Die boek Hoséa

Saam met Amos, Miga en Jesaja, was Hoséa ʼn agtste-eeu vC profeet vir Israel en vir Juda. Hoewel hy tydens die regerings van vier konings van Juda (die Suidelike Koninkryk) opgetree het, het Hoséa hoofsaaklik opgetree vir die Noordelike Koninkryk (Israel), insluitend die tyd van Jeróbeam II se regering (1:1; vgl. 7:5).

. . .

Skrywer en datum

Hoséa se bediening kon oor ʼn baie lang tydperk gestrek het, miskien selfs so lank as 80 jaar. Aangesien hy ook opgetree het tydens die regering van Jehiskía (1:1), weet ons dat Hoséa getuie moes gewees het van die val van die Noordelike Koninkryk in 722 vC toe die Assiriërs hulle in ballingskap geneem het. Hierdie val kon voorkom gewees het as Israel hulle van hul sondes bekeer, hulle na God gewend, en in heiligmaking begin groei het deur gehoorsaamheid aan die voorwaardelike Mosaïese verbond waaronder hulle gestaan het – maar Israel het nie.

Gehoor en doel

Hoséa kan gesien word as die ‘Jeremia van Israel’, die plaaslike boodskapper vir die Noordelike Koninkryk (vgl. 7:5), net soos wat Jona die Noordelike Koninkryk se buitelandse boodskapper vir ander nasies was (Robinson, aangehaal deur Constable 2017:3). As Israel en Juda die materiële en geestelike seëninge wou beleef van die onvoorwaardelike verbonde (naamlik: Abrahamitiese, Land, Dawidiese en later ook die Nuwe verbond) wat God aan hulle gegee het, moes hulle gehoorsaam wees aan die Mosaïese verbond waaronder hulle daardie tyd gestaan het. As hulle dit nie sou doen nie, sou die vervloekings van die Mosaïese verbond oor hulle kom (vgl. Deuteronómium 27:1-28:68). Die eerste doel van die boek Hoséa is daarom om Israel (en ook Juda) op te roep om hul sondes te bely, hulle te bekeer en hulle te wend na die HERE wat hulle liefhet met ʼn troue liefde (Hoséa 2:14-22; 11:8-9). As Israel hulle bekeer het, sou hulle nie in ballingskap gegaan het nie, maar hulle het hul nie bekeer nie, met rampspoedige gevolge. Tweedens, terwyl Hoséa die ‘uiterste rebelsheid van die mensdom’ wat God se ‘vergeldende toorn’ verdien blootlê, toon die boek ook ‘God se onwrikbare geregtigheid’ en ‘God se herstellende barmhartigheid’ (Goodrich 2014:1315).

Inhoud en struktuur

Wat die indeling van Hoséa moeilik maak, is dat daar nie baie ooglopende strukturele merkers is wat kan help met afbakening tussen die verskillende dele van die boek nie. Die deel wat relatief maklik van die res van die boek onderskei kan word, is hoofstukke 1 tot 3: die werklike, historiese gebeurtenisse in Hoséa se lewe – naamlik om met ʼn hoervrou te trou en kinders by haar te hê – en wat deur God gebruik is as simboliese uitbeelding van Israel se verhouding met die HERE as die vrou van Yahweh (Fruchtenbaum 2005:3). Soos wat Gomer ontrou was aan Hoséa (vgl. 3:1), so was ook die vrou van die HERE skuldig aan geestelike ontrou en ontugtigheid aan haar Man. Soos wat Hoséa sy vervreemde vrou vir hom moes terugwen (3:1-4), so sal God ook in die laaste dae Israel vir Hom terugwen (Hoséa 3:5; vgl. ook 5:15-6:3; 14:5-9).

Uit bogenoemde word dit duidelik dat daar ʼn groot tweevoudige afbakening van die boek Hoséa is (hoofstukke 1-3 en dan 4-14), maar hoe moet die boek ingedeel word? Volgens Silva (2007:181; vgl. ook Goodrich 2014:1316), kan Hoséa soos volg ingedeel word:
  Proloog: Opskrif (1:1)
    I. Hoséa se Huwelik en Gesin (1:2-3:5)
      Siklus A (1:2-1:12)
      Siklus Β (2:1-22)
      Siklus C (3:1-5)
    II. Hoséa se Profetiese Godsprake (4:1-14:9)
      Siklus D (4:1-6:3)
      Siklus E (6:4-11:11)
      Siklus F (12:1-14:9)
  Epiloog: Wysheidspreuk (14:10)

Silva (2007:182-183) toon aan dat ‘afwisselende siklusse van oordeel en herstel’ wat bo in die indeling genoem word, ‘die strukturele ontwikkeling van die ses siklusse beheer’:

SiklusOordeelHerstel
A1:2-91:10-1:12
B2:2-122:13-22
C3:1-43:5
D4:1-5:15a5:15b-6:3
E6:4-11:711:8-11
F12:1-14:414:5-9

Aanhaling van Hoséa 11:1 in Matthéüs 2:15

Matthéüs 2:15 haal Hoséa 11:1 aan en sê dit is ʼn vervulling van profesie. Waar Hoséa 11:1 ʼn historiese gebeurtenis beskryf toe ʼn jong volk, Israel, deur God uit Egipte geroep is (uit Egipte het Ek my seun geroep), is Matthéüs 2:15 se vervullingsaanhaling eweneens ʼn bewys dat God die Kindjie wat na die land Egipte gaan, sal bewaar en laat terugkeer (uit Egipte het Ek my Seun geroep). Sonder twyfel verwys Hoséa 11:1 ook terug na Exodus 4:22–23, waar die volk Israel beskryf word as God se eersgebore seun wat uit Egipte moet trek. Israel is die nasie-seun van God wat uit Egipte geroep is, terwyl Christus die individuele Seun van God is wat uit Egipte geroep is (Fruchtenbaum 2016:21). Die Goddelik bepaalde tipe/antitipe-verhouding is duidelik, want beide Israel en Jesus is “my s(S)eun” wat deur God bewaar en uit Egipte na die land geroep is.

Omdat Hoséa 11:1 ʼn historiese gebeurtenis beskryf en nie ʼn profesie nie, is Ladd (1977:21–23) van mening dat Matthéüs die Ou Testament in die lig van Christus ‘herinterpreteer’ om só ʼn ‘dieper betekenis’ in die teks te vind. Rydelnik (2010:101–102) toon egter oortuigend aan dat die volgende Goddelik bepaalde tipe/antitipe-verhouding in Númeri 23:18–24 en 24:7–9 neergelê word: Wat God vir Israel doen, sal Hy ook vir die toekomstige Koning van Israel doen. Soos God vir Israel uit Egipte geroep het, so sal God die toekomstige Koning van Israel ook uit Egipte roep. Waarom haal Matthéüs dan vir Hoséa aan en nie net Númeri 24:8 nie? Matthéüs wou nie net Israel/die Koning van Israel se uittog uit Egipte beklemtoon nie, maar ook nasionale Israel/Christus se verhouding as seun/Seun van die Vader (Rydelnik 2010:103–104). In teenstelling met Ladd, is daar geen grond om te beweer dat Matthéüs die Ou Testament ontken, verander, herinterpreteer of buite konteks gebruik nie — juis die teendeel is waar (Scholtz 2016:6). Die volgende tabel toon duidelik dat ʼn tipe/antitipe-verhouding (remez) in die Pentateug neergelê word:

Die tipologie van Bíleam se profesieë
Israel se ervaring in die verlede is ʼn voorafskaduwing van die Koning se toekomstige ervaring
Israel (Númeri 23:18–24)Koning van Israel (Númeri 24:7–9)
God bring hulle uit Egipte.God bring Hom uit Egipte.
God is vir hulle soos die horings van ʼn buffel.God is vir Hom soos die horings van ʼn buffel.
Israel is soos ʼn leeu.Die Koning is soos ʼn leeu.

Bron: Rydelnik (2010:103)

Relevansie en slotsom

Die uitstaande openbaring aangaande die HERE in die boek Hoséa is God se troue liefde vir die wat syne is (Constable 2017:4). Hoséa stel dit onomwonde dat Israel en Juda gesondig het, hetsy deur gewelddadige misdade (4:2; 6:9; 12:1), politieke opstand (7:3-7), verskeie bondgenootskappe (7:11; 8:9), ondankbaarheid (7:15), sosiale ongeregtigheid (12:8), hoogmoed (13:6) en, bowenal, geestelike afgodediens en hoerery. Wat vir Israel waar is, is egter ook waar vir alle nasies. En tog, oor en oor toon die HERE sy onfeilbare troue liefde vir die wat aan Hom behoort, nie net vir die oorblyfsel van Israel nie, maar ook vir alle nie-Joodse gelowiges uit al die nasies.

God het Israel (“my seun”) gekies as die volk wat seën vir al die nasies sal bring. Dit is die HERE wat vir Israel sê: “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Sebóim: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is My medelyde opgewek. Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie ʼn mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie” (Hoséa 11:8-9). Dit is dieselfde HERE wat vir Israel as sy (huidige) vervreemde vrou sê: “En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken” (Hoséa 2:18-19). Dit sal gebeur aan die einde van die Verdrukkingstydperk wanneer Israel, in staat gestel deur die Nuwe verbond, hulle uiteindelik tot die HERE wend en die getroue vrou van Yahweh word (vgl. Hoséa 5:15b-6:3; Matthéüs 23:39).

Maar weer, God is liefde. Hoewel Israel steeds in ongehoorsaamheid verkeer bou Jesus, tussen die twee komste van die Here, sy Kerk, die bruid van Christus. Die evangelie van Christus is eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek (vgl. Romeine 1:16-17). Die HERE het oor en oor sy onfeilbare en troue liefde getoon; en wat is dus jou respons ten opsigte van God se liefde (vgl. Johannes 3:16)?

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017,Notes on Hosea, 2017 edition.
http://www.soniclight.com/constable/notes/pdf/hosea.pdf

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘The Message of Hosea’s Marriage’, Ariel Ministries, Tustin.

Fruchtenbaum, A.G., 2016, Yeshua: The Life of Messiah from a Messianic Jewish Perspective, Vol 1, Ariel Ministries, San Antonio.

Goodrich, J.K., 2014, ‘Hosea’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1315-1330, Moody Publishers, Chicago.

Ladd, G.E., 1977, ‘Historic premillennialism’, in R.G. Clouse (red.), The Meaning of the Millennium: Four Views, pp. 17–40, IVP Academic, Downers Grove.

Rydelnik, M., 2010, The Messianic hope: Is the Hebrew Bible Really Messianic? (NAC studies in Bible & Theology; Series editor E.R. Clendenen), B&H Publishing, Nashville.

Scholtz, J.J., 2016, ‘Vooronderstellings wat die eskatologie beïnvloed’, In die Skriflig 50(1), a2170.

Silva, C.H., 2007, ‘The literary structure of Hosea 1-3’, Bibliotheca Sacra 164(654), 181-197.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']