Die Evangelie volgens Lukas

Lukas het die Evangelie van Lukas en die boek Handelinge geskryf. Beide hierdie boeke is aan “Theófilus” gerig, ʼn regte persoon wie se naam in die Grieks “liefhebber van God” beteken (Lukas 1:3-4; Handelinge 1:1-2). Die langste boek in die Nuwe Testament is stelselmatig en “in volgorde” geskryf (Lukas 1:1, 3; vgl. Tenney 1985:173-175), so verwag dat Lukas sy materiaal chronologies rangskik en met historiese besonderhede verbind (1:5; 2:1-3; 3:1-2). Lukas is die geliefde geneesheer wat soms met Paul gereis het (Kolossense 4:14). Dit verduidelik die “ons”-verwysings in Handelinge (16:10-40; 20:5-21, ens).

Datum

Aangesien gelowiges in Lukas 21:12-24 gewaarsku word om te vlug as hulle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moes die boek vóór 70 n.C. geskryf gewees het. Verder, die Evangelie van Lukas is voor die Boek van Handelinge geskryf (vgl. Handelinge 1:1). Aangesien Handelinge eindig met Paulus se skielike gevangenis in Rome, moes dit ook vóór daardie tyd geskryf gewees het (Tenney 1985:179). Hierdie Evangelie kan in die jare 58-62 n.C. gedateer word.

Struktuur

Martin (1983:201-202) verskaf die volgende uiteensetting van Lukas: Die inleiding en doel van Lukas (1:1-4); Die geboorte en grootword van Johannes en Jesus (1:5-2:52); Die voorbereiding vir Jesus se bediening (3:1-4:13); Jesus se bediening in Galilea (4:14-9:50); Jesus se reis na Jerusalem (9:51-19:27); Jesus se bediening in Jerusalem (19:28-21:38); Die dood, begrafnis en opstanding van Jesus (hoofstukke 22-24).

Doel

Waarom is hierdie Evangelie geskryf? Lukas skryf “sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is” (Handelinge 1:4). Theófilus — asook alle liefhebbers van God ná hom — is verseker van wat waarlik met Jesus gebeur het.

Inhoud en sentrale boodskap

Matteus kan as die Evangelie van die Koning en die koninkryk beskryf word; Markus bied die Evangelie van die Kneg van die HERE aan; en die Evangelie van Johannes fokus op die Seun van God. Die Evangelie van Lukas stel Jesus Christus voor as die volmaakte Mens.

Ons maak graag gebruik van Constable (2017:10-16) se opsomming van die sentrale boodskap van Lukas. Constable (2017:10) beklemtoon dat Lukas fokus op Jesus as Verlosser en die verlossing wat Hy voorsien. Wat Jesus as Verlosser betref, word Jesus voorgestel as (1) Die eersgeborene van ʼn nuwe mensdom; (2) Die ouer broer van ʼn nuwe familie; en (3) Die Verlosser van ʼn verlore mensdom.

Deur Jesus se geslagsregister na Adam te herlei, wys Lukas dat Jesus waarlik mens is (3:23-38). In teenstelling met die eerste Adam, het Jesus nooit enige dade van sonde gepleeg nie, selfs al is hy versoek (4:1-13). Jesus het nie die eerste Adam se sondige natuur geërf nie en Adam se sonde is Christus ook nie toegereken nie, want Jesus in sy mensheid se bevrugting in die maagd Maria is deur die God die Heilige Gees (1:35). Jesus is dus die eersgeborene van ʼn nuwe mensdom.

Lukas bied Jesus ook aan as die ouer broer van ʼn nuwe familie (Constable 2015:12). Die Tweede Persoon in die Drie-eenheid is van ewigheid af God, maar op ʼn sekere tydstip het Christus menslikheid aangeneem. Ons weet dat in hierdie wonderlike Persoon daar twee nature is, die goddelike en die menslike natuur. Lukas beklemtoon dat Jesus in sy mensheid net soos ons is: ten volle mens, ʼn ware man maar sonder sonde. Jesus is aantreklik want hy het soveel deernis met mense. In teenstelling met die Griekse pantheon van bo-menslike maar onwerklike Griekse ‘gode’, is Jesus ʼn mens waarmee ons kan identifiseer — al is Jesus sonder sonde. Lukas beklemtoon dus Christus se geboorte, sy groei as ʼn kind na volwassenheid (2:40, 41-52), sy gebedslewe en sy afhanklikheid van God die Vader. Ons identifiseer met Jesus, maar Jesus identifiseer nog meer met ons — soos gesien in sy besorgheid en empatie vir die gebrokenes van hart, die siekes, die wat mishandel is en die wat treur. Jesus identifiseer met hulle wat die samelewing wegstoot, byvoorbeeld vroue, kinders, of uitgeworpenes — sondaars net soos elkeen van ons.

Jesus word ook in Lukas as die Verlosser van ʼn verlore mensdom aangebied (Constable 2017:13). Jesus is nie net bereid en in staat om ons te red nie, maar ʼn naasbestaande omdat hy ʼn man geword het. Die saligheid is uit die Jode maar hierdie perfekte Seun van die Mens bied verlossing nie net vir Jode aan nie, maar ook vir nie-Jode: “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (19:10). Lukas praat meer as enige ander Nuwe Testamentiese boek van verlossing (1:69, 71, 77; 19:9) en die vreugde wat met verlossing saamgaan (die verlore seun/skaap/muntstuk – hoofstuk 15). Lukas leer wat dit beteken om deel te wees van die nuwe verloste mensdom wat ʼn verhouding met God deur Christus het.

Praktiese toepassing

Hoe moet hierdie nuwe, verloste mensdom dan nou leef? Lukas fokus op die praktiese kant van die lewe (byvoorbeeld geldsake: Lukas 12, 16) en beklemtoon talle waarhede via 20 unieke gelykenisse. Die nuwe verloste mensdom moet Jesus as sy dissipels volg (bv. 14:26-35). Ons volstaan met hierdie aanhaling van Constable (2017:15-16; eie vertaling):

Vir die Kerk sê Lukas: “Wees getuies!” “En julle is getuies van hierdie dinge” (24:48). Ons moet só wees gegewe die verhouding wat ons nou met die Seun van die Mens geniet. Ons behoort getuies te wees vir drie redes: Ons het verlossing ervaar, ons geniet Sy gemeenskap en ons het ‘n toekoms as lede van ‘n nuwe mensdom. Ons moet ook Sy getuies wees in ‘n wêreld waar baie mense verlore is. Jesus het immers gekom om te soek en te red wat verlore is. Ons verhouding met Jesus vereis dat ons deelneem in Sy missie om die wat verlore is te soek en te red. Ons kan deelneem vir drie redes: Hy het ons lewens verander, Hy sal mense se oë met Sy Woord oopmaak en Hy het ons met Sy Gees bemagtig (vgl. hfsk. 24). Vir die wêreld sê Lukas: “Jy is verlore, maar die Seun van die Mens het gekom om te soek en te red wat verlore was”. ʼn Verlosser het gekom. ʼn Broer is beskikbaar. ʼn Nuwe lewe is moontlik. Kyk, die Man! Hy verstaan jou, maar Hy is anders as jy. En Hy sal jou aanneem.

————————-

Bronne:

Constable, T.L. 2017, Notes on Luke, 2017 edition, Sonic Light.

Martin, J.A., 1983, ‘Luke’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 199-265, David C Cook, Colorado Springs.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']