Die hemelvaart

Die hemelvaart van Jesus Christus is nie net ’n historiese feit nie, dit is ook teologies besonder betekenisvol en belangrik. Wat is die geskiedenis van die hemelvaart van die Messias? Watter teologiese implikasies, betekenis en gevolge kan ten opsigte van Christus se hemelvaart genoem word?

Die dorpie Betánië (Lukas 24:50) lê aan die oostekant van die Olyfberg en dit is hier waar die hemelvaart van die Messias plaasgevind het. Jesus het volgens ’n Joodse gebruik sy hande opgehef en sy dissipels geseën (Lukas 24:50). Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, is Christus skielik in die hemel opgeneem (Lukas 24:51; vgl. Handelinge 1:9a). Op ’n sekere hoogte het ’n wolk Hom bedek sodat die dissipels nie die res van Christus se hemelvaart kon sien nie (Handelinge 1:9a). Toe het twee engele vir die dissipels gesê dat die Messias net so sou terugkeer soos wat hulle Hom sien weggaan het (Handelinge 1:10-11). Neem kennis dat dit nie sê dieselfde plek nie maar dat die teks sê Jesus sal op dieselfde manier na die aarde terugkeer. Uiteindelik sal Christus se voete op die Olyfberg staan (Sagaría 14:4), maar dit beteken nie noodwendig dat Christus se tweede koms na die aarde op daardie plek sal begin nie. Volgens Fruchtenbaum (2005:4) sal die plek van Christus se tweede koms na die aarde die stad Bosra, of Petra wees. Toe Christus in die hemel ontvang is, het Hy aan die regterhand van God gaan sit (Markus 16:19; vgl. Psalm 110:1).

Christus se hemelvaart het Ou-Testamentiese profesieë soos Psalm 68:19 vervul, en beantwoord die vraag, “Wie het na die hemel opgeklim en neergedaal?” wat in Spreuke 30:4 gevra word. Wat meer is, die hemelvaart het profesieë vervul wat deur Jesus uitgespreek is (Johannes 3:13; 6:62; 14:2, 12; 16:5) en later deur die apostel Paulus bevestig word in Efésiërs 4:8-10.

Uit die Griekse woorde wat gebruik word om Christus se hemelvaart te beskryf, sien ons dat die hemelvaart was soos om ’n reis te onderneem, met ’n vertrek (vanaf die aarde), ’n geleidelike reis (in die wolke) na ’n bestemming (die hemel, spesifiek aan die regterhand van God die Vader). Dit is belangrik om te besef dat Jesus Christus as hele Persoon in die hemel opgevaar het, dat dit dus liggaamlik was en dat sy dissipels Hom vir ’n tydlank kon sien.

Die hemelvaart van die Messias is so belangrik dat 15 Nuwe-Testamentiese Skrifgedeeltes melding maak van Christus se aankoms in die hemel: Handelinge 3:20-21; 9:3-6; 22:6-10; 26:13-18; Filippense 3:20; 1 Thessalonicense 1:10; 4:16; 1 Timótheüs 3:16; Hebreërs 4:14; 6:20; 7:26; 9:24; 1 Johannes 2:1 en Openbaring 1:17; 5:5-12.

Twaalf redes oor hoekom die hemelvaart so betekenisvol en belangrik is, kan genoem word:

1. Jesus het voorspel dat Hy na die Vader sou gaan en die hemelvaart het bewys dat Hy het (Johannes 14:28).

2. Jesus berei tans vir gelowiges ’n plek in die hemel voor (Johannes 14:2).

3. Die hemelvaart dui die hoogtepunt aan van Christus se verheerliking, wat begin het met sy begrafnis in ’n ryk man se graf (vgl. Efésiërs 1:20-23).

4. Christus se hemelvaart dui sy Hoofskap van die Kerk aan (Kolossense 1:18; Efésiërs 1:22-23).

5. Daar is nou ’n Persoon op die troon van God die Vader wat ook die menslike natuur het (Handelinge 2:32-35).

6. Christus se hemelvaart was die aanvang van sy Hoëpriesterlike bediening volgens die orde van Melgisédek (Hebreërs 6:20b).

7. Tien dae ná Christus se hemelvaart het die Heilige Gees ’n nuwe bediening van die doop begin asook die inwoning in alle gelowiges (vgl. Johannes 7:39; 16:7; Handelinge 2:33).

8. Die hemelvaart is belangrik omdat dit Christus ’n voorloper in die hemel maak (Hebreërs 6:20), die eerste van meer wat later sal kom.

9. Die hemelvaart van die Messias dui gelowiges se nuwe posisie in die hemel aan (Efésiërs 1:20-21).

10. Deur middel van die hemelvaart, en slegs nadat Christus in die hemel opgevaar het, het Christus geestelike gawes deur die Heilige Gees aan gelowiges gegee (Efésiërs 4:7-11).

11. Die hemelvaart voorsien die manier (nie die plek nie) van Christus se wederkoms na die aarde, naamlik op die wolke (Handelinge 1:9-11).

12. Toe Christus in die hemel opgevaar het, het Hy die siele van Ou-Testamentiese heiliges saam met Hom die hemel ingeneem (Efésiërs 4:8).

———————–

Lees gerus die volledige artikel wat die basis van hierdie opsomming hierbo vorm.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']