Die boek van Jakobus

Jakobus is waarskynlik deur Jesus se broer Jakobus geskryf (vgl. Matteus 13:55). Hy het eers ná Jesus se opstanding ʼn gelowige in Christus geword (vgl. Johannes 7:2-5). Jakobus het ook vir Pinkster gewag (Handelinge 1:14), het die opgestane Here gesien (1 Korintiërs 15:7), was ʼn apostel (Galásiërs 1:19; vgl. 2:9-12), leier in die kerk in Jerusalem (Handelinge 12:7) en was ook voorsitter van die raad in Jerusalem (Handelinge 15). Jakobus was ʼn gewilde en gerespekteerde persoon in die vroeë Kerk (vgl. Handelinge 21:17-26; Galásiërs 2:12). Hy het as “Jakobus, die regverdige” of “Jakobus die geregtige” bekend gestaan — titels vir ʼn vroom, toegewyde Joodse Christen wat goeie verhoudinge met alle Jode wou behou (Moo aangehaal in Fruchtenbaum 2005:210-211). As die half-broer van Jesus het Jakobus in nederigheid gekies om sy geestelike dienaarsverhouding teenoor Christus (1:1) te beklemtoon eerder as om sy fisiese verhouding te noem (Fruchtenbaum 2005:211).

Volgens ʼn 2de-eeuse verslag deur Hegesippus, was Jakobus deur Jode, skrifgeleerdes en ook Fariseërs gevra om mense in toom te hou wat “gedwaal het deur in Jesus as die Messias te glo” (Allison 2015:8; eie vertaling). Nie net het Jakobus geweier om sy geloof in Jesus te verloën nie, maar hy het die evangelie voor almal verkondig – en daarvoor het hy ʼn martelaarsdood in 62 n.C. gesterf (Fruchtenbaum 2005:209).

Datum

Baie meen dat Jakobus — soos Galásiërs — vroeg geskryf is, in ongeveer 45-50 n.C. Hodges (2015:12) stel selfs ʼn vroeër datum voor, 34-35 n.C., kort ná die verstrooiing van die Joodse Christene waarna Handelinge 8:1 verwys, sodat die “brief van Jakobus ʼn pastorale brief aan die verstrooides Joodse gelowiges van Palestina was, waarskynlik vóór Paulus se aanvanklike sending na die nie-Joodse wêreld”. Jakobus is waarskynlik die eerste Nuwe Testamentiese boek wat geskryf is (Bailey & Constable 1999:537).

Die gehoor

Die boek is baie duidelik aan Jode gerig: “Aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is: Groete!” (1:1). Die eerste lesers het in sinagoges byeengekom (2:2). Jakobus maak van ʼn Ou-Testamentiese titel vir God gebruik, naamlik die “Here van die leërskare” (5:4). Die lesers identifiseer met die Joodse patriarg as Abraham “ons vader” (2:21). ʼn Minderheidsiening is dat Jakobus vir álle Jode geskryf is, nie net vir Joodse gelowiges nie (Allison 2015:8).

Inhoud en temas

Sleutelwoorde in Jakobus is die woorde “my broeders” (1:2; 2:1, 14; 3:1, 10, 12; 4:11; 5:7, 9, 10, 12, 19) of “my geliefde broeders” (1:16, 19; 2:5). Hierdie woorde dien ook as strukturele merkers. Nog ʼn kenmerk van Jakobus is dat sy vyf hoofstukke ongeveer 30 verwysings na die natuur bevat. Byvoorbeeld, “golf van die see” en “deur die wind gedrywe” (1:6), “ligte” en “skaduwee” (1:17), die “vrug van die aarde” en “die vroeë en die laat reën” (5:7), om maar ʼn paar voorbeelde te noem. Jakobus bevat ook ongeveer 14 ooreenkomste met die Bergpredikasie (Matteus 5-7). Byvoorbeeld, vergelyk Jakobus 1:2 met Matteus 5:10-12, of vergelyk Jakobus 1:4 met Matteus 5:48, of Jakobus 1:9 met Matteus 5:3. Dit help om te wys dat Jakobus gemoeid is met die Christen se alledaagse lewe. Die boek van Jakobus is net soveel ʼn preek aan “my broeders” — dit bevat 54 opdragte in 108 verse! — as wat dit ʼn brief is (Blue 1983:816).

Blue (1983:818; eie vertaling) bied ook ʼn goeie uiteensetting van die boek: “Jakobus leer sy lesers hoe om geestelike volwassenheid te bereik deur vas te staan [Hfst. 1: wat ʼn Christen is]; deur barmhartige dienswerk [Hfst. 2: wat ʼn Christen doen]; deur die tong te beheer [Hfst. 3: wat ʼn Christen sê]; deur nederige onderdanigheid [Hfst. 4; wat ʼn Christen voel]; en meelewende mededeelsaamheid [Hfst. 5: wat ʼn Christen het]. Jakobus het beslis ʼn eenheid en ʼn doel.

Doel

Baie kla dat Jakobus nie ʼn eenheid of ʼn duidelike doel het nie, maar dit is nie so nie. Jakobus “moedig die vroeë gelowiges aan tot Christelike volwassenheid en heiligheid” (Blue 1983:818) of om “Jesus se etiese leringe uit te leef” (Bailey & Constable 1999:538). Fruchtenbaum (2005:214) sê die boek is geskryf om “die geloof van Joodse gelowiges te versterk wat vervolging in die gesig staar”. Jakobus moedig geloof wat tot werke oorgaan aan.

Nadat hy die inleiding (1:1) asook die lydsaamheid van die geloof geïdentifiseer het (1:2-18), beklemtoon Fruchtenbaum (2005:x, 216) ses maniere waarop Jakobus sê ons geloof getoets sal word, naamlik hoe dit reageer op: die Woord (1:19-27); sosiale onderskeidinge (2:1-13); werke (2:14-26); die tong (3:1-18); die wêreld en ʼn wêreldse gesindheid (4:1-5:6); lydsaamheid en gebed in alle omstandighede totdat die Here kom (5:7-18) voordat dit vermaan om dié wat teruggeval het te help (5:19-20).

Terwyl ons geloof getoets word, gee Jakobus 54 opdragte in 108 verse vir ʼn aktiewe Christelike lewe. Maar drie keer word ʼn seën uitgespreek oor diegene wat die toets deurstaan en standvastig bly (1:12, 25; 5:11). Daders van die Woord is en sal geseën word deur die Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid (vgl. 1:1; 2:1; 5:11).

————————-

Bronne:

Allison, D.C., 2015, ‘The Jewish setting of the Epistle to James’, In die Skriflig 49(1), Art. #1897, 9 bladsye.

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Blue, R.B., 1983, ‘James’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, bladsye 815-836, David C Cook, Colorado Springs.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Messianic Jewish Epistles, Ariel Ministries, Tustin.

Hodges, Z.C., 2015, The Epistle of James: Proven character through testing, 3rd printing, Grace Evangelical Society, Irving. (The Grace New Testament Commentary.)

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']