Die boek Amos

Amos was nie wat sommige ʼn ‘voltydse teoloog’ sou noem nie, maar ʼn skaapboer (1:1) en ‘veewagter en kweker van wildevyebome’” (7:14). Hoewel Amos in Tekóa gewoon het, ʼn plek sowat 10 myl suid van Jerusalem, het God hom geroep om vir die Noordelike koninkryk te profeteer (1:1; 7:15).

. . .

Skrywer en datum

Amos ‘was geen profeet en ook geen profete-seun nie’, maar die HERE het vir hom gesê, ‘Gaan heen, profeteer teen my volk Israel’ (7:14-15), wat Amos gedoen het in die dae van Ussía, koning van Juda, en Jeróbeam II, koning van Israel, twee jaar voor die aardbewing (Amos 1:1; vgl. 2 Konings 14-15; Sagaría 14:5). Amos het waarskynlik hierdie boek iewers tussen 760 tot 755 vC geskryf (vgl. Rooker 2011:431). Die naam ‘Amos’ beteken ‘lasdraer’ of ‘vragdraer’ (Constable 2017:1) wat baie paslik is, want God het vir hierdie skaapboer ʼn swaar las gegee om te dra aangesien Amos opgetree het in ʼn tyd toe Israel die profete van God beveel het om nie te profeteer nie (Amos 2:11-12).

Gehoor en doel

Amos het gepreek in ʼn tyd toe Israel ekonomies welvarend was (8:5) met ʼn sogenaamde hoër stand (4:1-3) wat duur huise gebou het (5:11; 6:4) terwyl hulle die armes uitgebuit het (2:6-7; 8:4). Boonop het beide Juda en Israel die Wet van die HERE gehad (2:4) en hulle het selfs godsdienstig voorgekom aangesien hulle heilige dae in Bet-el (nie Jerusalem nie?) bygewoon en offers gebring het (4:4; 5:5, 21-23). Hulle het egter ook afgodsaltare in Gilgal, Dan en Berséba gebou en Baäl in Bet-el aanbid (2:8; 3:14; 5:5; 8:14). Maar God wat regverdig is, HERE is sy Naam (5:8), sien deur die ongeregtighede en oppervlakkigheid van dit alles en kondig oordeel aan – nie net oor die nasies nie (1:3-2:3), maar ook oor Juda (2:4-5) en Israel (2:6-9:10). Die eerste doel van Amos is daarom om die Noordelike koninkryk (Israel) op te roep tot bekering, om die HERE te soek en dan in heiligmaking te groei deur die Mosaïese verbond te gehoorsaam. Ons weet dat hulle hul nie bekeer het nie en daarom is die Noordelike koninkryk uiteindelik deur die Assiriërs in ballingskap geneem in 722 vC. Die tweede doel, ná 9 hoofstukke en 10 verse van Goddelike waarskuwings aan Israel en die nasies, is dat God aan die oorblyfsel van Israel en gelowiges van ander nasies belowe dat Hy herstel sal bring in die Messiaanse koninkryk (9:11-15).

Struktuur

Na ʼn kort inleiding (1:1-2) brul die HERE uit Sion en kondig agt Godsprake aan teen die nasies (1:3-2:16). God gee vyf redes vir hierdie komende oordele: drie ‘hoor hierdie woord’ (3:1; 4:1; 5:1) en twee ‘wee’ (5:18; 6:1) oordele, gevolg deur ʼn ‘daarom’ (3:11; 4:12; 5:11, 16; 6:7) wat die aard van die komende oordeel verklaar. Volgens Jelinek (2014:1347-1351) is die vyf redes vir die oordeel van Israel (en Juda) dat hulle die onskuldiges vertrap het (3:1-15), die hulpbehoewendes en armes ekonomies verdruk het (4:1-13), geweier het om hulle te bekeer toe hulle gewaarsku is (5:1-17), Israel het skynheilige aanbidding beoefen (5:18-27) en hulle het die profeet se waarskuwings verontagsaam of nie geglo het nie terwyl hulle in voorspoed en gemak geleef het (6:1-14). God het toe vir Amos in vyf gesigte gewys hoe hierdie oordele sou kon lyk: een, die gesig van die sprinkaanswerm (7:1-3); twee, die gesig van ʼn vuur (7:4-6); drie, die gesig van die skietlood (7:7-17); vier, die gesig van die mandjie met somervrugte (8:1-14); en vyf, die gesig van die Here by die altaar (9:1-10). In die laaste vyf verse van Amos belowe God om die huis van Dawid te herstel (9:11-15).

Dorsey (1999:285) stel die volgende chiastiese struktuur vir die boek Amos voor:
A Komende oordeel oor Israel en nasies 1:1-2:16
Sewevoudige veroordeling van die rykes; onontkombaarheid van oordeel; tema soos uittog; onderwerp soos ‘top van Karmel’
B Profeet onder dwang: Komende verdelging van Israel & kultus by Bet-el 3:1-15
Wanneer die HERE spreek, moet sy profete profeteer; koningshuise en Bet-el se altare sal verdelg word
    C Veroordeling van ryk Israelitiese vroue: leë godsdienstige aktiwiteit 4:1-13
    Koeie van Basan in die berg van Samaría; ryk vroue wat sorgeloos drink; vroue sal in ballingskap gaan;
leë godsdienstige aktiwiteite wat Israel liefhet; die HERE kom, en verander die dag in duisternis

      D Middelpunt: Oproep tot bekering, en klaaglied 5:1-17
    C’ Veroordeling van ryk Israelitiese mans: leë godsdienstige aktiwiteit 5:18-6:14
    Die wat veilig is in die berge van Samaría; ryk mans wat wyn drink; mans sal eerste in ballingskap gaan; leë godsdienstige aktiwiteite wat God haat; dag van die HERE sal duisternis wees, nie lig nie
B’ Profeet onder dwang: Gesigte van oordeel en verdelging van kultus by Bet-el 7:1-8:3
Die HERE het gespreek, dus profeteer Amos; profesie by Bet-el: God sal Jeróbeam se huis verdelg
A’ Komende oordeel oor Israel maar ook toekomstige herstel onder die nasies 8:4-9:15
Sewevoudige veroordeling van die rykes; onontkombaarheid van oordeel; tema soos uittog; onderwerp soos ‘top van Karmel’

Elk van die komponente van die bogenoemde sewevoudige struktuur kan ook in sigself gestruktureer word. Dorsey (1999:281) het die volgende struktuur geïdentifiseer vir die voorgestelde chiastiese middelpunt van die boek Amos:
A Klaaglied oor gevalle Israel 5:1-3
B Oproep tot bekering (sewe waarskuwings-werkwoorde) 5:4-6a
    C Veroordeling van Israel se ongeregtigheid 5:6b-7
      D Middelpunt: Loflied van die HERE se mag 5:8-9
    C’ Veroordeling van Israel se ongeregtigheid 5:10-13
B’ Oproep tot bekering (sewe waarskuwings- of belofte-werkwoorde) 5:14-15
A’ Komende klaaglied 5:16-17

Relevansie en slotsom

Hoe moet ons ons voorberei om ons God te ontmoet (vgl. 4:12)? Daar is geen veroordeling vir die wat in Christus is, wat in die Gees wandel nie (Romeine 8:1). Maar op die dag van Christus sal gelowiges in Jesus se werke, wat hulle gedoen het vandat hulle gelowiges geword het, geoordeel word (1 Korinthiërs 3:10-15). Die boek Amos is ʼn nugter herinnering dat God nie net soewerein (4:13; 5:8) en heilig (4:2) is nie, maar ook regverdig. Gelowiges kan uitsien na die Messiaanse koninkryk (vgl. Amos 9:11-15) en dan die ewige staat, maar ons moet ons ook voorberei om ons Here en Verlosser te ontmoet.
———————————

Bronne:

Cone, C.C, N.d., Overview of Amos.

Constable, T.L., 2017, Notes on Amos, 2017 edition.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Jelinek, J.A., 2014, ‘Amos’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1341-1356, Moody Publishers, Chicago.

Rooker, M.F., 2011, ‘The Book of Amos’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 430-438, B&H Publishing Group, Nashville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']