Die evangelie

Eers die slegte nuus: toe Adam en Eva teen God gerebelleer het, het hulle ʼn sondige natuur gekry wat van een geslag na die ander oorgedra word. Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23a). Die situasie is benard: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom 3:23). Is daar nie dalk ʼn uitsondering nie? Nee, daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie (Ps 14:2-3; Rom 3:10). Wat kan ʼn mens “doen” om self jou saak voor die Here reg te maak? Niks nie. Jy kan nie vertrou op jou goeie dade, ‘n hoë morele lewe, of op jou lys van moets en moenies nie. Elk van hierdie dinge (goeie dade, ʼn morele lewe, ensovoorts) is dalk goed opsigself, maar ʼn mens se werke kan jou nie red nie. In Jesaja 64:6 staan geskrywe: “Ons almal het geword soos iets wat onrein is, soos ʼn besoedelde kledingstuk is al ons geregtighede. Ons almal het verwelk soos blare, en soos die wind het ons sondeskuld ons weggedra” (2020-vertaling). As ʼn mens voor God staan en op jouself vertrou – of dalk op jou ouers of jou kerk-verband – gaan jy nie van jou sondes vrygespreek word nie en sal jy uiteindelik in die poel van vuur beland. Dit is die slegte nuus.

Maar God! God is lief vir mense. Hy het ʼn plan om ons te red. Hierdie verlossingsplan is gesetel in die tweede Persoon van die Drie-eenheid, die Seun van God, wat op ʼn stadium in die geskiedenis die menslike natuur by sy goddelike natuur gevoeg het. Waarom was dit nodig? Want om ʼn Verlosser vir die mensdom te wees, móés Christus die menslike natuur aanneem (Heb 2:14-15). Die wyse waarop die Woord van God mens geword het, was deur die werking van die Heilige Gees wat die lewe in die maagd Maria gewek het (Matt 1:18-23; Luk 1:27-35). Die resultaat van die vleeswording is ʼn Persoon wat beide God en mens is; volkome God en volkome mens. Van toe af en tot in alle ewigheid sal Hy, die God-mens, altyd twee nature hê, naamlik die goddelike en die menslike. Hy is uniek. Jesus het ʼn perfekte lewe gelei, Hy was die Vader volkome gehoorsaam en het geen sonde gepleeg nie.

Wat is die verlossingsplan? Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy wat geen sonde geken het nie, die sonde van alle mense van alle tye op sy skouers gedra (2 Kor 5:21; 1 Joh 2:2). Ook my sonde en ook jou sonde, ons almal s’n. Deur die dood van Jesus Christus aan die kruis het Hy met sy bloed die prys betaal wat elkeen van ons se sonde verdien, naamlik die ewige straf van God (vgl. Rom 5:6-8). Toe is Jesus begrawe, maar Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Enersyds het Christus vir elke mens se sondes gesterf; andersyds gee sy opstandingslewe die krag om ʼn nuwe lewe vir God in Christus Jesus, die Here, te kan lei (vgl. Rom 6:1-11). 1 Korintiërs 15:1-4 beskryf die evangelie: “[E]k maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.”

Die Heilige Gees oortuig die wêreld van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Joh 16:8). Wat is die sonde waarna hier verwys word? Jesus sê: “Omdat hulle in My nie glo nie” (Joh 16:9). Moenie op jouself vertrou nie. Nie ek of jy kan vir ons sonde betaal nie. Ons werke kan ons nie red nie. Maar dié wat op Christus Jesus vertrou, word die Here se geregtigheid toegereken. Jesus sê in Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” As ʼn mens die goeie nuus van Christus nie glo nie, bly die persoon in dieselfde oordeel wat vir Satan en sy gevalle engele voorlê (Joh 16:11).

Wat is die goeie nuus? “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” (Hand 16:30-31). “[D]ie genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom 6:23). Dit is ʼn geskenk van God. Alleen deur God se genade, alleen in Jesus Christus, die Seun van God, red Hy ʼn mens alleen deur die geloof (Ef 2:8-9). Nou het jy al die inligting, maar jy moet self/persoonlik op die Here Jesus Christus vertrou. Nie net het Christus Jesus vir elkeen van ons se sonde gesterf nie, maar Hy het uit die dood opgestaan en Hy belowe die ewige lewe vir elkeen wat in Hom glo. Laat elke mens sy of haar vertroue in Christus alleen plaas, want net Hý het vir jou en my sondes betaal – en net Hý gee die ewige lewe vir dié wat in Hom glo. Daar is geen ander manier om van jou sondes gered te word nie (Hand 4:12; 1 Tim 2:5).

Wanneer ʼn mens jou geloofsvertroue in die Here Jesus Christus geplaas het, verklaar God daardie persoon regverdig; jou geloof in Christus word tot geregtigheid gereken (Rom 4:5; 5:9). Daardie mens is nou geestelik weergebore en het nou ʼn verhouding met God die Vader deur God die Seun, Christus Jesus (Joh 14:6). Die weergebore mens word uit die mag van Satan gevat, uit die mag van die duisternis – en oorgebring in die koninkryk van die Seun van die Vader se liefde (Hand 26:18; Kol 1:12-13). Die weergebore Christen is nou deel van die universele koninkryk van God in die sin dat hy of sy nou ʼn verhouding met die Opperkoning het (die Vader) deur die Seun, Christus Jesus. En wanneer Christus terugkeer aarde toe om onder meer die Messiaanse koninkryk te vestig, sal gelowiges hierdie koninkryk binnegaan en beërwe.

Wat regverdigmaking betref, geen van ʼn mens se werke kan jou red nie – nie vóór jy tot geloof in Christus kom nie en ook nie daarná nie. Jesus het gesê: “Dit is volbring!” (Joh 19:30). Jesus het nie 99% van die verlossingswerk gedoen nie, maar 100%. En die Here Jesus se uitnodiging is wonderlik: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir julle rus gee” (Matt 11:28). Hierdie rus skenk die Here Jesus Christus uit genade.

Wanneer ʼn mens tot geloof in Christus kom, begin die Heilige Gees in jou te werk om jou in heiligmaking te lei. Al is die gelowige reeds posisioneel in Christus geheilig (vgl. 1 Kor 1:2), begin progressiewe heiligmaking dan in die lewe van die gelowige. Die posisie wat ʼn gelowige in Christus reeds het, moet toenemend prakties uitgeleef word. Hier word oorgawe aan die Here Jesus as ʼn dissipel gevra: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele, want my juk is sag en my las is lig” (Matt 11:29-30). Heiligmaking is ʼn proses. As die weergebore persoon sondig, vertroebel dit gemeenskap met God, maar om jou gemeenskap met God te herstel, is bekering en vergifnis nodig – en God bied vergifnis aan (vgl. 1 Joh 1:9). Ek glo nie jou regverdigmaking gaan verlore nie. Tog behoort die krag van sonde progressief in die gelowige se lewe gebreek te word. Dit behels dat die gelowige op goddelike hulpbronne vertrou: op Christus, die Heilige Gees en die Bybel as God se Woord. Bly betrokke in ʼn plaaslike gemeente. Neem toe in die “genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet 3:18). Paulus sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” – en later volg die apostel dit op met die woorde: “wandel deur die Gees” (Gal 2:20; 5:16).

‘n Belangrike aspek van heiligmaking is dat gelowiges hul denke en dade in ooreenstemming met die Skrif bring. Paulus skryf: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [denke], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom 12:2). Word vernuwe in die aard van jou denke (Ef 4:23). ʼn Radikale verandering van wat die gelowige dink is nodig. En die verandering kom deur die Bybel te bestudeer en dan in geloofsvertroue toe te pas. Die idee is dat soos wat die Bybel gereeld gelees word, die Heilige Gees die Woord gebruik om gelowiges te reinig, hul denke steeds te vernuwe sodat gelowiges God se wil nog meer sal doen. In die proses word gelowiges se karakter meer Christus se karakter.

Nog ʼn aspek van verlossing is verheerliking. Solank as wat ʼn gelowige ʼn natuurlike liggaam het, so lank sal die gevalle natuur saamgedra word. Maar op ʼn stadium sal elke gelowige ʼn verheerlikte liggaam kry (1 Kor 15:42-49). Dan sal dit vir hierdie gelowiges nie meer moontlik wees om te sondig nie. Wanneer die opneming van die Kerk plaasvind, sal elke gelowige van die Kerk-era hul verheerlikte liggaam ontvang.

Regverdigmaking kan gesien word as die verlede tyd van verlossing (Ef 2:8-9; Tit 3:5), heiligmaking is die teenswoordige tyd van verlossing (Fil 2:12), terwyl verheerliking die toekomstige tyd van verlossing is (Rom 8:23). (My mening is dat tydens regverdigmaking die mens se gees weergebore word, tydens heiligmaking word jou siel vernuwe, terwyl verheerliking op die liggaam fokus.)

Die goeie nuus is: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” (Hand 16:30-31). Vertrou alleen vir verlossing op Jesus Christus, die Seun van God, wat gesterf het, begrawe is en opgestaan het uit die dood – ook vir jou sondes en vir jou lewe! “[D]ie genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom 6:23). Dié wat op Christus Jesus vertrou, die Seun van God, word die Here se geregtigheid toegereken; by Hom ontvang jy die ewige lewe. Vandag is die dag van verlossing.

 *****************************************

 Foto-erkenning: Kelly Sikkema op Unsplash