Die Evangelie volgens Matteus

Die Evangelie van Matteus is waarskynlik een van die mees gelese boeke in die wêreld. Die naam ‘Matteus’ beteken ‘geskenk van God’ of ook ‘betroubaar’ — en sekerlik is hierdie wonderlike Evangelie ʼn geskenk van die betroubare God aan ons! Hierdie Evangelie gaan oor Jesus Christus, maar waarop fokus Matteus? Waarom en wanneer is Matteus geskryf en wat is kenmerkend van hierdie Evangelie?

Doel

Toussaint (1980:18; eie vertaling) is korrek as hy sê dat Matteus het ʼn ‘tweeledige doel met die skryf van sy Evangelie. Hierdie Evangelie is primêr neergepen om te bewys dat Jesus die Messias is, maar Matteus het ook geskryf om God se koninkryksprogram aan sy lesers te verduidelik. Die een doel is direk verbind aan die ander. Nogtans is elke doelwit onderskeibaar.’ Matteus wys dat Jesus inderdaad die Messiaanse, Joodse, God-mens Verlosser-Koning is. Die Koning het sy Messiaanse aansprake op veelvuldige wyse deur woord en daad bevestig en daardeur alle profesieë met betrekking tot die Messias se eerste koms vervul. Gegewe baie Ou-Testamentiese aanhalings, dien Matteus as die brug van die Ou na die Nuwe Testament.

Wat die tweede primêre doelwit van Matteus betref — om God se koninkryksprogram aan sy lesers te verduidelik — selfs as jy vandag met Jode gesels wat nie glo dat Jesus die Messias is nie, vra hulle: ‘As Jesus regtig die Messias is, waar is die Messiaanse koninkryk?’ Die antwoord is dat die Joodse generasie wat geleef het toe Jesus langs (en op!) die See van Galilea geloop het, Jesus as Israel se Messias en Seun van Dawid verwerp het. Daardeur het ‘hierdie geslag’ die onvergeeflike sonde gepleeg (Matteus 12:23-32). Indiwiduele Jode was (en word steeds!) geroep om geloof in Jesus Christus te beoefen – en party het baie duidelik hierop gereageer. Maar aangesien ‘hierdie geslag’ in Israel as ʼn kollektiewe groep die Messias-Koning verwerp het, is die oprigting van die beloofde Messiaanse koninkryk nie afgestel nie, maar uitgestel tot Jesus se wederkoms.

Koninkryksprogram

Geen van hierdie verwikkelinge het God op enige wyse ‘verras’ nie, so Matteus gaan voort om God se koninkryksprogram verder uit te lê. Wat basies tussen Jesus se twee komste gaan gebeur, word profeties in Matteus 13 deur die verborgenhede van die koninkryk van die hemele verduidelik. Hierdie gelykenisse, byvoorbeeld die gelykenisse van die onkruid in die saailand en die gelykenis van die visnet, verduidelik onder andere dat die Verdrukkingsperiode waarna Johannes die Doper verwys het (Matteus 3:7; vgl. 24:29-30) ook uitgestel is tot net voor Jesus se wederkoms (sien Scholtz vir artikels oor Matteus 13). In kort, Christus sal met sy wederkoms die Messiaanse koninkryk ooreenkomstig die Dawidiese Verbond oprig. Tot dan, kragtens die Nuwe Verbond vanaf Christus se dood, begrafnis en opstanding, word meer en meer mense gered wat in die Messiaanse koninkryk sal wees wanneer Christus dit met sy wederkoms gaan oprig.

Kerk

Gedurende die grootste deel van die tyd tussen Christus se eerste en tweede koms, bou Jesus sy Kerk (Matteus 16:18). Dissipels moet die Groot Opdrag (28:18-20) gehoorsaam en die evangelie verkondig wat fokus op die teken van die profeet Jona, ʼn skaars-bedekte verwysing na Jesus se dood, begrafnis en opstanding. Die Groot Opdrag sal waarskynlik voortduur tot omtrent die Verdrukkingsperiode. Tydens die Verdrukkingsperiode sal Joodse evangeliste weer die evangelie van die koninkryk verkondig — hierdie keer tot ʼn getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde van hierdie bedeling kom (vgl. Matteus 24:14; Scholtz 2014). Dan sal die Koning na die aarde terugkeer, die Messiaanse koninkryk oprig en Hy sal vanaf Jerusalem oor Israel en al die nasies vir 1 000 jaar lank regeer. Aan die einde van die millennium sal die Messiaanse koninkryk met die Ewige orde saamsmelt en dus vir ewig voortduur.

Skrywer

Eksterne bewyse ondersteun die siening dat die apostel Matteus die Evangelie wat sy naam dra geskryf het, soos byvoorbeeld vroeë Christene wat hieroor getuig het soos Klemens van Alexandrië, Polukarpus, Justinus die Martelaar, Tertullianus en Originus (Barbieri 1983:15). Interne bewys kan moontlik daarop dui dat Matteus die tollenaar hierdie Evangelie geskryf het (Matteus 10:3; vgl. Markus 3:18; Lukas 6:15 – sien ook Tenney 1985:149; Bailey & Constable 1999:1).

Datum

Dit is moeilik om die datum wanneer hierdie Evangelie geskryf is, te bepaal. Dit lyk onwaarskynlik dat dit vóór die verspreiding van Christene in Jerusalem geskryf sou wees (Handelinge 8:4; Tenney 1985:150), maar dit is ook nie later as 70 nC geskryf nie, aangesien Matteus na Jerusalem verwys asof dit steeds staande is (Bailey & Constable 1999:2). Miskien is die Evangelie geskryf tussen 50 nC en 64 nC, maar dit kon selfs vroeër gebeur het, kort na die gebeure wat in Handelinge 8:1 beskryf is.

Struktuur en inhoud

Die chiastiese struktuur van Matteus bevestig die hoof-doelwitte van hierdie Evangelie en kan as volg voorgestel word (vgl. Derickson 2006; Combrink 1983):

A Demonstrasie van Jesus se kwalifikasies as Koning (hfst 1—4)
    B Bergpredikasie: Wie kan Christus se koninkryk binnegaan (hfst 5—7)
        C Wonderwerke en opleiding (hfst 8—9)
            D Opdragte aan die Twaalf: Gesag en boodskap vir Israel (hfst 10)
                E Teenkanting:Hierdie geslag se verwerping v.d. Koning (hfst 11-12)
                    F Gelykenisse/verborgenhede v.d. koninkryk v.d. hemele (hfst 13)
                E’ Teenkanting:Hierdie geslag se verwerping v.d. Koning (hfst 14-17)
            D’ Opdragte aan die Twaalf: Gesag en boodskap vir die Kerk (hfst 18)
        C’ Wonderwerke en opleiding (hfst 19—23)
    B’ Olyfberg predikasie: Wanneer die Dawidiese koninkryk opgerig sal word (hfst 24—25)
A’ Demonstrasie van Jesus se kwalifikasies as Koning (hfst 26—28)

Matteus is bekend vir vyf (en selfs meer) langerige diskoerse. Die inhoud van Matteus se vyf bekendste diskoerse gaan oor hoe ons moet leef in die lig van die komende koninkryk (hoofstukke 5-7), ʼn sendingsdiskoers vir Joodse evangelisasie tydens Jesus se eerste koms en dan weer tydens die Verdrukkingsperiode (10), ʼn paraboliese diskoers (13), die Kerk (18) en eskatologie (24-25). Bailey & Constable (1999:1-64) stel die volgende titel vir Matteus voor: ‘Jesus: Die Koning van die Jode en die nasies’. Dit is daarom nie onverwags om baie verwysings na die “koninkryk van die hemele” of na die “heilige stad” (4:5) of die “stad van die groot koning” (5:35) in Matteus raak te lees nie.

Slot

Wanneer u die Evangelie van die Koning lees, mag u nie net onder die indruk van die ontsettende groot gesag en mag van die Seun van Dawid kom nie, maar ook raaklees dat die nederige en sagmoedige Verlosser elkeen wat vermoeid en belas is uitnooi om rus in Hom te vind (Matteus 11:28). Die Here Jesus Christus kom terug as Koning, so sê steeds vir die dogter van Sion: ‘Kyk, jou Koning!’ (Matteus 21:5; vgl. ook 23:39).

————————-

Bronne gebruik:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Barbieri, L.A, 1983, ‘Matthew’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, pp 13-94, David C Cook, Colorado Springs.

Combrink, H.J.B., 1983, ‘The structure of the Gospel of Matthew as narrative’, Tyndale Bulletin 34, 61-90.

Derickson, G.W., 2006, ‘Matthew’s chiastic structure and its dispensational implications’, Bibliotheca Sacra 163(652), 423-437.

Scholtz, J.J., 2014, ‘The kingdom of heaven and Matthew 10’, In die Skriflig 48(1), Art. #1782, 8 pages.

Scholtz, J.J., 2015, ‘Reading Matthew 13 as a prophetic discourse: The four parables presented in public’, In die Skriflig (49(1), Art. #1870, 7 pages.

Scholtz, J.J., ‘Reading Matthew 13 as a prophetic discourse: The four parables presented in private’, In die Skriflig 49(1), Art. #1887, 7 bladsye.

Scholtz, J.J., ‘Matthew 13 and the feasts of the LORD’, In die Skriflig 49(1), Art. #1900, 8 bladsye.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Toussaint, S.D., 1980, Behold the King: A study of Matthew, Kregel Publications, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']