Die boek Nahum

Watter boek in die Bybel volg tot ʼn sekere mate die boek Jona op? Waarom, as die naam van hierdie boek ‘vertroosting’ of ‘medelye’ beteken, word daar naby die einde van die boek gevra, “Waar sal ek troosters vir jou gaan soek?” (3:7). Hierdie boek beskryf baie kenmerkende eienskappe van God, insluitend: “Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie” (1:3). Teen die einde van die boek is daar min wat medelye sal hê met hierdie skuldige stad en daar sal geen vertroosting daarvoor wees nie (3:7). God het medelye gehad met Ninevé en op grond van Jona se prediking het die stad tot bekering gekom, maar net ʼn paar geslagte later het die stad weer eens na hul uiters bose weë teruggekeer – en nou het hulle God se oordeel in die gesig gestaar.

Skrywer en datum

Nahum het uit die stad Élkos gekom (1:1). Élkos was, volgens wat navorsers aan die hand doen, ‘naby Ninevé, in Galiléa, naby Kapérnaüm (Stad van Nahum?), oos van die Jordaanrivier, of iewers in Juda’ (Constable 2017:1). Aangesien Nahum dit teen ʼn belangrike stad van Assirië het, moes dit geskryf gewees het nadat die Assiriërs die Noordelike koninkryk (Israel) in ballingskap geneem het, naamlik ná 722 vC. Assirië is uiteindelik in 612 vC ingeneem en hierdie profesie moes dus voor dié datum geskryf gewees het. Verder verwys die boek Nahum spesifiek na die val van No-Amon (Thebe), wat Assirië in 663 vC verower het (Baker 1988:18). Toe Nahum geskryf is, was die Suidelike koninkryk (Juda) onder Assiriese juk (1:12-14) en dus lyk ʼn datum tussen 660-654 vC vir die skrywe van die boek Nahum waarskynlik (Patterson 2003:14).

Gehoor en plek

Hoewel Nahum grootliks oor God se voorspelling van die stad Ninevé se vernietiging gaan, was die oorspronklike gehoor nie in Ninevé nie. As die voorgestelde datum vir Nahum korrek is, het Juda onder die regering van Manasse (697-640 vC) gebuk gegaan, een van die slegste konings in die geskiedenis van die Suidelike koninkryk. In hierdie donker dae bring Nahum ʼn ‘boodskap van vertroosting aan ʼn sonde-vermoeide en verdrukte Juda’ (Patterson 2003:19). Nahum is dus iewers in Juda geskryf. Hierdie Judéers moes dus die oorspronklike gehoor gewees het wat gehoor het dat God soewerein is en in beheer van die natuur en oor volke.

Struktuur

Twee chiastiese strukture kan vir Nahum voorgestel word. Die eerste voorstel is deur Chisholm (2002:428):

A Assiriese koning bespot/Juda aangespoor tot viering 1:2-15
B Dramatiese waarskuwingsroep 2:1-10
    C Spot 2:11-12
      D Aankondiging van oordeel 2:13
        E Wee Godspraak 3:1-4
      D’ Aankondiging van oordeel 3:5-7
    C’ Spot 3:8-13
B’ Dramatiese waarskuwingsroep 3:14-17
A’ Assiriese koning bespot terwyl ander vier 3:18-19

ʼn Tweede chiastiese struktuur word voorgestel deur Dorsey (1999:304; vgl. ook Rooker 2011:461):

A Die HERE, soos ʼn natuurkrag, neem wraak op sy vyande; Hy is goed vir diegene wat in Hom vertrou 1:1-10
Sy gramskap word uitgegiet soos vuur; berge word voor Hom stukkend geruk; Hy vervolg vyande die duisternis in; Hy maak ʼn einde aan die plek van sy vyande
B Die HERE sal Ninevé vernietig maar Juda herstel 1:11-15
Assiriërs sal dronk word en soos droë stoppels verteer word; die HERE sal Assirië se juk breek wat Juda bind
    C Duidelike beskrywing van die aanval op Ninevé 2:1-10
    Staccato, asof ʼn lewende ooggetuie verslag; gewonde, sterwende soldate; strydwaens wat heen en weer jaag, soos bliksemstrale; stad se verdedigers struikel wanneer hulle na die mure hardloop
      D Middelpunt: Klaaglied oor die val van Ninevé 2:11-13
    C’ Duidelike beskrywing van die plundering van Ninevé 3:1-7
    Staccato, asof ʼn lewende ooggetuie verslag; dooie soldate, lyke oraloor; strydwaens wat rondjaag, spiese wat soos weerlig blits; vyande struikel oor lyke
B’ Ninevé sal vernietig word; dit is kwesbaar soos No-Amon (Thebe) 3:8-13
Assiriërs sal dronk word; vestings is reg om geëet te word en vuur het die grendels van hul poorte verteer; Assirië se hooggeplaastes sal in kettings gebind word
A’ Ninevé, vergelyk met ʼn vernietigende natuurkrag, sal vernietig word 3:14-19
Hulle sal soos vuur verteer word; Assiriese volk sal op die berge verstrooi word; Assirië se plek sal nie geken word nie; die sprinkaanplaag word deur die opkoms van die son uiteengejaag

Doel en slotsom

In die boek Jona toon God sy liefde en medelye om nie-Jode te red. Tot ʼn sekere mate, egter, is die boek Nahum die opvolg van Jona, want God toon ook sy geregtigheid en toorn (1:2-3). Juda sal vertroosting in die HERE hulle God vind (1:7, 15; 2:2), maar vir die bose Ninevé sal daar geen vertroosting wees nie (3:7).

Maar hoekom was Assirië, in besonder Ninevé, die voorwerp van God se straf? Twee redes kan gegee word. Een, soos daar verwys word in Nahum 1:9 en 1:11, het ʼn leier van die Assiriërs – waarskynlik Sánherib in 701 vC – God vroeër direk uitgedaag (vgl. Jesaja 36:18-20; 37:10-13). Dit is ʼn besonderde dwase ding om te doen. God laat Hom nie bespot nie. Baker (1988:22) verskaf ʼn tweede rede: ‘Alhoewel God Assirië gekies het om te dien as sy instrument van tugtiging teen die opstandige en wederstrewige Israel (Jes. 7:17; 10:5-6), hou Hy hierdie volk korporatief verantwoordelik vir die gepleegde buitensporighede en wreedaardighede in die vervulling van hierdie rol (Jes. 10:7-19; vgl. Sef. 2:14-15).’

Nahum gaan nie net oor die vernietiging van die stad Ninevé nie. Dit toon ook die karakter en kenmerkende eienskappe van God. Nahum beskryf nie net God se oordeel en toorn nie (1:2-3, 6), maar ook God se soewereiniteit (1:9) en hoe Hy beide natuurlike en bonatuurlike maniere gebruik om sy doelwitte uit te voer (vgl. 1:4-5). Soos in die dae van Nahum, lewe ons ook in gevaarlike tye. Maar die “HERE is goed, ʼn toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil” (1:7).

———————————

Bronne:

Baker, D.W., 1988, Nahum, Habakkuk and Zephaniah (TOTC), IVP Academic, Downers Grove.

Chisholm, R.B., 2002, Handbook on the Prophets, Baker Book House, Grand Rapids.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Patterson, R.D., 2003, Nahum, Habakkuk, Zephaniah: An Exegetical Commentary, Biblical Studies Press, L.L.C.

Rooker, M.F., 2011, ‘The Book of Nahum’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 459-464, B&H Publishing Group, Nashville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']