Die boek Daniël

Daniël was deel van die eerste Joodse wegvoering na Babilon deur Nebukadnésar in die jaar 605 vC.

Agtergrond en datum

Onder die weggevoerdes was daar ook die aantreklike, hoogs intelligente jong seuns Hanánja, Mísael, Asárja en Daniël (1:4, 6). Hierdie vier jong seuns was uit die stam van Juda (1:6) en uit 1:3 kan afgelei word dat Daniël heelwaarskynlik uit die koninklike geslag van Juda was. Daniël het in Babilon gewoon tot 538 vC toe hy omtrent 85 jaar oud was (1:21), maar sy bediening as ’n profeet het vir ten minste nog twee jaar voortgeduur (10:1). Die Bybel stel Daniël bekend as ’n groot geloofsman, nederig en afhanklik van God (Eségiël 14:14; Daniël 9:20; 10:11). Aangesien verskeie Persies-afgeleide regeringsterminologie in die boek voorkom (Constable 2017:2), wat ’n tydperk ná die Babiloniese Ryk veronderstel, moes Daniël hierdie boek onder die inspirasie van die Heilige Gees iewers tussen 536-530 vC geskryf het. Interne bewys (8:1; 9:2, 20; 10:2), eksterne bewys (Eségiël 14:14, 20; 28:3) en die HERE Jesus Christus (Matthéüs 24:15) maak dit baie duidelik dat Daniël die menslike skrywer van hierdie boek is.

Doel en tema

Terwyl die Leviete bedoel was om Israel voor God te verteenwoordig, moes Israel as ’n koninkryk van priesters die ander nasies voor God verteenwoordig (Exodus 19:5-6): ‘[Israel se] rol sou voortaan wees om as priesters in te tree tussen die heilige God en die weerspannige nasies van die wêreld’ (Merrill 2008:98; eie vertaling). Die boek Daniël stel egter bekend wat Jesus later sou beskryf as die “tye van die nasies” (Lukas 21:24). Hierdie periode beskryf die tyd wanneer die uitverkore volk – Israel – onder ‘goddelose, heidense wêreldoorheersing’ verkeer (Rydelnik 2014:1280). Ander maniere om die tye van die nasies te beskryf, is as die tyd tussen die Babiloniese Ryk en die Messiaanse koninkryk, as die tyd tussen die laaste koning van Juda, Sedekía, en die tweede koms van die Here Jesus Christus wanneer Hy vanaf die troon van Dawid in Jerusalem sal regeer. Die eerste doel van die boek Daniël is dus om aan te toon hoe die Godvresende mens moet lewe gedurende die tye van die nasies – en Daniël en sy vriende (leer gerus hul Joodse name) is uitmuntende voorbeelde van hoe om in onderdanigheid aan die wil van die soewereine God te lewe. ’n Tweede doel is om aan te toon dat die koninkryk van die Allerhoogste God nie alleenlik ewig is nie, maar dat God soewerein oor die hele mensdom en oor alle engelewesens is (4:34-35; 5:21; 7:14; 10:13, 20-21). Hoewel die uitverkore volk tot dusver gefaal het om as ’n koninkryk van priesters tussen God en die nasies van die wêreld in te tree, sal Israel se roeping wel tot God’s eer volvoer word (7:13-14; 9:24-27).

Struktuur

Om die strukturele komposisie van Daniël te verstaan, moet ’n mens in ag neem dat die boek in beide Hebreeus (1:1-2:3; 8:1-12:13) en Aramees (2:4-7:28) geskryf is. Ten opsigte van die Aramese gedeelte, het Lenglet (1972) voorgestel dat hoofstukke 2-7 as ’n literêre eenheid gesien word, spesifiek ’n chiastiese struktuur:

A Viervoudige tydperke van heidense magte wat oor Israel sal heers hfst. 2
B Goddelike verlossing vir die wat aan God getrou is (uit die vuuroond) hfst. 3
    C Goddelike vernedering van die Babiloniese koning (Nebukadnésar) hfst. 4
    C’ Goddelike vernedering van die Babiloniese koning (Bélsasar) hfst. 5
B’ Goddelike verlossing vir die wat aan God getrou is (uit die leeukuil) hfst. 6
A’ Viervoudige tydperke van heidense magte wat oor Israel sal heers hfst. 7

Dit is moeiliker om te sien hoe die Hebreeuse gedeeltes van Daniël (1:1-2:3; 8:1-12:13) in die algehele struktuur van die boek inpas. Tanner (2003:277) stel ’n oorvleuelende struktuur voor, met hoofstuk 7 wat nie net dien as die laaste hoofstuk wat in Aramees geskryf is nie, maar ook as die eerste van die visioene wat Daniël ontvang het (hoofstuk 7 in Aramees en dan, in Hebreeus, hoofstukke 8-12). Hoewel dit sinvol is, lyk dit steeds nie of dit die algehele struktuur van Daniël verduidelik nie. Wat hoofstukke 8-12 betref, kan dit uitgelig word dat dit die visioen beskryf van twee koninkryke in hoofstuk 8 (Persië en Griekeland, beskryf as diere); die profesie van die sewentig sewetalle in hoofstuk 9; en die finale visioen wat in hoofstukke 10-12 beskryf word.

Voorspellende profesie

Die boek Daniël sal altyd aangeval word. Kritici wil nie aanvaar dat Daniël die boek geskryf het of dat dit voorspellende profesieë in soveel oorweldigende besonderhede kan bevat nie (byv. hoofstuk 11). Daniël is egter vir die Ou Testament wat Openbaring vir die Nuwe Testament is. ’n Mens kan nie die Bergrede (Matthéüs 24-25) sonder Daniël verstaan nie en ’n mens kan nie Openbaring verstaan sonder om ook Daniël te lees nie. Daniël gee ’n tydrooster vir Christus se eerste koms sowel as vir sy tweede koms (9:24-27). Die probleem wat kritici wil weg verduidelik is hulle probleem met die soewereine God wat die toekoms voorspel. Maar Jesus sê spesifiek ons moet wat die profeet Daniël geskryf het bestudeer (Matthéüs 24:15) – en as dit nie die kwessie vir die kritici uitstryk nie, wat sal?

Slotsom en toepassing

God se wil sal uitgevoer word, nie net in die hemel nie, maar ook op die aarde. Selfs al is die tempel in Jerusalem deur Babilon vernietig, bly God in beheer, vra maar vir Nebukadnésar, Bélsasar en Daríus. Dieselfde geld vir die derde en vierde heidense ryke – soos wat dit vir almal duidelik sal wees wanneer die klip sonder die toedoen van mensehande losraak en die laaste goddelose heerser en sy bose koninkryk verbrysel. Op daardie tydstip sal Christus die Messiaanse koninkryk vestig en oor al die nasies van die wêreld heers (2:35; 7:13-14). Ons sien nog nie dat alles aan Hom onderwerp is nie, maar dit sal binnekort duidelik word wanneer God die Vader Christus se vyande sy voetstoel maak. Hoewel die millennium tempel nog nie gebou is nie (9:24), bly God in beheer, vra maar vir Hanánja, Mísael, Asárja en Daniël. God se wil sal uitgevoer word, nie net in die hemel nie, maar ook op die aarde.

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Daniel, 2017 edition.

Lenglet, A., 1972, ‘La structure littéraire de Daniel 2-7’, Biblica 53, 169-190.

Merrill, E.H., 2008, Kingdom of priests: A history of Old Testament, Baker Academic, Grand Rapids.

Rydelnik, M. 2014, ‘Daniel’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1279-1314, Moody Publishers, Chicago.

Tanner, J.P., 2003, ‘The literary structure of the Book of Daniel’, Bibliotheca Sacra 160(639), 269-282.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']