Demonologie: Die leer van gevalle engele of demone (Deel 2)

Wat is die eienskappe van demone? Hoekom het demone Jesus gesmeek om hulle nie in die onderwêreld (afgrond) af te stuur nie (Lukas 8:31)? Hoekom is party demone tydelik en ander permanent ingeperk? Hierdie tweede aflewering in ons kort reeks van drie is ʼn gedeeltelike opsomming van ʼn artikel deur dr. Arnold Fruchtenbaum (Ariel Bedieninge) met die titel Demonologie: Die leer van demone.

Eienskappe van demone

Deur Matthéüs 17:18 met Markus 9:25 te vergelyk, word dit duidelik dat demone onrein geesteswesens is. Demone bestaan nie uit ‘vlees en bloed’ (Efésiërs 6:12) nie, maar hulle het gestaltes en voorkomste, dikwels dierlik (vgl. Openbaring 9:7-10, 17-19; 16:13-14). Demone probeer om mense te beheer omdat hul mag tot ʼn sekere mate van sodanige beheer afhanklik is (Markus 5:1-13; Handelinge 16:16; 19:16).

ʼn Ander eienskap van demone het te doen met hul mag. Hulle kan sekere mense van binne beheer (Markus 5:1-5; Handelinge 19:16). Tydens die Verdrukking sal hulle ongelowiges vir vyf maande lank teister (Openbaring 9:1-11). Demone kan selfs wonderwerke (‘tekens’) doen (Openbaring 16:14) en het die vermoë om sigbaar te verskyn (Openbaring 9:7-10, 17-19; 16:13-14). Wat hul morele aard betref, is demone onrein (Lukas 4:36; Handelinge 8:7), van nature boos en korrup (Lukas 7:21), venynig en gewelddadig (Matthéüs 8:28; Markus 9:20), kwaadwillig en gemeen (Lukas 9:39), en deel van die koninkryk van die duisternis wat deur Satan beheer word (Efésiërs 6:12).

Die organisasie van demone

Volgens Fruchtenbaum (2005:14), is die organisasie van gevalle engele of demone ʼn nabootsing van die organisasie van die uitverkore engele, met soortgelyke range en titels. In die koninkryk van die duisternis funksioneer sommige demone as heersers oor nasies, soos die vors van die koninkryk van Persië (Daniël 10:13-20) en die vors van Griekeland (Daniël 10:20). Die Nuwe Testament praat van owerhede, magte en wêreldheersers (Efésiërs 6:12) sowel as owerhede en magte (Kolossense 1:15). Satan en al die gevalle engele/demone was voorheen deel van die Goddelike orde van die skepping, en is dus bewus van die organisasie wat God in die hemel het – en hulle boots dit na.

Die seuns van God

Gelowiges verskil oor wat Génesis 6:1-4 beteken. Ons interpreteer hierdie Skrifgedeelte soos volg: In die eerste Messiaanse profesie het God belowe dat die Messias uit die saad van die vrou gebore sou word en dié Saad sou Satan se kop vermorsel (Génesis 3:15). In ʼn poging om hierdie profesie te verhoed, het Satan gevalle engele (wat voor die sondeval direk deur God geskape is en vandaar dus die term ‘seuns van God’) gestuur, wat toe met vroue ondertrou het. Hierdie plan van Satan was om die saad van die vrou te verderwe. Die produk van hierdie vreemde en sondige vereniging tussen gevalle engele en vroue was manlike afstammelinge (altyd slegs manlike afstammelinge, heel ongewoon) wat ‘nefilim’ genoem word (en dit beteken ‘dié wat geval het’). Hulle word ook genoem ‘giborim’ (wat ‘die geweldiges’ of ‘die manne van naam’ beteken). In die Afrikaanse Bybel word ook die woord ‘reuse’ in dieselfde konteks gebruik. Die vloed, wat 120 jaar later voorgekom het, was deel van God se oordeel oor hierdie gebeure (Génesis 6:3; 7:1-8:12).

Die gebeure van Génesis 6:1-4 is die bron van Griekse en Romeinse mitologieë van hoe ‘gode’ (maar lees: gevalle engele) met vroue ondertrou het en (slegs) manlike kinders met buitengewone eienskappe voortgebring het. God het dit egter veroordeel as die uiterste boosheid. God het hierdie gevalle engele wat hul natuurlike woning verlaat het, permanent ingeperk in ewigdurende kettings/boeie in Tartarus (2 Petrus 2:4-5; Judas 6-7). By die Groot Wit Troon-oordeel sal hulle vrygelaat word vir die finale oordeel en dan in die poel van vuur gewerp word (vgl. Matthéüs 25:41; Openbaring 20:11-15). Tartarus is dus soos ʼn plek van tronkstraf vir gevalle engele waar hulle hul finale, ewigdurende vonnis moet afwag.

Die onderwêreld

Daar is ook nog ʼn tydelike plek van opsluiting vir gevalle engele/demone. Dié plek van tydelike inperking word die onderwêreld (Lukas 8:31) of die afgrond genoem. Die demone wat in Lukas 8:31 genoem word, wou nie in die afgrond gestuur en tydelik ingeperk word nie. Tydens die Verdrukking sal die afgrond vir 5 maande lank oopgemaak en gevalle engele vrygelaat word om ongelowiges te teister (Openbaring 9:1-11).

Tydens die millennium, wanneer Christus vanaf Jerusalem oor die nasies sal heers, sal gevalle engele/demone in ʼn plek van inperking wees. Satan sal tydens die millennium in die afgrond toegesluit word, maar dit is nie waar gevalle engele/demone ingeperk sal wees nie. Een groep demone sal ingeperk wees in Edom, of die hedendaagse Jordanië (Jesaja 34:13-15). ʼn Tweede groep sal ingeperk wees in die stad Babilon, in die hedendaagse Irak (Jesaja 13:21-22; Openbaring 18:2).

Die finale tuiste

Ná die millennium sal Satan en al sy gevalle engele/demone by die Groot Wit Troon-oordeel geoordeel word (Openbaring 20:11-15). Paulus sê dat gelowiges ook hierdie gevalle engele of demone sal oordeel (1 Korinthiërs 6:3). Die finale tuiste van sowel Satan as sy gevalle engele sal die poel van vuur wees (Matthéüs 25:41, 46).

———————————

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']