Die brief aan die Kolossense

Kolossense is nog een van die vier ‘gevangenisbriewe’ (vgl. 1:24; 4:3, 10, 18) wat Paulus (1:1, 23; 4:18) in ongeveer 60-61 n.C. geskryf het tydens sy eerste gevangenskap in Rome (vgl. Handelinge 28:30). Die naam “Kolosse” is ‘moontlik afgelei van Colossus, ʼn groot standbeeld, wat op sy beurt afgelei is van die ongewone rotsformasies daar’ (Geisler 1983:668; eie vertaling). Al het Paulus nie persoonlik na Kolosse gegaan nie — ‘almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie’ (2:1; vgl. 1:4; 4:12-13) — het die apostel vir Épafras (‘een van julle’) na Kolosse gestuur om die evangelie aan Kolosse, Laodicéa en Hiërápolis te verkondig (1:7-8; 4:12-13). Hierdie drie stede — Kolosse, Hiërápolis en Laodicéa — is naby mekaar geleë in die pragtige Lycus Vallei, ongeveer 100 tot 110 myl oos van Efese in Klein-Asië (vandag Turkye). Die ekonomiese welvaart wat die stede van die Lycus Vallei geniet het, was gebaseer ‘op hulle hoofbesigheid — die vervaardiging en voorbereiding van wolstowwe wat op die rivier na die Egiese kus vervoer is en vandaar na verskeie dele van die antieke wêreld uitgevoer is’ (Bruce 1984:3-4; eie vertaling). Paulus verwys na baie gelowiges in die Lycus Vallei en versoek dat die briewe wat Tíchikus en Onésimus afgelewer het, onderling uitgeruil moet word (4:7-9, 12-17).

Verskille tussen Efesiërs en Kolossense

Daar is baie ooreenkomste tussen Kolossense en Efesiërs (Tenney 1985:321), maar die belangrikste verskil is dat ‘Efesiërs klem plaas op die Kerk as die liggaam van Christus, terwyl Kolossense die klem plaas op Christus as die Hoof van die liggaam’ (Bailey & Constable 1999:424; eie vertaling). Efesiërs leer dat die God en Vader van onse Here Jesus Christus ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus (1:3). Kolossense openbaar dat ‘in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik, en julle het die volheid in Hom’ (2:9-10a). Dit is in en deur die Hoof van die liggaam dat ‘die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid’ openbaar word in die liggaam (1:27). Die valse leraars in Kolosse het die heerskappy en volkome genoegsaamheid van Jesus Christus ontken en boonop verskeie idees, praktyke of dinge waarop vertrou moes word as middelaars voorgestel. Paulus sê egter duidelik dat ‘alle filosofieë, geestelike magte, seremoniële gebruike en beperkings is sekondêr tot die uitnemendheid van Christus’ (Tenney 1985:323; eie vertaling).

Doelwit en temas

Geisler (1983:668; eie vertaling) merk tereg op dat die ‘omstandigheid wat die skryf van Kolossense genoop het, ʼn spesifieke kettery was. Hierdie valse lering was die begin van wat later (in die tweede eeu) in Gnostisisme sou ontwikkel het. Dié valse lering bevat ʼn paar eienskappe. (1) Dit was van Joodse oorsprong en beklemtoon die noodsaaklikheid om Ou-Testamentiese wette en seremonies na te kom. (2) Dit was filosofies en het klem op ʼn spesiale of dieper kennis (gnōsis) gelê. (3) Dit het die aanbidding van engele as tussengangers tot God behels (2:18). (4) Dit was eksklusief omdat dit die spesiale voorregte en “volmaaktheid” beklemtoon van die paar uitverkorenes wat aan hierdie filosofiese elite behoort. (5) Dit was ook Christologies, maar hierdie seminale Gnostisisme ontken die Godheid van Christus — en dit het toe uitgeloop op een van die grootste verklarings van Christus se Godheid wat in die Skrif gevind kan word (1:15-16; 2:9).’

Kolossense is nodig om vandag se sinkretisme te bestry. Sommige het hoë agting vir Jesus maar ontken sy Godheid, maar Kolossense weerlê egter hierdie dwaling: nie net besit Christus alle goddelike eienskappe nie, maar Hy is in wese God (1:15; 2:9; vgl. Fruchtenbaum 2005:6, 8). Ander sê jy moet God nader deur voorvadergeeste, engele of verskeie mistiese ervarings, maar Kolossense weerlê al hierdie valse middelaars (2:16-18): nie net is in Hom alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is nie, die sienlike en onsienlike, maar Christus is die Hoof van die liggaam (1:16-18). Of nog ander plaas vertroue in hul eie opregte, asketiese of wettiese manier om in die hemel te kom en maak daardeur van Jesus net nog ʼn godsdienstige leraar, maar Kolossense maak ʼn bespotting van hierdie wysbegeerte en nietige misleiding: nie net woon al die volheid van die Godheid liggaamlik in Christus nie, maar in Hom is al die skatte van wysheid en kennis verborge (2:3, 9; vgl. Geisler 1999:3-19). Die leer van Christus raak ons hele Christelike lewe: ‘Die primêre Christologiese gedeeltes (1:14-23; 2:9-15) toon Christus as absoluut voortreflik en volkome voldoende vir die Christen” (Constable 2017:3).

Struktuur

Die volgende uitgebreide uiteensetting van Bailey en Constable (1999:424-425) kan vir Kolossense voorgestel word:

  1. Inleiding (1-14), onderverdeel in die Aanhef (1:1-2); Danksegging (1:3-8); en Gebed (1:9-14).
  2. Verduideliking van die Persoon en werk van Christus (1:15-29), onderverdeel in die Voortreflike Persoon van Christus (1:15-20); en die Versoeningswerk van Christus (1:21-29).
  3. Waarskuwings teen menslike filosofieë (hoofstuk 2), onderverdeel in ʼn Aansporing om in die waarheid te volhard (2:1-7); die Ware leer van Christus (2:8-15); en Valse leringe van mense (2:16-23).
  4. Aanmoeding vir praktiese Christelike lewe (3:1-4:6), onderverdeel in die Basiese beginsel (3:1-4); Die korrekte metode [lê dinge af; beklee julle] (3:5-17); Fundamentele verhoudings (3:18-4:1); en Essensiële praktyke (4:2-6).
  5. Die gevolgtrekking (4:7-18), onderverdeel in die Draers van hierdie brief (4:7-9); Groete van Paulus se metgeselle (4:10-14); Groete aan ander (4:15-17); en Persoonlike gevolgtrekking van Paulus (4:18).

Slot

Christus is nie net prominent nie, Hy is uitnemend, voortreflik en skitterend. Nie net moet ons die dinge bedink wat daarbo is nie, maar ook die dinge daarbo soek waar Christus is (3:1-2). Verkondig Christus.

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Bruce, F.F., 1984, ‘Colossian Problems Part 1: Jews and Christians in the Lycus Valley’, Bibliotheca Sacra 141(561), 3-15.

Constable, T.L., 2017, Notes on Colossians, 2017 edition, Sonic Light.

Geisler, N.L., 1983, ‘Colossians’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 667-686, David C Cook, Colorado Springs.

Geisler, N.L., 1999, ‘Beware of philosophy: a warning to Biblical scholars’, Journal of the Evangelical Theological Society 42(1), 3-19.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘The deity of the Messiah’. Ariel Ministries.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']