Die doop

Nadat ons onlangs die plaaslike gemeente bespreek het, het ons gefokus op die Nagmaal as ’n kerklike instelling. Vandag fokus ons op die doop en vra waar hierdie gebruik vandaan kom, of dit ook, soos die Nagmaal, ’n kerklike instelling is, hoe die doop toegepas word en wie gedoop moet word.

. . .

Die betekenis van die doop

Ooreenkomstig die Joodse oorspronge daarvan, is “die doop ’n identifisering of assosiëring met ’n persoon of boodskap of groep”. Die sleutelwoord is “identifisering”. Byvoorbeeld, Jode wat deur Johannes die Doper gedoop is, het nie alleenlik met Johannes se boodskap geïdentifiseer nie, maar ook hulself daartoe verbind om die Messias (Christus) aan te neem sodra Johannes die Doper aangetoon het wie die Messias was (vgl. Johannes 1:36-37). Weer eens, die doop het te doen met identifisering.

Die doop kwalifiseer as ’n instelling

Die doop voldoen aan al drie vereistes van ’n instelling. Dit was ’n opdrag van die Here Jesus (Matthéüs 28:18-20), dit is in die boek Handelinge onderhou (Handelinge 2:38, 41; 8:12-13, 36, 38; 9:18; 10:47-48; 16:15, 33; 18:8; 19:5), en dit word verder toegelig in die Sendbriewe (Romeine 6:3-5; Kolossense 2:11-12).

Voorskrifte vir die doop

Christus het dissipels opdrag gegee om gedoop te word in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees (Matthéüs 28:18-20). Hierdie voorskrif onderskei gelowige doop van ander soorte doop wat in daardie dae in Israel voorgekom het, soos die doop van bekeerlinge tot die Judaïsme of die doop van Johannes. Soms word groot klem gelê op verwysings na die doop in die boek Handelinge waar net Jesus se naam genoem word, maar ’n mens moet die Joodse konteks verstaan waarin die Christelike doop ontstaan het. Weer eens, die doop was ’n Joodse praktyk lank voordat dit ’n Kerkpraktyk geword het. Wanneer die Nuwe Testament praat van gedoop word in die naam van Christus, word die woord “slegs” nooit gebruik nie. Dit noem Christus of Jesus en nie die Vader of die Heilige Gees nie, eenvoudig omdat dit voldoende was om dit van ander soorte doop te onderskei. Wanneer die Nuwe Testament verklaar, “Doop in die naam van Jesus”, beteken dit net dat die persoon gedoop was in die doop van gelowiges, nie in die doop van Johannes, die doop van bekeerlinge tot die Judaïsme, of enige ander soort doop nie. Wanneer ’n gelowige vandag gedoop word, moet hy of sy gedoop word in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees (Matthéüs 28:18-20).

Gebruik in die Nuwe Testament

Vyf Griekse woorde help om die betekenis en metode van die doop te definieer: Die woord bapto beteken “om in te dompel” of om “nat te maak” en in die Nuwe Testament word dit drie keer gebruik. Baptizo beteken “om te doop” en word agt keer gebruik, baptisteis beteken “doper” (4 keer gebruik), baptisma beteken “doop” (22 keer gebruik) en baptismos beteken “doop” of “was” of “wassing” (9 keer gebruik).

Die doopmetode

Moet iemand met water besprinkel (of begiet) word of in water onderdompel word? Hierdie kontroversiële onderwerp word breedvoerig deur dr. Arnold Fruchtenbaum bespreek in sy artikel oor die doop. Die primêre betekenis van die woord doop is altyd “om in of onder te dompel”. In die konteks van die doop, praat die Bybel van iemand wat gedoop word as iemand wat in die water ingaan en dan uit die water opkom, stellings wat duidelik algehele onderdompeling impliseer (Matthéüs 3:16; Handelinge 8:38-39). Nie alleenlik is dit hoe Johannes die Doper gedoop het nie, maar dit is ook hoe Jesus gedoop is. Elke Nuwe-Testamentiese geval van doop rugsteun onderdompeling. Die regte, Bybelse doopmetode is dus ongetwyfeld onderdompeling. Enige ander manier of metode, soos besprinkeling of begieting, is nie Bybelse doop nie. Mense wat net besprinkel is of oor wie water uitgegiet is, het nog nie ware Bybelse doop ondergaan nie.

Wie moet gedoop word?

As ons die Bybelse voorbeeld volg, moet mense wat tot geloof in Jesus Christus gekom het, gedoop word. Omdat hierdie ’n kontroversiële saak is, en daar dalk baie vrae mag wees wat ons nie in hierdie kort opsomming kan aanspreek nie, verwys ons jou na die volledige artikel. Alleenlik nadat iemand tot geloof in Jesus Christus gekom het, moet hierdie nuwe gelowige gedoop word. Die duidelike leer van die Bybel is dat slegs iemand wat glo, vir die doop kwalifiseer. Byvoorbeeld, Handelinge 2:38 gee die opdrag: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word”. Handelinge 2:41 verklaar dat slegs hulle wat Petrus se woord aangeneem het, gedoop is. Handelinge 8:12 verklaar dat dié wat geglo het, toe gedoop is. Nog baie voorbeelde kan genoem word (Handelinge 9:18; 10:44-48; 16:30-34; 18:8). ’n Mens moet eers glo voordat jy kwalifiseer om gedoop te word.

Daar word dikwels aanvaar dat babas gedoop moet word omdat babas besny was. Hierdie siening is egter verkeerd. Eerstens, die twispunt oor die nodigheid van besnydenis is nie in Handelinge 15 deur die Raad in Jerusalem opgelos deur te verklaar dat die doop die besnydenis vervang nie. Hulle het dit opgelos deur uit te wys dat nie-Jode nie onder die Wet van Moses staan nie. Tweedens, die teenbeeld van die besnydenis van die vlees is nie die doop nie, dit is die besnydenis van die hart. Derdens, besnydenis moet ooreenkomstig die Abrahamitiese verbond slegs plaasvind ten opsigte van manlike Joodse babas wat 8 dae oud is. As die doop werklik die teenbeeld van die besnydenis sou wees, moet slegs Joodse babaseuntjies gedoop word.

Al dié dinge — onderdompeling, geloof, dissipelskap — sluit babas uit omdat hulle nog nie kan glo nie. Die doop toon die geloof en gehoorsaamheid van die persoon wat gedoop word. Dit is wat die Here Jesus Christus sy dissipels beveel het om te doen (Matthéüs 28:18-20). As jy ’n gelowige in Jesus Christus is wat nog nooit hierdie opdrag om gedoop te word gehoorsaam het nie, moenie langer versuim nie. ’n Gelowige wat ’n dissipel van Jesus Christus wil word moet gedoop word omdat die Here Jesus Christus jou beveel om dit te doen – en vanselfsprekend wil jy Hom gehoorsaam wees (Matthéüs 28:18-20).

———————————

As jy belangstel in meer inligting oor die doop, oorweeg gerus om die artikel, Die instelling van die doop deur dr. Arnold Fruchtenbaum te lees, wat as bron vir hierdie blog gebruik is.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']