Die boek Maleagi

Hierdie merkwaardige boek is amper 2 500 jaar gelede geskryf vir Jode wat ná die Babiloniese ballingskap teruggekeer het na Israel.

Inleiding

Hulle het op die profete Jesaja en Jeremia ag geslaan en die Beloofde Land ingegaan. Die tempel en Jerusalem se mure is herbou. Maar die essensiële deel van die restourasie het ontbreek: baie het hul liefde en vrees vir die HERE van die leërskare verloor. Uiteindelik sal Eségiël se tempel in die stad van die groot Koning gebou word. Uiteindelik sal die profeet Elía die harte van die vaders terugbring tot die kinders en die Joodse oorblyfsel sal die Messiaanse koninkryk ingaan. Tot dan bly dié merkwaardige boek steeds van toepassing, nie slegs vir die Israel van God nie, maar vir almal wat die Here soek, die Boodskapper van die verbond, wat binnekort sal terugkeer.

Skrywer

Niks is bekend omtrent die persoon wat die boek geskryf het nie; daar is niemand in die Ou Testament met hierdie naam nie. Baie verstaan “Maleági” (1:1) as ʼn titel eerder as ʼn naam. “Maleági” beteken “my boodskapper” of “die boodskapper van Jehovah” (Malachiyyah). Die Targoem, ʼn antieke Aramese vertaling en parafrase van die Ou Testament, het die boek toegeskryf aan Esra; die Talmoed sê dat Mórdegai die skrywer was (Constable 2017:1). Dit is egter onwaarskynlik, want as Maleági nie die profeet se naam was nie, sal dit die enigste profetiese boek in die Ou Testament wees wat anoniem of onder ʼn skuilnaam geskryf is (vgl. Archer 1964:415). Daar word nie na Maleági in die derde persoon voornaamwoord (“sy”) verwys nie, maar na “my” boodskapper (Kaiser 1984:13). Die “boodskappers” in die boek word verstaan as (ook) van menslike aard (1:1; 2:7; 3:1; 4:5). Hoewel Maleági ʼn uitsonderlike naam gehad het, is hy ʼn werklike persoon, een van drie ná-ballingskap profete (naas Haggai en Sagaría) wat deur God geïnspireer is om te skryf. (Ook Jona en Hábakuk het ongewone name.)

Datum en plek

Binneleidrade help om te bereken wanneer die boek geskryf is. Die HERE van die leërskare vra vir die priesters, wat blinde, lam en siek diere geoffer het, of hulle dié diere vir hul “goewerneur” sou bring (1:8). Die woord “goewerneur” is pehah, ʼn Persiese titel (vgl. Esra 5:3, 6, 14; 6:6-7; Daniël 3:2-3, 27).

Haggai het die Jode dringend gemaan om die tempelbou af te handel (Haggai 1:4-8) en Sagaría het geskryf toe die herbou van die tempel reeds ʼn aanvang geneem het (Sagaría 1:1, 7). In Maleági is die die tempel in Jerusalem reeds klaar gebou, want offers en tiendes moes na die tempel geneem word, dit wil sê na die “skathuis” in Jerusalem (1:10; 3:10). Maleági is dus die laaste van die drie ná-ballingskap profete.

Verdere leidrade omtrent die datum van die skrywe word verkry deur ʼn vergelyking van Maleági en Nehemía. Soos Kaiser (1984:16-17) uitwys, word dieselfde aangeleenthede dikwels in hierdie boeke gevind: korrupsie van die priesterdom (Nehemía 13:7-9; Maleági 1:6-2:9), versuim om onder die Mosaïese verbond tiendes te betaal (Nehemía 13:10-14; Maleági 3:8-10), huwelike met heidense vroue (Nehemía 13:23-27; Maleági 2:11-15), en ander sosiale onregte (Nehemía 5:1-13; Maleági 3:5). Maleági is ná Haggai (omtrent 520 vC) en Sagaría (omtrent 518 vC) geskryf, asook nadat Ester koningin geword het van die Persiese Ryk (in 479 vC). Nadat die tempel herbou is, het ʼn tydperk van geestelike agteruitgang en wanpraktyke ingetree, maar dit het langsamerhand gebeur (1:6-8; 2:1-9; 3:6-12). Sonder om te dogmaties daaromtrent te wees, het Maleági waarskynlik geskryf tydens Nehemía se dienstydperk (445-420 vC), miskien tussen 432 vC en 431 vC toe Nehemía nie in Jerusalem was nie (Fruchtenbaum 2005:5). Constable (2017:4) gee hierdie insiggewende voorstelling van Israel se ná-ballingskap restourasie tydperk:

Restourasie Tydperk

Historiese agtergrond

In die tweede helfte van die vyfde eeu voor Christus het die tye van die heidennasies verloop tot by die tweede van die vier heidenryke. In dieselfde nag toe die skrif teen die muur verskyn het, in 539 vC, het die Perse Babilon ingeneem (vgl. Daniël 5). Die Persiese Ryk het bestaan tot 333 vC toe Aleksander die Grote Babilon verower het.

Die edik van Kores het die Jode toegelaat om in 538 vC na Israel terug te keer (vgl. Jesaja 45). Gedurende die volgende ongeveer 20 jaar het 49 897 ballinge saam met Serubbábel en Josua na die land teruggekeer (Esra 2:64-65; Haggai 1:1). Later het nog Jode saam met Esra (458 vC) en toe saam met Nehemía (444 vC) teruggekeer.

Haggai en Sagaría was profete vir Serubbábel, maar Maleági was ʼn profeet vir Nehemía (Fruchtenbaum 2005:5). Maleági se oorspronklike gehoor is daardie Jode wat na Israel teruggekeer het; die plek waar hy geprofeteer het was waarskynlik Jerusalem.

Die omstandighede in daardie tyd in Israel was moeilik. Aanvanklik het die terugkerende ballinge die tempel herbou, maar hulle sou later ernstige teenstand ondervind om die muur te herbou (Nehemía 4:1-6:19). Die Jode moes weer van heel voor af die Wet van Moses geleer word (Nehemía 8:8). In Maleági se tyd is die restourasie van die tempel voltooi, maar dit was sonder die luisterrykheid van Salomo se tempel (vgl. Haggai 2:3). Daar was sprinkaanplae en die oeste was swak (Maleági 3:11). Dit is egter veral die geestelike toestand van die volk Israel wat die HERE deur Maleági aangespreek het het.

Daar was waarskynlik in Israel se midde towenaars, egbrekers, meinediges en diegene wat hul werkers uitgebuit het (vgl. Maleági 3:5). “ʼn Volk wat bereid is om God te dien met offers wat hulle nie sal waag om vir hul heidense goewerneur (1:8) aan te bied nie, is ʼn volk wat sy perspektief van God as hul Vader en Here verloor het (1:6)” (Verhoef 1987:160). Die volk se geestelike, etiese en morele ingesteldheid was baie laag (Constable 2017:4).

Alhoewel sommige van die tempel rituele volgens die Wet van Moses onderhou is, was dit ritus sonder realiteit (vgl. Fruchtenbaum 2005:5). God bestraf hierdie vormgodsdiens. Dit is hierdie koue en dooie formalisme wat oor die volgende vier eeue sou ontwikkel in die tradisies en oorleweringe van mense wat bo God se Woord verhef sou word (vgl. Matthéüs 15:9).

Die Jode het Maleági beskou as die “seël van die Profete” of, “die laaste onder hulle” (Verhoef 1987:153). Maleági was ook die laaste van die twaalf Klein Profete. God het nie weer ʼn boodskapper gebruik voor meer as 400 jaar later nie, toe Johannes die Doper driftig uitgeroep het, “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matthéüs 3:2; vgl. Jesaja 40:3; Maleági 3:1a).

Literêre vorm en struktuur van Maleági

Hoe oortuig Maleági sy Joodse gehoor dat God hulle liefhet, maar dat hulle ook gesondig het en nie in gemeenskap met God verkeer nie? Soos aangetoon, Maleági konfronteer sy gehoor deur die herhaaldelike gebruik van vrae en antwoorde. “In wese het Israel God se liefde, sy Naam, en sy wil aangaande die huwelik en egskeiding, sy geregtigheid, sy vereistes ten opsigte van rentmeesterskap, en sy diens bevraagteken” (Constable 2017:7). Maleági se retoriese benadering beweeg vanaf God se stellings na hul besware en dan weer terug na God se antwoorde. Die volgende chiastiese struktuur van Constable (2017:7) gee die sorgvuldig gestruktureerde Godsprake in Maleági weer:

A Opskrif (1:1): Yahweh het ʼn boodskap vir Israel.
B 1ste Twisrede (1:2-5): God onderskei tussen die goeies en die slegtes. Die bewys van sy liefde is dat Hy die regverdiges spaar en die slegtes veroordeel.
    C 2de Twisrede (1:6—2:9): Veroordeling van onbehoorlike, veragtelike offergawes, belofte van omkeer van seën, en die grootheid van Yahweh se Naam onder die nasies.
      D 3de Twisrede (2:10-16): Die HERE is getuie van huwelikstrou, en Juda is ontrou.
      D’ 4de Twisrede (2:17—3:6): Die HERE is getuie van huwelikstrou, en Juda is ontrou.
    C’ 5de Twisrede (3:7-12): Veroordeling van onbehoorlike, veragtelike offergawes, belofte van omkeer van seën, en die grootheid van Yahweh se Naam onder die nasies.
B’ 6de Twisrede (3:13—4:3): God onderskei tussen die goeies en die slegtes. Die bewys van sy liefde is dat Hy die regverdiges spaar en die slegtes veroordeel.
A’ Opsommende aansporing (4:4-6): Yahweh het ʼn boodskap vir Israel.

Daar is min twyfel dat Maleági ʼn vermanende diskoers is wat “poog om die toekomstige gedrag van iemand te beïnvloed” en daarom bestaan dit uit die “wesenskenmerke van probleem, opdrag, motivering, en gesag” (Clendenen 1987:6). Vanuit die vertrekpunt dat Maleági so ʼn vermanende diskoers is, stel Clendenen (1987:7, 16) ʼn struktuur van die boek voor wat drie chiastiese ontwikkelings of ingeboude diskoerse omlyn, soos onder aangetoon:

I. Eerste ontwikkeling
Priesters vermaan om Yahweh te eer [teologiese hoek] 1:2—2:9
A. Motivering: Yahweh se liefde 1:2-5
    B. Probleem: Yahweh word nie geëer nie 1:6-9
      C. Opdrag: Staak nuttelose offers 1:10
    B’. Probleem: Ontering van Yahweh se Naam 1:11-14
A’. Motivering: Gevolge van ongehoorsaamheid 2:1-9

II. Tweede ontwikkeling
Juda tot getrouheid gemaan [sosiale hoek] 2:10—3:6
A. Motivering: Geestelike eenheid 2:10a, b
    B. Probleem: Troueloosheid 2:10c-14
      C. Opdrag: Staak die trouelose optrede 2:15-16
    B’. Probleem: Besware oor Yahweh se onregverdigheid 2:17
A’. Motivering: Komende boodskapper van oordeel 3:1-6

III. Derde ontwikkeling
Juda gemaan om terug te keer na Yahweh [ekonomiese hoek] 3:7—4:6
A. Opdrag: Keer terug na Yahweh met tiendes 3:7-10a
    B. Motivering: Toekomstige seën 3:10b-12
      C. Probleem: Oorgerustheidheid t.o.v. diens aan God 3:13-15
    B’. Motivering: Die Dag wat kom 3:16—4:3
A’. Opdrag: Onthou die Wet 4:4-6

Teologiese beklemtoning en belangrike temas

Volgens Kaiser (1984:11) het die Jode wat na Israel teruggekeer het, waarskynlik ʼn glansryke tempel (vgl. Eségiël 40-48; Haggai 2:9), ʼn vrugbare en geseënde land (vgl. Eségiël 34:26-30), ʼn groot bevolking (Jesaja 54:1-3), en die regering van die Messias verwag (vgl. Jeremia 23:5-6). Die boek Haggai eindig immers met die profesie dat die heidenryke se mag verbreek sal word (2:20-23). Ook die boek Sagaría eindig met ʼn wonderlike profesie van die regering van die Koning, die HERE van die leërskare vanuit Jerusalem (14:16-21). Die Jode het — en het steeds! — rede gehad om groot dinge te hoop en te verwag.

Dit is egter nie wat in Maleági aangetref word nie. Geestelike onverskilligheid het ingetree. God se liefde is betwyfel (Maleági 1:2-5). Daar was ʼn korrupte en ontwyde priesterdom (Maleági 1:6-2:9) en die volk was ewe sondig (Maleági 2:10-16), en het selfs God se geregtigheid bevraagteken (Maleági 2:17-3:6). Hulle het van die Wet van Moses afgewyk (Maleági 3:7-15). Die land het swak oeste opgelewer en net ʼn paar Jode het die HERE opreg gevrees (3:11, 16-18). Die altaar, die tempel en die mure van Jerusalem was alles herbou, maar Israel se verhouding met God was steeds stukkend. As Israel nie terugkeer na die HERE van die leërskare nie, sal God se oordeel hulle in die Dag van die HERE inhaal (Maleági 3:2-5; 4:1-6).

God neem die inisiatief en wil die verhouding herstel. Uit 55 verse in Maleági, is 47 ʼn eerste persoon pleidooi van die HERE. Maleági verwys dikwels na God as die “HERE van die leërskare” of, in Hebreeus, “Jehovah Saboath”. (Die Naam “HERE van die leërskare” kom 80 keer voor in Jeremia in verband met nasionale oordeel. In die ná-ballingskap profete kom “HERE van die leërskare” 14 keer voor in Haggai, 50 keer in Sagaría en 25 keer in Maleági.) Die naam “Jehovah” (of “HERE”) onderstreep God se verbondsverhouding met Israel as haar Verlosser (Exodus 19:3; Jeremia 31:31-34; vgl. Verhoef 1987:181). As sodanig is God die Vader van Israel (Maleági 1:6; 2:10). Maar God is ook die HERE van die (kryger) leërskare, waar die woord “leërskare” verwys na hemelliggame, engele, heiliges, en sondaars (Scofield 2002:382). God is die Koning en sy Naam moet geëer word (Maleági 1:5, 11, 14; 2:2). Deur die kombinering van twee titelname van God – die HERE van die leërskare – benadruk Jehovah Saboath dat Hy die Verbonds-Verlosser-Vader-Koning van Israel is.

Hierdie boek beklemtoon God se onveranderlike liefde vir Israel: “Ek het julle liefgehad” (Maleági 1:2) in kombinasie met “Ek, die HERE, het nie verander nie” (Maleági 3:6). Later sou Paulus Maleági 1:2-3 in Romeine 9:13 aanhaal om aan te toon dat God se liefde vir Israel, ten spyte van Israel se sondes en troueloosheid, nooit sal verander nie. “Die primêre gedagte in Maleági is die onfeilbare genade van God vir ʼn verharde en ontroue volk” (Coupar 2017:2).

In Maleági is die toehoorders se respons ooglopend nie voorbeeldig nie. Wanneer God ʼn stelling maak, protesteer die toehoorders (“Waarin het ons …?” of “Waardeur het ons …?”– Maleági 1:2, 6; 2:14, 17; 3:8-9, 13-14) en dan antwoord God. Israel se besware toon harde harte, menslike mislukking, en aanbidding wat tekort skiet. “Die volk se ingesteldheid word op ʼn sonderlinge manier uitgewys deur sewe vrae wat deurentyd in hierdie profesie gevra word” (Coupar 2015:1). Deur hierdie vrae openbaar God die geestelike toestand van Israel in daardie tyd. (Die Kerk, plaaslike kerk, en individuele gelowiges moet ag slaan op die waarskuwings in 2 Petrus en Openbaring 2-3: moenie in geestelike onverskilligheid terugval soos Israel nie (Maleági 1-4; vgl. 1 Korinthiërs 10:1-15).) Soos dit egter vir die meeste profete geld, verwys sommige van Maleági se profesieë na sy tydgenote en ander profesieë verwys na ʼn toekomstige geslag Jode.

Onder die oorblyfsel van die Jode wat uit Babilon teruggekeer het, was daar ʼn kleiner, ware Joodse oorblyfsel wat die HERE gevrees het (Maleági 3:16; vgl. Romeine 9:6-7). Hierdie vrees “is die term wat regdeur die Ou Testament verwys na iemand se ontsag vir die Here wat enersyds voortspruit uit bewustheid van sy liefde en andersyds sy toorn” (Constable 2017:11). In respons tot God se liefde, het die Israel van God die HERE gevrees en sy Naam geëer (vgl. Maleági 1:6; 2:5; 3:5, 16; 4:2). Nie net is die ware oorblyfsel se gemeenskap met God herstel nie, maar hulle het ook gemeenskap met mekaar beoefen (Maleági 3:16). Hulle name is opgeskryf in die gedenkboek.

Die Joodse oorblyfsel se hoop was ook in die Messias wat sou kom, wie se geregtigheid sou opgaan soos die son wat oor die aarde opkom (vgl. Maleági 4:2; Titus 2:13; 2 Petrus 1:19). Die Dag van die HERE sal in werking tree voor die Tweede Koms van die Here Jesus Christus. Maar voor dié groot en vreeslike Dag van die HERE, sal Elía die profeet terugkom om die finale en volledige herstel van Israel tot stand te bring (Maleági 4:5-6; Matthéüs 17:11; Scholtz 2016:4-5). In dáárdie tyd sal die Joodse oorblyfsel die voorloper se boodskap aanneem en die hele Israel sal gered word (Jeremia 31:31-34; Romeine 11:25-27).

Die tema in Maleági kan gestel word as: “Agting vir God se standhoudende liefde is die sleutel vir hernuwing van die huidige geestelike lewe en die versekering van toekomstige Goddelike seëninge” (Constable 2017:12). Kaiser (1984:13) beskryf die tema so: “God het, en hou aan, om ons lief te hê, en geen twyfel, besware, of redenasies tot die teendeel kan hierdie feit wegneem nie.” Archer (1964:416) sê die tema handel oor “daardie opregtheid teenoor God en ʼn heilige lewenswandel [wat] absoluut noodsaaklik is in die Here se oë … Israel moet voldoen aan hul hoë roeping as volk en wag vir die koms van die Messias, wat deur ʼn bediening van genesing sowel as oordeel die volk sal lei tot ʼn verwesenliking van hul vurigste hoop.” Die titel van ons studie beklemtoon dat ‘n Joodse oorblyfsel hul begeerte in die Engel of Boodskapper van die verbond sal plaas, dit is, die Here Jesus Christus (vgl. Maleági 3:1, 16; 4:5-6).

———————————

Bronne:

Archer, G.L., 1964, A Survey of Old Testament Introduction, Moody Press, Chicago.

Clendenen, E.R., 1987, ‘The Structure of Malachi: A Text-linguistic Study’, Criswell Theological Review 2(1), 3-17.

Constable, T.L., 2017, Notes on Malachi, 2017 edition, Sonic Light.

Coupar, R.A.J, 2015, Malachi – An Overview, Private notes.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Book of Malachi, Ariel Ministries, Tustin.

Kaiser, W.C., 1984, Malachi: God’s Unchanging Love, Baker Book House, Grand Rapids.

Scholtz, J.J., 2016, ‘One Messiah, two advents, three forerunners: The chiastic structure of Matthew 11:2–17:13’, In die Skriflig 50(1), a2125.

Scofield, C.I., 2002, The Scofield Dtudy Bible, Oxford University Press, New York.

Verhoef, P.A., 1987, The Books of Haggai and Malachi, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']