Die boek Ester

Agtergrond

Daar kan ʼn goeie rede wees hoekom Ester die enigste boek in die Bybel is wat God nie uitdruklik noem nie. God het gesê (of gedreig) dat as Israel sou versuim om die Mosaïese verbond na te kom, een gevolg daarvan sou wees dat Hy sy teenwoordigheid of “aangesig” vir hulle sou verberg (Deuteronómium 31:17-18; Jesaja 59:2). Volgens die Moody Study Bible (2014:682; eie vertaling), kan hierdie tema van God wat sy “aangesig” (of teenwoordigheid) verberg, gesien word in die ‘onmiskenbare ooreenkoms tussen die naam van die boek se sentrale hoof figuur – ‘ester (“Ester”) – en die frase waardeur God sy dreigement – ‘astir (“Ek sal verberg”; Dt 31:18; vgl. Eseg 39:23-24) uitdruk. Wat meer is, die Hebreeuse konsonante van hierdie twee terme maak hulle amper identies, want die naam “Ester” was ‘str en die frase “Ek sal verberg”, ‘styr. Hierdie ooreenkoms, as ʼn wenk dat God (in sowel naam as handeling) bedoel is om in die boek verberg te wees, is vroeg in Joodse vertolkende geskiedenis erken en bevestig, soos gestaaf in die Babiloniese Talmoed Chullin 139b’. Israel het versuim om die Mosaïese verbond na te kom, dit het uitgeloop op die Babiloniese ballingskap, maar daarna het baie Jode verkies om nie na hul land terug te keer nie. God het sy teenwoordigheid of aangesig in die boek Ester verberg, maar sy trou aan sy onvoorwaardelike beloftes, spesifiek dié van die Abrahamitiese verbond, is duidelik vir almal om te sien.

Skrywer en datum

Daar is mense wat meen dat Mórdegai die skrywer van die boek Ester is, maar die ‘hoogs aanprysende manier waarop hy bekend gestel word, maak dit baie onwaarskynlik’ (Merrill 2011:357; eie vertaling). Dit lyk of die skrywer homself van Mórdegai onderskei in 9:20, 23. ‘Die idee dat Ester die skrywer was word nie ondersteun nie, hoofsaaklik omdat vroulike skrywers nie algemeen was in antieke patriargale gemeenskappe soos Israel nie’ (Constable 2017:1; eie vertaling). Ons weet dat die Heilige Gees hierdie boek geïnspireer het, maar die menslike skrywer bly onbekend. Wat egter seker is, is dat die menslike skrywer bekend was met die Persiese kultuur en letterkunde (2:23; 10:2) en geskryf het asof hy ʼn ooggetuie van die gebeure was (Constable 2017:1). Die laaste historiese gebeurtenisse van die boek (9:27-28; vgl. 3:7) kan gedateer word aangesien die Jode hulself verdedig het en die Purimfees ingestel het in 473 vC. Die boek Ester is waarskynlik kort daarna geskryf, in omtrent 470 vC.

Literêre vakmanskap en struktuur

Die boek Ester is ʼn verhaal wat werklike historiese gebeurtenisse aanskoulik beskryf. ‘Dit is ʼn kortverhaal of novelle, ʼn beskrywing wat geensins die feitelikheid of historisiteit daarvan verminder nie’ (Merrill 2011:356; eie vertaling). Die dramatiese verloop word uiteengesit in hoe Ester koningin word in die plek van Vasti. Kort daarna ontbloot Mórdegai ʼn komplot om die koning te vermoor – ʼn gebeurtenis wat aanvanklik so te sê vergeet word – en dan bedink Haman ʼn komplot om die Jode uit te delg. Hierdie uitdaging loop uit op Ester wat haar lewe waag om haar mede-Jodegenote te red. Die keerpunt kom een nag wanneer die koning nie kon slaap nie. As die eerste van baie ironiese omkerings, verloor Haman nét die volgende dag sy lewe maar Mórdegai word vereer vir sy blootlegging van die moordkomplot. Die bose plan om die Jode uit te delg word teengewerk. Die boek begin met ʼn fees in ʼn Persiese hoofstad, ʼn fees wat nie so goed eindig nie, maar die boek Ester eindig met die herdenking van die heuglike Purimfees wat tot vandag toe deur Jode regoor die hele wêreld gevier word. Net soos die boek Rut, is die boek Ester ʼn ware en pragtige kortverhaal. Toegegee dat afdelings E en E’ (sien onder) dalk nie goed pas nie, word die volgende chiastiese struktuur van Dorsey (1999:163) aanbeveel:

A Die koning se grootse fees (Vasti onttroon, briewe oor die hele koninkryk gestuur) 1:1-22
B Ester word koningin (koning gee fees ter ere van haar, gee geskenke) 2:1-18
    C Koning se lewe word gered (die samesweerders word gehang) 2:19-23
      D Haman se komplot 3:1-4:3
        E Mórdegai ontdek die komplot; Ester moet alles waag 4:4-17
          F Ester nooi koning en Haman na 1ste maaltyd 5:1-14
            G Keerpunt, ironiese omkerings volg 6:1-14
          F’ Ester nooi koning en Haman na 2de maaltyd 7:1-10
        E’ Ester ontvang Haman se huis en Mórdegai bevorder 8:1-2
      D’ Haman se komplot verydel 8:3-17
    C’ Jode se lewens word gered (die samesweerders word doodgemaak) 9:1-10
B’ Ester verkry 2de dag vir Jode in Susan (nog ʼn feesdag, gee van geskenke) 9:11-19
A’ Jode se Purimfees (Mórdegai bevorder, briewe oor die hele koninkryk gestuur) 9:20-10:3

Doel

Dit is so dat die soewereine God voorsienend agter die skerms werk om alles ten goede te laat meewerk vir hulle wat na sy voorneme geroep is (Romeine 8:28). Maar soos die Moody Study Bible (2014:681; eie vertaling) dit stel, kan die doel van Ester wees om God se getrouheid uit te druk – ‘des te meer so, aangesien die bevoordeeldes van sy getrouheid, Israel, in die land van hul ballingskap is op grond van hul sondes. God is egter getrou om sy onvoorwaardelike verbond te onderhou met Abraham (Gen 12:1-3; Jer 31:36; Sag 3:9; 12:10) en vir “al die geslagte van die aarde” (Gen 12:3; Gal 3:8). Laasgenoemde word gesien in die massa bekering van heidene van veelvuldige etnisiteite in Ester 8:17’. Rossow (1987:229-230; eie vertaling) belig ʼn ander doel: ‘Ek sou betoog dat die boek Ester selfs op meer dui as God se voorsienigheid wat tradisioneel daarin gevind word. Dit bring hulde aan die simmetrie [ewewigtigheid] van sy natuur en aan die vakmanskap van sy handelinge. … Die simmetrie en die struktuur van die boek Ester is die werk van die Goddelike Outeur, nie die van die menslike outeur nie. God is dus ʼn God van orde, van simmetrie. … Net soveel soos (of meer as) enige ander boek van die Bybel, bring die boek Ester hierdie kenmerkende eienskap van God onder ons aandag’.

Skadubeelde en werklikheid

As die boek Ester ʼn boek is waarin God sy teenwoordigheid of aangesig verberg en tog agter die skerms (of agter die ‘sigbare’) werk, kan ʼn mens waarskynlik verskeie tipologiese verbande te wagte wees. As al die Skrifte oor Christus leer (Lukas 24:27), is dit redelik om sulke verbande te verwag, selfs al is hulle indirek. Wat meer is, Kolossense 2:16-17 leer dat Israel se heilige dae – en dit sluit die Purimfees in – skadubeelde is wat heenwys na die werklikheid wat aan Christus behoort. Ons konsentreer nie hier op parallelle met ander tye toe Israel buite hul land was, soos toe Josef deur God gebruik is om vir Israel in te tree (Génesis 37-50), of Israel se uittog en verlossing uit Egipte nie, en vergelyk dit ook nie met Ester se bemiddeling namens die volk nie. Instede daarvan, belig Wechsler (1997:284; eie vertaling) in ʼn insiggewende artikel die volgende skadubeeld-werklikheid vergelyking tussen Ester en Christus:

SkadubeeldWerklikheid
Ester se drie-daagse vastyd het begin in die dagligure van 14 Nisan, die eerste dag van die Paasfees.Jesus se drie-daagse dood het begin iewers rondom drie-uur tydens die dagligure van 14 Nisan, die eerste dag van die Paasfees.
Vas oor die algemeen, en dus die vas wat Ester onderneem het, word in die Skrifte geïdentifiseer met “vernedering” of “beproewing”, en in sover haar roubedryf (en die verandering na rouklere) betrokke was, kan die vas ook haar tydelike “doodstaat” verbeeld.Jesus se drie-daagse tydperk van fisiese dood (ingelui deur die kruis, Fil. 2:8) word in die Skrifte geïdentifiseer as die tyd van sy “vernedering” of “beproewing” (ταπείνωσις).
Ester se tydperk van ταπείνωση [ beproewing ] het geëindig op die derde dag, 16 Nisan (Est. 5:1).Jesus se tydperk van ταπείνωση het geëindig op die derde dag, 16 Nisan (Hand. 10:40; 1 Kor. 15:4).
Aan die einde van haar vas (d.i., nadat sy opgestaan het uit haar simboliese doodstaat) maar voordat sy haarself voor die koning gaan stel het, was Ester koninklik geklee (Est. 5:1).Aan die einde van sy drie-daagse doodstydperk, maar voordat Hy Homself voor God die Vader in die hemel gaan stel het, is Jesus opgewek “in heerlikheid” (εν δόξη, 1 Kor. 15:20, 43).
Ester het haar, op grond van haar vas (Est. 4:16), voor die koning gestel, wat haar toe in sy teenwoordigheid aangeneem het (5:2).Jesus, op grond van sy soenoffer en dood (Heb. 2:9-10, 14), het in die Vader se teenwoordigheid in die ware heiligdom in die hemel ingegaan (9:12, 24), en is aangeneem in Sy teenwoordigheid om te gaan sit “aan die regterkant van die troon van God” (10:12; 12:2).
Die resultaat van Ester se aanneming deur die koning was die redding van haar volk, die redding waarin heidene ook gedeel het (Est. 8:17).Die resultaat van Jesus se aanneming deur die Vader is die redding van sy volk (d.i., “die verlore skape van die huis van Israel” Matt. 15:24), dit is, Jode wat nie net vleeslik nie maar ook geestelik besny is deur geloof in Hom (Rom. 2:28-29). Heidene kan ook deel in hierdie redding deur inlywing (deur geestelike besnydenis, Kol. 2:11) in die gemeenskap van geloof (Hand. 11:18; Gal. 3:8).

Bron: Wechsler, M.G., 1997, ‘Shadow and fulfillment in the book of Esther’, Bibliotheca Sacra 154(625), 275-284.

Gevolgtrekking

Hoewel sommige kritici dit wil doen, is daar geen enkele rede om die boek Ester uit die Skrifte te sluit nie. Daar is, inderwaarheid, groot gevaar vir diegene wat met God se Woord wil peuter (Deuteronómium 4:2; Openbaring 22:18-19). Die boek Ester leer die getrouheid van God wat, onderwyl Hy sy teenwoordigheid of aangesig vir die Jode verberg omdat hulle versuim het om die Mosaïese verbond na te kom, steeds agter die onsigbare werk om sy onvoorwaardelike beloftes te volbring. God werk tot voordeel vir eerste die Jood maar ook vir die heiden (Ester 8:17; 9:24-26). Dit sien ons in die skadubeelde van die boek Ester wat heenwys na die werklikheid wat die Here Jesus Christus is.

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Esther, 2017 edition.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Merrill, E.H., 2011, ‘The Book of Esther’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 354-360, B&H Publishing Group, Nashville.

Multiple Faculty Contributors, ‘Esther’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 681-693, Moody Publishers, Chicago.

Rossow, F.C., 1987, ‘Literary artistry in the Book of Esther and its theological significance’, Concordia Journal 13(3), 219-233.

Wechsler, M.G., 1997, ‘Shadow and fulfillment in the book of Esther’, Bibliotheca Sacra 154(625), 275-284.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']