Die boek Sagaría

Kom jy ’n Hebreeuse naam teë wat ‘Yahweh onthou’ beteken, dan kom jy die naam ‘Sagaría’ teë.

Skrywer en datum

Onmiddellik na die inleiding (1:1), word Sagaría se tydgenote aangesê om God se woorde en insettinge te onthou (1:2-6). Sagaría moes baie jonk gewees het toe hy uit Babilon weg is, want hy was nog ’n “jongman” toe hy geroep is vir sy profetiese bediening in Jerusalem (2:4). Toe hy sy profetiese bediening begin het, was die tempel nog nie herbou nie (vgl. Haggai 1:2-4), Jerusalem se mure het nog in puin gelê, en die mense het droogte en armoede in die gesig gestaar (Rydelnik 2014:1416). In die inleiding sien ons dat Sagaría sy bediening begin het twee maande nadat dié van Haggai in 520 vC ’n aanvang geneem het (vgl. Haggai 1:1; vgl. Sagaría 1:1). ’n Belangrike boodskap van die boek word onmiddellik aangekondig: “Keer terug na My, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer” (1:3). Drie maande later (1:7) het Sagaría agt visioene ontvang (1:7-6:15), wat twee jaar later gevolg is deur vier response ten opsigte van ’n vraag oor vas (7:1-8:23), en ’n tyd later deur twee Godsprake oor die Messias en Israel se toekoms (9:1-14:21). Hierdie boek moes nie lank na die finale twee Godsprake deur Sagaría saamgestel gewees het nie, heelwaarskynlik vroeg in die vyfde eeu (Rydelnik 2014:1414). Sagaría was beide ’n profeet en ’n priester in Jerusalem (vgl. Nehemía 12:4, 16). Dit blyk dat Sagaría uiteindelik deur sommige van sy tydgenote vermoor is tussen die tempel en die altaar (Matthéüs 23:35; Constable 2017:1). Maar Yahweh onthou nie net nie (vgl. 1:2-6), Hy het Sagaría ook bemagtig om aan die na-ballingskap gemeenskap ’n boodskap van hoop en herstel te bring en ook om te profeteer oor die Messias en sy toekomstige heerskappy oor al die nasies van die aarde (vgl. 14:16-21).

Struktuur

Opsommend kan gesê word dat Sagaría agt visioene, vier response en twee Godsprake bevat. Baldwin (soos aangehaal deur Constable 2017:15) het ’n chiastiese struktuur vir die nagvisioene geïdentifiseer:

A Die perderuiter tussen die mirtebome 1:7-17
B Die vier horings en die vier smede 1:18-21
    C Die opmeter hfst. 2
      D Die reiniging en herstel van Josua hfst. 3
      D’ Die goue kandelaar en die twee olyfbome hfst. 4
    C’ Die vlieënde boekrol 5:1-4
B’ Die vrou in die efa 5:5-11
A’ Die vier strydwaens 6:1-8

Wat die twee hoof Godsprake aan die einde van Sagaría betref, stel Dyer (soos aangehaal deur Constable 2017:62) die volgende chiastiese struktuur vir hoofstukke 9-14 voor:

A God kom om te beskerm en te seën hfste. 9-10
B Die volk verwerp God se herder 11:1-14
    C Die slegte herder laat die skape in die steek 11:15-17
    C’ Die nasies kom om Jerusalem te vernietig 12:1-9
B’ Die volk bekeer hulle en wend hulle tot God 12:10-13:6
A’ God kom om te beskerm en te seën 13:7-14:21

Hoe moet Sagaría as ’n geheel dan ingedeel word? Kline (1991:179, 181-183) redeneer dat Sagaría 6:9-15 kan funksioneer as die primêre spilpunt wat die nagvisioene met die res van hierdie profetiese boek verbind. Deur gebruikmaking van Kline (1991) se voorstel en dit effens te wysig, kan die volgende struktuur vir die boek Sagaría voorgelê word:

Inleiding: ’n Oproep tot bekering 1:1-6
  Drie nagvisioene 1:7-2:13
    Sekondêre spilpunt: Die Messiaanse Priester en Here van die aarde 3:1-4:14
  Drie nagvisioene 4:1-6:8
      Primêre spilpunt: Die Messiaanse Priester-Koning 6:9-15
Inleiding: ’n Oproep tot geregtigheid 7:1-8:23
  Die koms van Israel se ware Koning 9:1-10:12
   Sekondêre spilpunt: Die Messiaanse Koning en Herder 11:1-17
  Die herstel van Israel deur die ware Koning 12:1-14:21

Oorsig van die boek, die tema en doel daarvan

Terwyl Haggai ’n praktiese boodskap bring om die na-ballingskap oorblyfsel aan te moedig om die tempel te herbou, vestig Sagaría die aandag op Israel (en die nasies) se eskatologiese toekoms onder die Messias (vgl. Merrill 2010:487). God sal al sy onvoorwaardelike beloftes aan Israel onthou, maar om in die verskeie seëninge van God se ewige en Messiaanse koninkryk te deel, moet ’n mens jou bekeer en die Here in geloof volg (vgl. 1:2-6). Na die aanvanklike oproep tot bekering (1:2-6), ontvang Sagaría agt nagvisioene wat, as dit gesamentlik gesien word, nie net die na-ballingskap gemeenskap van Haggai en Sagaría se tyd aanmoedig om die tempel te herbou nie, maar hulle en opvolgende lesers ook aanspoor om hul oë te rig op die komende Priester-Koning, die Messias. Constable (2017:46) som die inhoud van hierdie nagvisioene soos volg op:

Nr.TeksVisioenLes
11:7-17Die perderuiter tussen die mirtebomeYahweh se soewereiniteit t.o.v. Israel se herstel
21:18-21Die vier horings en die vier smede
Israel se triomf oor haar vyande
3hfst. 2Die opmeterVoorbereidings vir Israel se toekomstige herstel
4hfst. 3Die reiniging en herstel van JosuaDie hernuwing van Israel se priesterlike bediening
5hfst. 4Die goue kandelaar en die
twee olyfbome
Israel se getuienis onder Messias as Priester en Koning
65:1-4Die vlieënde boekrolOordeel oor Israel vir verbondsongehoorsaamheid
75:5-11Die vrou in die efaDie terugkeer van boosheid na Babilon
86:1-8Die vier strydwaensOordeel oor Israel se vyande

Soos daar vroeër gesê is, kan Sagaría 6:9-15 funksioneer as die primêre spilpunt van die boek Sagaría, waar die aandag gevestig word op die Messias wat nie net Priester nie, maar ook die Koning sal wees. Om te deel in die koninkryk van die Here van die hele aarde (vgl. 4:14), moet ’n mens God se genade aanneem en dan deur suiwer en ware aanbidding in geregtigheid lewe (vgl. 7:1-8:23). Terwyl Israel die ware Herder tydens sy eerste koms verwerp het (11:1-14), sal hulle Hom met sy tweede koms aanneem (12:10). Israel sal herstel word deur hul ware Koning wat die Here van die aarde is (vgl. 14:16-21). Dit sal gebeur soos dit voorheen geprofeteer is, want die soewereine God, die HERE van die leërskare, is Yahweh wat onthou.

———————————

Bronne:

Constable, T.L., 2017, Notes on Zechariah, 2017 edition.

Kline, M.G., 1991, ‘The structure of the Book of Zechariah’, Journal of the Evangelical Society 34(2), 179-193.

Merrill, E.H., 2011, ‘The Book of Zechariah’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 483-489, B&H Publishing Group, Nashville.

Rydelnik, M. 2014, ‘Zechariah’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 1413-1437, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']