Demonologie: Die leer van gevalle engele of demone (Deel 1)

Bestaan gevalle engele of demone, of is hulle bloot ‘uitstralings’, ‘magte’ of ‘kragte’ wat geen persoonlikheid het nie? Waar kom demone vandaan en is demone verantwoordelik vir elke sonde en swakheid? Hierdie nuwe kort reeks wat uit drie artikels bestaan, handel oor demone. Ons begin die reeks deur ʼn gedeeltelike opsomming te gee van ʼn artikel deur dr. Arnold Fruchtenbaum (Ariel Bedieninge) met die titel Demonologie: Die leer van demone.

Die oorsprong van die woord ‘demoon’

Die Afrikaanse woord ‘demoon’ kom van die Griekse woord ‘daimonia’, wat 60 keer in die Nuwe Testament voorkom. Elke Nuwe-Testamentiese skrywer, behalwe die skrywer van die boek Hebreërs (wat wel na Satan verwys), vermeld die bestaan van demone. Sien byvoorbeeld Matthéüs 4:24; 12:22; Johannes 8:48-49; Handelinge 16:16-18; Efésiërs 6:12; Jakobus 2:19; 2 Petrus 2:4; Judas 6 en Openbaring 8:10-11.

ʼn Tweede manier waarop gesien kan word dat demone bestaan, is deur die feit dat Jesus hul bestaan erken het en demone uit mense gedryf het (Matthéüs 7:22; Markus 7:29; Lukas 10:20; 11:18-20).

Derdens het Jesus se apostels ook die bestaan van demone erken (Lukas 10:17). Die Bybel leer definitief dat demone bestaan.

Is demone nie maar net ‘uitstralings’ of een of ander abstrakte mag of krag nie?

As dit aangetoon kan word dat demone of gevalle engele intellek, emosie en wil het, dan het hulle die kenmerkende eienskappe van persoonlikheid. Dat demone intellek het, kan getoon word deurdat hulle weet wie Jesus is (Markus 1:24), hulle ken hul toekomstige lot (Matthéüs 8:28-29), weet wie Paulus is (Handelinge 16:16-17; 19:15), dat God één is (Jakobus 2:19), en demone het selfs ʼn misleidende stelsel van leringe (1 Timótheüs 4:1, 3) – al hierdie feite toon dat gevalle engele of demone intellek het.

Wat emosie betref, is demone boosaardig en gewelddadig, en ken vrees (Matthéüs 8:28; Jakobus 2:19). Demone het ook ʼn vrye wil, hetsy dit is om versoeke te rig (Matthéüs 8:31), bevele en opdragte te gehoorsaam (Markus 1:27; Lukas 4:35-36), en ook die wil om ʼn mens te verlaat (vgl. Matthéüs 12:43-45). Demone beskik oor al die eienskappe van persoonlikheid (intellek, emosie en wil) en daarom is hulle nie uitstralings of net een of ander mag of krag nie.

Name vir demone

Die Bybel gee verskeie name vir demone. In die Ou Testament word hulle o.a. ‘ongeluksbodes’ genoem (Psalm 78:49). Die ekwivalent hiervan in Engelse Bybels is ‘angels of evil’ of ‘angels of destruction’. Engele is boodskappers, en hierdie ‘ongeluksbodes’ is dus boodskappers van Satan.

Terwyl die naam ‘seuns van God’ (Génesis 6:2, 4) na die feit verwys dat God alle hemelwesens direk geskape het, kan ʼn mens volgens die konteks onderskei of hierdie naam na goeie en heilige engele of na gevalle engele en demone verwys. Nog ʼn woord is die Hebreeuse woord ‘shedim’, wat verwys na ʼn demoon se begeerte om oor iemand te heers en die persoon te beheer. Nog ʼn Ou-Testamentiese naam vir demone is ‘seirim’, wat verwys na dierlike voorkomste van demone, soos die gestalte van bokke (vgl. Levítikus 17:7; 2 Kronieke 11:15; Jesaja 13:21).

Demone word ook bose geeste (1 Samuel 16:14-16) en leuengeeste (1 Konings 22:21-22) genoem, en in Jesaja 34:14 lees ons van veldduiwels wat byeenkom “waar die naggees woon”. Nog twee name, die geeste van afgestorwenes en geeste wat waarsê (Deuteronómium 18:11; Jesaja 8:19; 19:3), word gebruik vir demone wat hulself bekendmaak deur mediums, towenaars, hekse en spiritiste. Daar is nog meer name vir demone in die Ou Testament (sien Psalm 91:6; 96:5; Jesaja 65:11).

Die beskrywings

Die Nuwe Testament gebruik vier kategorieë vir die benaming of beskrywing van demone. Die eerste kategorie bevat name wat dieselfde Griekse stam vir ‘demoon’ het, en dit kom 79 keer in die Nuwe Testament voor. Die betekenis van die stam vir demoon is ‘intelligensie’, want demone is intelligente wesens. In die Grieks vind ons die woorde ‘daimon’ (Matthéüs 8:31), ‘daimonion’ (Lukas 4:33), ‘daimoniodes’ (Jakobus 3:15), ‘daimonizomai’ (Matthéüs 4:24), ‘deisidaimonesteros’ (Handelinge 17:22) en ‘deisdamonis’ (Handelinge 25:19).

Die tweede kategorie van name vir demone bevat die woord ‘gees’, en kom 46 keer voor in die Nuwe Testament. Demone word byvoorbeeld beskryf as bose geeste (Lukas 7:21), onreine geeste (Matthéüs 10:1), slegte geeste (Lukas 11:26), verleidende geeste (1Timótheüs 4:1) en geeste van duiwels (Openbaring 16:14).

ʼn Derde kategorie van name vir demone is die woord ‘engele’. Die woord ‘engel’ beteken ‘boodskapper’. Demone voer Satan se bevele uit en dus is hulle Satan se boodskappers (Matthéüs 12:24; 25:41; Openbaring 12:7-9).

ʼn Vierde woord is ‘vernietiging’, soos gesien word in Openbaring 9:11. Die demoon van die afgrond word in Hebreeus Abáddon en in Grieks Apóllion genoem. Hierdie naam beteken ‘vernietiging’.

Hemelwesens: heilig en onheilig

Toe God die hemelwesens (gérubs, serafs en engele) geskape het, is hulle almal heilig geskape, maar met die mag van vrye keuse (vgl. Markus 8:38; Judas 6). Dit beteken dat hulle keuses kon uitoefen wat strydig was met hul geskape aard en natuur. As hul keuse ooreenkomstig God se wil heilig was, is hierdie hemelwesens in hul heiligheid bevestig. Dit is wat twee derdes van die hemelwesens gedoen het. Omdat hulle in hul heiligheid bevestig is, het hierdie heilige en uitverkore hemelwesens nie meer die mag van vrye keuse nie – met ander woorde, hulle kan nie sondig nie. Soos dit egter gebeur het, het Satan en ʼn derde van al die hemelwesens gekies om ʼn onheilige keuse uit te oefen (vgl. Openbaring 12:4). Demone het dus almal dieselfde oorsprong: hulle is engele wat saam met Satan geval het.

———————————

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']