Dagbreek!

Tipologie vestig nie lering nie, maar versier dit. Christus se tweede koms en die begin van sy koninkryk kan tipologies met “dagbreek”, die “oggend”, “lig” en met sonskyn verbind word.

Die eskatologiese Dag van die Here

ʼn Algemene definisie van die Dag van die Here is dat dit ʼn tyd is wanneer God buitengewoon en direk op die aarde ingryp om sekere van sy doelwitte te bereik. In die tyd van Joël (2:1) was daar byvoorbeeld ʼn merkwaardige “dag” toe God deur ʼn sprinkaanplaag ingegryp het om die oes in Israel te vernietig. Hierdie dag is dus anders as ander dae wanneer God die skepping in sy voorsienigheid meer indirek bestuur. In die eskatologiese dag van die Here gryp God baie duidelik en direk in. Ou-Testamentiese verwysings na die eskatologiese dag van die Here sluit die sewejaarverdrukkingstydperk se duisternis en donkerheid in (Sef 1:15, 18), maar die frase “die dag” kan egter in sowel ʼn negatiewe as ʼn positiewe sin gebruik word; wanneer die verwysing positief is, verwys dit na die seëninge van die Messiaanse koninkryk. In sy eerste brief aan die Tessalonisense verbind Paulus die wegraping van die bruid met die eskatologiese dag van die Here (vgl. 1 Tess 4:13-5:11). In die lig van beide Ou en Nuwe Testamentiese openbaring volg ek die siening van ʼn lang eskatologiese dag van die Here. Daarvolgens sluit die eskatologiese dag van die Here die wegraping van die Kerk, die verdrukkingstydperk, die millennium, die laaste oordeel voor die groot wit troon en moontlik ook die skepping van die nuwe hemel en die nuwe aarde in.

Die nag

Tydens Christus se eerste koms, sê Hy: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld” (Joh 9:4-5). Tydens sy eerste koms het Christus die Satan aan die kruis verslaan, maar die duiwel se vonnis is nog nie voltrek nie. Die Nuwe Testament getuig dat die Satan nog vir ʼn rukkie die “owerste van hierdie wêreld” (Joh 12:31; 16:11), die “god van hierdie wêreld” (2 Kor 4:4) en die “owerste van die mag van die lug” is (Ef 2:2). Die wêreld-sisteem onder Satan word donkerder, wetteloosheid neem toe en meer mense raak die pad byster. Die teenswoordige bedeling is boos (vgl. Gal 1:4); dit is, tipologies gesproke, nog steeds nag. “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Rom 13:12). As dit dan al so donker is, tot wanneer moet ons op God se profetiese woord ag gee?

Die Kerk en die komende koninkryk

Die apostel Petrus sê gelowiges moet ag slaan op die profetiese woord: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet 1:19; vgl. ook Ps 119:105). In konteks verwys die profetiese woord hier na Christus en sy komende koninkryk (2 Pet 1:11). Tydens Christus se eerste koms het Petrus en twee ander apostels ʼn voorskou van Christus in sy koninkryk op die berg van verheerliking gesien (2 Pet 1:16-18). Petrus beklemtoon die eer, heerlikheid en majesteit van die Here Jesus Christus in die komende koninkryk (2 Pet 1:16-17). Dit is hoe die Here Jesus Christus sal lyk wanneer Hy die koninkryk van God op die aarde gaan vestig en daaroor gaan regeer. God die Vader is soewerein en sy raadsplan in Christus is reeds voor die grondlegging van die wêreld bepaal, daarom is die getuienis van Jesus die gees van profesie (vgl. Op 19:10). Tydens Christus se eerste koms was Johannes die Doper ʼn lamp wat gebrand en geskyn het en waarin mense hulle in die lig verbly het (vgl. Joh 5:35). Hoeveel te meer moet ons ons verbly in die lig van die profetiese woord wat van die verheerlikte Here Jesus Christus en sy komende koninkryk getuig? Die Seun van die Mens sal met dieselfde groot krag en heerlikheid na die aarde toe kom as wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld was (vgl. Mat 24:30b; Joh 17:5).

Hoe kan die analogie van ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn verstaan word? Sedert Christus se hemelvaart is die nag al byna 2000 jaar lank en die aarde word donkerder. Fisies verskyn die môrester, dit is die planeet Venus, as die nag al byna verby is, net vóór die dag aanbreek. Volgens die Joodse bruilofsgebruike, kom die bruidegom sy bruid gewoonlik in die nag haal, met ʼn geroep, en neem haar dan saam om vir altyd met hom te wees (vgl. Joh 14:1-3; 1 Tess 4:13-18). Jesus Christus is die môrester (Op 22:16), en kort daarna, wanneer “die dag” aanbreek, sal al die verdere gebeure wat te doen het met Christus se tweede koms aarde toe begin gebeur. Ons wat gelowiges is, het reeds Christus in ons, Hy is die hoop van die heerlikheid (Kol 1:27). Die Môrester wat in ons harte sal opgaan verwys óf na ʼn groter intimiteit met die Here Jesus óf om gesag in die Messiaanse koninkryk te mag ontvang.

Jakob/Israel se worsteling in die nag

Jakob het in die nag met ʼn Man geworstel tot dagbreek toe – en die son het vir Israel opgegaan net toe hy Pniël verby was. Die Man met wie hy geworstel het, is die tweede Persoon van die Drie-eenheid (Gen 32:22-24, 30). God het die verbond met Abraham aan Jakob bevestig (Gen 28:13-15), maar Jakob wou God se volle rus en seën op sy eie stoom verkry. Toe kom die Man en worstel met Jakob deur die nag, vóór Israel die seën ontvang het. In die nagtelike worsteling het die Man nie vir Jakob oorwin nie, maar Jakob se heupbeen uit lit geslaan. Die worsteling het tot dagbreek toe geduur, want die Man het gesê: “Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy [Jakob] antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën” (Gen 32:26). Toe sê Hy: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin” (Gen 32:28). Jakob het God nie in ʼn nagtelike worsteling verslaan nie, maar hy het paradoksaal oorwin omdat hy hom eindelaas aan God se wil ondergeskik gestel het. Israel het die plek Pniël genoem want, het hy gesê, ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered. Soos wat die vader van die twaalf stamme dwarsdeur die nag met God geworstel het, so sal Israel deur die nag van die verdrukkingstydperk worstel totdat hulle besef God se seën kom alleen in en deur die Messias. Aan die einde van die verdrukkingstydperk sal die gelowige oorblyfsel van Israel hul skuld beken en God se aangesig soek, “in hulle nood sal hulle My soek….laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek” (Hos 5:15-6:3; vgl. Sag 12:10; Mat 23:39).Vir daardie Jode wat die Naam vrees sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en hulle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal (vgl. Mal 4:2).

Die millennium

In sy afskeidswoorde sê Dawid dat die finale Seun van Dawid is soos die môrelig by sonsopgang, ʼn môre sonder wolke; dit skitter ná die reën en grasspruitjies kom uit die aarde op (2 Sam 23:3-4; sien ook Ps 30:5-6; 49:15). Die Vader sê vir die Seun: “Heers te midde van u vyande. U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe” (Ps 110:2-3). En Christus sê: “Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” (Op 22:16). Hierdie simboliese verwysing na Jesus as die wortel en die geslag van Dawid (vgl. Jes 11:1) beklemtoon nie net dat Jesus Christus alle verbondsbeloftes en profesieë aangaande die huis van Dawid sal vervul nie, maar ook dat as die blink môrester Hy die helderste in die koninkryk sal skyn, want Hy is die God-mens wat as Koning sal heers. Die Koning se volgelinge sal nie net saam met Hom heers nie (vgl. Op 2:26-28), maar sal ook “glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Dan 12:3) — ja dan sal “die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader” (Mat 13:43).

Gee ag op die profetiese woord soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.

Bronne

Blaising, C.A., 2012, ‘The Day of the Lord and the Rapture’, Bibliotheca Sacra 169(675), 259-270.

Peters, G.N.H., 1972, The Theocratic Kingdom Volume 2, Kregel Publications, Grand Rapids.

Scholtz, J.J., 2019, God se raadsplan in Christus, FaithEquip, Amsterdam. Beskikbaar by: https://faithequip.co.za/godseraadsplan/koop-die-boek/

Showers, R.E., 2010, Maranatha, our Lord Come!, The Friends of Israel Gospel Ministry, Bellmawr.

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.