Die boek Prediker

Die Hebreeuse titel van hierdie boek is ‘Qoheleth’ (vgl. 1:1-2, 12; 7:27; 12:8-10) en verwys na die Prediker wat as die skrywer geïdentifiseer kan word (Cone 2009:17). Die boek se titel in die Afrikaanse Bybel kan dus as paslik beskou word. Die term ‘Qoheleth’ sowel as die Griekse woord ekklesia beteken “om te versamel”, en die Engelse titel “Ecclesiastes” kom van die Griekse woord. Die persoon wat geïnspireer is om Prediker te skryf, was “die seun van Dawid, die koning in Jerusalem” (1:1) wat geheers het oor die verenigde Israel, d.w.s. voordat die koninkryk in twee verdeel het (1:12). Hierdie persoon het meer wysheid gehad as almal wat voor hom was (1:16), het homself ʼn tyd lank aan wêreldse genot oorgegee (2:1), het baie groot werke onderneem (2:4-6), en was baie ryk (2:7-10). Bogenoemde sinspeel sterk daarop dat koning Salomo ‘Qoheleth’ geskryf het; dit was ook Salomo wat Israel in Jerusalem byeen laat kom het toe die (eerste) tempel ingewy is (1 Konings 8:1-65). As Salomo die boek Prediker geskryf het, het dit waarskynlik later in sy lewe plaasgevind, moontlik tussen 950-935 vC (Cone 2017:17) en dit kon in Salomo se voorhof gelees gewees het (Finkbeiner 2014:972).

Struktuur

Dit is moeilik om Prediker in ʼn raamwerk te plaas en ‘geen ontleding van die samestelling het wye vakkundige ondersteuning verwerf nie’ (Rooker 2011:541; eie vertaling). Wat geredelik onderskei kan word, is ʼn titel (1:1) en ʼn epiloog (12:9-14). Verder, ʼn lewe wat sonder God geleef word, met die fokus op alles slegs onder die son, is waarlik “alles tevergeefs” – ʼn frase wat in die Afrikaanse Bybel altesaam 7 keer gebruik word: drie keer in hoofstuk 1:2 en 14, twee keer in 2:11 en 17, en twee keer in 12:8. (In die Engelse Bybel, in net twee verse van die boek, kom die frase in die oortreffende trap voor as ‘vanity of vanities’.) Hierdie frase baken die inleidende en afsluitende temas af (1:2-11; 11:7-12:8). Hoe lyk die struktuur van die res van die boek egter? Onder baie verdienstelike voorstelle is dié van beide Reitman (1997) en Wright (1968) prysenswaardig – maar ons verkies die voorstel van Wright.

Die korpus van die boek Prediker kan in twee helftes verdeel word: die eerste is die Prediker se ondersoek van die lewe (1:12-6:9). Hierdie eerste helfte word gekenmerk deur die frases “alles tevergeefs” / “ook dit is tevergeefs” en ʼn “gejaag na wind” wat dien as strukturele bakens. Die tweede helfte van Prediker bevat die gevolgtrekkings van die Prediker (6:10-11:6) en die hoofstrukturele merkers is die frases “nie gevind nie” of “weet nie” / “weet nooit”. As dit alles korrek is, dan fokus die eerste helfte van Qoheleth op die betekenisloosheid van die lewe onder die son sonder God (vgl. Wright 1968:334) terwyl die tweede helfte verskeie grondbeginsels gee ten opsigte van verstandige gedrag (Rooker 2011:542). Met gebruikmaking van bogenoemde, word Wright (1980:325-326; eie vertaling) se voorgestelde struktuur aangetoon:

Titel (1:1)
      Gedig oor Moeitevolle Arbeid (1:2-11)
            I. Qoheleth se ondersoek van die lewe (1:12-6:9)
                  Dubbele Inleiding (1:12-15, 16-18)
                        Studie van die Soeke na Plesier (2:1-11)
                        Studie van Wysheid en Dwaasheid (2:12-17)
                        Studie van die Vrugte van Moeitevolle Arbeid
                              ʼn Mens moet aan ander nalaat (2:18-26)
                              ʼn Mens kan nie die regte tyd van optrede bepaal nie (3:1-4:6)
                              Die probleem van ʼn “tweede” (4:7-16)
                              ʼn Mens kan alles verloor wat jy bymekaar gemaak het (4:17-6:9)
            II. Qoheleth se gevolgtrekkings (6:10-11:6)
                  Inleiding (6:10-12)
                        Die mens kan nie uitvind wat vir hom goed is om te doen nie
                              Aangaande die dag van voor- en teenspoed (7:1-14)
                              Aangaande regverdigheid en goddeloosheid (7:15-24)
                              Aangaande vroue en dwaasheid (7:25-29)
                              Aangaande die wyse man en die koning (8:1-17)
                        Die mens weet nie wat ná hom sal wees nie
                              Hy weet hy sal sterf; die dooies weet niks nie (9:1-6)
                              Daar is geen kennis in die doderyk (Sheol) nie (9:7-10)
                              Die mens ken nie sy eie tyd nie (9:11-12)
                              Die mens weet nie wat sal gebeur nie (9:13-10:15)
                              Hy weet nie watter onheil sal opdaag nie (10:16-11:2)
                              Hy weet nie watter goeie dinge sal opdaag nie (11:3-6)
      Gedig oor Jeug en Ouderdom (11:7-12:8)
Epiloog (12:9-14)

Inhoud, betekenis en toepassing

Prediker is nie ʼn siniese of ʼn morbiede boek nie (vgl. Constable 2017:6-8). Dit mag lyk of dit so is omdat die skrywer sonder doekies omdraai vir die leser uitwys waarop ʼn lewe sonder God in hierdie gevalle wêreld sal uitloop: alles tevergeefs. Dit is interessant om daarop te let dat die sleutelfrase “onder die son” in die Afrikaanse Bybel 27 keer in Prediker gebruik word, maar verwysings na God kom meer as 40 keer voor. Cone (2009:18; eie vertaling) som die tweevoudige tesis van Prediker goed op: “(1) die hopeloosheid en leegheid van die lewe sonder God (onder die son), en (2) die betekenisvolheid van selfs die mees alledaagse handelinge (eet, drink, werk, ens.) wanneer ʼn mens die regte perspektief van en verhouding met God geniet (ʼn besondere soort verby die son wêreldbeskouing)”. Wat is die einde van die saak, wanneer alles aangehoor is? Die Prediker se slotsom is duidelik: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:13-14).

Eeue nadat Prediker geskryf is, het Jesus in sy Hoëpriesterlike gebed tot die Vader hierdie woorde gesê: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat u gestuur het” (Johannes 17:3). Ons moet die sout van die aarde wees maar dit is nie al nie, want as “julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kolossense 3:1-4).

———————————

Bronne:

Cone, C.C., 2009, Life beyond the sun: An introduction to Worldview & Philosophy through the lens of Ecclesiastes, Tyndale Seminary Press, Ft. Worth.

Constable, T.L., 2017, Notes on Ecclesiastes, 2017 edition.

Rooker, M.F., 2011, ‘The Book of Ecclesiastes’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 539-545, B&H Publishing Group, Nashville.

Finkbeiner, D., 2014, ‘Ecclesiastes’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 971-985, Moody Publishers, Chicago.

Reitman, J.S., 1997, ‘The structure and unity of Ecclesiastes’, Bibliotheca Sacra 154(615), 297-319.

Wright, A.G., 1968, ‘The riddle of the sphinx: The structure of the book of Qoheleth’, The Catholic Biblical Quarterly 30(3), 313-334.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']