Die brief aan Titus

Nadat die apostel Paulus se eerste gevangenskap in Rome in omtrent 61-62 nC beëindig is, het die Here die apostel versterk om die boodskap van die evangelie te verkondig sodat al die heidene dit kan hoor (vgl. 2 Timótheüs 4:17). Gedurende die volgende ongeveer vyf jaar (62-67 nC) was Paulus baie aktief en het ten minste Macedónië, Éfese, Kreta, Nikópolis, Troas, Korinthe en Miléte besoek (1 Timótheüs 1:3; 2 Timótheüs 4:13, 20; Titus 1:5; 3:12). As ’n ‘ou man’ (Filemon 9), was Paulus daaroor besorgd dat die waarheid van die evangelie bewaar moes bly en aan toekomstige Christene oorgelewer moes word (Litfin 1983:729). Vir dié rede is Titus en Timótheüs voorsien van briewe wat bevestig het dat hulle die apostel se persoonlike verteenwoordigers was (Hiebert 1957:9). Net soos die ander pastorale briewe, beklemtoon Titus die lewe en leierskap van plaaslike kerke sowel as godsaligheid en goeie werke.

Skema

Na oorweging van verskeie skematiese voorstellings, stel FaithEquip hierdie chiastiese struktuur vir die brief aan Titus voor:

A Seëngroet 1:1-4
B Instruksies vir ouderlinge, ware leer 1:5-9
    C Bestraf vals leraars en hul lering 1:10-16
      D Preek gesonde leer vir verskeie groepe 2:1-10
        X God se genade het verskyn 2:11-14
      D’ Preek gesonde leer en vermaan en bestraf 2:15-3:3
        X’ God se goedertierenheid en liefde het verskyn 3:4-7
      DD’ Bevestig ware leer en goeie werke 3:8
    C’ Verwerp vals leraars en hul lering 3:9-11
B’ Instruksies vir ander werkers, goeie werke 3:12-14
A’ Seëngroet 3:15

Boodskap van die brief aan Titus

Die inhoud van die geloof waarin die uitverkorenes van God deel, vergestalt ʼn leer wat lei na die erkenning van die waarheid in ooreenstemming met godsaligheid en hoop op die ewige lewe wat God belowe het (Titus 1:1-4). Wie sal dit egter bekend maak en onderrig? Die apostel gee Titus opdrag om ouderlinge aan te stel (Titus 1:5-9) wat nie net deur ware leer sou vermaan en bestraf nie (Titus 2:1-10; 2:15-3:3, 8), maar ook self ʼn voorbeeld sou stel van goeie werke (vgl. Titus 2:7, 10). As dit vermag word op ʼn moeilike eiland soos Kreta (vgl. Titus 1:12), kan dit op enige plek in die wêreld vermag word; as die leer van God ons Verlosser deur individuele Kretense slawe aantreklik gemaak (‘versier’) kan word, kan dit deur enige Christen gedoen word (vgl. Titus 2:9-10). Wie is dit egter wat die mag en die vermoë daartoe gee? Dit is die genade van God wat dit vir Christene leer te midde van ons verwagting van die salige hoop en die verskyning van ons groot God en Verlosser Jesus Christus wat ons reinig (Titus 2:11-14; vgl. 3:4-7). Wat is dus die verantwoordelikheid van plaaslike kerke en individuele Christene? Plaaslike kerke sal net kragtig wees tot die mate wat God se geopenbaarde waarheid verkondig en laat sien word; gelowiges moet die leer van God ons Verlosser in alle dinge deur ons optrede versier (Titus 2:10). Plaaslike kerkleiers moet diegene wat vals leerstellings en goddeloosheid aanwakker, teëspreek en bestraf (Titus 1:10-16; 3:9-11). Wat moet ander Christene in die plaaslike kerk doen? ‘Godsaligheid is die voorgenome eindproduk van die evangelie’ en daarom moet kerklidmate ‘God se waarheid in die wêreld deur hul godsalige lewens en mondelinge getuienis’ verkondig (Constable 2016:3, 5; eie vertaling).

Sien gerus ‘n detail studie (17 bladsye lank) oor die brief aan Titus op FaithEquip se webwerf.

————————-

Bronne:

Constable, T.L., 2016, Notes on Titus 2016 edition, Sonic Light, nagegaan op 2 Augustus 2016.

Hiebert, E., 1957, Titus and Philemon, Moody Press, Chicago.

Litfin, A.D., 1983, ‘1 Timothy’, ‘2 Timothy’, ‘Titus’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp. 727-767, David C Cook, Colorado Springs.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']