Die Evangelie volgens Johannes

Die vierde Evangelie is geskryf “dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam” (20:31). Hierdie boek is vir gelowiges én ongelowiges geskryf, vir babas in Christus én volwasse Christene. Johannes is maklik om te lees, maar die diepte hiervan kan nie gepeil word nie, dalk omdat Johannes fokus op Christus se goddelikheid (1:1-4; 20:31).

Skrywer

Miskien as gevolg van ʼn lae siening van die Skrif twyfel party mense dat die apostel Johannes, die seun van Sebedéüs, hierdie Evangelie geskryf het. Dié twyfelaars is verkeerd. Die skrywer van hierdie Evangelie was een van die drie dissipels (Petrus, Jakobus en Johannes) wat die heerlikheid van die Here op die Berg van Verheerliking aanskou het (1:14). Die skrywer van “hierdie dinge” (21:24) is die dissipel vir wie Jesus liefgehad het (21:7; vgl. 13:23-24; 19:26, 35), nie Petrus nie (21:20-24) en ook nie die apostel Jakobus wat ʼn marteldood in ongeveer 44 n.C. gesterf het nie (Handelinge 12:2). Die apostel Johannes het hierdie Evangelie geskryf (Blum 1983:267). Polukarpus, Irenaeus, Theofilus van Antiochië, Klemens van Alexandrië, Tertullianus, Tatianus en Eusebius bevestig almal dat die apostel Johannes hierdie Evangelie geskryf het (Tenney 1985:189; Constable 2017:1-2).

Datum

Die Evangelie van Johannes is ná die Sinoptiese Evangelies geskryf, want Johannes aanvaar dat die leser weet dat “hierdie geslag” in Israel hulle Messias verwerp het (1:10; vgl. Matteus 12:23-45) en dat die vestiging van die Messiaanse koninkryk uitgestel is. Johannes aanvaar voorts die leser weet dat Maria vir Jesus met olie gesalf het (11:1-2). Johannes 21:18, 23 vereis dat ʼn afsienbare tyd verloop het voordat hierdie Evangelie geïnspireer is. In ooreenstemming met Tenney (1985:192; vgl. Blum 1983:268), die Evangelie van Johannes is waarskynlik in Klein-Asië geskryf, dalk in Efese, teen die einde van die 1ste eeu toe die Kerk ʼn mate van volwassenheid bereik het. Hierdie Evangelie is waarskynlik geskryf tussen 85 en 95 n.C.

Inhoud en temas

Die sleutelwoord in Johannes kom 98 keer voor, naamlik die werkwoord “glo”. Johannes wou sy lesers aanmoedig om ʼn aktiewe en lewendige geloofslewe in die Here Jesus te hê. Ander woorde wat dikwels in hierdie Evangelie voorkom is: tekens, lewe, duisternis vs. lig, getuie, liefde, die Trooster (Heilige Gees), lig, Woord, verheerlik, waar, en werklikheid (vgl. Tenney 1985:192-193; Constable 2017:4).

As ons nie die Evangelie van Johannes gehad het nie, wat sou ons gemis het? Ongeveer 93% van hierdie Evangelie is uniek (Blum 1983:269). Dit gee ons in chiastiese vorm ʼn wonderlike inleiding (1:1-18), sewe “Ek is” uitsprake van Christus, sewe wonderwerk-tekens, sewe getuies dat Christus die Seun van God is, verskeie privaatgesprekke van Jesus (sien hoofstuk 4), die diskoers in die bo-kamer (hoofstukke 13-17), die verhouding tussen God die Vader en God die Seun, verwysings na die Joodse feeste, na die “wêreld” (kosmos) — en soveel meer.

Die sewe wonderwerk-tekens van Jesus in die Evangelie van Johannes is: Water wat in wyn verander (2:1-11); genesing van ʼn koninklike beampte se seun (4:46-54); genesing van ʼn lam man by die Bad van Betésda (5:1-18); vermeerdering van brood vir 5 000 (6:5-14); Jesus loop op water (6:16-21); genesing van ʼn man wat blind gebore is (9:1-7); en die opwekking van Lasarus uit die dooies terug na die lewe (11:1-45).

Die sewe “Ek is” uitsprake van die Seun van God is: Ek is die Brood van die Lewe (6:35); Ek is die Lig van die wêreld (8:12); Ek is die Deur van die skape (10:7, 9); Ek is die Goeie Herder (10:11, 14); Ek is die Opstanding en die Lewe (11:25); Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe (14:6); en Ek is die ware Wynstok (15:1, 5). Sewe persone getuig dat Jesus die Seun van God is: Johannes die Doper (1:34); Natánael (1:49); Petrus (6:69); Jesus (10:36); Martha (11:27); Thomas (20:28); en Johannes (21:31).

Struktuur

Blum (1983:270-271) asook Bailey & Constable (1999:156) stel hierdie indeling voor: Inleiding (1:1-18); Aanbieding van die Seun van God aan Israel (1:19-12:50); Jesus se voorbereiding van sy dissipels (13:1-17:26); Jesus se kruisiging en opstanding (18:1-20:31); en die Slot (21:1-25).

Slot

In lyn met die verklaarde doel van hierdie Evangelie (20:31), bevestig die sewe wonderwerk-tekens, die sewe “Ek is” uitsprake en die sewe getuies alles saam dat Christus die Seun van God is. Dit lei óf tot geloof in Christus óf tot ʼn verharding van die hart. Daar is net een manier na God die Vader toe en dit is deur die Seun (14:6). En dit is die Seun van God wat hierdie bekende woorde sê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”.

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament survey, Thomas Nelson, Nashville.

Constable, T.L. 2017, Notes on John, 2017 edition, Sonic Light.

Blum, E.A., 1983, ‘John’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 267-348, David C Cook, Colorado Springs.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']