Die Eersteling en die oes

Die Nuwe Testament gebruik simboliese illustrasies om die universele Kerk se verhouding met Jesus Christus uit te beeld. Ons het reeds na verskeie van hierdie simboliese illustrasies gekyk. Vandag bespreek ons die illustrasie van Christus se verhouding met sy universele Kerk as die Eersteling en die oes.

. . .

Die tipologiese vervulling van die feeste

Wanneer daar gekyk word na die simboliese illustrasie van Christus se verhouding met sy universele Kerk as die Eersteling en die oes, moet ons kennis neem daarvan dat die universele Kerk deel is van hierdie oes. Hierdie illustrasie wys heen na die tipologiese en profetiese belangrikheid van die feeste van die HERE (Levitikus 23; Numeri 28-29; Deuteronomium 16; vgl. Eksodus 12). In die tyd van die kruis tot en met sy weerkoms aarde toe, in hierdie tyd, vervul Jesus Christus die feeste van die HERE tipologies, níé op grond van die Mosaïese Verbond en ʼn priester-orde volgens Aäron níé, maar as Hoëpriester volgens die orde van Melgisédek in terme van die Nuwe Verbond (Scholtz 2015:3).

Die fees van eerstelinge

Christus is op Pasga gekruisig, sy sondelose (ongesuurde) liggaam is begrawe maar Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan, die dag van eerstelinge. “Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Korintiërs 15:20). Op die eerste oggend ná die Sabbat (dus die eerste dag van die week) volgens die fees van Eerstelinge, word een gerf van die eerstelinge van die garsoes voor die aangesig van die HERE beweeg (Levitikus 23:12-14; Matteus 28:1; Johannes 20:17). God word gedank vir sy voorsiening (vgl. Spreuke 3:9-10) en as die eerstelingsgerf vir God welgevallig is — en Jesus is vir God welgevallig! — so ook is die res van die oes vir die HERE welgevallig (Fuchs 1985:31; Edersheim 1994:203-205).

Die lente-oes

Die eerstelinge van Pasga tot die dag van Pinkster word gesamentlik na verwys as die lente-oes (Fruchtenbaum 2005a:12). Christus is die Eersteling van almal wat uit die dood opgewek gaan word en wat verheerlikte liggame gaan ontvang. Nie net het Christus uit die dood opgestaan nie, maar Hy het ook reeds sy verheerlikte liggaam ontvang. Ander eerstelinge van die lente-oes word byvoorbeeld in Matteus 27:52-53 genoem, maar hulle en alle ander Ou-Testamentiese gelowiges het nog nie hul verheerlikte liggame ontvang nie.

Waar pas die universele Kerk in die oes in?

Die Kerk-era kan as die somer-oes van graan (of koring) beskryf word (Fruchtenbaum 2005a:12; vgl. Johannes 4:35). Jakobus 1:18 beskryf gelowiges in die Kerk-era as “eerstelinge van sy skepsele”. Die somer-oes begin op Pinkster en duur tot en met die eerste dag van die sewende maand, die dag waarop beide die Fees van Trompette en ook ʼn Nuwemaansfees gevier moes word.

Ná die someroes ingesamel is volg die herfs-oes. Wat tyd betref strek die herfs-oes van die dag ná die fees van Trompette, deur die Dag van Versoening en tot en met die Fees van Tabernakels (Openbaring 14:5; vgl. 7:14). Tipologies beskou word die herfs-oes ingesamel net ná die tipologiese vervulling van die Dag van Versoening met die nasie Israel en net vóór die tipologiese vervulling van die fees van Tabernakels.

Die Kerk-era word dus tipologies deur die somer-oes voorgestel (van Pinkster tot die wegraping). Gelowiges verskil oor presies wanneer die wegraping gaan plaasvind, maar dát dit gaan plaasvind is gewis en seker (1 Korintiërs 15:50-54; 1 Thessalonisense 4:13-18). Wanneer dit plaasvind sal dit in ʼn sekere volgorde plaasvind: “Die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thessalonisense 4:16). Dit verwys na al die Kerk-era gelowiges wat alreeds fisies gesterf het — let op dat hulle “in Christus” gesterf het — alle gelowiges sedert Pinkster word in die liggaam van Christus gedoop die oomblik wanneer hulle tot wedergeboorte kom. Wat gebeur met Kerk-era gelowiges wat fisies nog lewe wanneer die wegraping plaasvind? “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle [die wat in Christus gesterf het, wat pas tevore hul verheerlikte liggame ontvang het] in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonisense 4:17; vgl. 1 Korintiërs 15:50-54).

Die Here van die oes

Christus het gesterf en daarmee het Hy die straf van my en jou sonde op Hom geneem — al het Jesus self géén sonde gehad nie. Maar die dood kon Christus nie hou nie. Jesus het uit die dood opgestaan. Ná sy opstanding het Christus Jesus al die mag in die hemel en op aarde ontvang en Hy verrig die funksie as die Here van die oes (vgl. Matteus 9:38; 28:18). Aangesien Christus uit die dood opgestaan het — die Eersteling van die wat ontslaap het — sal gelowiges ook uit die dood opstaan en verheerlikte liggame ontvang.

Aan Christus al die eer en heerlikheid, groot werke het Hy gedoen, groot werke doen Hy nou en groot werke gaan Hy nog doen!

Ons volgende artikel in hierdie reeks oor die simboliese illustrasies van die universele Kerk sal fokus op die Herder en sy kudde.

———————————

As jy belangstel om meer oor die universele Kerk te lees, oorweeg gerus om die artikel, Die universele Kerk deur dr. Arnold Fruchtenbaum te lees, wat as bron vir hierdie blog gebruik is.

 

Ander bronne wat ook gebruik is, is The Temple: Its Ministry and Service, Updated Version deur A. Edersheim wat in 1994 deur Hendrickson Publishers, Peabody uitgegee is, asook The Feasts of Israel, A Messianic Bible Study from Ariel Ministries, deur A.G. Fruchtenbaum, uitgegee deur Ariel Ministries in 2005 in San Antonio, en Israel’s Holy Days in Type and Prophecy deur D. Fuchs wat in 1985 deur Loizeauz Brothers, Neptune uitgegee is, en Matthew 13 and the Feasts of the LORD deur J.J. Scholtz wat by ‘In die Skriflig’ verskyn het.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']