Die boek Haggai

Ons weet so te sê niks oor Haggai nie, behalwe dat hy ʼn profeet vir Serubbábel en vir Josua was (1:1).

Skrywer

Dit is interessant dat die naam Haggai ‘my feestelike een’ kan beteken (Rydelnik 2014:1405) of verwys na ʼn ‘fees’ of ‘fees van die HERE’ (Fruchtenbaum 2005:3; Constable 2017:1). Dit is heel gepas, in ag genome dat die HERE deur Haggai gesê het dat die Jode die herbou van die tempel moes afhandel (1:8-9, 14). Sodra die tempel voltooi was, kon die feeste van die HERE weer onderhou word. As een van die drie ná-ballingskap profete (saam met Sagaría en Maleági), is dit nie onmoontlik dat Haggai gebore sou wees op ʼn dag van een van die feeste van die HERE nie.

Datum

Haggai dateer sy bediening in besonderhede. Dit het begin op die 1ste dag van die 6de maand in die 2de jaar van Daríus die koning van Persië (1:1). 24 dae later is daar met die bou van die tempel begin (1:15). Op die 21ste dag van die 7de maand in die 2de jaar van Daríus het Haggai ʼn tweede boodskap gelewer (2:1). ʼn Derde boodskap is gelewer op die 24ste dag van die 9de maand in die 2de jaar van Daríus aan die priesters in Israel – en op dieselfde dag ʼn vierde en laaste boodskap aan Serubbábel (2:20). Na sowat 4 maande is Haggai se bediening afgesluit. Die boek moes kort daarna saamgestel gewees het (Rydelnik 2014:1405). Haggai se bediening het van Augustus/September tot Desember 520 vC plaasgevind.

Struktuur

Die struktuur van Haggai kan volgens die chronologiese merkers in die boek gerangskik word. Die skema wat Merrill (2011:479-480) voorstel, word hier onder aangetoon:

1. Herbou van die tempel 1:1-15
        a. Inleiding en agtergrond 1:1
        b. Oproep om te herbou 1:2-11
        c. Respons van God se volk 1:12-15
2. Die toekomstige heerlikheid 2:1-9
        a. Herinnering aan die verlede 2:1-3
        b. Die teenwoordigheid van die Here 2:4-5
        c. Vooruitsig vir die toekoms 2:6-9
3. Die beloofde seëning 2:10-19
        a. Huidige seremoniële verontreiniging 2:10-14
        b. Huidige oordeel en dissipline 2:15-19
4. Serubbábel die verkose een 2:20-23
        a. Goddelike verdelging 2:20-22
        b. Goddelike verlossing 2:23

Plek, historiese konteks en gehoor

Daar bestaan geen twyfel dat Haggai in Jerusalem opgetree het nie, want dit is waar die oorspronklike tempel gestaan het en waar dit herbou is (vgl. 2:3). Nadat die Medo-Persiese koninkryk die Babiloniese koninkryk oorwin het, het Kores in ongeveer 538 vC die Jode toegelaat om na die land Israel terug te keer. Omtrent 50 000 Jode het kort daarna na Jerusalem en die land Israel teruggekeer (Esra 2:64-65). In Jerusalem het hulle die altaar herstel, begin met offergawes, en die fondament gelê om die tempel te herbou (Esra 3:1, 8-13). Heidene wat ook in Jerusalem gewoon het, het egter hierdie werk teengestaan (Esra 4:24). Vir sowat sestien jaar lank het dit wat hierdie Joodse oorblyfsel gekom het om te doen, naamlik die bou van die huis van die HERE (Esra 1:2), stilgestaan. Haggai het dus opgetree vir die oorblyfsel van Jode wat ná die Babiloniese ballingskap na Jerusalem teruggekeer het.

Tema, doel en gevolgtrekking

Dit is hierdie oorblyfsel aan wie gesê word dat hulle moet ophou om voorrang te gee aan hul eie betimmerde huise en inteendeel die tempel moet herbou (1:4, 8). Hierdie Joodse oorblyfsel was onder die voorwaardelike Wet van Moses: wanneer hulle God sou begin gehoorsaam, sou seëninge volg (2:19). As hulle egter die herbou van die tempel sou bly ignoreer, sou hul beursies steeds stukkend wees (1:6), hul lande sou nie vrugbaar wees nie (1:6a, 10), en hulle sou eet en drink maar nie genoeg kry nie (1:6). Volgens Rydelnik (2014:1405), roep God hierdie Jode nie net om ‘hul weg met die Here te hernu deur die tempel te herbou en die Here met suiwerheid te aanbid’ nie, maar ook om ‘Israel te dwing om hul geestelike onverskilligheid te konfronteer en hul toewyding te hernu sodat hulle weer eens God se seëning kan ontvang’. Sodanige seëning sal uiteindelik ten volle plaasvind as dié woord van die HERE van die leërskare vervul is: “ʼn Rukkie nog, ʼn kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe” (2:6, vgl. ook 2:21). Tydens die millennium sal die Seun van Dawid oor die uitverkore nasie én al die ander nasies op die aarde heers – en die HERE van die leërskare sal die tempel met heerlikheid vervul (vgl. 2:7, 22).

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Haggai, 2017 edition.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Book of Haggai, Ariel Ministries, San Antonia. Beskikbaar by http://www.arielc.org/mbs/mbs089-pdf.html

Merrill, E.H., 2011, ‘The Book of Haggai’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 478-482, B&H Publishing Group, Nashville.

Rydelnik, M. 2014, ‘Haggai’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1405-1412, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']