Die gelykenis van die lamp in Markus 4:21-23

Min mense erken wat Cranfield (1966:164) met reg beklemtoon ten opsigte van die gelykenis van die lamp (Mark 4:21-23), naamlik dat Markus nie verse 21 en 22 as bloot spreekwoordelike wysheid of morele vermaning beskou nie, maar dat dit in werklikheid die verborgenheid van die koninkryk van God bevat. As die verborgenhede van die Nuwe Testament egter bespreek word, word die gelykenis van die lamp dikwels nie eens genoem nie. Hierdie gelykenis, wat deel vorm van ʼn geïntegreerde stel gelykenisse in Markus 4:1-34, wat saam die verborgenheid van die koninkryk van God beskryf, werp egter lig op hierdie paraboliese diskoers.

Konteks en struktuur

Jesus het gelykenisse in spesifieke kontekste vertel. Dit is beslis ook waar vir gelykenisse wat die verborgenhede van die koninkryk beskryf. Tydens Jesus se eerste koms bied Hy aan om die Messiaanse koninkryk vir Israel op te rig. Al het die Seun van Dawid die reg ontvang om in Israel as koning te heers, hang die uitoefening van hierdie reg af van Israel se aanvaarding van Jesus se Messiaanse aansprake (Deut 17:15; Scholtz 2014:3; Woods 2016:55). Om daardie Joodse generasie in Israel se geskiedenis te oortuig dat Hy inderdaad die Seun van Dawid is, het Christus sy Messiaanse aansprake met woord en daad bevestig (Mat 4–12; vgl 22:41-46). Nadat ʼn duiwel uit ʼn blinde en stom persoon gedryf is (Mat 12:22–32, vgl. Mark 3:20–30), het die godsdienstige leiers, wat Israel verteenwoordig het, nie net die Messiasskap van Jesus verwerp nie, maar dit boonop gedoen op grond dat Jesus ʼn onrein gees sou gehad het (Mark 3:30). Hierdie lastering van die Heilige Gees kan nie vergewe word nie (Mark 3:29). Dié onvergeeflike sonde het veroorsaak dat Jesus die aanbod om die Messiaanse koninkryk vir Israel op te rig vir ʼn tyd teruggetrek het.

In Daniël 2 openbaar God verborgenhede (geheimenisse) oor wat in die tyd wat Israel geen koning op Dawid se troon gaan hê nie, gaan gebeur. In Markus 4 word Jesus deur daardie generasie in Israel verwerp (cf. Mark 1:7; 3:20–30; 12:35–37), selfs al het Hy as die Dawidiese Messias reeds gekom. Hierna openbaar God verborgenhede oor wat gaan gebeur terwyl Israel geen koning op die Dawidiese troon het nie. Gedurende hierdie Inter-Advent Tydperk bestaan die Messiaanse koninkryk slegs in die sin dat seuns en dogters van die koninkryk teenwoordig is (Toussaint 1980: 172). Jesus bied nuwe waarhede oor die koninkryk aan sonder om die Ou-Testamentiese verwagting oor die koninkryk aan te tas (Vlach 2017:325). Dit is in híérdie konteks wat Jesus die verborgenheid van die koninkryk van God in Markus 4 openbaar.

Volgens Scholtz (2018:2) kan die teks van Markus 4:1-34 die volgende struktuur bevat:

A Inleiding vv. 1–2a
B Die gelykenis van die saaier vv. 2b–9
    C Verborgenheid van die koninkryk van God vv. 10–13
      D Interpretasie van die saaier vv. 14–20
        X Die gelykenis van die lamp vv. 21–23
      D’ Die gelykenis van die maatstaf vv. 24–25
    C’ ʼn Unieke gelykenis in Markus vv. 26–29
B’ Die gelykenis van die mosterdsaad vv. 30–32
A’ Gevolgtrekking vv. 33–34

Indien bogenoemde chiastiese struktuur korrek is, dan het die gelykenis van die lamp ʼn meer prominente posisie in die paraboliese diskoers in Markus 4.

Markus se gelykenis van die lamp

Wat betref die lig in die gelykenis van die lamp sê mense dikwels dat dit die openbaring, wat die onderwerp van hierdie hoofstuk is, verteenwoordig, veral die verborgenheid van die koninkryk van God (France 2002:208). Volgens hierdie siening van die gelykenis sê Markus 4:11-12 dat kennis oor die verborgenhede nie steeds verborge moet bly nie, maar inteendeel wyd en syd verkondig moet word (France 2002:208). Hierdie interpretasie is gewild, maar dit weerspreek gedeeltelik wat Jesus gesê het (vgl. Mark 4:11-12).

Een van die redes hoekom Jesus in gelykenisse begin leer het, is om nuwe waarhede aan sy volgelinge te openbaar maar óók om dit vir ongelowiges te verberg (Pentecost 1982:10). As ongelowiges blootgestel sou word aan verdere, direk geopenbaarde waarheid oor die verborgenheid van die koninkryk, en as hulle ook hierdie waarheid verwerp het, sou hulle skuld meer geword het (Cranfield 1966:171; Pentecost 1982:13). Natuurlik wil God hê dat ongelowiges gelowig word. Dissipels van Jesus moet nie net die evangelie verkondig nie (vgl, Mark 1:14-15; 3:14), maar ook hierdie gelykenisse wat verborgenhede bevat. ʼn Begrip van die verborgenhede van die koninkryk van God is egter nie ʼn menslike vermoë nie, maar ʼn kapasiteit wat Jesus in die hart van die gelowige skep sodat hy of sy kan verstaan (Edwards 2002:141). Dit blyk dus dat ongelowiges slegs die verborgenhede van die koninkryk sal verstaan as hulle hul bekeer en Christus hulle sondes vergewe (vgl. Mark 4:11-12).

Baie kommentators (Cranfield 1966:164; Edwards 2002:139; Lane 1974:165) wys daarop dat daar na ʼn spesifieke lamp verwys word, naamlik dié lamp, en hierdie lamp is boonop die onderwerp van die sin. Edwards (2002:139) sê dat die verwysing na ‘die lamp wat kom’ (Grieks: erchetai) meer geskik is vir ʼn persoon as vir ʼn voorwerp en dat hierdie verwysing na ‘Jesus wat kom’ reeds vroeër in Markus gebruik is (sien Mark 1:7; 3:20). In die Ou Testament het Dawid God met ʼn lamp vergelyk en gesê: “Want U is my lamp, o HERE!” (2 Sam 22:29). Meer nog, in beide 2 Konings 8:19 en Psalm 132: 17 word die Dawidiese Messias met ʼn lamp vergelyk. Wanneer die koninkryk gevestig is, sal die heerlikheid van die Here vir almal geopenbaar word (Jes 40:5; Mark 13:26). Markus gee later ʼn voorskou van hierdie lig en heerlikheid van die Here op die Berg van Verheerliking — maar daarna is Jesus se heerlikheid weer verberg (Mark 9:2-3, vgl. Joh. 8:12).

Die siening is dat Jesus in hierdie gelykenis verteenwoordig word deur die lamp wat lig bring (sien ook Cranfield 1966:164-165; Edwards 2002:139-140; Lane 1974:165-167).

As Jesus die lamp is wat kom om lig en openbaring te bring, wat is die verborgenheid wat hierdie gelykenis openbaar? Net soos ʼn lamp nie kom om onder die maatemmer of die bed gesit te word nie, maar op die staander geplaas moet word, as Israel vir Jesus as Messias aangeneem het, dan sou die heerlikheid van die koning sigbaar geword het vir almal om te sien. Daar is egter in vers 22 ʼn duidelike verwysing na ʼn tydperk van verborgenheid (Cranfield 1966:165). Omdat Israel nie die weg van die Here voorberei het soos wat hulle moes nie (vgl. Mk 1:2-3), maar in plaas daarvan die Heilige Gees gelaster het en die Messias verwerp het, is die vestiging van Messiaanse koninkryk vir ʼn tyd uitgestel, as’t ware weggesteek, maar Christus en sy koninkryk sal nog in die lig gebring word. Drie dissipels het reeds ʼn voorskou ontvang van hoe dit sal lyk as die koninkryk met krag kom en hoe die heerlikheid van Christus dan duidelik gesien sal word (Mark 9:1-8).

Lane (1974:166) skryf daar kom ʼn dag wanneer die sluier weggeneem sal word en Christus in al sy heerlikheid in die koninkryk openbaar gemaak sal word — dit verwys na die Here se weerkoms na die aarde toe. Wanneer die Lamp na die staander toe kom, sal ons die onthulde heerlikheid van die koning sien, en sy koninkryk sal in krag kom. Moenie Markus 4 se gelykenis van die lamp gering skat nie.

Bronne

Bogenoemde is ʼn uittreksel uit :
Scholtz, J.J., 2018, ‘Mark 4:1–34: A simple structure for the mystery of the kingdom’, In die Skriflig 52(1), a2236. Laai die artikel hier af: www.indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/2326/5041

Ander bronverwysing kan in die artikel gevind word.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']