Die gelykenis van die onkruid in die saailand

Die gelykenis van die onkruid in die saailand (Mat 13:24-30, 36-43) is uniek aan Matteus. Meer nog, nie net ontvang hierdie gelykenis ʼn spesifieke titel nie, maar dit is een van slegs drie gelykenisse in Matteus 13 waarvoor Jesus ʼn verduideliking gee. Dit beteken nie dat mens nie die gelykenis moet bestudeer en deurdink nie. As die Een wat kom doop met die Heilige Gees en begin om koring in sy skuur bymekaar te maak, hoekom het die saailand dan nog steeds onkruid, hoekom word die kaf nie ook reeds gebrand in die onversadigbare vuur nie (Mat 3:11-12; 11:3; 13:30)? Watter nuwe en ou dinge leer die gelykenis van die onkruid in die saailand? Hoe dra hierdie unieke gelykenis by tot ʼn beter begrip van die verborgenhede van die koninkryk van die hemele (Mat 13:11; cf. 13:1-52)?

Begin op ʼn spesifieke punt in tyd

Die gelykenis begin op ʼn ongewone wyse (Mat 13:24). Dit is waarskynlik dat die gelykenis op ʼn spesifieke tydstip begin wat ʼn definitiewe historiese ontwikkeling aandui (vgl. Carson 1995:317; Nolland 2005:544; Snodgrass 2008:212-213). As die koninkryk van die hemele geword het soos die situasie van ʼn man wat goeie saad gesaai het, ens., wat het gebeur en wanneer het dit begin?

Gedurende Christus se eerste koms is die evangelie net in Israel verkondig (Mat 10:5–6; 13:13-15; 15:24), maar in hierdie gelykenis saai die Seun van die Mens goeie saad in sy saailand, wat as die wêreld geïdentifiseer word (Mat 13:38). Dit dui op ʼn universele sendingopdrag. In sy kommentaar op die stelling dat die saailand ‘die wêreld is’, beklemtoon Carson (1995:325; vgl. ook Hagner 2000:393) die ooglopende, naamlik dat hier sprake is van ʼn sendingopdrag ook buite die grense van Israel. Die groot opdrag is egter eers in Matteus 28:18-20 aan die apostels en dissipels gegee. Dus, wanneer Jesus die gelykenis van die onkruid in die saailand uitspreek, verwys die inhoud daarvan na die toekoms. Die feit dat die dissipels nog nie geweet het van die groot opdrag op die dag wat Jesus hierdie gelykenis vertel het nie, dui daarop dat Jesus ʼn nuwe profesie in die vorm van ʼn gelykenis gee en dit boonop met Ou-Testamentiese profesieë in verband bring. Wanneer Matteus die evangelie skryf, het die eerste deel van die gelykenis alreeds geskiedenis geword, maar Matteus 13:40–43 wag steeds op die profetiese en eskatologiese vervulling aan die einde van hierdie bedeling.

Die Seun van die Mens het goeie saad gesaai en volgens Matteus 13:38 is dit mense wat gesaai is, ‘seuns van die koninkryk’. Is dit moontlik om die identiteit te bepaal van die ‘seuns van die koninkryk’ wat die Seun van die Mens eerste in die wêreld gesaai het? Kan die tydstip toe hulle gesaai is bepaal word? Dit is inderdaad moontlik. Die elf apostel-dissipels voldoen die beskrywing van hierdie eerste seuns van die koninkryk: dit is hulle wat Jesus by die berg in Galilea ontmoet en aan wie Hy daar gesaghebbend die groot opdrag gee (Mat 28:18–20). Hierdie groot opdrag is op Pinkster begin (Hand 2).

Die probleem van die onkruid

Die vrae van die diensknegte — “Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan?” (Mat 13:27) — klink vreemd, want dit impliseer dat hulle verwag het dat die saailand géén onkruid sal bevat nie. As ongelowiges die aarde steeds bewoon, ook sedert die dae van Johannes die Doper, watter stel omstandighede het saamgeloop om hierdie implisiete verwagting te skep? In die lig van die nuwe ontwikkeling — die koninkryk van die hemele het nou geword soos (Mat 13:24) — en die verband tussen die vraag in die gelykenis (Mat 13:27) en die toneel van oordeel (Mat 13:40–3), wat gee aanleiding tot hierdie gelykenis?

Die Ou Testament leer baie duidelik dat die Messiaanse koninkryk nie opgerig sal word totdat daar nie éérs ʼn Verdrukkingstydperk was nie. Wat die gelykenis van die onkruid in die saailand dus ook leer is dat hierdie Verdrukkingstydperk net voor die oprigting van die Messiaanse koninkryk ook uitgestel is (Mat 13:40–2; vgl. 3:7–12; 13:49–50). Dit is uitgestel in ʼn tydperk wat die Kerk-era insluit, en oordeel sal begin gedurende die Verdrukkingstydperk (vgl. Mat 22:44; 24:9–31). Intussen het Satan begin met ʼn valse teen-saaiery aangesien hy nog nie gebind is nie, en dit sal so bly tot en met Christus se tweede koms aarde toe (Mat 13:25, 38b). Dit verduidelik die probleem van die onkruid in die saailand en waarom Satan nog steeds sy valse apostels, valse profete, valse leraars, ens. in die wêreld kan saai.

Oordeel

Aangesien oordeel die alleenreg van die Seun van die Mens is, is gelowiges nie verantwoordelik daarvoor om die regverdiges van die goddeloses te skei voor die oordeel aan die einde van hierdie bedeling nie (Bailey 1998a:276). Oordeel sal die vestiging van die Messiaanse koninkryk voorafgaan sodat wanneer dit begin, dit geen onkruid sal bevat nie. Wanneer ʼn goddelike koninkryk gevestig word kan dit nie aanvanklik of uiteindelik verdeel wees nie, want ʼn koninkryk wat teen homself verdeel is kan nie staan nie (Mat 12:25–26). As enige rebellie teen die wil van God sou manifesteer ná die vestiging van so ʼn goddelike koninkryk, sal die tydsberekening van enige oordeel oor so ʼn rebellie afhang of God ʼn tyd van genade toelaat of nie. As genade wel gegee word, kan daar in die tussentyd rebellie bestaan binne ʼn goddelike koninkryk, maar nie aanvanklik of uiteindelik nie. Aangesien dit kategories gestel kan word dat geen oordeel al plaasgevind het nie (vgl. Mat 25:31-46), sal die Seun van die Mens sy dorsvloer deeglik skoonmaak aan die einde van hierdie bedeling, die onkruid uittrek, en die koring in sy Messiaanse koninkryk-skuur bymekaarmaak (Mat 13:29–30, 40; vgl. 3:12).

Nuwe en ou dinge

Watter nuwe en ou dinge leer hierdie gelykenis? Die Jode het geglo, op grond van onvoorwaardelike Ou-Testamentiese profesieë (Jes 32:15–20; 44:3–5; Jer 31:33–4; Eseg 39:25–9; Joël 2:28–3:1; Sag 12:8–13:1), dat kort voor die Messiaanse koninkryk opgerig word, sal die Heilige Gees oor Israel uitgestort word. In terme van die Nuwe Verbond sal die nasionale berou, verlossing en herstel van Israel plaasvind net voor die Messiaanse koninkryk opgerig en gevestig sal word. Hierdie profesieë sal nog steeds aan die einde van die Verdrukkingstydperk vervul word aan Jode wat dan nog leef (vgl. Mat 23:39). Die apostels en hulle mededissipels moes egter leer dat tydens die Inter-Advent Periode, die koninkryk van die hemele alleen bestaan in die sin dat seuns en dogters van die koninkryk teenwoordig is. Gedurende hierdie tyd, en soos wat Johannes die Doper geprofeteer het, doop Jesus sedert Pinkster sy volgelinge met die Heilige Gees. Dit is egter nie dieselfde bediening as die uitstorting van die Heilige Gees oor die hele Israel net voor die vestiging van die koninkryk van die hemele op aarde nie. Die Een wat kom kan doop met die Heilige Gees op grond van die Abrahamitiese/Nuwe Verbonde sonder dat die Messiaanse koninkryk reeds opgerig is in terme van die Dawidiese Verbond. Verder, wanneer die Messiaanse koninkryk gevestig is, sal die Ou-Testamentiese profesieë van Daniël 12:3 en Maleagi 4:2 vervul word — en dít tesame met ʼn nuwe profesie, naamlik dat die regverdiges sal skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader (Mat 13:43; vgl. 17:2).

Toepassing

Gedurende die Kerk-era moet dissipels God verheerlik, hul mede-gelowiges deur die Woord help opbou en ook die groot opdrag gehoorsaam deur nog dissipels van Jesus te maak. Aangesien Satan ʼn valse saai-werk begin het, kan Jesus se dissipels vervolging en verdrukking verwag. Aan die einde van hierdie bedeling sal die oordeel van die onkruid egter beslis sy profetiese, eskatologiese vervulling vind. Dan sal die regverdiges in die koninkryk skyn.

Bronne

Bogenoemde is ʼn uittreksel uit :
Scholtz, J.J., 2015, ‘Reading Matthew 13 as a prophetic discourse: The four parables presented in public’, In die Skriflig 49(1), Art. #1870, 7 bladsye.

Laai die volledige artikel hier af: https://indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/1870/3029
Ander bronverwysings kan in bogenoemde artikel nagegaan word.

Volg ons op sosiale media: