Die gelykenis van die huisheer

Die laaste gelykenis in Matteus 13 word baie keer verwaarloos en soms nie eens as ʼn gelykenis beskou nie, maar dit is juis in dié gelykenis van die huisheer wat Jesus ʼn opdrag vir sy skrifgeleerde dissipels gee. ‘Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here! Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ʼn leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ʼn huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring’ (Mat 13:51-52). Wie kwalifiseer as ʼn skrifgeleerde dissipel? Wat moet verstaan word? Waarna verwys die ‘nuwe en ou dinge’?

Letterkundige struktuur, besonderhede en woorde

Deur sy dissipels te vra of hulle ‘al hierdie dinge’ verstaan (Mat 13:51), verbind Jesus die eerste, inleidende gelykenis van die saaier met die agtste en laaste gelykenis in die reeks. In beide die eerste en laaste gelykenis in Matteus 13 is daar ʼn fokus op die handeling ‘om te verstaan’ (13:19, 23, 51.) Daarbenewens word die laaste gelykenis in die reeks ook met al die gelykenisse van Mattheus 13 verbind. Matteus verwys twee keer in hierdie hoofstuk na ‘al hierdie dinge’: aan die einde van die vier gelykenisse wat in die openbaar vertel is maar ook nadat gelykenisse in privaatheid gelewer is (13:34, 51). Dit lyk asof dit redelik sou wees om te aanvaar dat ‘al hierdie dinge’ verwys na die verborgenhede van die koninkryk van die hemele wat in die gelykenisse van Matteus 13 geopenbaar word.

Het Jesus se dissipels ‘al hierdie dinge’ verstaan? Carson (1995:331; eie vertaling) som die situasie soos volg op: ‘Soos ʼn ander positiewe reaksie in hierdie Evangelie (sien 20:22–23), kan hierdie een nie bloot afgewys word as aanmatigende geesdrif nie (asof hulle dink hulle weet alles terwyl hulle in werklikheid niks weet nie) en ook nie sommer net so aangeneem word nie (asof hulle begrip in werklikheid groot was)’.

Jesus gebruik die dissipels se bevestigende antwoord om nog ʼn verdere gelykenis te vertel. In teenstelling met die gelykenis van die net waar goeie en slegte vis van mekaar geskei word, moet die huisheer nuwe en ou dinge van die koninkryk bymekaar bring (vgl. Bailey 1999:291). Wie kan hierdie taak verrig?

Verdere bespreking

Esra is die uitstaande voorbeeld van ʼn goeie skrifgeleerde wat vanaf ʼn verhoogde preekstoel die wet korrek vertolk het, met insig gelees het en dan die interpretasie van die teks goed verduidelik en uiteengesit het (Lockyer 1963:210; Neh 8:1-8). In Matteus word skrifgeleerdes egter dikwels negatief beskou (Mat 5:20; 9:3; 12:38), waarskynlik omdat sommige van hierdie skrifgeleerdes nie vir Jesus gevolg het nie en/of menslike tradisies bo God se Woord verhef het (vgl. Mat 15:3-8). In die gelykenis van die huisheer word elke skrifgeleerde wat aan sekere vereistes voldoen, positief beskou en die voorreg en taak gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te verduidelik (Mat 13:11,52). Wat is hierdie ‘vereistes’ waaraan skrifgeleerdes moet voldoen?

ʼn Skrifgeleerde soos beskryf in Matteus 13:52 moet eerstens ʼn dissipel van Jesus wees. Om ʼn dissipel van Jesus te wees veronderstel toewyding aan die Persoon en lering van Jesus (Mat 11:27–30; Bailey 1999:292). Carson (1995:333) sê dit goed:

The parable shows that a discipled scribe has this understanding, not that understanding generates discipleship. This conforms perfectly to the chapter’s structure: the disciples are not defined as having understanding but are described as having been given revelation and understanding (vv. 11-12). When disciples ask for an explanation, they are given it (vv. 36-43) and thus claim some measure of understanding (v. 51). ‘Therefore’ (v. 52) a discipled scribe is like, etc.

Lei dit noodwendig tot die begrip om nuwe en ou dinge aangaande die koninkryk te voorskyn te bring, selfs as ʼn mens ʼn dissipel van Jesus is? Aan Jesus se dissipels word dit gegee (deur God) om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken (Mat 13:11). Selfs as sy dissipels hierdie verborgenhede deur God gegee word, moet Jesus nog steeds hierdie gelykenisse aan sy dissipels verduidelik (Mat 13:36; Mark 4:34). Dus, wie is allereers die huisheer in hierdie gelykenis?

In sy kommentaar oor Matteus skryf Carson (1995:332; eie vertaling) dat die huisheer ʼn ‘gereelde figuur in Jesus se gelykenisse is en na God (21:33), Jesus (10:25) of die dissipels (24:43) kan verwys’. Vroeër in Matteus 13 tree ʼn huisheer in die gelykenis van die onkruid in die saailand op (13:27). In daardie gelykenis is die Seun van die Mens die huisheer. Omdat ‘een julle Leermeester [is], Christus’ (Mat 23:8, 10) en omdat God hierdie verborgenhede gee, stel ek voor dat die huisheer in hierdie gelykenis allereers na Jesus verwys. (Latere openbaring kan hierdie siening ondersteun, want Kolossense 2:3 leer dat in Christus al die skatte van wysheid en kennis verborge is.) In dieselfde asem moet dadelik genoem word dat skrifgeleerde dissipels van Jesus steeds in die prentjie is, dit is net dat hulle ander slegs kan leer wat die Huisheer en Hoof Skrifgeleerde aan hulle openbaar het.

In hierdie gelykenis moet die skrifgeleerde dissipel uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. Die Griekse woord vir skat kan na die waardevolle item self verwys (vgl. Mat 13:44) of na die stoorkamer waarin waardevolle artikels gehou word (vgl. Mat 13:51). Sommige kommentators (bv. Carson 1995:332) dink dat die skat ʼn persoon se hart verteenwoordig, in ooreenstemming met Matteus 12:35. Maar kan ʼn mens die verborgenhede van die koninkryk van die hemel uit jou hart na vore bring? Ou-Testamentiese profete en regverdiges wou hierdie dinge sien en hoor (Mat 13:17), maar hulle kon nie ‘al hierdie dinge’ uit hul harte te voorskyn bring nie. Skrifgeleerde dissipels tydens Christus se eerste koms, en daarna, word die vermoë gegee om hierdie verborgenhede van die koninkryk te verstaan (Mat 13:11) — en eers dan, slegs dan, kan hulle nuwe en ou dinge te voorskyn bring. Net soos in die interpretasie in Matteus 13:44, word voorgestel dat die skat verwys na die gesag en mag wat aan die huisheer (Jesus) behoort, maar wat Hy nou met sy skrifgeleerde dissipels in hierdie taak deel om in hul harte te bêre en dan ander hiermee op te bou.

Nuwe en ou dinge

Wat is die ‘nuwe en ou dinge’ wat uit die skat te voorskyn gebring moet word? Die verborgenhede is die ‘nuwe dinge’ wat beskryf wat gedurende die Inter-Advent Periode gaan gebeur, terwyl die ‘ou dinge’ verwys na onvoorwaardelike en steeds-onvervulde Ou-Testamentiese profesieë aangaande die Messiaanse koninkryk wat kort ná die Verdrukkingstydperk opgerig sal word (Scholtz 2015:2). Bailey (1999:295) beskryf die nuwe en ou dinge goed:

Israel’s expectation of the coming earthly kingdom, as revealed in the Old Testament, needs to be taught along with the truths of the present interadvent age, the mystery element unknown in the Old Testament. The mysteries (the new element) of the kingdom present what God will do with His kingdom in the world apart from the nation of Israel. Later of course He will fulfil what He said He will do in the future through Israel.

Slotopmerkings

Wat is die verantwoordelikheid van elke skrifgeleerde wat ʼn dissipel van die koninkryk van die hemel geword het? Die verborgenhede wat progressief in Matteus 13 geopenbaar word is die waarhede wat dissipels van die koninkryk moet verstaan om ʼn effektiewe bediening vir Jesus Christus te hê (Bailey 1999:291). Die vermoë om die verborgenhede van die koninkryk van die hemel te verstaan word aan dissipels gegee wat verbind is tot die Persoon en leerstellings van Jesus Christus (Mat 13:11; vgl. 11:27-30). Net soos wat Jesus Christus (huisheer) vanuit sy gesag en mag (skat) nuwe en ou dinge aangaande die koninkryk van die hemel te voorskyn bring, net so moet skrifgeleerde dissipels wat al hierdie dinge verstaan dit in hul harte (skat) bewaar en met die gesag en begrip wat aan hulle gegee is (Jesus se skat) dit tot die voordeel en opbouing van ander leer. Doen dit deur die verborgenhede in hierdie gelykenisse te verbind met onvoorwaardelike, maar steeds-onvervulde Ou Testamentiese profesieë oor die Messiaanse koninkryk. Vir sulke getroue bedienaars van die verborgenhede kan dit vrug oplewer, tot lof en eer aan God.

Bronne

Bailey, M.L., 1999, ‘The Parables of the Dragnet and of the Householder’, Bibliotheca Sacra 156(623), 282-296.

Carson, D.A., 1995, Matthew Chapters 13 Through 28, Zondervan Publishing House, Grand Rapids (The Expositor’s Bible Commentary with the NIV of the Holy Bible).

Kingsbury, J.D., 1977, The Parables of Jesus in Matthew 13: A Study in Redaction-Criticism, Clayton Publishing House, St Louis.

Lockyer, H., 1963, All the Parables of the Bible, Zondervan, Grand Rapids.

Scholtz, J.J., 2015, ‘Reading Matthew 13 as a Prophetic Discourse: The Four Parables Presented in Private’, In die Skriflig 49(1), Art. #1887.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']