Deuteronómium

Die Hebreeuse titel van Deuteronómium, ‘ēlleh haddėbarîm, is gebaseer op die eerste woorde van hierdie boek en wat beteken ‘dit is die woorde’. Dié titel is gepas want, onder die inspirasie van die Heilige Gees, bevat die vyfde en laaste boek van die Pentateug die laaste ‘woorde’ van Moses. Toe die jonger geslag wat die omswerwings in die woestyn oorleef het op die punt staan om die Beloofde Land in te gaan, spreek Moses hulle in die Vlakte van Moab toe (Deuteronómium 1:1-3). Hierdie afskeidsboodskap van Moses is in omtrent 1405 vC gelewer, net voordat Israel oor die Jordaanrivier getrek het. Die laaste verse van Deuteronómium beskryf Moses se dood en die daaropvolgende gebeurtenisse (34:5-12) – dié verse kon dalk deur Josua geskryf gewees het.

. . .

Die struktuur van Deuteronómium

Deuteronómium begin met Moses wat die Israeliete se verlede sedert die uittog uit Egipte in herinnering bring (1:1-4:43). Hy bespreek die terugslag by Kades-Barnéa, die omswerwings in die woestyn, die gebeure met Og van Basan, sowel as die grootheid van die Wet wat God aan Israel gegee het. Dit word gevolg deur ʼn tweede toespraak waarin Moses die Tien Gebooie sowel as die verskillende spesifieke insettinge en verordeninge voorhou (4:44-26:19). In ʼn derde toespraak kom die seëninge vir gehoorsaamheid en vervloekings vir ongehoorsaamheid aan die Wet van Moses ter sprake (27:1-28:68). Vervolgens lees ons in Deuteronómium 29:1-30:20 van die Landverbond. Daarna vind ons die laaste woorde en optredes van Moses, sy dood en die einde van die boek (31:1-34:12). Die volgende struktuur kan vir Deuteronómium voorgestel word:

A Eerste woorde van Moses aangaande Israel se geskiedenis sedert die Uittog 1:1- 4:43
B Die Mosaïese Verbond 4:44-26:19
C Seëninge en vervloekings 27:1-28:68
B’ Die Landverbond 29:1-30:20
A’ Laaste woorde van Moses aangaande Israel 31:1-34:12

Die relevansie van Deuteronómium

Deuteronómium is een van die vier Ou-Testamentiese boeke wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word (die ander drie is Génesis, Psalms en Jesaja). Toe Satan Hom versoek het, het Jesus elke keer uit Deuteronómium aangehaal (Matthéüs 4:1-11). Deuteronómium som die eerste groot gebod op: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Deuteronómium 6:5; Matthéüs 22:36-38). Coakley (2014:265) merk inderwaarheid op dat Deuteronómium die eerste boek in die Ou Testament is wat gelowiges opdrag gee om God lief te hê (11:1; 30:16). Volgens Merrill (2011:267) is Deuteronómium dié ‘uitnemende teologiese verhandeling van die OT, ʼn samestelling wat nie net vir die geslag in Moses se tyd verwoord het wie hulle was en wat van hulle verwag is nie, maar ook die standaard van geloof en gedrag voorsien het waaraan alle opvolgende geslagte hulself moes meet’.

Die tema en doel van Deuteronómium

Deuteronómium 17:14-20 gee aan elke toekomstige koning van Israel die opdrag om sy eie afskrif van “hierdie wet” in ʼn boek te skryf sodat hy God se liefde vir Israel en sy gebooie vir hulle sou ken. ‘Een van die groot openbarings van hierdie boek is God se motivering: God se liefde vir mense het Hom beweeg om te seën’ (Constable 2016:8). Volgens Coakley (2014:263), is die tema en doel van Deuteronómium om Israel op te roep tot verbondsgetrouheid en -gehoorsaamheid, want elke opvolgende geslag lesers is, by wyse van spreke, in die Vlakte van Moab en word herinner om die Here heelhartig lief te hê en nie die God wat genadiglik beloftes vervul en na ʼn persoonlike verhouding met sy kinders verlang, te vergeet nie’. Hoewel Moses nie voor sy dood die Beloofde Land ingegaan het nie, is God se liefde vir Moses al reeds in seën voltrek, want Moses was in die land Israel saam met die Here Jesus Christus op die Berg van Verheerliking. Omdat Jesus die Koning van Israel is, kan ons die gevolgtrekking maak dat Jesus in sy mensheid nie net baie goed bekend is met Deuteronómium en Israel liefhet nie, maar God het ook die wêreld so liefgehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16).

———————————

Bronne geraadpleeg:

Constable, T.L., 2016, Notes on Deuteronomy.

Coakley, J., 2014, ‘Deuteronomy’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 263-312, Moody Publishers, Chicago.

Merrill, E.H., Rooker, M.F. & Grisanti, M.A., 2011, The World and the Word, B&H Publishing Group, Nashville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']