Die boeke 1 en 2 Samuel

In die oorspronklike Hebreeuse samestelling is 1 en 2 Samuel een boek. Gedurende die tweede helfte van die derde eeu vC het 70 skrifgeleerdes die Hebreeuse Ou Testament vertaal in die Griekse Septuaginta. Omdat een boekrol in daardie tyd nie genoeg spasie bevat het vir die hele inhoud van Samuel nie, is dit in twee boeke ingedeel (Neely 2014:399). Ongeag hoeveel boeke en vertalings daar van Samuel mag wees, die oorspronklike geskrif is deur die Heilige Gees geïnspireer. Die boeke 1 en 2 Samuel moet as een boek gelees en bestudeer word.

. . .

Die skrywer van 1 en 2 Samuel

Volgens ʼn verhandeling van die Babiloniese Talmoed, ‘het Samuel die boek geskryf wat sy naam dra’, maar hierdie bron is ten beste slegs gedeeltelik korrek (Merrill 2011:307). Aangesien Samuel se dood in 1 Samuel 25 beskryf word, was hy ten beste die skrywer van 1 Samuel 1-24, met ander skrywers wat geïnspireer was om die res van 1 en 2 Samuel te skryf. Wie die menslike skrywer(s) ook al was, is bronne soos die “Boek van die Opregte” (2 Samuel 1:18) sowel as die “Geskiedenis van die siener Samuel”, die “Geskiedenis van die profeet Natan”, en die “Geskiedenis van die siener Gad” (vgl. 1 Kronieke 29:29-30) heel waarskynlik gebruik. Weer eens, egter, die Goddelike skrywer is die Heilige Gees en daarom is die oorspronklike geskrif geïnspireer. Wat die identiteit (of identiteite) van die menslike skrywer(s) betref, Samuel en/of Natan en/of Gad kon dalk ʼn gedeelte (of gedeeltes) van Samuel geskryf het, maar ons kan eenvoudig nie met sekerheid die naam/name weet van die menslike skrywer(s) wat Samuel geskryf het nie.

Historiese omvang

Die boeke 1 en 2 Samuel begin met die bevrugting van Samuel en eindig met die regering van Dawid wat amper verby is. As ons terugwerkend kyk, Dawid het in 971 vC gesterf, nadat hy 33 jaar oor die hele Israel en 7,5 jaar oor Juda regeer het (vgl. 2 Samuel 2:5-5:6). Voor Dawid het Saul ook vir 40 jaar regeer (Handelinge 13:21), so Saul moes dus in 1051 vC as koning gesalf gewees het. Op grond van verskeie verdere afleidings (sien Merrill 2008:192-197), moes Samuel iewers in die tyd 1124-1121 vC gebore gewees het. Die historiese omvang van die boek Samuel dek dus omtrent 150 jaar (vgl. Neely 2014:400; Constable 2017:3).

Die historiese konteks en doel van 1 en 2 Samuel

Ná die dood van Josua het ʼn algemene maar definitiewe verslegting in Israel plaasgevind toe hulle in sonde verval en God hulle gevolglik getugtig het deur verdrukking en diensbaarheid aan ander volke, waarna Israel hulle bekeer het en verlossing onder ʼn rigter ervaar het, om maar net weer in sonde te verval en daardeur die siklus te herhaal (Rigters 2:11-23). Een refrein in Rigters – “In dié dae was daar geen koning in Israel nie” (17:6; 21:25) – het in die boek Rut ʼn optimistiese klank geword omdat Rut met die genealogie van koning Dawid eindig. In die boek Samuel (1 & 2 Samuel) sien ons die oorgang vanaf die laaste rigters, Eli en laastens Samuel, na die monargie in Israel. Dit was altyd God se plan dat Israel ʼn koning sou hê (Génesis 49:10; Númeri 24:17; Deuteronómium 17:14-20), maar die koning moes uit die stam van Juda kom, in God se volmaakte tyd en nie vir die redes wat Israel genoem het nie (vgl. 1 Samuel 8:20). Nietemin, ná Saul het koning Dawid gekom wat, ten spyte van sekere tekortkomings, ʼn koning na God se hart was, ʼn koning wat God liefgehad het (1 Samuel 13:14; 2 Samuel 11:1-27). Dit was egter altyd God se plan dat nie net Israel nie maar al die nasies regeer sou word deur die finale Seun van Dawid, die Messias en die Leeu van die stam van Juda. Die boek Samuel is daarom ryk aan tipes en tipologie, hetsy dit Dawid is wat heenwys na Christus of dit die Huis van Saul is wat veg met die Huis van Dawid. ʼn Hoogs belangrike moment in Samuel is wanneer God vir Dawid belowe dat hy ʼn ewige huis, ʼn ewige koninkryk, ʼn ewige troon en ʼn ewige Nakomeling sal hê (2 Samuel 7:12-16). Ná die dood en opstanding van Christus kan die koninkryk vir Israel herstel word in God se volmaakte tyd (vgl. Handelinge 1:6-7) en kan die siklus van sonde-verdrukking-bekering-verlossing-sonde en so voort, omgekeer word, omdat individue en volke in die rus kan ingaan wat God deur Christus se oorwinning aan die kruis voorsien het.

Die struktuur van 1 en 2 Samuel

Soos ook aanbeveel deur Merrill (2011:311, n. 18), word hierdie sewedelige chiastiese struktuur van die boek Samuel deur Dorsey (1999:135) verskaf:

A Samuel volg bejaarde Eli op en regeer oor die hele Israel (1 Sam 1-7)
B Saul se mislukking (1 Sam 8-15)
    C Dawid se aanvanklike gewilde opgang in Saul se koninkryk (1 Sam 16-20)
      D Yahweh keer die voorspoed van Saul en Dawid om (1 Sam 21-31)
    C’ Dawid se aanvanklike magsopgang oor die hele Israel (2 Sam 1-8)
B’ Dawid se mislukking (2 Sam 9-20)
A’ Dawid se finale jare as heerser oor die hele Israel (2 Sam 21-24)

Wat merkwaardig is in die bogenoemde struktuur is dat Dorsey chiastiese strukture geïdentifiseer het vir elk van die sewe elemente van die struktuur (A, B, C, D, C’, B’ en A’). Byvoorbeeld, Dorsey (1999:132) het die volgende chiastiese struktuur vir die kern gedeelte ‘D’ geïdentifiseer:

A Saul laat Yahweh se priester Ahiméleg en sy gesin doodmaak (1 Sam 21:1-22:23)
B Dawid bevry Judése stad Kehíla van die Filistyne (1 Sam 23:1-18)
    C Sifiete verraai Dawid en Dawid spaar Saul se lewe (1 Sam 23:19-24:22)
      D Dood van Samuel; Dawid en Abígail (1 Sam 25:1-44)
    C’ Sifiete verraai Dawid en Dawid spaar weer Saul se lewe (1 Sam 26:1-25)
B’ Dawid beskerm Judése stede terwyl hy die Filistyne ‘beskerm’ (1 Sam 27:1-12)
A Yahweh laat Saul en sy seuns sterf tydens die slag van Gilbóa (1 Sam 28:1-31:13)

Wanneer is 1 en 2 Samuel geskryf?

Dit is moeilik om met sekerheid te sê wanneer Samuel geskryf is. Ten minste sommige van die gebeurtenisse lees soos ooggetuie verslae, maar ander, soos 1 Samuel 27:6 (“daarom het Siklag aan die konings van Juda behoort tot vandag toe”), impliseer ʼn datum nadat die koninkryk reeds verdeel was. As 1 Samuel 27:6 gewig dra, dan moes Samuel ná 930 vC geskryf gewees het, selfs ʼn datum tussen 930 en 723/22 vC (Neely 2014:399). As die Joodse tradisie aanvaar word dat Samuel, Gad en Natan die menslike skrywers was, en as in ag geneem word dat die laaste gebeurtenis in 2 Samuel 24:25 (die oprigting van Dawid se altaar by die dorsvloer van Arauna) gedateer kan word as 975 vC, dan kon Samuel geskryf gewees het in omtrent 975 vC (Merrill 2011:307). Dit bly dus moeilik om met sekerheid te sê wanneer Samuel geskryf is.

Die relevansie van 1 en 2 Samuel

Die genre van die boek Samuel is historiese vertelling, geskryf vanuit God se oogpunt (Neely 2014:400). Soos met al die historiese vertellings van die Ou Testament, egter, is die doel van die Heilige Gees om vir ons Samuel te gee, nie net om geskiedkundige feite daar te stel nie, maar om primêr geestelike lesse te leer vir die oorspronklike lesers, en vir lesers van alle tye, deur die bekendmaking van die oorsake en gevolge van verskillende menslike response ten opsigte van God se genade (Constable 2017:3). Of soos Neely (2014:400) ook vermaan, vereis die vertelling ‘ons denkbeeldige deelneming aan die gebeurtenisse self, sodat ons daardeur sal sien hoe ons eie verhaal deur God se genade kan inpas in en deel is van die groot verhaal van verlossing’. Die boek Samuel se titel kon dalk dié van die hoofkarakter daarin gewees het, naamlik die ‘boek van Dawid’ (vgl. Dorsey 1999:129), maar lesers kan die uitstaande literêre vaardigheid en kuns van die verteller waardeer onderwyl hulle verskeie geestelike lesse hul eie maak en toepas.

Gevolgtrekking[ref]Die gevolgtrekking is geneem uit Constable se notas van 1 Samuel (2017:6-9) en sy notas van 2 Samuel (2017:2-4).[/ref]

Die boeke 1 en 2 Samuel is in werklikheid een verhaal. Dit beweeg van die laaste rigter (Samuel) na die volk se keuse van ʼn koning (Saul) na God se keuse van ʼn koning (Dawid). Elke man het sy geleenthede gehad, sy respons gelewer, en die gevolge van sy respons beleef. Twee was aan God gehoorsaam en een was ongehoorsaam. Maar al drie manne het meegewerk om God se uiteindelike doelwitte te volbring, hetsy tot hul eie seëning of tot sy eie ondergang.

Ooreenstemming met die wil van God skep krag tot diens. Ooreenstemming met God se wil hang grondliggend af van ons ingesteldheid teenoor God. Dit hang nie primêr af van ons vermoë, of van ons vermoë om God te oortuig om iets te doen nie. Dit hang af van ons oorgawe aan Hom, en van ons gewilligheid om God ons te laat oortuig om iets te doen. Dit hang af van ons toewyding aan Hom en ons getrouheid aan Hom. God ag nie ons waarde soos ander mense dit doen nie. Ons ag mekaar se waarde op grond van uiterlike optredes. God ag ons waarde op grond van innerlike ingesteldhede. 1 Samuel 16:7 sê, “… die HERE sien die hart aan”. Hoe is jou ingesteldheid teenoor God? Wil jy God waarlik behaag, of is jy bloot net as gevolg van jou agtergrond en omgewing aan God gehoorsaam? Sou jy ʼn vuil lewe gelei het as jy daarmee kon wegkom? Hoe is jou ware ingesteldheid teenoor God? Wil jy werklik doen wat reg is? Dawid was ʼn man na God se hart, want hy wou waarlik hê wat God wou gehad het. Wat wil jy regtig hê? Pasop, want God sal vir jou gee wat jy regtig wil hê. Wil jy jou eie lewe bestuur? God sal jou toelaat om dit te doen, maar Hy kan jou dalk toelaat om jou lewe tot jou eie ondergang te bestuur.

1 Samuel benadruk hoofsaaklik negatiewe gedragsvoorbeelde uit Saul se lewe as God se gesalfde. Nieteenstaande sien ons in 1 Samuel dat God se uiteindelike oorwinning nie afhang van mense se ingesteldhede teenoor Hom nie. Sy kinders kan lojaal of rebels wees, en dit sal nie sy uiteindelike oorwinning beïnvloed nie. In 2 Samuel leer ons dat ons uiteindelike oorwinning in die lewe afhang van ons ingesteldheid teenoor God. 2 Samuel benadruk hoofsaaklik positiewe voorbeelde uit Dawid se lewe as God se gesalfde.

———————————

Bronne geraadpleeg:

Constable, T.L., 2017, Notes on 1 Samuel & Notes on 2 Samuel, 2017 editions.

Dorsey, D.A., 1999, The Literary Structure of the Old Testament: A Commentary on Genesis-Malachi, Baker Academic, Grand Rapids.

Merrill, E.H., 2008, Kingdom of Priests: A History of Old Testament Israel, Baker Academic, Grand Rapids.

Merrill, E.H., 2011, ‘The Books of 1 and 2 Samuel’, in E.H. Merrill, M.F. Rooker & M.A. Grisanti, The World and the Word, pp. 307-318, B&H Publishing Group, Nashville.

Neely, W.O., 2014, ‘’1 Samuel’ & ‘2 Samuel’, in M. Rydelnik & M. Vanlaningham (eds.), The Moody Bible Commentary, pp. 399-478, Moody Publishers, Chicago.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']