Die boeke 1 en 2 Konings

Die boeke 1 en 2 Konings is die laaste van wat die Hebreeuse kanon die Vroeë Profete noem (naamlik Josua, Rigters, Samuel en Konings), wat dan lei na Latere Profete (naamlik Jesaja, Jeremia, Eségiël en die Twaalf (‘klein profete’)). In die Hebreeuse kanon was 1 en 2 Konings een boek wat melakim genoem is en wat ‘konings’ beteken. Dit is natuurlik baie gepas, want die boek Konings beskryf die regerings van al die konings ná Saul, hetsy die einde van Dawid se regering, die heerskappy van Salomo of al die daaropvolgende konings van die Noordelike Koninkryk (Israel) en van die Suidelike Koninkryk (Juda). In ongeveer 250 vC is Konings in die Septuaginta in twee boeke ingedeel (soos dit ook gedoen is met Samuel), ‘heelwaarskynlik om die lengte van die tekste meer hanteerbaar te maak’ (Shields 2014:480). Die Vroeë Profete dek ʼn gekombineerde tydsperiode van omtrent 845 jaar, met Josua wat ʼn tydperk dek van ongeveer 35 jaar (1405-1370 vC), Rigters 300 jaar en Samuel 150 jaar – maar met ʼn oorvleueling van omtrent 50 jaar tussen Rigters en Samuel – en Konings wat ʼn historiese tydperk dek van omtrent 413 jaar (973-971 tot 560 vC).

. . .

Die skrywer van 1 en 2 Konings

Hoewel daar in die boeke 1 en 2 Konings geen aantekening oor die outeurskap daarvan is nie, weet ons dat die menslike skrywer gebruik gemaak het van verskeie bronne, insluitend die “Geskiedenisboek van Salomo” (1 Konings 11:41), die “Kroniekboek van die konings van Israel” (1 Konings 14:19; 15:31; 2 Konings 1:18; 10:34) asook die “Kroniekboek van die konings van Juda” (1 Konings 14:29; 15:7; 2 Konings 8:23; 21:17; 24:5). Volgens ʼn verhandeling van die Babiloniese Talmoed, het Jeremia die boek geskryf wat sy naam dra, die boek Konings sowel as Klaagliedere (Merrill 2011:324). Bewys wat gelewer word om hierdie bewering te staaf, is dat 2 Konings 24:18-25:30 en die laaste hoofstuk van Jeremia presies dieselfde is en dat Jeremia gelewe het nadat hierdie historiese gebeurtenisse plaasgevind het. Rabbynse tradisie skryf egter outeurskap van Konings toe aan Esra of Eségiël (Shields 2014:479). Dit is heel moontlik dat een enkele menslike skrywer Konings geskryf het, want 1 en 2 Konings is noukeurig gestruktureer en styl- en taalkenmerke rugsteun hierdie gedagte – maar wie ook al Konings geskryf het, dié persoon het dit gedoen onder die inspirasie van die Heilige Gees.

Historiese omvang en datum van samestelling

Dit is moeilik om die samestelling van Konings met presisie te dateer. 1 Konings beskryf die einde van Dawid se regering en die begin van Salomo se heerskappy (973-971 vC). Die laaste opgetekende gebeurtenis in 2 Konings 25:27-30 is die vrylating van Jójagin, wat plaasgevind het in 560 vC. Die boeke 1 en 2 Konings is waarskynlik geskryf ʼn dekade of twee nadat die laaste van die drie fases (of wegvoerings) van die Babiloniese ballingskap plaasgevind het. Terwyl hierdie bespreking maklik baie kompleks kan raak (sien byvoorbeeld die bespreking van Shields 2014:480), is die geskatte datum van die samestelling van Konings omtrent 560 vC.

Die doel van Konings

Hoekom is die boek Konings geskryf, en vir wie? Redding is, te alle tye, op grond van God se genade deur geloof in die beloofde Messias. Teen die tyd wat Konings geskryf is, het God al reeds onvoorwaardelike verbonde met Israel gesluit in die Abrahamitiese, Land, Dawidiese en Nuwe verbonde. Hierdie onvoorwaardelike verbonde sal sekerlik deur God vervul word, maar as individuele Jode en Israel as volk die materiële en geestelike seëninge sou wou geniet wat in hierdie verbonde belowe is, moes die Jode van Israel die voorwaardelike Mosaïese verbond gehoorsaam. As hulle die Wet van Moses sou gehoorsaam, sou die seëninge van die voorwaardelike én onvoorwaardelike verbonde (soos vroeër genoem) deur hulle verkry word; maar as hulle aan die geopenbaarde wil van God ongehoorsaam sou wees, sou die vervloekings van die Mosaïese verbond hulle oorval. Soos God dit vir Elía duidelik gemaak het, is nie die hele Israel deel van die oorblyfsel nie (1 Konings 19:18); nie elke etniese Jood is ook ʼn Jood wat glo in die God van Israel nie (sien ook Romeine 2:28-29; 9:6-8). Die eerste doel van die boek Konings is dus om vir Israel die gevolge te wys van ongehoorsaamheid aan die geopenbaarde wil van God soos bekendgemaak in die voorwaardelike Mosaïese verbond. Die tweede doel is om vir die gelowige oorblyfsel van Israel te wys hoekom die volk in ballingskap gegaan het, eers na Assirië en later na Babilon. Die derde rede is om te wys dat God steeds, ten spyte van Israel se ontrouheid, die onvoorwaardelike beloftes sal vervul wat Hy gemaak het in die Abrahamitiese, Land, Dawidiese en Nuwe verbonde. Ten spyte van Israel en haar konings se mislukkings, God sal Israel nooit verwerp nie. Net om die laaste punt te onderstreep: Die Bybel beskryf elkeen van die 20 konings van die Noordelike Koninkryk (Israel) as ‘sleg’ (of slegter) konings; net agt uit die 20 konings van die Suidelike Koninkryk (Juda) word beskryf as (ietwat) goed. God het meer as goeie rede om Israel te verwerp – en Israel is inderdaad gedissiplineer en gestraf op grond van die voorwaardelike Mosaïese verbond – maar is Israel verwerp? Nee, stellig nie! God sal die onvoorwaardelike beloftes vervul wat Hy aan Israel en haar verteenwoordigers gemaak het. Uiteindelik sal daar ʼn tyd aanbreek wanneer ʼn geslag Jode hul geloof en vertroue sal stel in die Messias, Israel sal teruggebring word in haar land en dan sal die volk regeer word deur die Koning wat nie net ʼn menslike natuur het nie, maar ook ʼn Goddelike natuur. Soveel kere as wat die konings van Israel en Juda geval het, soveel kere (en dan nog meer kere) kan ons uitsien na die Koning van die konings en die Here van die here. Die Here Jesus Christus sal nie net oor Israel in die Messiaanse koninkryk regeer nie, maar ook oor al die nasies.

Die struktuur van Konings

Hoe kan ʼn teologies-historiese vertelling van omtrent 40 konings oor ʼn tydperk van omtrent 413 jaar saamgestel word? Die gebeurtenisse wat in die boek Konings beskryf word, is meestal chronologies opgeteken. Nietemin vertoon Konings ook ʼn simmetriese of chiastiese uitleg. Hoewel die skema van Savran (1987:148) prysenswaardig is (maar nie hier gewys word nie), verkies ons die volgende chiastiese struktuur van Dorsey (1999:135; vgl. ook Merrill 2011:321, n. 8):

A Salomo se regering in Jerusalem; Jerusalem se rykdom; tempel gebou 1 Kon 3:1-11:43
B Opgang van Noordelike Koninkryk: sy eerste 7 konings 1 Kon 12:1-16:34
    C Profeet Elía en vroeë Huis van Omri 1 Kon 17:1-2 Kon 1:18
      D Middelstuk: Elísa se meelewende wonderwerke 2 Kon 2:1-8:6
    C’ Profeet Elísa en einde van Huis van Omri 2 Kon 8:7-13:25
B’ Val van Noordelike Koninkryk: sy laaste 7 konings 2 Kon 14:1-17:41
A’ Salomo se vorstehuis eindig; val van Jerusalem; verwoesting van Salomo se tempel 2 Kon 18-25

Bogenoemde struktuur bied ʼn oorsigtelike kaart (soos ʼn kaart van ʼn ‘woud’) vir die lees van 1 en 2 Konings. Maar omtrent al die kleiner eenhede (die ‘bome’ van die woud) is ook voortreflik saamgestel. Een voorbeeld van Dorsey (1999:139) sal voldoende wees, naamlik die welbekende konfrontasie tussen Elía en sy God en die profete van Baäl en hulle god:

A Inleiding: Elía se verklaring: daar sal geen reën wees nie! 1 Kon 17:1
B Yahweh se profeet word aan die lewe gehou by die spruit Krit 1 Kon 17:2-6
    C Elía demonstreer Yahweh se mag in Sarfat 1 Kon 17:7-24
      D Middelstuk: Stryd tussen Yahweh en Baäl voorgestel 1 Kon 18:1-19
    C’ Elía demonstreer Yahweh se mag in Israel 1 Kon 18:20-39
B’ Baäl se profete word gedood by die spruit Kison 1 Kon 18:40
A’ Slotsom: Elía se verklaring: nou sal reën kom! 1 Kon 18:41-46

Tabel 1: Konings van die noordelike Ryk (Israel)
NaamJareKarakterVerhouding met JudaOnttroon deurDatums vCGeskiedenis
Jeróbeam22SlegOorlog931-910I Ko 11:26 - 14:20; II Kr 9:29 - 13:22
Nadab2SlegOorlogBaésa910-909I Ko 15:25 - 28
Baésa24SlegOorlog909-885/4I Ko 15:27 - 16:7; II Kr 16:1 - 6
Ela2DronkaardOorlogSimri886/5 - 885/4I Ko 16:8 - 10
Simri7 daeMoordenaarOorlogOmri885/4I Ko 16:10 - 20
Tibni4Burgeronrus, oorlog met Omri885/4-8801 Ko 16:21
Omri12Baie slegBurgeronrus, oorlog met Tibni885/4-874/31 Ko 16:17-28
Agab22Baie boosVerdrag874/3-853I Ko 16:28 - 22:40
Ahásia2SlegVrede853-852I Ko 22:40, 51- 53; II Ko 1:1 - 17; II Kr 20:35 - 37
Joram12SlegVerdragJehu852-841II Ko 3:1 - 3; II Ko 9:14 - 25; II Kr 22:5 - 7
Jehu28SlegOorlog841-814/3II Ko 9:1 - 10:36; II Kr 22:7 - 12
Jóahas17SlegVrede814/3-798II Ko 13:1 - 9
Joas16SlegOorlog798-782/1II Ko 13:10 - 25; II Ko 14:8 - 16; II Kr 25:17 - 24
Jeróbeam II41SlegVrede782/1-753 (medeheerser 793/2-782)II Ko 14:23 - 29
Sagaría6 mndeSlegVredeSallum753-752II Ko 15:8 - 12
Sallum1 mndSlegVredeMenáhem752II Ko 15:13 - 15
Menáhem10SlegVrede752-742/1II Ko 15:16 - 22
Pekáhia2SlegVredePeka742/1-740/39II Ko 15:23 - 26
Peka20SlegOorlogHoséa740/39-732/1 (jare getel vanaf 752)II Ko 15:27 - 31; II Kr 28:5 - 8
Hoséa9SlegVrede732/1723/22II Ko 17:1 - 41
Val van Noordelike Koninkryk: Assiriese ballingskap in 722 vC
Tabel 2: Konings van die suidelike Ryk (Juda)
NaamJareKarakterVerhouding met IsraelDatums vCGeskiedenis
Rehábeam17SlegOorlog931-913I Ko 12:1 - 14:31; II Kr 10:1 - 12:16
Abía3SlegOorlog913-910I Ko 15:1 - 8; II Kr 13:1 - 22
Asa41GoedOorlog911-870/69I Ko 15:9 - 24; II Kr 14:1 - 16:14
Jósafat25GoedVrede870/69-848 (medeheerser 873/2-869)I Ko 22:41 - 50; II Kr 17:1 - 20:37
Jehóram8SlegVrede848-841 (medeheerser 853-848)II Ko 8:16 - 24; II Kr 21:1 - 20
Ahásia1SlegVerdrag841II Ko 8:25 - 29; II Ko 9:27 - 29; II Kr 22:1 - 9
Atália6SlegVrede841-835II Ko 8:18, 25 - 28; II Ko 11:1 - 20; II Kr 22:1-23:21; 24:7
Joas40GoedVrede835-796II Kr 22:10 - 24:27; II Ko 11:1 - 12:21;
Amásia29GoedOorlog796-767II Ko 14:1 - 4; II Kr 25:1 - 28
Ussí & Asárja52GoedVrede767-740/39 (medeheerser 790)II Ko 15:1 - 7; II Kr 26:1 - 23
Jotam16GoedOorlog740/39-732/1 (medeheerser 750-740)II Ko 15:32 - 38; II Kr 27:1 - 9
Agas16SlegOorlog732/1-716/5 (medeheerser van 744/3)II Ko 16:1 - 20; II Kr 28:1 - 27
Hiskía29Goednvt716/5-687/6 (medeheerser van 729)II Ko 18:1 - 20:21; II Kr 29:1 - 32:33
Manasse55Slegnvt687/6-642/1 (medeheerser 696/5-587)II Ko 21:1 - 18; II Kr 33:1 - 20
Amon2Slegnvt642/1-640/39II Ko 21:19 - 23; II Kr 33:21 - 25
Josía31Goednvt640/39-609II Ko 22:1 - 23:30; II Kr 34:1 - 35:27
Jóahas3 mndeSlegnvt609II Ko 23:31 - 33; II Kr 36:1 - 4
Éljakim11Slegnvt609-597II Ko 23:34 - 24:5
Jójagin3 mndeSlegnvt597II Ko 24:6 - 16;
Sedekía11Slegnvt597-587/6II Ko 24:17 - 35:17; II Kr 36:11 - 21
Val van Suidelike Koninkryk: Babiloniese ballingskap in 605 vC

Gevolgtrekking

Dit is verstaanbaar dat sommige mense die boek Konings as onverkwiklik ervaar, want nie alleenlik begin dit met Dawid se dood en eindig met Jójagin se ballingskap nie, maar tussen hierdie buiteblaaie vind ons ʼn opeenvolging van mislukte konings (met uitsondering van agt ordentlikes) oor ʼn volk wat afdwaal in fisiese en geestelike verval. Party konings het outokraties regeer (soos Salomo; die volk moes hul koning vertrou), maar uiteindelik lei dit tot revolusie; party konings het demokraties regeer (soos Jeróbeam; die koning moes die volk vertrou), maar uiteindelik lei dit tot korrupsie en afgodsdiens (Constable 2017:7-8). Wat nodig is, is ʼn koning met ʼn volmaakte menslike natuur in wie mense kan vertrou, ʼn Koning wat Goddelik is. Hierdie Koning sal regeer met ʼn ysterstaf, met reg en geregtigheid, maar tegelykertyd sal Hy God se wil op aarde doen soos dit in die hemel gedoen word tot verheerliking van God die Vader. Dit is daarom verstaanbaar dat God te midde van Israel se talryke mislukkings (vgl. 1 & 2 Konings) profete gestuur het om vir Israel ʼn visie te gee van sy troon in die hemel (vgl. Jesaja 6), om hulle daaraan te herinner dat Hy liefdevol en getrou is, en dat ons binnekort, dalk baie binnekort, die Koning sal sien, met materiële en geestelike seëninge wat sal kom vanaf die troon van Dawid in die stad van waarheid, die stad van vrede.

———————————

Bronne geraadpleeg:

Constable, T.L., 2017, Notes on 1 Kings & Notes on 2 Kings, 2017 editions.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Merrill, E.H., 2011, ‘The Books of 1 and 2 Kings’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 319-329, B&H Publishing Group, Nashville.

Savran, G., 1987, ‘1 and 2 Kings’, in R. Alter & F. Kermode (eds.), The Literary Guide to the Bible, Harvard University Press, Cambridge.

Shields, H.E., 2014, ‘1 Kings’ & ‘2 Kings’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 479-552, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']