Die gebed in Daniël 9

Ons het die afgelope tyd spesifiek verskeie aspekte van gebed bespreek. Vandag fokus ons op die gebed in Daniël 9. Daniël 9 is baie bekend maar nie vanweë die eerste 23 verse van daardie hoofstuk nie. Díé gebed van ʼn baie wyse en regverdige man (vgl. Esegiël 14:14, 20; 28:3) behoort nie geskei te word van die merkwaardige profesie waarmee God vir Daniël deur die engel Gabriël antwoord nie (Daniël 9:20-27). As die gebed beter verstaan word (Daniël 9:1-19), miskien kan die profetiese antwoord ook beter verstaan word (Daniël 9:24-27).

. . .

Die konteks

Dit is al byna 70 jaar sedert die ballingskap in Babilonië begin het. Volgens God se Woord het die tweede van vier nie-Joodse koninkryke reeds begin om oor die aarde te heers (Daniël 2, 7-9; 9:1). Daardie selfde nag toe die hand teen die muur geskryf het, is Bélsasar gedood en is Babel verower (Daniël 5; vgl. Jeremia 25:11-12). Die Persiese koninkryk het van Oktober 539 v.C. tot 333 v.C. bestaan totdat Aleksander die Grote vir Babel ingeneem het. Maar volgens God se Woord, as “sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle [Jode/Israel] ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek [Jerusalem/Israel] terug te bring” (Jeremia 29:10). In die eerste jaar van Darius, die seun van Ahasvéros (dit is Kores), merk Daniël in die boeke op dat Jerusalem sewentig volle jare in puinhoop sou lê — en Daniël het begin bid (Daniël 9:1-3).

Die 70-jaar profesie van Jeremia is op een van twee maniere vervul (sien Constable (2016:112-114) vir ʼn volledige bespreking): As Daniël deel van die eerste wegname na Babel in 605 v.C. was en as hy in 539 v.C. hierdie gebed van Daniël 9 gebid het, dan het omtrent 67 jaar verloop. Volgens Esra 3:8 is daar in 536 n.C. begin om die tempel te herbou, wat 70 jaar na die eerste deportasie na Babel was. As die fokus eerder op die vernietiging van die tempel in 586 v.C. val, kan daar uit Esra 6:15 gesien word dat die tempel in 515 n.C. herbou is, dit is 70 jaar ná die vernietiging daarvan. Sien raak dat Daniël die profesieë in Jeremia 25 en 29 letterlik verstaan het, nie allegories of geestelik nie. God het hierdie profesieë letterlik vervul, dit is, na 70 letterlike jare.

Daniël bid dat God se wil sal geskied

God se soewereine planne sal sonder twyfel tot uitvoering gebring word en God sal vir seker alle onvoorwaardelike profesieë en beloftes wat Hy gemaak het vervul of nakom. Die mens kan egter steeds hiervoor bid. Rosscup (1992:50, eie vertaling) stel dit goed: “As gebeure na God se vaste of bepaalde tye neig, wil God steeds hê dat mense in gebed hierby betrokke raak; hierdie gebede maak vir God ʼn verskil.” Soos wat Jesus later dit ook sou beveel (vgl. Matteus 6:10), Daniël bid dat God se wil sal geskied. Net soos wat hy in Daniël 2, 7 en 10 doen, bid Daniël vir die vervulling van God se raadsplan — en Daniël se gebed is sélf ʼn vervulling van die profetiese gedeelte van Salomo se gebed toe die eerste tempel ingewy is (1 Konings 8:33-36; Rosscup 1992:47).

Daniël se gebed

Daniël se gebed bevat lofprysing (Daniël 9:4), skuldbelydenis (vv. 5-15) en ʼn gebedsversoek dat Israel herstel sal word (vv. 16-19). Daniël beklemtoon God se grootheid, God se getrouheid en ook Sy goedertierenheid (v. 4). “Omdat Hy so groot is, behoort Israel Hom te vrees. Vanweë Sy verbondstrou en goedertierenheid, is daar hoop vir Israel, as hulle hul bekeer, God liefhê en Hom gehoorsaam” (Showers 1982:113, eie vertaling). Daniël bely eerlik en opreg Israel se sonde; hy hou niks terug nie. God het vir Israel die hoof-nasie gemaak, maar Israel het skandelik gehandel (vv. 5-8), hulle was ontrou gewees en het die Wet van Moses oortree (vv. 10-11). God het regverdig opgetree deur te doen wat Hy gesê het Hy sal doen as Israel ongehoorsaam is (vv. 12-14).

Net soos in vers 4, begin Daniël se gebedsversoek in vers 15 met God se grootheid, krag en sy Naam (vgl. ‘laat u Naam geheilig word’ – Matteus 6:10). God het alreeds Sy krag gewys deur Israel uit Egipteland te red en Daniël vra nou dat God barmhartig sal wees en Israel weer sal red, vir God se Naam ontwil (Daniël 9:15-19). Kyk spesifiek wat dit is wat Daniël vra dat God sal herstel:

  • “U stad Jerusalem” (v. 16, 19); en
  • “U heilige berg” (v. 16), wat die tempel in Jerusalem moet bevat; en
  • “U volk”, wat die Jode/Israel is (v. 16, 19).

Daniël vra nie dat die Here sy gebed sal verhoor op grond van Israel se geregtigheid nie, “maar op grond van u grote barmhartigheid” (Daniël 9:18b).

God se antwoord

God antwoord Daniël dadelik (v. 20a, 23a). God stuur die engel Gabriël sodat Daniël insig sal kry in God se antwoord en dit sal verstaan (Daniël 9:22-23). Maar weereens, onthou dat die profesie wat volg (Daniël 9:24-27) God se antwoord is op Daniël se gebedsversoek aangaande “die heilige berg van my God” (v. 20; vgl. V. 16, 19), die Joodse nasie (v. 24a) en “jou heilige stad” (v. 24a).

Bid tot die Vader: Laat U koninkryk kom

Hoe mens ook al die beroemde profesie van Daniël 9:24-27 verstaan, dit moet nie van die onmiddellike konteks van Daniël 9:1-23 geskei word nie. Israel se volledige herstel moet ook nie geskei word van die ander profesieë in Daniël nie, want eers ná die Tye van die Nasies met sy vier nie-Joodse koninkryke sal die Seun van die Mens kom om oor die wêreld te regeer ingevolge die Dawidiese Verbond (vgl. Daniël 2:44-45; 7:13-14). Israel se beheer oor Jerusalem en watter tempel daarin mag wees sal tydelik bly totdat die Tye van die Nasies vervul is (vgl. Lukas 21:24). Tot dan word dissipels van Jesus beveel om tot die Vader te bid “laat U koninkryk kom” (Matteus 6:10a; vgl. Daniël 9:4-19). Wanneer Hy op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid kom, dan sal die Here Jesus Christus die Messiaanse koninkryk oprig en eindelaas sal die profetiese antwoord op Daniël se gebed ten volle vervul word (Daniël 9:24-27; Matteus 24:30b).

———————————

Bronne

Constable, T.L, 2016, Notes on Daniel, 2016 edition.

Rosscup, J.E., 1992, ‘Prayer Relating to Prophecy in Daniel 9’, The Master’ Seminary Journal 3(1):47-71.

Showers, R.E., 1992, The Most high God: A commentary on the Book of Daniel, The Friends of Israel Gospel Ministry Inc, Bellmawr.

As jy meer oor gebed wil lees, kyk gerus na hierdie artikels van dr Arnold Fruchtenbaum:

Die beginsels van gebed
Die drie tipes gebed
Die voorwaardes van gebed
Die samestellende dele en komponente van gebed

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']