifiseer ook dikwels verskillende bedelings in God se plan met die mensdom. (Dit kan nie anders nie as om eskatologie, Israelologie, ekklesiologie, engelkunde, ens. te beïnvloed nie.) Is dit nie duidelik wie die ware verbondsteoloë is nie?

Wat maak bogenoemde saak? Hoe kan hierdie kennis in ons lewe toegepas word? Ten slotte maak ons drie opmerkings.

Eerstens, om God se plan vir die eeue te verstaan — en God het die einde (eskatologie) van die begin af (protologie) verkondig — maak ʼn studie van die verbonde wat die Bybel self as verbonde beskryf. Die verbonde wat in die Bybel geopenbaar word, is sonder twyfel belangrike boustene om sin te maak van God se plan. Wat die Bybelse verbonde betref, let op spesifieke terme, bepalings, beloftes en voorwaardes wat aan spesifieke mense/entiteite gemaak is — en bepaal daarná ook die wisselwerking tussen onvoorwaardelike en voorwaardelike verbonde, weet dat onvoorwaardelike verbonde ook voorwaardes kan bevat, ensovoorts.

Tweedens, hou in gedagte dat terwyl elke woord in die Bybel geïnspireer is, God dit goed geag het om onvoorwaardelike verbonde met ede en seremonies soveel te meer te bevestig. God se Naam en eer is op die spel! As die geringstes van ons nie ons man of ons vrou uit ons onvoorwaardelike huweliksverbond kan vervang nie, hoeveel te meer sal God juis nie vir Abraham, Dawid of Israel in die verskillende onvoorwaardelike verbonde vervang nie. Die Kerk het nie en kan ook nie vir Abraham, Dawid of Israel vervang in enige van die verbonde wat God met hierdie persone of entiteite gesny het nie. Die Kerk deel in sommige van die seëninge van die onvoorwaardelike verbonde (byv. Gen 12:3; Gal 3:8), maar die Kerk neem geen persoon of entiteit se plek in die verbonde oor nie. U kan ook nie onvoorwaardelike fisiese beloftes vervang met geestelike beloftes nie (of andersom nie), en u kan ook nie alle fisiese beloftes na die ewige kantlyn toe skop en dink dat dit ‘vervul’ is nie.

Derdens, onvoorwaardelike beloftes wat God in die Bybel gemaak het kom voor in onvoorwaardelike verbonde en as onvoorwaardelike profesieë. As hierdie onvoorwaardelike beloftes nog nie vervul is aan diegene aan wie dit belowe is nie, weet dat God dit sal vervul. Daarbenewens sal Hy dit letterlik vervul vóór die ewige bestel aanbreek. Dit verklaar waarom dispensasie-boeke oor eskatologie altyd begin met ʼn bespreking van die verbonde en onvervulde, onvoorwaardelike profesieë.

Nadat jy hierdie dinge bestudeer het om jouself beproef voor God te stel as ʼn werker wat hom of haar nie hoef te skaam nie, om die woord van waarheid reg te sny, sien raak hoe God die wêreldtoneel in gereedheid bring om talle eindtyd-profesieë te vervul. Die HERE God is die God wat verbonde nákom en, soos Jesaja 46:9-11 sê, Hy sal doen wat Hom behaag en Sy plan sal in vervulling gebring word:

Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; wat ʼn roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit ʼn ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen.

Bronne

Benware, P.N., 2006, Understanding End Times Prophecy: A Comprehensive Approach, Moody Publishers, Chicago.

Couch, M., 2000, ‘Covenant Theology and the Doctrine of the Church’, in M. Couch (ed.), An introduction to Classical Evangelical Hermeneutics: A guide to the history and practice of Biblical interpretation, pp. 157–163, Kregel Publications, Grand Rapids.

Hixson, J.B. & Fontecchio, M., 2013, What Lies Ahead: A Biblical Overview of the End Times, Lucid Books, Brenham.

Osterhaven, M.E., 2001, ‘Covenant Theology’, in W.A. Elwell (ed.), Evangelical Dictionary of Theology 2nd edition, pp. 301–303, Baker Academic, Grand Rapids.

Pentecost, J.D., 1958, Things to Come, Zondervan, Grand Rapids.

Reisinger, J.G., 1998, Abraham’s Four Seeds, New Covenant Media, Frederick.

Riddlebarger, K., 2003, A Case for Amillennialism: Understanding the End Times, Baker Books, Grand Rapids.

Robertson, O.P., 1980, The Christ of the Covenants, Presbyterian & Reformed Publishing, Phillipsburg.

Ryrie, C.C., 2007, Dispensationalism, Moody Publishers, Chicago.

Storms, S., 2015, Kingdom Come: The Amillennial Alternative, Mentor Imprint, Ross-shire.

Wellum, S.J., 2006, ‘Baptism and the Relationship between the Covenants’, in T.R. Schneider & S.D. Wright (eds.), Believer’s Baptism, pp. 97–162, B&H Publishing Group, Nashville.

Woods, A.M., 2016, The Coming Kingdom: What is the Kingdom and how is Kingdom Now Theology Changing the Focus of the Church?, Grace Gospel Press, Duluth.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']