Die Bybel en Goddelike openbaring

Is daar ʼn God? As daar ʼn God is, kommunikeer Hy? As God kommunikeer, wat sê Hy? Die antwoorde op die eerste twee vrae is beslis “Ja!” Wat die derde vraag betref: die Griekse woord vir openbaring beteken “die ontsluiering”. God kan alleenlik geken word omdat Hy Homself openbaar. Daar is hoofsaaklik twee tipes Goddelike openbaring, naamlik algemene openbaring en spesiale openbaring.

Dit is moontlik vir enigiemand op enige plek in die wêreld te enige tyd om van God te weet, want God het Homself op ʼn algemene manier aan almal geopenbaar. Algemene openbaring is ”die omvatting van goddelike denke in die verskynsel van die natuur, in die werklikheid of ervaring van die geskiedenis, en die algemene samestelling van die menslike verstand” (Fruchtenbaum 2005:2). ʼn Doel van algemene openbaring is om te voldoen aan die mens se behoefte aan geestelike antwoorde en om die mens se siel te oorreed om op ‘n werklike en persoonlike manier na God te soek.

Hoe openbaar God Homself in die algemeen aan alle mense? Volgens die Skrif is daar vier verskillende metodes van algemene openbaring, naamlik deur die natuur (Psalm 19:1-6; Jesaja 40:12, 14, 26; Handelinge 14:14-17; Romeine 1:19-20), deur voorsienigheid in die geskiedenis (Job 38:22-23; Psalm 75:6-7; Handelinge 17:26; Romeine 8:28), deur bewaring (Handelinge 17:28; Kolossense 1:17; Hebreërs 1:3) en deur die gewete (Romeine 2:14-15).

Algemene openbaring is ontoereikend om die mens tot redding te lei. Geen mens kan die inhoud van die evangelie te wete kom deur die natuur, voorsienigheid, bewaring of die gewete nie (Handelinge 17:23; Efesiërs 3:8-9). Algemene openbaring is egter voldoende om te veroordeel (Romeine 1:20). Die beginsel van Romeine 1 is dit: As ʼn mens leef volgens die lig wat hy/sy het, sal God seker maak dat daardie persoon meer lig kry, totdat die persoon die evangelie hoor.

Mense vra soms, “Sal ʼn mens wat nog nooit van Jesus gehoor het nie, hel toe gaan?” Sommige wil antwoord, “Nee, mense wat nog nooit van die Messias gehoor het nie gaan in elk geval hemel toe”. Die logiese gevolgtrekking hierop is dat geen sendeling ooit na hierdie mense gestuur moet word nie. Die gevaarlikste ding om in hierdie geval te doen is om iemand ʼn kennis van die evangelie te gee sodat hy/sy dit kan verwerp, en dan hel toe gaan! As hulle onkunde hulle in die hemel kan kry, behoort niemand teenoor hulle te getuig nie. Die waarheid is dat selfs hulle wat nog nooit van Jesus gehoor het nie uiteindelik hel toe kan gaan.

In Romeine 1:18-25 verduidelik Paulus dat die aard en neiging van die mensdom in die algemeen is om dit wat hy van algemene openbaring kan leer, te bederf. Byvoorbeeld, die mens kan oor die grootheid van God leer deur algemene openbaring en dat God Skepper is (v. 20). Maar wat het die mens met verloop van die geskiedenis gedoen? Pleks daarvan om die Skepper te aanbid, het die mens die skepsel aanbid, of begin om standbeelde en afbeeldings van diere, mense of engele te maak, en het híérdie dinge aanbid (vv. 23-25). Die gevolg hiervan, sê Paulus, is dat hierdie mense in hul hart verduister is (v. 21), omdat hulle nie leef volgens die lig wat tot hul beskikking is deur algemene openbaring nie.

Waar algemene openbaring omvat is in dinge, is spesiale openbaring omvat in woorde. In spesiale openbaring maak God Homself bekend op spesifieke tye, deur spesifieke persone en op spesifieke maniere. Daar is altesaam ses verskillende maniere (of metodes) van spesiale openbaring, naamlik teofanies (die verskyning van God in sigbare vorm), wonderwerke, direkte kommunikasie, deur engele, deur die vleeswording van die Woord van God en deur die Skrif.

Die primêre doel van die Skrif is vir redding (2 Timoteus 3:15). Dit voorsien wat algemene openbaring nie kan nie: die inhoud van die evangelie. Die Skrif is die voldoende openbaring van God, alhoewel dit nie die omvattende openbaring is nie (vgl. Romeine 8:18; 1 Korinthiërs 13:12; Judas 3). In die huidige staat is die Skrif die finale en beslissende openbaring vir nou. Daarom vermaan Paulus gelowiges in 1 Korinthiërs 4:6 om nie te dink bo wat geskrywe is nie (vgl. Openbaring 22:18-19).

Drie redes waarom spesiale openbaring nodig is, is om die waarhede van algemene openbaring korrek te vertolk of te verklaar; om die mens te voorsien van ʼn openbaring van redding; en om dit wat voorkom as weersprekende elemente in algemene openbaring, te harmonieer. Algemene openbaring wys byvoorbeeld beide die goedheid en die strengheid van God. Dit is onmoontlik om hierdie waarhede deur middel van algemene openbaring te harmonieer, maar dit is moontlik deur spesiale openbaring.

Voortdurende openbaring is nie ʼn derde metode of tipe openbaring nie, maar beteken dat God nie gekies het om die ganse Woord op een slag te gee nie, maar dat die skryf van die Bybel oor ʼn tydperk van omtrent 1 600 jaar gebeur het. Tree vir tree is die plan van God ontvou. Elke tree was heeltemal foutloos totdat die beslissende openbaring gekom het. Die mens het nou ʼn volledige openbaring in die geskrewe Woord van God en daar is geen behoefte aan kennis buiten die Skrif nie. In die Skrif het God alles gegee wat Hy nou vir ons bedoel om te weet. Hy wil hê dat ons meer weet, maar nie in hierdie lewe nie, eers in die volgende.

—————-
Bogenoemde is ʼn opsomming van ʼn artikel deur Dr. Arnold Fruchtenbaum van Ariel Bedieninge. Die volledige artikel is op hierdie webwerf beskikbaar

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']