Die gelykenis van die verborge skat

Wanneer hulle alleen in die huis is (Mat 13:36), vra die dissipels vir Jesus om die gelykenis van die onkruid in die saailand te verklaar. Jesus identifiseer onder andere die saailand as die wêreld, die saaier as die Seun van die Mens en die land is spesifiek “sy land” (Mat 13:24, 37–38). Dan vertel Jesus die volgende gelykenis: ‘Verder is die koninkryk van die hemele soos ʼn skat wat verborge is in die saailand, wat ʼn man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand’ (Mat 13:44). Die man koop nie die skat nie, maar die saailand waarin die skat weggesteek is. Anders as vorige verwysings na hierdie saailand (sien Mat 13:24, 31), is die saailand eers die man s’n ná hy die saailand gekoop het. Wat is die betekenis van die gelykenis van die verborge skat?

Drie gewilde sieninge oor hierdie gelykenis

Gewilde sieninge oor hierdie gelykenis kan in drie verdeel word. Een groep sien die sentrale waarheid van hierdie gelykenis as die sondaar wat Christus in vreugde vind. Dit gaan dus oor verlossing en die rede vir die gelykenis is dan die belangrikheid en kosbaarheid van verlossing en ʼn plek in die koninkryk (Kistemaker 1980:60; Hunter 1971:78). Die probleem met hierdie siening is dat geen sondaar verlossing kan koop nie. Verder, wanneer iemand weergebore word, is die idee allermins om hierdie ‘skat van verlossing’ vir jouself te hou en dit as’t ware weg te steek.

ʼn Tweede groep, by verre die meerderheid, meen dat die gelykenis gaan oor die waarde van die koninkryk, die koste van dissipelskap, of beide. Hierdie groep sien die man in die gelykenisse as die toegewyde dissipel en die skat as die waarde van die koninkryk of die opoffering daarvoor. Die probleem met hierdie siening is egter dat dit steeds gevaarlik naby is aan redding deur werke. Niemand kan egter hul verlossing koop nie.

ʼn Derde beskouing fokus op wat Christus vir God bereik het (Lang 1997:52). Die probleem wat aanleiding gee tot die gelykenis van die verborge skat kan dus in die volgende vraag verwoord word: Hoe sal Jesus Christus, die Seun van Abraham, verlossing bewerkstellig en, as die Seun van Dawid, ook die reg verkry om oor al die koninkryke van die wêreld en hulle glorie te heers? Kan geargumenteer word dat die man wat die veld in hierdie gelykenis koop die Seun van die Mens moet wees?

Identifisering van referente

Matteus het alreeds geleer dat alle dinge deur die Here van die hemel en die aarde oorgegee is aan God die Seun in sy goddelikheid (Mat 11:27). Vóór die kruis was Jesus se bediening, in sy menslikheid, egter beperk tot die ‘verlore skape van die huis van Israel’ (Mat 15:24). Meer nog, Satan bied aan Jesus ‘die koninkryke van hierdie wêreld en hulle heerlikheid’ (Mat 4:8–9). Wat was aan die gang?

Vanuit ʼn koninkryksperspektief moes Jesus enige onregmatige aansprake wat Satan vanweë Adam se sondeval het uitskakel; vanuit ʼn verlossingsperspektief moes Jesus vergifnis van sonde bewerk. Jesus verkoop alles wat het en koop die saailand (vgl. Mat 13:44) — ʼn verwysing na die kruis. Aangesien die manier om verlossing te bewerkstellig en om alle gesag in die hemel en op aarde te ontvang deur die kruis is, móés Jesus in sy menslikheid op een of ander stadium die saailand koop. En Jesus — slegs Jesus — kan daardie aankoop maak. Constable (2017:483) sê tereg:

God restricted Jesus’ authority before His resurrection because of His role as the Suffering Servant. Following His resurrection, God broadened the sphere in which Jesus exercised authority (cf. 4:8-10). He became the One through whom God now mediates “all authority” (cf. Dan. 7:14; Phil. 2:5-11). This was Jesus’ great claim.

Ons stel voor dat die man wat die skat vind, dit weer wegsteek, alles wat hy het verkoop en die saailand koop, is Jesus Christus; die saailand is weer die wêreld (vgl. Mat 13:38) en ná die kruis word die saailand Jesus s’n.

Verdere bespreking

Matteus verwys na skatte in 6:19-21; 12:35; 13:44, 52 en in 19:21. Volgens Vine (1997:1164) kan ʼn skat na die plek van bewaring verwys, soos ʼn stoorplek of metafories die hart, of dit kan na die waardevolle ding self verwys. In Matteus word gehoorsaamheid aan God se wil soms aan meer gesag gekoppel. Dit is waar van Jesus in sy menslikheid (Mat 28:18), die apostels (Mat 19:28) en van Jesus se getroue volgelinge (Mat 10:40-42; 19:29; 25:21, 23). Ons stel voor dat die verborge skat in Matteus 13:44 verwys na gesag om in die Messiaanse koninkryk te regeer. Indien so, hoe vind Jesus hierdie skat-gesag en waarom steek Hy dit weg voordat hy die saailand gaan koop?

By Jesus se doop openbaar God dat Jesus die Christus is, die Seun van Dawid, en die Heilige Gees het op Jesus neergedaal (Mat 3:16-17). Die Seun van Dawid is die reg gegee om as Koning oor Israel te heers, nie net oor die huis van Dawid nie, maar oor die hele huis van Jakob (Luk 1:32-33). Wanneer Jesus se publieke bediening begin, openbaar Jesus die skat deur sy Messiaanse aansprake te bevestig en te staaf met woord en daad en Hy bied die koninkryk van die hemele aan Israel as iets wat naby is (Mat 4:17–12:28). Die gesag van Jesus se lering verbaas mense (Mat 7:28–9) en sommige Jode kom tot geloof in Christus (Mat 11:19b; vgl. 12:46–50), maar sy gesaghebbende en kragtige werke word deur “hierdie geslag” in Israel verwerp (Mat 11:2–6, 16-24). Wanneer nasionale berou en verlossing van “hierdie geslag” (vgl. Mat 12:23–45) egter in Israel onmoontlik word vanweë die lastering teen die Heilige Gees, word die vestiging van die Messiaanse koninkryk uitgestel.

Die skat — voorgestel as synde te verwys na die mag en gesag wat aan die Koning van die Jode gegee is om die Messiaanse koninkryk te vestig en te regeer — is nou weer weggesteek. Fruchtenbaum (1989:625–626) merk op dat Jesus van hierdie punt in Matteus se aanbieding nie meer sy Messiaanse aansprake voor “hierdie geslag” in Israel bevestig nie. Voor hierdie gebeure is verskeie bevestigende tekens gegee, maar die enigste teken wat voortaan aan hierdie slegte en owerspelige geslag gegee word, is die teken van die profeet Jona (Mat 12:39–40). Alhoewel gelykenisse voorheen gebruik is om die waarheid te openbaar, het Jesus van daardie tydstip af aan die skare net in gelykenisse geleer (Mat 13:34; vgl. 13:11). Alhoewel die Dawidiese koninkryk voorheen naby was, is dit ná Matteus 13 nie meer naby nie en die evangelie van die koninkryk word nie weer verkondig nie totdat dit met verwysing na Jesus se tweede koms genoem word (Bailey 1998:176; vgl. Scholtz 2014:5). Die skat is weggesteek en verberg op die dag wat die onvergeeflike sonde begaan is, op dieselfde dag wat hierdie verborgenhede van die koninkryk in Matteus 13 gegee is.

In sy kommentaar op Matteus 11:26 noem Carson (1995:275) dat Jesus hom verheug in sy Vader se openbaringe maar ook in Sy verberging van hierdie dinge. Dit is vir Christus ʼn vreugde om die Vader in die hemel te verheerlik. God beloon openlik wat in die geheim gedoen is (Mat 6:4). Uit vreugde gehoorsaam Jesus vir God deur na die kruis te gaan, nie net om verlossing te bring nie, maar ook om Satan se kop (gesag) te vermorsel en só die saailand te koop (vgl. Gen 3:15; Mat 12:39-40). Ná die kruis gee God aan Jesus, in sy menslikheid, alle gesag in die hemel en op aarde (Mat 28:18) — nie dat Christus Jesus alreeds hierdie gesag as Messiaanse Koning op aarde uitoefen nie, want ons sien nog nie dat sy vyande ʼn voetbank vir sy voete gemaak is nie (Mat 22:44; vgl. Heb. 2:5, 8).

Met sy tweede koms na die aarde toe, sodra Israel vir Jesus as die Messias aanvaar het (Mat 23:39; vgl. ook Hos 5:15-6:3; Sag 12:10), sal die Here Jesus Christus die gesag, mag en heerlikheid van die koninkryk openbaar (Mat 13:43; 24:29–30; 25:31–4; 26:64; vgl. Dan 7:13–14, 22). Die skat gaan nie vir altyd weggesteek word nie. Die saailand, dit is die wêreld, sal die Koning in heerlikheid en mag sien kom (vgl. Mat 24:30).

Bronne

Bogenoemde is ʼn uittreksel uit :

Scholtz, J.J., 2015, ‘Reading Matthew 13 as a prophetic discourse: The four parables presented in private’, In die Skriflig 49(1), Art. #1887, 7 bladsye.

Laai die volledige artikel hier af: https://indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/1887/3023

Ander bronverwysings kan in bogenoemde artikel nagegaan word.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']