Die brief aan die Filippense

Die kerk in Filíppi het byna ongesiens met ʼn nie-Joodse besigheidsvrou, ʼn tronkbewaarder van Macedónië en hul huishoudings begin (Handelinge 16:12-40). Dit het in omtrent 50 n.C. plaasgevind tydens Paulus se tweede sendingreis toe hy die evangelie vir die eerste keer in Europa verkondig het (vgl. Handelinge 16:9-10). Omtrent ʼn dekade later skryf Paulus ʼn warm en persoonlike brief aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filíppi is. Dit het in omtrent 61-62 n.C. plaasgevind toe Paulus tydens sy eerste gevangenskap in Rome die laaste van die vier ‘gevangenisbriewe’ geskryf het. Op daardie stadium het die kerk in Filíppi reeds gegroei om heelwat vroue, ʼn opregte metgesel en baie gelowiges in die huishouding van God in te sluit (Filippense 1:1; 4:2-3).

Temas van gemeenskaplike bediening van die evangelie en van blydskap

Vanaf die begin van sy Europese bediening het die Filippense in Paulus se rekening van uitgawe en inkomste gedeel (4:15). Twee keer in Tessalonika en een keer toe hy in Korinte was, het die heiliges in Filíppi in Paulus se behoeftes en verdrukking gedeel (Lightner 1983:647). Nou omtrent ʼn dekade later, stuur die Filippense vir Epafrodítus om Paulus weer te bedien (2:25; 4:10-14, 18). Op sy beurt bedien Paulus weer die Filippense deur hierdie brief aan hulle te skryf en ook om beide Epafrodítus en Timótheüs te stuur om by hulle te wees (2:19-24, 28). ‘Van die eerste dag af tot nou toe’ het Paulus en die Filippense die evangelie gemeenskaplik bedien (1:5).

Ondanks die feit dat hy in ʼn Romeinse tronk is, gebruik Paulus gereeld die woorde ‘blydskap’, ‘verbly’ en ‘bly’. Hierdie woorde kom ongeveer 15 keer in hierdie brief voor (Lightner 1983:647). Nog ʼn onderwerp waarna dikwels verwys word, is die evangelie. Verwysings na die evangelie kom nege keer in hierdie brief voor (1:5, 7, 12, 16, 27 (twee keer); 2:22; 4:3, 15; Tenney 1985:326). Dit is die evangelie van Christus wat ons bevry sodat ons ʼn blye, nuwe lewe kan lewe.

Teologiese bydraes van die brief aan die Filippense

Die ‘groot teologiese bydrae van Filippense is die openbaring van Christus se gesindheid’ (Bailey & Constable 1999:412; eie vertaling). Toe Christus, wat in die gestalte van God was, ook daarby die menslike natuur aangeneem het, het Hy die onafhanklike gebruik van sy goddelike eienskappe en regte aan God die Vader se wil ondergeskik gestel (2:6-8; Fruchtenbaum 2005:4, 10). In gedaante gevind as ʼn mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis (2:8). Toe Christus, wat nou beide die goddelike en menslike natuur het, in die hemel opgeneem is, het Hy weer sy goddelike eienskappe en regte onafhanklik begin gebruik soos Hy wil. Daar is geen groter voorbeeld van onbaatsugtige nederigheid en opoffering as dié van Jesus Christus nie.

Ondanks die feit dat dit ʼn kort brief is, word daar dikwels na die Here Jesus Christus verwys. ‘Uit ʼn totaal van 104 verse is daar 51 verwysings na die Here Jesus’ (Constable 2017:3; eie vertaling). Paulus se hele lewe is Christus: ‘Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins’ (1:21). Verwysings na deelgenootskap of na gemeenskap verskyn ses keer in hierdie brief (1:5, 7; 2:1; 3:10; 4:14, 16). Die blye deelgenootskap in die evangelie kom van gemeenskap met Christus.

Struktuur

Die struktuur van hierdie brief beklemtoon die sentrale tema, naamlik ‘die Filippense se deelgenootskap in die evangelie’ (Swift 1984:237). Die inleiding (1:1-2) kan met die slotseëninge (4:21-23) verbind word. Die hoofgedeelte van die brief (1:27-4:9) beklemtoon die eenheid en standvastigheid wat gebaseer is op Christus se ‘nederige, self-ontledigende en self-opofferende gesindheid wat die patroon is waarvolgens die Filippense hulle verhoudings moet rig’ (Swift 1984:245; eie vertaling). Wat ook inpas by die struktuur is die lang proloog (1:3-26) en die ooreenstemmende afsluiting (4:10-20). Van begin tot end is die struktuur van hierdie brief ‘wesenlik chiasties’ (Constable 2017:3 eie vertaling; vgl. Black 1995) en maak ʼn beroep op Christene om hulle waardig die evangelie van Christus te gedra ‘as hulle verwag om die werk van die evangelie te bevorder’ (Swift 1984:250; eie vertaling).

Blye slot

Toe Hy die tronkbewaarder van Macedónië en sy huishouding gered het, het die Here Jesus Christus nog gelowiges by die Kerk gevoeg (Handelinge 16:31-33). Dit het gebeur in die nag toe Paulus en Silvánus in ʼn Europese tronk gebid en lofliedere tot eer van God gesing het (vgl. Handelinge 16:19-34). Omtrent ʼn dekade later is Paulus weer in ʼn tronk en verbly hy hom in Christus terwyl hy Filippense skryf. Hierdie is alles gebaseer op Christus se werk aan die kruis, toe Hy verlossing voorsien het vir almal wat deur sonde en die dood gevange gehou word. Terwyl die verheerlikte Christus onstuitbaar besig is om Sy Kerk te bou, verwag almal wie se burgerskap in die hemele is die koms van ons Verlosser, die Here Jesus Christus (vgl. 3:20).

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Black, D.A., 1995, ‘The Discourse Structure of Philippians: A Study in Textlinguistics’, Novum Testamentum 37(1):16-49.

Constable, T.L., 2017, Notes on Philippians, 2017 edition, Sonic Light.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die inkarnasie’, MBS054, Ariel Ministries.

Lightner, R.P., 1983, ‘Philippians’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, bladsye 647-666, David C Cook, Colorado Springs.

Swift, R.C., 1984, ‘The theme and structure of Philippians’, Bibliotheca Sacra 141(563):234-254.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']