Die boek Jona

Volgens 2 Konings 14:23-25 was Jona ʼn profeet wat drie myl vanaf Násaret gewoon het in ʼn plek met die naam Gat-Hefer, en hy het opgetree in die tyd van koning Jeróbeam II. As koning oor die Noordelike Koninkryk het Jeróbeam II regeer gedurende 793-753 vC terwyl Assur-Dan III in Ninevé gedurende 773-756 vC geheers het, so die gebeurtenisse wat in Jona beskryf word moes iewers tussen 773-756 vC plaasgevind het.

. . .

Skrywer en datum

Jona is waarskynlik in die laat 760’s vC geskryf (Thrasher 2014:1361). Terwyl Elía na Sarfat by Sidon en Elísa na Damaskus (in Sirië) gestuur is (1 Konings 17:8-24; 2 Konings 8:7-15), is Jona na Ninevé gestuur, ʼn “ontsaglike groot stad” van die Assiriërs – wat uiteindelik die Noordelike Koninkryk in ballingskap weggevoer het in 722 vC. Omdat die mense van Ninevé hulle bekeer het op grond van Jona se prediking, het daardie geslag vrygekom van God se toorn — maar ʼn later geslag sou terugkeer na hul bose weë en soos die boek Nahum gewaarsku het, sou Assirië uiteindelik in 612 vC oorwin word deur die Babiloniese koninkryk. Jona was ʼn tydgenoot van Hoséa, Amos en Miga, ‘klein’ profete wat almal gedurende 780-735 vC opgetree het. Jona se naam beteken ‘duif’ en die naam van sy vader (Amíttai) beteken ‘waarheid’ (Fruchtenbaum 2005:4). Baie eeue later, toe die Fariseërs vir Jesus gesê het dat geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie, het hulle die waarheid vergeet dat Jona uit Galiléa gekom het (vgl. Johannes 7:52).

Struktuur

Bybelboeke bevat nie ʼn inhoudsopgawe of een of ander saakregister nie, en daarom moet gelowiges God se Woord bestudeer om die struktuur in die teks wat die Heilige Gees geïnspireer het te vind. Die ooglopende voordeel is dat ʼn mens, teen die tyd dat jy ʼn idee het van ʼn Bybelboek se struktuur, aktief met die Woord gewerk het. In die geval van die boek Jona, vind ons vyf tonele: Die Mediterreense See (1:3), die ingewande van die vis (2:1), uit die binneste van die doderyk (2:2), Ninevé (hfst. 3), en die oostekant van die stad Ninevé (hfst. 4). Verder, soos wat Rooker (2011:448) aandui, is daar sewe episodes in die boek Jona: Jona se aanvanklike opdrag en ongehoorsaamheid (1:1-3), Jona en die seelui (1:4-16), Jona se reeks gebede (1:17-2:10), Jona se opdrag vir die tweede maal en sy gehoorsaamheid (3:1-4), Ninevé (3:5-10), Jona se laaste gebed (4:1-3), en die HERE se les vir Jona (4:4-11). Terwyl baie die klem plaas op Jona, of die groot vis, of die mense van Ninevé, is dit belangriker om te sien dat die boek Jona open en afsluit met God wat praat (1:1; 4:11) – dit is die soewereine, genadige, liefdevolle en barmhartige God wat die hoofkarakter van hierdie boek is (Thrasher 2014:1361). Hoewel die sewe episodes in Jona in chronologiese orde gerangskik is, is dit interessant om te let op die bypassendheid van die eerste en vierde, die tweede en vyfde, en die derde en sesde episodes, maar die sewende en laaste episode is alleenstaande en lig sodoende uit wat God benadruk (Dorsey 1999:295; Rooker 2011:448). Die aanvanklike opdrag en dan die herhaalde opdrag aan Jona is bypassend, die gebeurtenisse rondom die heidense seelui wat hulle bekeer het sowel as die mense van Ninevé se bekering is bypassend, en so ook Jona se gebede. Die volgende voorgestelde struktuur vir die boek Jona deur Dorsey (1999:292) word aanbeveel:

A Jona se opdrag om na Ninevé te gaan; sy ongehoorsaamheid 1:1-3
B Jona en die heidense seelui 1:4-16
    C Jona se dankbare, pragtige gebede 1:17-2:10
A’ Jona se herhaalde opdrag om na Ninevé te gaan; sy gehoorsaamheid 3:1-3a
B’ Jona en die heidense Nineviete 3:3b-10
    C’ Jona se wrokkige, gemene gebed 4:1-4
      D’ Klimaks: Die HERE se les vir Jona 4:5-11

Temas en doel

Bogenoemde struktuur help die leser om die hooftemas en doel van die boek Jona te verstaan. Een, Israel is inderdaad God se uitverkore volk, maar Israel is nie ʼn doel opsigself nie, maar is inderwaarheid ʼn instrument wat God wil gebruik om ander volke te seën. Die heil (verlossing) behoort aan die HERE (2:9), maar die HERE wil hê dat alle mense gered moet word, nie net Jode of nie net die volk Israel nie, maar alle volke en alle heidennasies (vgl. Jesaja 19:19-25; 1 Timótheüs 2:4; 2 Petrus 3:9). Twee, God wil hê dat sondaars hulle moet bekeer, van oordeel vrykom en gered word. Drie, gelowiges moenie afgunstig wees oor die genade wat God betoon aan sondaars buite hul eie groep nie (Dorsey 1999:295). Vier, God se karakter skyn helder deur die boek Jona: Die HERE is liefdevol (4:11), geduldig en lankmoedig (3:1-3; vgl. 1:1-3), genadig, barmhartig, en soewerein oor die hele skepping (vgl. 1:9). Vyf, die volk Israel is deur God geroep om ʼn seën te wees (vgl. Génesis 12:3) en Sy getuies in die wêreld te wees (vgl. Jesaja 42:6), maar toe hulle gesondig het en aan God ongehoorsaam was, is Israel getugtig (soos tans ook die geval is), maar Israel is nooit verwerp nie. Ten spyte van die komende Verdrukkingstydperk, sal eeue van verstrooiing en anti-Joodsheid uiteindelik tot ʼn einde kom en plek maak vir seën en gemeenskap met die HERE in die millennium (vgl. Thrasher 2014:1361).

Verhaal

Nee, Jona is nie ʼn allegorie nie en ook nie ʼn gelykenis nie. Jona en sy vader is werklike mense (1:1-3), daar was ʼn werklike skip wat na Tarsis vertrek het (1:3), die heidense seelui is werklik (1:4-16), die mense van Ninevé wat hulle bekeer het is werklik (3:5-10) en so ook ʼn groot vis wat Jona ingesluk en toe uitgespuug het (1:17; 2:10). Jesus bevestig dat die werklike, historiese gebeurtenisse rondom die lewe en dood van Jona waar is en gebruik dit as ʼn teken van wat in sy eie lewe sou plaasvind (Matthéüs 12:39-41). Jona was in die binneste van die doderyk (Sheol – 2:2) en, soos wat Fruchtenbaum (2005:11) tereg sê, die ‘ware wonderwerk van Jona was nie dat hy lewend gehou is in die ingewande van die vis nie’, maar in werklikheid is die eintlike wonderwerk ‘die wonderwerk van opstanding van die dooies uit die binneste van Sheol’. Ja, die boek Jona is ʼn historiese verhaal.

Gevolgtrekking

Miskien kan meer geskryf word oor die parallelle tussen Elía en Jona (byvoorbeeld: beide profete het onder ʼn boom gesit en gewens om te sterf, ens.) of die parallelle tussen die heidense seelui (1:4-16) en die Nineviete (3:5-10). Miskien kan daar gefokus word op die baie wonderwerke wat God gedoen het en wat in die boek Jona opgeteken is. Maar miskien moet daar bowenal gefokus word op Jona as ʼn tipe van die uiteindelike antitipe, Jesus Christus, wat gesterf het, begrawe is en op die derde dag opgestaan het. Die heil (verlossing) behoort inderdaad aan die HERE (Jona 2:9) en God die Vader het in liefde die Weg, die Waarheid en die Lewe gestuur nie net vir ons klein groepie se redding nie, maar vir almal wat die Naam van die HERE sal aanroep.

———————————

Bronne:

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Book of Jonah, Ariel Ministries, San Antonio.

Rooker, M.F., 2011, ‘The Book of Jonah’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 445-452, B&H Publishing Group, Nashville.

Thrasher, B., 2014, ‘Jonah, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1361-1368, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']