Die gelykenis in Markus 4:26-29

Deur aan ʼn gelykenis ʼn naam te gee het jy alreeds begin om dit te interpreteer. Slegs die Evangelie van Markus bevat die gelykenis wat ons in Markus 4:26-29 vind. Die toneel in Markus 4:1-34 lyk heel rustig — Jesus leer mense terwyl hy op ʼn boot sit — maar die onstuimige gebeure van vroeër daardie dag het selfs vandag nog verreikende gevolge.

Die vier heidense koninkryke op aarde (vgl. Dan 2; 7) kon beëindig geword het as Israel die Messiasskap van Jesus aanvaar het, maar toe daardie geslag die Heilige Gees gelaster het, het God weer verborgenhede geopenbaar (Mark 4:1-34; Mat 13:1-52). In Daniël 2 het God verborgenhede geopenbaar oor wat sal gebeur terwyl Israel geen koning op die Dawidiese troon het nie — en nou, in Markus 4, selfs al het die Dawidiese Messias reeds gekom, is Jesus deur daardie geslag in Israel verwerp (vgl. Mark 1:7; 3:20-30; 12:35-37) — en nou openbaar God weer verborgenhede oor wat sal gebeur terwyl Israel geen koning op die Dawidiese troon het nie. Gedurende die Inter-Advent-Tydperk bestaan die koninkryk slegs in die sin dat seuns en dogters van die koninkryk teenwoordig is (Toussaint 1980:172). Ná die onstuimige gebeure van vroeër daardie dag openbaar Jesus nuwe waarhede oor die koninkryk terwyl hy steeds die verwagting van die aardse koninkryk bewaar soos wat die Ou-Testamentiese profete dit voorspel het (Vlach 2017:325). Dit is in dié konteks dat ons hierdie unieke gelykenis van Markus 4:26-29 vind. Ná oorweging van Markus 4:26-29 se struktuur stel ons ʼn interpretasie van hierdie gelykenis voor (maar gee dit steeds nie ʼn naam nie).

Die struktuur van Markus 4:26-29

Daar word gereeld gedebatteer of hierdie gelykenis fokus op die man wat saai, die saad, die groei-proses, die oes of selfs op die kontras tussen saai en oes (Cranfield 1966:167; Snodgrass 2008:180). Een manier om baie van hierdie opsies saam te vat is om die chiastiese struktuur wat Fay (1989:74) voorgestel het te oorweeg. Die koninkryk van God is soos wanneer ʼn mens die …

A saad in die grond gooi
Β en hy gaan slaap en staan op, nag en dag
    C en die saad spruit uit en word groot
      D hoe, weet hy self nie
      D’ vanself (αὐτόματος) bring die aarde vrug voort
    C’ eers ʼn halm, dan ʼn aar, dan die volle koring in die aar
B’ wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in
A’ omdat die oes daar is.

Fay (1989:74) dui aan dat in die bogenoemde struktuur is die saai (A) parallel met die oes (A’), terwyl die aktiwiteite van die man in B en B’ voorkom. Dit is God wat beide die saai en die oes inisieer. Cranfield (1966:168) dink dat hierdie ʼn gelykenis is van kontras tussen saai en oes (A en A’), maar as dit so was, dan moet jy ten minste ook A en A’ met die middel van die gelykenis (D en D’) verbind. Blomberg (2012:357) sê tereg dat die gelykenis nie net op die begin en einde van die gelykenis fokus nie, maar ook op die sentrale rol wat die saad speel.

Die unieke gelykenis van Markus 4:26-29

Synde Markus 4:26-29 so gou na die gelykenis van die saaier vertel is, is Blomberg (2012:355) reg as hy sê dat die mees natuurlike interpretasie is om die man wat die saad saai met God te verbind, met Jesus en daarna met almal wat ook God se Woord preek. Jesus het hierdie woord begin saai (sien Mark 1:14-15, 38; 2:2) en hy is ook die een wat gesag ontvang het om die sekel in te steek (vers 29; vgl. ook Joël 3:13).

Die gelykenis gee ʼn beeld vanaf die tyd wat Christus begin saai het totdat die eskatologiese oes ingebring word — só erken en vertrou Jesus dat God die saaiwerk wat Jesus in sy dissipels begin het ook uiteindelik in die toekoms tot ʼn vrugbare voleinding sal bring (Hiebert 1994:119). God is egter nie net betrokke by die aanvanklike saaiwerk en die eskatologiese oes nie, maar by die hele proses: dit is God wat die saad laat uitspruit, laat groei en uiteindelik ʼn volle koring in die aar voortbring (vgl. 27b-28).

Die verborgenheid van die koninkryk wat hierdie unieke gelykenis van Markus dalk openbaar is dat vanaf Christus se eerste koms tot en met sy weerkoms na die aarde toe, God ʼn oes van seuns en dogters van die koninkryk bymekaarmaak. Hierdie seuns en dogters sal die Messiaanse koninkryk binnegaan wanneer Christus ná sy weerkoms aarde toe, die koninkryk sal vestig en oprig.

Daar is nog ʼn aspek van hierdie gelykenis wat oorweeg kan word. In hierdie gelykenis word gesê dat die aarde vanself vrug voortbring (v. 28, αὐτόματος). Dit dui op groei gedurende ʼn Sabbatsjaar (Lev 25:1-7). Sulke groei gebeur nadat ʼn vorige saai-ing reeds plaasgevind het, want wanneer die boer onaktief op die aarde is in gehoorsaamheid aan God se opdrag, is dit God wat die groei gee. Jesus is die saaier wat uiteindelik die sekel vir die oes sal insteek, maar gedurende die tyd wat Jesus (in sy menslikheid) nie op die aarde is nie, verseker God die sukses van die oes. Dit doen God deur die saaiwerk te laat voortduur, beginnende met die werk van die apostel Petrus op die dag van Pinkster (Hand 2).

Bronne

Bogenoemde is ʼn uittreksel uit:

Scholtz, J.J., 2018, ‘Mark 4:1–34: A simple structure for the mystery of the kingdom’, In die Skriflig 52(1), a2236.

Laai die volledige artikel af by: www.indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/2326/5041

Ander bronverwysings kan in bogenoemde artikel besigtig word.

Volg ons op sosiale media: