Die boek Esra-Nehemía

Agtergrond en struktuur

Hedendaags word Esra en Nehemía in die meeste Bybels as twee aparte boeke aangetoon, maar dit was nie altyd die geval nie. Die mees antieke manuskripte, die Hebreeuse Bybel voor die 15de eeu, en die Septuaginta het Esra en Nehemía as een samestelling beskou (vgl. Merrill 2011:343; Constable 2017a:1). Philo en Hieronymus was die eerstes wat hierdie twee boeke geskei het. Sedert omtrent die 15de eeu, het die Hebreeuse Bybel ook hierdie samestelling in twee aparte boeke verdeel. As ʼn mens egter die struktuur van Esra-Nehemía bestudeer, is dit duidelik dat dit een samestelling is.

Beide Dorsey (1999:161) en Merrill (2011:346) bied hierdie struktuur van Esra-Nehemía aan:

A Serubbábel se terugkeer en lys van teruggekeerdes (Esra 1-2)
Lys van teruggekeerdes, goud, silwer, priesterrokke
B Bou van die tempel tesame met teenstand (Esra 3-6)
Temas: teenstand, die verhaal van die Jode se sukses
    C Esra se terugkeer (Esra 7-8)
    Beraadslagings met koning; opdragte aan goewerneurs om Jode by te staan; eerstepersoon verslag
      D Middelpunt: Reiniging van die volk (Esra 9-10)
    C’ Nehemía se terugkeer (Neh. 1-2)
    Beraadslagings met koning; opdragte aan goewerneurs om Jode by te staan; eerstepersoon verslag
B’ Bou van die mure tesame met teenstand (Neh. 3:1-7:3)
Temas: teenstand, die verhaal van die Jode se sukses
A’ Serubbábel se terugkeer en lys van teruggekeerdes; finale hervormings (Neh. 7:4-13:31)
Lys van teruggekeerdes, goud, silwer, priesterrokke

Bogenoemde struktuur vestig duidelik die aandag op die herhaling van die name van mense wat teruggekeer het na die land Israel (afdelings A en A’), die teenstand om die tempel en die mure van Jerusalem te herbou (afdelings B en B’), eerstepersoon verslae van die terugkeer van Esra en Nehemía (afdelings C en C’), en – in die middel van die voorgestelde chiastiese struktuur – die reiniging van die volk.

Temas in Esra-Nehemía

Noudat ʼn strukturele oorsig verskaf is, waaroor handel hierdie samestelling van Esra-Nehemía? ʼn Hooftema wat die bogenoemde struktuur ooglopend belig, is die Jode se terugkeer na hul vaderland ná die Babiloniese ballingskap (Dorsey 1999:161). Nog belangriker miskien, toon dit ook dat die Jode wat fisies na die land Israel teruggekeer het, ook geestelik tot God moes terugkeer. Merrill (2011:351; eie vertaling) stel dit goed: ‘Om God se verbondsbeloftes waarlik te vervul, moet die herversamelde en heropgerigte Joodse staat in alle aspekte daarvan aan sy verbondsmandaat en -verantwoordelikhede voldoen’. Tipologies wys dit heen na ʼn nog-toekomstige Joodse geslag wat die Here Jesus sal aanroep om nie slegs terug te keer nie (Hoséa 5:15-6:3; Sagaría 12:10; Matthéüs 23:39), maar ook die messiaanse koninkryk te vestig. Op grond van hierdie redes moet dit ʼn mens nie verbaas nie om in Esra-Nehemía temas te vind soos die herbou van die tempel en die mure van Jerusalem, reiniging, Israel as ʼn heilige en uitverkore volk onder die ander nasies, en teenstand teen dié soort inisiatiewe.

Skrywer en datum

As Esra-Nehemía een samestelling is, wie het dit geskryf en wanneer is dit geskryf? Hierdie moeilike vrae word tipies op een van drie maniere beantwoord. Party sê Esra het Esra-Nehemía geskryf, party sê Esra het Esra geskryf en Nehemía het Nehemía geskryf, terwyl ʼn derde siening is dat ʼn ander kroniekskrywer die eerstepersoon verslae (Esra 7-8; Nehemía 1-2) met ander materiaal gekombineer het in een, gestruktureerde samestelling. As Esra alles geskryf het, kan ʼn moontlike datum 446 vC of kort daarna wees (Constable 2017a:2). As Nehemía deel was van die skryfwerk, kon hy iewers na 423 vC maar nie later nie as 400 vC geskryf het (Constable 2017b:1). As ʼn kroniekskrywer geïnspireer was om te skryf, kan ons net sê dat dit ná die laaste historiese verwysingspunt (Nehemía 12:22) moes gebeur het, d.w.s ná 423 vC.

Twee wêreldwye herversamelings

Die Bybel bevat profesieë omtrent twee fisiese, wêreldwye herversamelings van Jode na hul land. Die terugkeer ná die Babiloniese ballingskap was nie ʼn wêreldwye herversameling nie. Volgens Eségiël 20:33-38 en Sefánja 2:1-2, sal daar ʼn wêreldwye herversameling wees van (hoofsaaklik ongelowige) Jode na hul land in voorbereiding vir die oordeel van die sewe jaar Verdrukkingstydperk (Fruchtenbaum 1989:716). Na die eerste herversameling, en onmiddellik na die Verdrukkingstydperk, sal daar ʼn tweede herversameling na Israel wees (Matt 24:31: Mark 13:27), hierdie keer van gelowige Jode in voorbereiding vir die seëninge van die messiaanse koninkryk (Rydelnik & Spencer 2014:1027). Hoe weet ons dat daar twee wêreldwye herversamelings van Jode na hul land sal wees en nie, byvoorbeeld, drie of sewe herversamelings nie? Jesaja 11:11-12:6 praat van ʼn herversameling vir “die tweede keer” en, soos wat duidelik uit die konteks afgelei kan word, is hierdie tweede herversameling vir die seëning van die messiaanse koninkryk. Daar is dus net twee wêreldwye herversamelings (Fruchtenbaum 1989:718). Die moderne staat Israel wat in 1948 gevestig is, is daarom geen historiese toevalligheid nie, maar ʼn vervulling van ʼn Bybelse profesie (Rydelnik 2007:132–134).

Toepassing

Vir die oorspronklike gehoor, het Esra-Nehemía die Jode herinner dat hulle wel nasionale invloed sou hê. Vir die paar Jode wat na die land teruggekeer het, sou sommige van die messiaanse profesieë wat in Haggai, Sagaría en Maleági genoem word, dalk ietwat onwaarskynlik geklink het. Maar God wil die Jode in hul vaderland herstel, nie as ʼn doel opsigself nie, maar om Israel te gebruik as ʼn werktuig van seëning vir ander nasies. Binne hierdie heilige en uitverkore volk moet die priesterlike stam van Levi Israel voor God verteenwoordig (Fruchtenbaum 1989:820), maar as ʼn koninkryk van priesters, moet Israel die ander nasies voor God verteenwoordig (Ex 19:5-6). Dit kan egter nie gedoen word nie tensy Israel na God terugkeer, ʼn geredde volk word, ʼn funksionerende tempel en ʼn herboude Jerusalem het, en met die Koning van die Jode wat oor hulle regeer. Dat dit inderdaad wel in die toekoms sal gebeur, is duidelik uit profesieë soos Jesaja 59:20-21 en Romeine 11:25-27.

Die toepassing vir vandag begin vanself duidelik word. Esra-Nehemía gee baie lesse wat die oorspronklike gehoor moes toepas terwyl hulle gewag het vir die Messias se eerste koms, lesse aangaande geloof, heiligmaking en algehele reinheid. Jesus maak dit duidelik in die profetiese rede (Matthéüs 24-25; Markus 13) dat die Here van sy volgelinge verwag om, tot en met sy tweede koms, te waak, gereed te wees en paraat te wees terwyl ons getrou in hierdie laaste dae vir Hom arbei. Met God se hulp kan ons dit (weer) doen, van vandag af vorentoe.

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017a, Notes on Ezra, 2017 edition.

Constable, T.L., 2017b, Notes on Nehemiah, 2017 edition.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The missing link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.

Merrill, E.H., 2011, ‘The Book of Ezra-Nehemiah’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 343-353, B&H Publishing Group, Nashville.

Rydelnik, M., 2007, Understanding the Arab-Israel conflict: What the headlines haven’t told you, Moody Publishers, Chicago.

Rydelnik, M. & Spencer, J., 2014, ‘Isaiah’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1005–1102, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']