Die grondslag vir die weerkoms van Christus

Is daar enige verdere voorwaardes wat nagekom moet word voordat Christus se weerkoms kan plaasvind? Waarom sal die verwerping van Jode toeneem wanneer ons die einde van hierdie bedeling tegemoet gaan? Om die tweevoudige grondslag vir die Here Jesus Christus se weerkoms te verstaan, moet ons eers aandag gee aan sekere gebeurtenisse wat tydens Christus se eerste koms plaasgevind het.

. . .

Die laster van die Heilige Gees en die verwerping van Jesus as Messias

In hoofstuk 4 tot hoofstuk 12 van Matthéüs bekragtig Jesus se woorde en wonderwerke nie alleenlik sy Persoon (Hy is die Messias) nie, maar ook sy boodskap aan Israel (die evangelie van die koninkryk). Die evangelie van die koninkryk is alleenlik aan Israel gebring (Matthéüs 3:2; 4:17; 10:5-7; 15:24), want die onvoorwaardelike Abrahamitiese, Land, Dawidiese en Nuwe verbonde sowel as die voorwaardelike Mosaïese verbond behoort net aan Israel. As Israel vir Jesus as die Christus, die Seun van die lewende God aangeneem het, sou die Messiaanse koninkryk op aarde gevestig gewees het kragtens die hierdie verbonde en ander Ou-Testamentiese profesieë. Dit is belangrik om te weet dat Christus egter steeds aan die kruis sou gesterf het ongeag of Israel Hom as die Messias en hul Koning en Verlosser sou aanneem of nie. Met hierdie omstandighede in ag geneem, wat het daar gebeur?

In Matthéüs 12:22-32 dryf Jesus ʼn duiwel uit ʼn man wat blind en stom is, die skare besef dit is ʼn Messiaanse wonderwerk en vra vir hul leiers, “Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?” (Matthéüs 12:23). Aangesien die wonderwerk nie geïgnoreer kan word nie, skryf die Fariseërs die werk wat die Heilige Gees deur Jesus gedoen het toe aan Beëlsebul, die owerste van die duiwels (Matthéüs 12:24). Dit is die onvergeeflike sonde wat “hierdie geslag” in Israel gepleeg het en hierdie sonde word soos volg deur Fruchtenbaum (1989:617) beskryf:

Die inhoud en definisie van die onvergeeflike sonde is die nasionale verwerping van Jesus se Messiasskap (die gesag van Jesus as die Messias) deur Israel, terwyl Hy liggaamlik teenwoordig was, op grond van die uitgangspunt dat Hy duiwelbesete was. Hierdie sonde is onvergeeflik, en oordeel is vasgestel. Hierdie oordeel het in die jaar 70 nC gekom met die verwoesting van Jerusalem en die Tempel en die wêreldwye verstrooiing van die Joodse volk. Van hierdie spesifieke punt af, toe Jesus se gesag as die Messias, die Christus, verwerp is, word daar spesifieke klem in die evangelies gelê op hierdie geslag, omdat hulle skuldig was aan ʼn baie unieke sonde. Om hierdie rede, omdat hulle Hom as die Messias verwerp het terwyl hulle geweet het wie Hy is, word Jesus se aanbod van die Messiaanse koninkryk opgehef. Die Messiaanse koninkryk sal nou nie meer in hulle tyd gevestig word nie, op grond van die onvergeeflikheid van daardie sonde.

Die onvergeeflike sonde is met ander woorde ʼn nasionale sonde wat gepleeg is tydens Jesus se eerste koms deur “hierdie geslag” in Israel wat die Heilige Gees gelaster het. Let op hoe dikwels daar in Matthéüs verwys word na “hierdie geslag” (12:39, 41, 42, 45; 16:4) en selfs ook nog in Handelinge 2:40 waar Petrus praat van “hierdie verkeerde geslag”. Hierdie sonde het verreikende gevolge maar kan nie vandag gepleeg word nie. Individuele Jode kan steeds gered word – en word gered! – maar Israel as nasie word nie tans gebruik as die voertuig om die evangelie van Christus aan die wêreld te bring nie. Tans werk God in die wêreld deur die Kerk. Op ʼn sekere stadium, egter, sal God weer sy aandag op nasies vestig, spesifiek op die nasie Israel (vgl. Romeine 11:25-27). Alles is dus nie verlore vir Israel nie (lees Romeine 11:1, 11)! In teenstelling met die algemene siening het die Kerk nie vir Israel permanent “vervang” nie. God sal beslis sy onvoorwaardelike beloftes aan die nasie Israel nakom (vgl. Romeine 11:29). Maar wanneer sal dit gebeur?

Die grondslag vir die weerkoms van die Here Jesus Christus

Daar is minstens vyf Skrifgedeeltes wat uitdruklik verklaar dat ʼn toekomstige geslag Jode Israel se nasionale sonde sal moet bely en moet pleit dat Christus terugkom aarde toe.

  • Levítikus 26:40-42 het voorspel dat die Jode oor die hele wêreld verstrooi sou word, ’n profesie wat sedert 70 nC bewaarheid is. Volgens Levítikus 26:40 sal Israel hul ongeregtigheid en die ongeregtigheid van hul vaders moet bely.
  • Soortgelyk is Jeremia 3:13 deel van ʼn perikoop wat handel oor die seëninge van die Messiaanse koninkryk, maar hierdie seëninge is voorwaardelik en berus op Israel se bekentenis en belydenis van een spesifieke ongeregtigheid wat die volk teen die HERE hulle God gepleeg het.
  • Hoséa 5:15 verklaar, “Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle my soek”. Die Persoon wat in hierdie Skrifgedeelte praat, is God, meer spesifiek, die Tweede Persoon van die Drie-eenheid. Die Here Jesus Christus het die hemel verlaat met sy vleeswording (menswording) en met sy hemelvaart daarheen teruggekeer. Hy sê dat Hy nie sal terugkom na die aarde voordat hulle [Israel] hul “skuld” beken nie. Na watter skuld word hier verwys? Dit is die skuld van “hierdie geslag” in Israel tydens Jesus se eerste koms, naamlik die onvergeeflike sonde wat hulle gepleeg het.
  • Sagaría 12-14 is ʼn profetiese eenheid wat handel oor Israel se reiniging, die Messias se weerkoms en die vestiging van die Messiaanse koninkryk. Israel se reiniging is egter voorwaardelik op grond van Sagaría 12:10: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ʼn mens rouklaag oor ʼn enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ʼn mens bitterlik ween oor ʼn eersgebore kind”. Israel sal gereinig word voor die vestiging van die Messiaanse koninkryk, maar slegs nadat hulle sal opsien na die Een wat hulle deurboor het en sal pleit vir sy weerkoms.

Slotopmerkings

Jesus Christus sal nie terugkom aarde toe voordat die Jode en die Joodse leiers Hom vra om terug te kom nie. Net soos wat die Joodse leiers eens die volk gelei het om die Messiasskap van Jesus te verwerp, sal ʼn toekomstige geslag Joodse leiers eendag, teen die einde van die Verdrukkingstydperk, die volk lei om die Messiasskap van Jesus van Násaret te erken. Dit verduidelik ook hoekom die god van hierdie bedeling die Jode wil vernietig, want as Satan die Jode kan verdelg, sal hulle nie Israel se spesifieke sondeskuld en spesifieke ongeregtigheid kan bely nie. Maar al die beloftes van God vind hul Ja en Amen in Christus (vgl. 2 Korinthiërs 1:20). Teen die einde van die Verdrukkingstydperk sal die Joodse geslag wat dan nog fisies lewe, die Messias as Verlosser-Koning aangeneem het en sal hulle sê, “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matthéüs 23:39). Dan sal die Here Jesus Christus aarde toe kom, met groot krag en met groot heerlikheid (vgl. Matthéüs 24:29-30)!

———————————

Indien u meer oor hierdie onderwerp wil weet, oorweeg gerus om die volgende bronne te lees:

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The Missing Link in Systematic Theology, Ariel Bedieninge, Tustin.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Basis of the Second Coming of the Messiah, Ariel Bedieninge, Tustin.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']