Die apostels

Wie is die apostels van Christus? Wat is die kenmerke van ʼn apostel? Is die woorde van sogenaamde “kerkvaders” belangriker as dié van apostels? Is daar vandag nog mense wat die amp van ʼn apostel kan hê?

Die Kerk en die Kerk-era

Christus ontvang sy posisie as Hoof van die Kerk eers ná sy opstanding en hemelvaart (Ef 1:20-23). Geestelike gawes om die Kerk toe te rus vir haar dienswerk is eers ná Jesus se hemelvaart gegee (Ef 1:19-20; 4:7-12). Die universele Kerk bestaan uit Christus, die Hoof van die Kerk, saam met alle weergebore mense wat in Christus, en ook in die liggaam van Christus, gedoop is (Hand 1:5; 2:1-4; 11:15-17). Die bediening van die Heilige Gees om gelowiges spesifiek in die liggaam van Christus te doop, is uniek aan die Kerk-era (1 Kor 12:13). Die Kerk-era strek van Pinkster tot wanneer Christus sy bruid kom haal en in die wolke wegvoer.

Wat die Kerk nie is nie

Die Kerk het nie in Ou Testamentiese tye bestaan nie, want dit is iets nuut (“een nuwe mens”) wat Christus tydens die Kerk-era bou (vgl. Mat 16:18; Ef 2:15). In Handelinge, toe Christus sy Kerk begin bou het, word daar 21 keer na Israel en 19 keer na die Kerk verwys, en elke keer is hierdie twee groepe onderskeibaar. Die Nuwe Testament verwys 73 keer na “Israel” en elke keer verwys hierdie term na die fisiese nageslag van Jakob/Israel, nooit na die Kerk nie. Soms is die verwysing na Jode wat gelowig is, en ander kere na Jode wat ongelowig is, maar elke keer verwys dit steeds na die fisiese nageslag van Jakob/Israel.

Die fondament van die Kerk

Op die hoeksteen, dit is Christus, tesame met die fondament van die apostels en Nuwe Testamentiese profete, word die Kerk gebou (Ef 2:20). Iets wat nuut gebou word het ʼn fondament nodig – en ʼn goeie fondament word net een keer gelê.

Tekens en wonders

Soos wat Christus Jesus sy Kerk begin bou, doen die Here verskeie tekens en wonders deur die apostels (vgl. Hand 2:43; 5:12; 14:3). ʼn Wonderwerk is ʼn ongewone gebeurtenis (ʼn wonder) deur middel van ʼn ongewone vermoë (krag) waardeur ʼn boodskap oorgedra en bevestig word (teken).

Wat is die doel van wonders en tekens? God word verheerlik (Joh 9:3), dit bevestig en bekragtig sekere mense as gemagtigde verteenwoordigers van God (Hand 2:22; Heb 2:3-4) en probeer mense oorreed om in God te glo op grond van die waarheid wat die wonderwerk uitwys (Joh 20:30-31).

Deur tekens en wonders word die apostels bevestig as gemagtigde verteenwoordigers van die Hoof van die Kerk. Dit is nodig, want die Here bou iets nuut.

Kwalifikasies van Christus se apostels

Wie kwalifiseer as Christus se apostels? Elk van die uiteindelike twaalf apostels was teenwoordig van die doop van Johannes af tot en met Christus se hemelvaart (Mat 10:2-3; Hand 1:21-22, 26). Elke apostel is ʼn getuie van Jesus se opstanding (Hand 1:22). Jakobus en Barnabas is ook apostels; Paulus is die laaste apostel (Hand 15:13; 1 Kor 9:1-6; 15:8).

Tekens, wonders en kragtige dade is wat ʼn apostel kenmerk (Rom 15:19; 2 Kor 12:12). Die Here gebruik ook twee diakens om tekens en wonders te doen, maar Stefanus en Filippus het baie nou saam met die apostels gewerk (Hand 6:8; 8:6-7). Een rede hoekom daar in tale gepraat is, is as ʼn teken vir ongelowige Israel dat God iets nuut begin het (1 Kor 14:21-22).

Handelinge beskryf hoe Christus die apostels gebruik het om mense van siektes te genees en om onreine geeste te verdryf (Hand 5:16; 19:11-12). Dit het die apostels bevestig as gemagtigde afgevaardigers van Christus. Maar later in sy lewe is Paulus nie deur die Here gebruik om Epafroditus, Timoteus of Trofimus van hulle siektes te genees nie (Fil 2:26-27; 1 Tim 5:23; 2 Tim 4:20). Die Here maak byvoorbeeld vir Epafroditus gesond, maar Hy doen dit direk omdat Hy dit wil doen en sonder om deur ʼn apostel te werk. Tekens en wonders het die apostels as gemagtigde verteenwoordigers van die Hoof van die Kerk bevestig, maar toe die apostels as sodanig bevestig is en die fondament van die Kerk reeds byna klaar gelê was, doen die Here minder en minder tekens en wonders deur die apostels.

Teen die tyd dat die brief aan die Hebreërs geskryf is, kyk ʼn tweede generasie gelowiges terug na die verlossing wat die Here Jesus verkondig het (Heb 2:3a). Daar word ook teruggedink aan wat God deur die apostels doen – hulle wat ooggetuies van Christus Jesus was en deur wie “tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedelings van die Heilige Gees” gedoen en geskenk is (Heb 2:3b-4). Volgens Stephen Ger het hierdie generasie gelowiges in Hebreërs ná die apostels tot geloof gekom en hulle was nie meer blootgestel aan die tekens, wonders, kragtige dade en gawes wat die Heilige Gees deur die apostels verrig het nie. Op daardie stadium het van die apostels reeds as martelare vir Christus gesterf. Die fondament vir die Kerk was byna klaar gelê.

Bind en ontbind

Petrus en die ander apostels het die gesag ontvang om te “bind en ontbind” (Mat 16:19; 18:18). Die apostels is gemagtig om wetgewende gesag uit te oefen. In alle gevalle is hierdie gesag onderhewig aan wat God reeds in die hemel besluit het. In daardie tyd, en vanuit ʼn wetgewende perspektief gesien, is die woord “bind” verstaan as “om te verbied” en die woord “ontbind” is verstaan as “om toe laat”.

Jesus het belowe dat die Heilige Gees die apostels se geheues sal verfris om te onthou wat Christus geleer het (Joh 14:26; 16:13). Die opdrag is immers om dissipels te maak en hulle dan te leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het (Mat 28:19). Onder die inspirasie van die Heilige Gees het apostels en ook Nuwe Testamentiese profete die boeke van die Nuwe Testament geskryf. En tog, die apostels het wetgewende gesag ontvang sodat slegs dokumente wat die goedkeuring van (ʼn) apostels gehad het in die Nuwe Testament ingesluit is. Die resultaat is die geïnspireerde Nuwe Testamentiese geskrifte.

Gevolgtrekking

Die wetgewende gesag om te bind en te ontbind is uniek en slégs aan die apostels gegee. Die laaste apostel om te sterf was Johannes en toe was die Nuwe Testamentiese kanon voltooi en die wetgewende fondasie vir die Kerk klaar gelê. Die kanon is ongeveer 1925 jaar gelede reeds voltooi. Niemand moet durf om  “Openbaring 23 en verder” te skryf nie.

Christus het byna twee duisend jaar gelede sy apostels bevestig deur tekens en wonders – want toe was die Here besig om iets nuuts te bou. Die Here doen vandag nog steeds wonderwerke, maar Hy doen dit direk, soos Hy wil.

Gebou op die fondament van die apostels en die profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, is die fondasie vir die Kerk eens en vir altyd gelê (Ef 2:19-22). En ʼn goeie fondament word net een keer gelê.