Die Evangelie volgens Markus

Die Evangelie van Markus beeld Jesus as die lydende maar kragtige Dienaar van die HERE uit (Bailey & Constable 1999:67). Miskien toepaslik vir ʼn dienaar, lys Markus geen geslagsregister nie. Christus vervul die lydende dienaarliedere van Jesaja (42:1-9; 49:1-13; 50:4-11; 52:13-53:12) en word aangebied as ʼn Persoon van aksie. 42 keer sê Markus dat Jesus “dadelik” (euthus) opgetree het — soos wat ʼn dienaar moet. 18 wonderwerke van Jesus is aangeteken — soos dit die Dienaar van die Here betaam. Die gesag van hierdie Dienaar is te siene in sy mag oor siekte en demone (1:23-26, 30-31; ens), die natuur (4:37-41; 6:35-44, ens) en oor die dood (5:22-24, 38-42). Miskien toepaslik vir ʼn dienaar, Markus wys Jesus se emosies (vgl. 3:5; 7:34; 10:21). Hierdie verhaal, die kortste van die Evangelies, beweeg vinnig vorentoe.

Skrywer

Goeie eksterne bewyse dui aan dat Markus, ʼn handlanger van die apostel Petrus, hierdie Evangelie geskryf het. Baie van die bekende vroeë Christene (Papias, Justinus die Martelaar, Irenaeus, Tertullianus, Klemens van Alexandrië, ens) getuig dat Markus hierdie Evangelie geskryf het (Grassmick 1983:95). Baie glo dit is dieselfde Markus waarna 10 keer in die Nuwe Testament verwys word (Handelinge 12:12, 25; Kolossense 4:10; ensovoorts). Markus blyk ʼn Joodse Christen te wees wat in ʼn groot huis in Jerusalem saam met Maria, sy welgestelde weduwee-moeder, gewoon het (vgl. Hiebert 1994:4-8; Bailey & Constable 1999:65). Die gedetailleerde beskrywing van die “kamer” vir die laaste Pasgamaal (14:12-16) kan daarop dui dat Markus oor sy eie huis geskryf het (vgl. Handelinge 12:12; Bailey & Constable 1999:65). Die enigste rekord van die jong man wat uit Getsemane gevlug het (14:51-52) kan indirek na die skrywer self verwys (vgl. Tenney 1985:163). Petrus noem Markus “my seun” (1 Petrus 5:13) en dit kan aantoon dat Markus nie net ʼn Christen onder Petrus se invloed geword het nie (Grassmick 1983:96), maar ook Petrus se ooggetuie-waarnemings kon opgeskryf het — en dit kan verklaar waarom hierdie Evangelie sulke duidelik-beskrywende besonderhede van Jesus se lewe bevat. Interne bewyse dui dus ook tentatief aan dat Markus die skrywer is.

Datum

Die Evangelie van Markus kon nie ná 70 n.C. geskryf gewees het nie, omdat die profetiese rede Jerusalem en die tempel as synde nog staande uitbeeld (13:2, 14-23). Baie kies vir ʼn datum óf tussen 64-68 n.C. (Tenney 1985:161-164; Bailey & Constable 1999:66), vroeër (Cole 2008:24), óf dalk so vroeg as die einde van die 50’s n.C. (Grassmick 1983:99).

Doel

Die Evangelie van Markus se doel kan wees om die oënskynlike paradoks te verduidelik hoe “Jesus Christus, die Seun van God” (1:1) met gesag as die Dienaar van die HERE kan dien en tog nie gekom het “om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ʼn losprys vir baie” (10:45). Tereg noem Santos (1997:452, 460; eie vertaling) dit die paradoks van gesag en diensbaarheid in Markus se Evangelie: “Die paradoks beklemtoon die verhouding tussen twee belangrike motiewe in Markus: die Christologiese motief van gesag en die dissipelskapsmotief van diensbaarheid — motiewe wat ingewikkeld in Markus verweefd is”. Dit is te verstane dat “hierdie kombinasie van groot gesag en volslae vernedering in Jesus se lewe verwardheid by selfs sy naaste volgelinge kon laat ontstaan het” (Lowery 1994:75). Christus openbaar sy ware identiteit aan diegene wat Sy gesag erken en wat Hom in geloof aanvaar (Lowery 1994:70; Cole 2008:87).

Struktuur

Dit is moeilik om die struktuur van hierdie aksie-belaaide Evangelie te bepaal. Bailey & Constable (1999:68) identifiseer drie hoofdele: Die Dienaar vir die skares (1:1-8:26); Die Dienaar van die dissipels (8:27-10:52); en Die offer vir die wêreld (11:1-16:20). Hiebert (1994:14-18) se uiteensetting is meer gedetailleerd: Die koms van die Dienaar (1:1-13); Die bediening van die Dienaar (1:14-13:37); Die self-opoffering van die Dienaar (14:1-15:47); en Die opstanding [en hemelvaart] van die Dienaar (16:1-20).

Sekerlik kan ʼn oorgangsfase in Markus 8 bespeur word (Cole 2008:84). In ooreenstemming met Santos (1997:459, effens gewysig), kan die chiastiese struktuur van Markus 8:22-10:52 as belangrik vir hierdie Evangelie beskou word:

A Genesing van ʼn blinde man (8:22-26)
    B Diskoers (8:27-38) – insluitende ʼn paradoks in 8:35
        C Uitbeeldinge van Jesus se gesag (9:1-29)
    B’ Diskoers (9:30-50) – insluitende ʼn paradoks in 9:35
        C’ Uitbeeldinge van teenstand/wanbegrip/klein geloof (10:1-31)
    B’’ Diskoers (10:32-45) – insluitende ʼn paradoks in 10:45
A’ Genesing van ʼn blinde man (10:46-52)

Slot en toepassing

Hierdie struktuur beklemtoon nie net die gesag van die Dienaar van die HERE nie, maar ook die probleme wat Jesus gehad het om sy dissipels te leer dat lyding voor verheerliking kom. Lowery (1994:78-85) wys daarop dat Jesus se dissipels geneig was om nie te verstaan nie (4:13; 6:50-52; 7:18; 8:33), hard van hart (6:52; 14:32- 38) en soms ook swak in die geloof was (4:40; 8:26; 9:19). Santos (2000:15) sê Jesus het drie paradokse gebruik het om sy dissipels te leer: Eerstens, “elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red” (8:35). Tweedens, “as iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees” (9:35). Derdens, “elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees” (10:43-44). Só is die dienaar-hart van Jesus Christus, die Seun van God wat die Evangelie van Markus duidelik as die lydende maar kragtige Dienaar van die Here uitbeeld (1:1; 10:45). As diensknegte van Jesus Christus moet ons harte soos dié van ons Here wees.

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament survey, Thomas Nelson, Nashville.

Cole, R.A., 1989, The Gospel according to Mark: An introduction and commentary (Tyndale New Testament Commentaries, volume 2), IVP Academic, Downers Grove/Nottingham.

Grassmick, J.D., 1983, ‘Mark’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 95-197, David C Cook, Colorado Springs.

Hiebert, D.E., 1994, The Gospel of Mark: An expositional commentary, Bob Jones University Press, Greenville.

Lowery, D.K., 1994, ‘A theology of Mark’, in R.B. Zuck (ed.), A Biblical theology of the New Testament, pp. 65-86, Moody Publishers, Chicago.

Santos, N.F., 1997, ‘The paradox of authority and servanthood in the Gospel of Mark’, Bibliotheca Sacra 154(616), 452-460.

Santos, N.F., 2000, ‘Jesus’ paradoxical teaching in Mark 8:35; 9:35; and 10:43-44’, Bibliotheca Sacra 157(625), 15-25.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']