Die boek Joël

Die naam van die profeet Joël beteken ‘Yahweh is God’ (vgl. 1:1). Oor hierdie profeet is daar min bekend, maar in die lig van verwysings na offers, priesters en die tempel (1:9, 13-14, 16; 2:14, 17; 3:17-21), was Joël heel waarskynlik ʼn profeet uit Juda in Jerusalem vir die Suidelike Koninkryk. Oor die Goddelike Outeur van hierdie boek is daar egter baie bekend en, teen die einde van die eskatologiese Dag van die HERE, wanneer die HERE uit Sion sal brul, sal almal weet dat Yahweh God is (3:16-17). God roep vandag steeds mense om hulle te bekeer (vgl. 2:12-17), maar in daardie dag sal agnostici, ateïste, panteïste en alle ander mense gewis en seker weet dat die HERE in Sion woon (vgl. 3:21). Joël is die seun van Pétuel (1:1) – en hierdie naam beteken óf die trouhartigheid of opregtheid van God (Fruchtenbaum 2005:3) óf ‘deur God oortuig’ (Constable 2017:1).

. . .

Gehoor

Ooreenkomstig die voorwaardelike Mosaïese verbond sou Israel, as hulle aan God gehoorsaam sou wees, fisiese en geestelike seëninge ervaar, maar as hulle ongehoorsaam aan God sou wees, sou vervloekings die gevolg wees (Deuteronómium 27:1-28:68, spesifiek 28:38, 42). Gegewe die ergste sprinkaanplaag in Israel se geskiedenis (Joël 1:2-20), was die volk al reeds onder God se oordeel. Daarom waarsku Joël vir Israel, maar veral die Suidelike Koninkryk (Juda) dat hulle, tensy hulle hul bekeer en na die HERE terugkeer, oordeel sal ervaar. As hulle hul egter bekeer en hulle na God wend, sal seëninge volg, uiteindelik in die Messiaanse koninkryk (3:18-21). God sal hierdie materiële en geestelike seëninge gee vir sy volk en vir die land (vgl. 2:18) ooreenkomstig die onvoorwaardelike Abrahamitiese, Land, Dawidiese en Nuwe verbonde.

Struktuur

Lyons (2014:80-104) verskaf ʼn insiggewende oorsig van verskeie strukturele voorleggings vir die boek Joël. Struktureel gesproke is dit belangrik om kennis te neem van vyf eksplisiete verwysings na die “Dag van die HERE” (1:15; 2:1, 11, 31; 3:14) sowel as implisiete verwysings na “die dag” (1:15), “ʼn dag van duisternis en donkerheid” (2:2), “ʼn dag van wolke en wolkenag” (2:2), in “dié dae” (2:29; 3:1), of op “dié dag” (3:18). Ander spesifieke letterkundige merkers binne die teks wat ontleed moet word, sluit in ‘die strategiese gebruik van stem en bevelsvorme, en ʼn opvolgende (voortvloeiende) skema’ (Lyons 2014:94). Deur die werk van Lyons (2014:99) en Dorsey (1999:275) te kombineer, stel ek die volgende struktuur voor:

A Opskrif 1:1
B Vernietigende sprinkaanplaag 1:2-14
    C Resultate van oordeel in die Dag van die HERE 1:15-20
      D Die Dag van die HERE kom 2:1-11
        E Oproep om na die HERE terug te keer 2:12-17
A’ Verhalende verposing 2:18-19a
B’ Die HERE se belofte van seëning en herstel 2:19b-27
    C’ Resultate van seëning in die Dag van die HERE 2:28-32
      D’ Die Dag van die HERE kom 3:1-17
        E’ Israel se uiteindelike herstel 3:18-21

Datum

Dit is moeilik om die boek te dateer omdat Joël nie ooglopende leidrade verskaf nie. Sommige verklaarders verkies ʼn voor-ballingskap datum van ongeveer 835 vC (Fruchtenbaum 2005:3; Constable 2017:3). Ander meen dat ʼn laat-ballingskap datum, nader aan die Babiloniese ballingskap (605 vC), die meer waarskynlike datum vir die boek Joël is (Rydelnik 2014:1332). Nog ander meen die antwoord is ʼn ná-ballingskap datum. In die lig daarvan dat Joël vroeg in die boek van die Twaalf (kleiner profete) geplaas is, en hoewel dit nie noodwendig onweerlegbare bewys is nie, word voorkeur gegee aan ʼn vroeë voor-ballingskap datum van omtrent 835 vC.

Nuwe-Testamentiese verwysings na Joël

Die boek Joël word deur Lukas aangehaal in Handelinge 2:17-21 en deur Paulus in Romeine 10:13 aangehaal. Wanneer Petrus op Pinksterdag sê: “[D]it is wat deur die profeet Joël gespreek is” (Handelinge 2:16), watter soort vervulling van Joël 2:28–32 is hier ter sprake? Dit is nie ʼn direkte, tipologiese of opsommende vervulling nie, maar wel ʼn toepassings- of analogiese vervulling (Scholtz 2016:5). Joël 2:28–32 sê dat daar groot kosmologiese veranderings sal plaasvind en dat daar geprofeteer, gedroom en gesigte gesien sal word. Handelinge 2 getuig egter nie van kosmologiese veranderings nie en noem ook die spreek in bekende tale, waaroor Joël 2 niks sê nie. Bowendien is die reëls van tipologie nie nagekom nie en is dit ook nie ʼn opsommende vervulling nie. Die analogie of ooreenkoms is dat albei Skrifgedeeltes getuig van ʼn uitgieting of uitstorting van die Heilige Gees. As die Kerk op die Pinksterfees in Handelinge 2 gebore is en deel in geestelike seëninge in Christus, beteken dit dat die direkte profesie van Joël 2:28–32 nie aan die einde van die bedeling in Israel vervul sal word nie? Nee, inteendeel, dit sal direk vervul word soos God belowe het (Scholtz 2016:7).

Tema en doel

Die tema van Joël is die Dag van die HERE (1:15; 2:1, 11, 31; 3:14) – en ander verwysings soos “die dag” of “ʼn dag” of “dié dae/dié dag” kan ook verwys na die Dag van die HERE (1:15; 2:2, 29; 3:1, 18). Met Juda wat onlangs die vernietigende gevolge van ʼn sprinkaanplaag beleef het, roep die profeet Joël vir Juda en Israel op tot opregte bekering in die lig van die toekomstige, eskatologiese Dag van die HERE (2:12-17; 3:1-21). Gegewe hierdie toekomstige Dag van die HERE, ‘het die boodskap en doel van Joël betrekking op voor-ballingskap Israel en op alle geslagte van God se mense wat die HERE se wederkoms verwag’ (Rydelnik 2014:1332). God moedig trouhartig ʼn terugkeer tot Hom aan, want God is “genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (2:12-13). Die tema en doel is daarom nie net oordeel en vernietiging nie, maar ook vergifnis en herstel, vernaamlik vir Israel ná die Verdrukkingstydperk. Die tyd sal kom wanneer die mens se dag sal eindig en die Dag van die HERE sal begin, met die wegraping as aanvang, gevolg deur die Verdrukkingstydperk en dan die Messiaanse koninkryk wanneer Christus vanaf die troon van Dawid oor die hele aarde sal regeer (3:18-21; vgl. Feinberg 1990:74).

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Joel, 2017 edition.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Feinberg, C.L., 1990, The Minor Prophets, Moody Press, Chicago.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Book of Joel, Ariel Ministries, San Antonio.

Lyons, T., 2014, ‘Interpretation and structure in Joel’, The Journal of Inductive Biblical Studies 1(1), 80-104.

McCart, Q., 2013, ‘The Day of the LORD: The Prophecy of Joel’, Journal of Dispensational Theology 17(52), 251-264.

Rydelnik, M., 2014, ‘Joel, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1331-1339, Moody Publishers, Chicago.

Scholtz, J.J., 2016, ‘Vooronderstellings wat die eskatologie beïnvloed’, In die Skriflig 50(1), a2170.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']