Die beginsels van gebed

Hoe kan gebed omskryf word? Waarom bid ons en wat is die doel van gebed? Moet ons op ’n spesifieke tyd bid of dalk ’n spesifieke liggaamshouding tydens gebed inneem? Hierdie en baie ander vrae oor gebed is die fokus van hierdie bespreking.

. . .

Die definisie van gebed

Nadat hy drie Hebreeuse en sewe Griekse woorde in die Bybel ten opsigte van gebed ondersoek het, definieer Fruchtenbaum (2005:4) gebed as ‘menslike spraak gerig tot God’. Wanneer ons bid, vra ons vir God iets, ons praat met God en verkeer met God in gesprek. Wanneer ons God se Woord bestudeer, praat God met ons; wanneer ons bid, praat ons met God.

Voorveronderstellings van gebed

Wanneer ons bid, voorveronderstel ons al reeds ʼn hele paar dinge. Een, ons voorveronderstel dat God ʼn Persoonlikheid is sodat ons ʼn ek/U-verhouding met Hom kan hê. Twee, ons voorveronderstel ook dat God naby is sodat Hy ons gebede kan hoor (die nabyheid van God). Drie, omdat God alomteenwoordig is (altyd oral, nie begrens deur ruimte nie), hoor Hy die gebede van gelowiges ongeag waar hulle mag wees, hetsy in Kenia, Angola of in Suid-Afrika. Vier, omdat ons glo dat God soewerein is, rig ons ons versoeke tot die Here van hemel en aarde. Vyf, omdat God alwetend is, weet Hy alles – insluitend die verstandigste en beste antwoord op ons gebede. Ses, God is almagtig. Sewe, ons voorveronderstel ook God se beloftes wat in die Skrifte opgeteken is.

God se beloftes ten opsigte van gebed

God het in die Bybel bepaalde beloftes ten opsigte van gebed gemaak. Sien Fruchtenbaum se artikel vir ʼn omvangryke bespreking van God se beloftes (ten minste 15) ten opsigte van gebed — maar ons gee hier aandag aan net ʼn paar sodanige beloftes. Een, God wil ons gebede hoor. Dit word gesien in Job 22:27 en Psalm 65:3. Twee, een van die maniere waarop ons tot God offer, is deur tot Hom te bid (Psalm 50:14-15). Drie, onder die Mosaïese Wet was ʼn weduwee onder God se spesiale beskerming (Exodus 22:22-24). As ʼn weduwee se regte aangetas was en sy tot God uitgeroep het, het Hy haar geroep hoor en haar gewreek. Sien ook Jakobus 1:27. Vier, as die Joodse volk hulle tot God bekeer, sal Hy hul land genees (2 Kronieke 7:12-18). Neem asseblief kennis dat hierdie belofte kontekstueel deur God aan die Joodse volk gemaak is. Soms word hierdie Skrifgedeelte uit verband getrek. Vyf, volgens Johannes 4:10 sal God die ewige lewe gee aan diegene wat vra. Ses, as iemand ʼn aanbidder van God is, hoor Hy so ʼn mens se gebede. Soos genoem, daar is nog beloftes van God ten opsigte van gebed wat nie hier genoem word nie.

Die aard van gebed

Gebed is ʼn handeling, nie slegs ʼn ingesteldheid nie. Dit is ook ʼn posisie (Lukas 11:1-13), ʼn handeling van spesifieke versoeke te rig, ʼn handeling van ʼn dringende emosie (selfs ʼn emosionele versoek) sowel as ʼn handeling van kinderlike versoek, want gelowiges het ʼn Vader-kind verhouding. Verder is die objek van ons geloof in God, want “God is vir ons ʼn toevlug en sterkte” (Psalm 46:2) en “ek [sal] jubel in die HERE” (Hábakuk 3:18).

Die simbool van gebed

Die simbool van gebed is wierook. Ons sien dit nie net in die Ou Testament nie – “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan” (Psalm 141:2) – maar ook in die Nuwe Testament: “… goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is” (Openbaring 5:8; vgl. ook 8:3).

Die redes vir gebed

Hoekom bid ons? Daar is minstens agt spesifieke redes. Een, gelowiges het die opdrag om te bid (1 Thessalonicense 5:17). Twee, Jesus het ʼn gelykenis vertel om mense aan te spoor om te bid omdat dit reg is en ook so hoort (Lukas 18:1). Drie, deur gebed verleen God gawes en seëninge (Daniël 9:3; Matthéüs 7:7-11). Vier, gebed is noodsaaklik vir oorwinning, soos ons sien in Efésiërs 6:10-18. Vyf, Jesus het gebid, en Hy is ons volmaakte voorbeeld (Markus 1:35). Ses, die vroeë Kerk het gebid en hulle dien ook vir ons as ʼn voorbeeld (Handelinge 6:4; 12:5). Sewe, deur gebed verlos God ons, byvoorbeeld van versoeking, moedeloosheid, beproewende omstandighede en so meer (Matthéüs 26:41; Lukas 18:1; Handelinge 12:3-19). Agt, deur middel van gebed bring God ons tot geestelike volwassenheid.

Die vermaning om te bid

Sonder om dit te bespreek, noem ons net ʼn paar Skrifgedeeltes wat ons vermaan om te bid (dit is nie ʼn volledige lys nie): Psalm 32:6; Lukas 18:1-8; Romeine 12:12; Filippense 4:6b; Kolossense 4:2; 1 Thessalonicense 5:17, 25; en 1 Timótheüs 2:8.

Die beplanning van gebed

Jesus het sy dissipels geleer hoe om te bid en vir hulle ʼn gebedsplan voorsien in Matthéüs 6:9-13 (sien ook Lukas 11:2-4). Ons sal ʼn aparte artikel aan hierdie belangrike onderwerp wy.

Die plekke, tye en liggaamshoudings ten opsigte van gebed

Die Bybel benadruk nie enige spesifieke plek waar gebid moet word nie. Ons kan tot God die Vader bid in enige plek, waar ons ons ook al mag bevind. Dit gesê, die Bybel moedig ons ook aan om in afsondering te bid. Matthéüs 6:6 leer ons byvoorbeeld om tot God die Vader in ons binnekamer te bid, agter ʼn geslote deur.

Ons moet daarop ingestel wees om regdeur die dag of nag tot die Here te bid, maar dit blyk dat ʼn besondere tyd van die dag die individu se keuse is. Die Bybel praat van ʼn verskeidenheid tye vir gebed net soos dit doen met plekke vir gebed. Daar is ook nie ʼn vaste reël oor ons liggaamsposisie wanneer ons bid nie. Ons kan bid terwyl ons staan, kniel, op ons aangesig lê, in ʼn ander posisie lê, sit, met geboë hoof, oë toe of oop, ens.

Gebed lewer baie resultate, maar ten slotte sal ons net dít beklemtoon: God word verheerlik deur ons gebede. Kom, laat ons bid (Johannes 14:13).

———————————

As jy belangstel in meer inligting oor wat die Bybelse sê oor gebed, oorweeg gerus om die artikel, Die beginsels van gebed deur dr. Arnold Fruchtenbaum te lees, wat as bron vir hierdie blog gebruik is.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']