Die heilige engele (Deel 1)

Bestaan engele, wat is hul name, wanneer is hulle geskape en hoeveel is daar? Is engele werklike persoonlikhede? As deel van Ariel Bedieninge se Kom Kyk dissipelskapkursus – wat vanjaar deur ons by FaithEquip opgesom word in Afrikaans, Engels en binnekort ook IsiXhosa – fokus ons tans op Engelogie, of die leerstelling van Engele. Daar is baie leermateriaal en dus sal ons dit stuksgewys aanbied. Die inligting is gebaseer op ʼn artikel deur dr. Arnold Fruchtenbaum (Ariel Bedieninge) wat FaithEquip vertaal het, naamlik Engelogie: Die leer van die uitverkore engele.

Engelogie kan in drie hoof afdelings ingedeel word: wat die Bybel leer omtrent heilige of uitverkore engele (Primêre Engelogie), wat die Bybel leer omtrent Satan (Satanologie) en wat die Bybel leer oor gevalle engele (Demonologie). Neem kennis van die beklemtoning: omdat ons nie dit wat in die Bybel geskryf staan mag oorskry nie (vgl. 1 Korinthiërs 4:6), is die Bybel, en nie die subjektiewe ervarings van mense nie, ons bron vir Engelogie.

Terme

In hierdie reeks oor Engelogie verwys die term ‘hemelwese’ (of soms ‘engelewese’) na gérubs, serafs of na engele. Soms gebruik mense die woord ‘engele’ wanneer hulle al drie groepe hemelwesens bedoel, en dit kan verwarrend wees. Gewoonlik egter, wanneer daar oor engele besin word, val die fokus nie op gérubs of serafs nie maar op die derde groep hemelwesens wat ‘engele’ genoem word. Ons gaan kyk na wat die Bybel bekendmaak oor al drie groepe hemelwesens.

Hemelwesens is persoonlikhede, nie blote ‘uitstralings’ of ‘kragte/magte’ nie, aangesien hemelwesens beskik oor intellek (2 Samuel 14:20; Matthéüs 24:36; Efésiërs 3:10), emosie (Job 38:7; Lukas 15:10), en wil (Lukas 2:13; Hebreërs 1:6; Judas 6). Ons kan daarvan seker wees dat gérubs, serafs en engele persoonlikhede is.

Verwysings na engele in die Bybel

In die Ou Testament word engele 108 keer genoem en in die Nuwe Testament 165 keer, dit wil sê engele word 273 keer in die Bybel genoem. Engele word in 33 van die 66 boeke van die Bybel genoem: in 18 boeke van die Ou Testament en in 15 boeke van die Nuwe Testament. Verder het Jesus ook onomwonde die bestaan van engele onderrig (Matthéüs 13:39, 41, 49; Markus 12:25, Lukas 12:8-9; Johannes 1:51) — om net ʼn paar verwysings te gee. Die rede hoekom Jesus oor engele onderrig het, is omdat hulle werklik bestaan. Om te redeneer dat engele – hetsy heilig of gevalle, hetsy gérubs, serafs of engele – nié bestaan nié, bevraagteken die inspirasie van die Bybel en impliseer ook dat Jesus verkeerd was om te leer dat engele bestaan (maar Jesus was nie verkeerd nie en God se Woord is beslis waar).

Die verskillende name wat vir hemelwesens gebruik word

Die Bybel gebruik verskeie name vir hemelwesens. Die name hier onder genoem, verwys meestal na heilige of uitverkore hemelwesens, maar word ook soms gebruik vir gevalle hemelwesens (let dus op die konteks).

Die eerste naam is die mees algemene een, naamlik ‘engel’. Die woord ‘engel’ beteken ʼn ‘boodskapper’ in beide Hebreeus en Grieks. Omdat mense ook die funksie van ʼn boodskapper kan uitvoer, word dié woord soms gebruik vir mense (vgl. Génesis 32:3), maar meer dikwels word dit gebruik vir hemelwesens (en meestal die derde groep hemelwesens naamlik engele), wat deur God gestuur word as boodskappers (vgl. Génesis 32:1). Die amp van ʼn engel is dus dié van ʼn boodskapper (Hebreërs 1:7).

ʼn Tweede naam vir hemelwesens (alle groepe) is ‘die seuns van God’ (Génesis 6:2, 4; Job 1:6; 2:1; 38:7).

ʼn Derde naam is ‘hemelinge’ – wat aan God eer moet bewys (Ps. 29:1; 89:7). In die Engelse Bybel word daar in hierdie verse gepraat van ‘die seuns van die magtige’ of ‘die seuns van die magtige een’. Hierdie benaming is soortgelyk aan ‘die seuns van God’, want God is die magtige een.

Die vierde naam, ‘die heiliges’ (Psalm 89:6, 8; Daniël 4:13, 17; 8:13), verwys na hemelwesens wat nie geval het nie. Onder hulle ressorteer die heilige engele (Markus 8:38; Lukas 9:26), ook genoem die uitverkore engele (1 Timótheüs 5:21), wat nie saam met Satan geval het nie.

ʼn Vyfde naam is ‘bode’ (Daniël 4:13, 17), wat hier die betekenis het van ‘opsigter’ of ‘waarnemer’, en wat die funksie benadruk van engele wat toesig hou of, en dat, God se wil uitgevoer word.

ʼn Sesde naam is dié van ‘wagte’ of ‘bewakers’ (Jesaja 62:6), engele wat nie net ʼn situasie waarneem nie maar ook as beskermers daaroor waak.

Die sewende naam is ‘geeste’, want engele is geesteswesens (Hebreërs 1:14).

ʼn Agtste naam vir engele is ‘sterre’ (Job 38:17; Openbaring 1:20; 9:1; 12:4), met een uitsondering, naamlik die ‘ster’ in Númeri 24:17 wat na Christus verwys.

Negende is die naam ‘dienaars’, wat onderstreep dat engele God se dienaars is wat sy wil uitvoer (Psalm 103:21; 104:4; Hebreërs 1:7).

ʼn Tiende naam vir hemelwesens is ‘leërskare’, ʼn Afrikaanse vertaling van die Hebreeuse woord wat ‘weermag’ beteken. Die leërskare bestaan uit die hemelse weermag van God, wat verduidelik hoekom daar dikwels na God verwys word as die ‘HERE [ook: Here] van die leërskare’, want Hy is die Gesagvoerder van hierdie engeleweermag (1 Konings 22:19; Psalm 103:20-21; 148:2).

ʼn Elfde naam is ‘waens’ of ook ‘strydwaens’, wat die spoed beklemtoon waarmee hemelwesens God se wil uitvoer (2 Konings 6:16-17; Psalm 68:18; Sagaría 6:1-8).

Die twaalfde en laaste naam vir engele is ‘elohim’ wat ‘god’ beteken – nie omdat hemelwesens God is nie, maar omdat die heilige en uitverkore engele as God se verteenwoordigers optree en God se gemagtigde gesag het om in sy Naam te praat (Psalm 8:6; Hebreërs 2:7).

Deur God geskape

Kolossense 1:16 leer baie duidelik dat engele deur God geskape is. Hulle is gelyktydig deur God geskape en aangesien hulle nie ʼn ras is nie, vermeerder of verminder engele nie in getal nie. Hoeveel engele is daar? Die Bybel gee nie die presiese getal nie, en die antwoord is dus dat God ʼn ontelbare hoeveelheid engele geskape het: “tienduisende engele”; “duisend maal duisende … tienduisend maal tienduisende”; “tienduisende van tienduisende en duisende van duisende” (Hebreërs 12:22; Daniël 7:10; Openbaring 5:11).

Uiteraard is engele God se mindere (want in die eerste plek het God hulle geskape), maar hulle is hoër wesens as die mens (Psalm 8:5-6; Hebreërs 2:5-7; 2 Petrus 2:11). Met betrekking tot die Here Jesus Christus, die God-mens, is hemelwesens minder as Christus op grond van sy Godheid maar hemelwesens is ook minder as Jesus in sy mensheid (Hebreërs 1:4-2:3; 2:5-8).

Waarom sommige hemelwesens gevalle is

Maar wat het gebeur, hoekom het sommige hemelwesens geval en ander nie? Toe God die hemelwesens geskape het, is hulle heilig geskape maar met die mag van vrye keuse (Markus 8:38; Judas 6). Dit beteken dat hulle keuses kon uitoefen wat strydig is met hul geskape aard (natuur). As hul keuse heilig was in ooreenkoms met God se wil, is hierdie hemelwesens in hul heiligheid bevestig. Dit is wat twee derdes van die hemelwesens gedoen het. Omdat hulle in hul heiligheid bevestig is, kan hierdie heilige en uitverkore hemelwesens nie meer keuses uitoefen wat strydig is met hul aard nie – met ander woorde, hulle kan nie sondig nie. Wat uiteindelik gebeur het, is dat Satan en een derde van al die hemelwesens gekies het om ʼn onheilige keuse uit te oefen (vgl. Openbaring 12:4). Hierdie gevalle hemelwesens kan nie ‘gered’ word nie en sal die ewigheid deurbring in die ewigdurende vuur (Hebreërs 2:16; Matthéüs 25:41).

—————-

Volgende keer fokus ons artikel op waar uitverkore of heilige engele woon en hoe hulle verskyn. Ons kyk ook na die aard van engele en hoe hulle georganiseer is.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']